God jou in hierdie tye gedra?
4. Lees Psalm 62:9. Wat beteken dit om volkome op God vir ’n deurbraak te vertrou?
5. In Psalm 62:10–11 herinner die Psalmdigter ons dat dit ons niks baat om geweld te pleeg of te roof nie. Wat is die gevaar indien ons rykdom té na aan ons harte toelaat?
6. Lees Psalm 62:12–13. Watter twee dinge het die Psalmdigter God hoor sê?
5. Watter spore laat jy agter?
Psalm 111
1Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente. 2Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na. 3Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas. 4Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. Genadig en barmhartig is die Here. 5Hy voed dié wat Hom dien, Hy hou sy verbond altyd in stand. 6Hy het sy volk die krag van sy dade laat ervaar, Hy het aan hulle die land van ander nasies gegee. 7Wat Hy doen, getuig van trou en reg, al sy voorskrifte staan vas, 8hulle is vir altyd geldig, hulle is gegee in trou en regverdigheid. 9Hy het vryheid vir sy volk bewerk, sy verbond vir altyd ingestel. Sy Naam is heilig, dit wek ontsag. 10Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand.
Een koue aand moes ’n dokter sneeuvlae trotseer om by ’n pasiënt uit te kom wat teen ’n berghang gewoon het. Hy was ’n hele ent weg van die huis af en het al sukkelend geloop om nie op die smal bergpaadjie te gly nie. Toe die wind vir ’n paar oomblikke minder fel begin woed, het hy meteens ’n fyn stemmetjie hoor roep: “Pappa, loop versigtig. Ek kom saam en ek trap in Pappa se spore.” Dit was sy jong seun wat hom gevolg het.
In ons lewens laat ons ook spore waar ons ook al gaan. Soms word ons onwetend dopgehou en soms selfs gevolg. As ’n ouer laat jy spore vir jou kinders, in die werkplek laat jy spore vir jou kollegas en in jou eie gemeenskap laat jy spore vir diegene rondom jou. Jou spore sal tot gevolg hê dat mense óf ’n verhouding met jou God sal begeer óf in so ’n mate afgesit word daardeur dat hulle dit nooit eens sal oorweeg nie.
Maar hoe kan ons verseker dat ons die regte spore agterlaat? Dit begin wanneer ons God vra om ons daagliks deur sy Heilige Gees te lei. In Psalm 111:10 vind ons die kern van wysheid, asook ontsag en respek vir God: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (1953-vertaling).
God hou sy oog op ons. Hy wil ons voetstappe rig en ons help om die regte eindbestemming te bereik. Maar meer as dit: Hy wil ons gebruik om spore van liefde en omgee in die mense rondom ons se lewens te laat sodat hulle nader aan God beweeg. Gaan jy hierdie week ’n beskikbare instrument vir Hom wees?
Gebed
Vader God, baie dankie dat U my daagliks dophou en beskerm. Lei my asseblief om doelbewus in liefde teenoor my naaste op te tree sodat ek iets van U aan hulle kan oordra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Besprekingsvrae
1. Watter soort spore kan ons potensieel vir die mense rondom ons agtergelaat? Kyk terug oor die afgelope week of maand. Watter spore het jy agtergelaat?
2. Lees Psalm 111:1. Waarom moet ons God in elke situasie prys?
3. Lees Psalm 111:2–3. God se werke is groot en sy dade getuig van sy Majesteit. Kan jy aan ’n onlangse situasie dink waarin jy God se grootheid beleef het?
4. Lees Psalm 111:4. Hoe kan jy verseker dat God se magtige dade in jou gesin onthou word?
5. Lees Psalm 111:5. Watter waarde het hierdie teksvers vir jou?
6. Lees Psalm 111:6–8. Kan jy dink aan ’n paar wonderwerke wat God vir die Israeliete bewerkstellig het? Hoe versterk hierdie wonderwerke jou geloof in God?
7. Lees Psalm 111:9. God het vryheid vir die Israeliete bewerkstellig, maar Hy doen dit ook vandag vir ons. Hoe doen Hy dit?
8. Lees Psalm 111:10. Wat is die fondasie van wysheid? En wat beteken dit om ontsag vir God te hê?
6. Vind jou identiteit in God
Psalm 139
1Vir die koorleier. Van Dawid. ’n Psalm. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. 7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? 8Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. 9Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, 10ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. 11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, 12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. 13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. 19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! 20Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. 21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? 22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande. 23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
Die meeste jong kinders ontgroei mettertyd die betowering wat die fiktiewe superheld, Superman, vir hulle inhou. Dít was egter nie die geval met die 35-jarige modeontwerper, Herbert Chavez van die Filippyne, nie. Sedert hy as kind in die 1980’s die eerste keer die rolprent, Superman, met die akteur Christopher Reeve in die hoofrol gesien het, het Herbert memorabilia van dié karakter begin versamel.
Herbert het egter sy obsessie met Superman tot ’n volgende vlak geneem toe hy in 1995 die eerste keer intensiewe plastiese chirurgie ondergaan het om soos sy kindertydheld te lyk. Hy het oor die jare onder meer snywerk aan sy neus en ken laat doen en inspuitings gekry om sy vel te bleik. Hy het ook silikoon-inspuitings gekry om sy lippe voller te maak en dy-inplantings laat doen om meer gespierd te lyk.
Herbert stap in Calamba, sy tuisdorp in die Filippyne, met ’n Supermanpak rond wat hy vir homself gemaak het. Die dorp se inwoners sê hy pla hulle nie. Hy bied hulle eerder ’n goeie geleentheid om hul kinders te leer om nie soos iemand anders te probeer wees nie, maar liewer hul eie uniekheid uit te leef.
Hierdie storie klink dalk absurd, maar hoeveel keer het jy nie ook al (dalk onbewustelik) jouself met iemand anders vergelyk wat mooier of ryker as jy is of met ’n kollega wat gewilder as jy by die werk is? Of selfs met iemand wie se kinders beter op skool of op sportgebied as joune vaar? En hoeveel keer het jy nie al jou eie uniekheid ingeboet om meer soos “daardie” persoon te probeer wees nie?
Luister weer na die woorde van Psalm 139:16–18: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”
Wanneer ons ons eie uniekheid prysgee om meer soos iemand anders te probeer wees, stap ons weg van die unieke plan wat God spesifiek vir elkeen van ons se lewe het. Voordat jy dus weer minderwaardig begin voel wanneer jy jou mooi vriendin, ryk vriend, gewilde kollega of vriende met slim, sportiewe kinders raakloop, herinner jouself daaraan dat hulle nooit oor die potensiaal kan beskik wat God spesifiek vir jóú gegee het om ’n verskil aan die wêreld te maak nie.
Kom