ontvou dit, bly ontvou die aanhoudende gewelf!
die guns
O Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom –
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma …
Maak hulle wakker sodat hulle nog net één keer
mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik
Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok –
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien – nee voel
hoe bloos ons aarde soos ’n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek
Moenie snoep wees nie, o Here – gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ’n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.
die sonnet as verstekeling
om direk te vaar in oopgaan se oog
maanmunt te pluk uit haar verslete boog
seevarke buitel grysblink in oker water
pelikane weerstalt in laag swiepende geskater
in Doebai dobber dhows soos drywende krismiskoeke
met dek-kajuite se dekorasies uit heilige boeke
kanteldromende derwisje dans en draai die liefde
met die hart en hak en sooltoon van diewe
woordenaars verkondig profesieë in die strate
papegaaismouse verkwansel nagkoninginne se bates
die aarde braak vuur en steierende Babeltorings vergaan
mens kan die harige son met ’n stok doodslaan
hier is die hooglied van besinning se versinsels
hier blye oopgaandae van sing en sing en sing
1 Januarie 2010
wanneer dit lig word
en die son ’n skip in vlamme
oor die watereinder styg
is die hele eiland klip.
hoog in die hemel hang die harmattan
met roet en stof
van ’n dorre binneland
se distansies wat vergeet het van tyd
maar hier is dit stil. in die nag
het klappers ontplof
met die donker klank van dooie rotte
in ’n droë put gegooi
luister weer hoe stil is die lig
wat kleur aansteek oor vullishope,
oor verskimmelde mure,
oor die kraai met die borslap
op die moskee se dak,
oor die klopkeel akkedis met die kerfie
skaduwee, die uitgespoelde vis met die uitpeuloog,
die bok, die hond, die vlieg, die wou.
wanneer dit lig word
besluit jy om te lewe,
om die nuwe jaar met ’n gedig
te begroet: maar ook te wéét
die offerande van bok, hond, vlieg en wou
soos ook ander woorde wat jy nou onthou –
liefde, genade, leefsterwe en rou –
se gewig is minder as wind se gesig
weglêbrief vir gedig
Liewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
in die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
en geheime kamers waar galge getroon het,
van die een masker na die ander
apestreek of apostroof of begrafnis. Wie ken my beter?
Ek het jou nie altyd goed behandel nie,
het jou misbruik, met jou gehoer, jou selfs
soos ’n wafferse Petrus verraai as sentimentele swakte
of iets wat mens onder die mantel vir vegters in die berge fluister
nog voor die haan ’n derde keelskoonmaak kraai.
Tog het ek jou eintlik nooit versaak nie.
Ek het gesien hoe hard jy probeer
om my voorhoede te wees en my agterhoede
van angs en ekstase te dek, hoe dikwels jy
verskoning vir my moes maak.
En nou is jy mondig – of doodgewoon gatvol?
Nou kan jy kammalie op jou eie sonder my leef.
Maar vertoef nog ’n wyle. Hou my hand vas
en lei my nou ek al hoe minder weet of kan sien
om die woorde soos skaars kleingeld af te tel.
Kom ons maak ons hou nog van mekaar
en reis die laaste lettergrepe saam
tot waar ek jou uit die hand kan laat loop
na die dood van die tong.
O, ons kon verder gegaan het, ek gee jou dit
toe, tot aan die grense van oorgang
waar ek te bang was om jou, my gidsklong, te verloor.
Onthou jy nog ons verre ontdekkings
in donker treine deur die nag, klik-klak,
en die drome wat ek jou aangegee het,
om voordag te ontwaak en hongerig
deur die venster te kyk op nuwe landskappe
van regoplê-berge waar ánder wilde gedigte woon –
wat maak die mense daar?
Jy is die enigste een wat ek ooit toegelaat het
in die intieme verloorplekke, om sáám met my
en die geliefde onder die laken te lê
met jou voete soos skurwe metafore.
En nou is ons oud. Ek soek jou, roep bokkie-bokkie
op die werf, blaai deur verflarde notaboekies
om te kyk of jy dalk ’n boodskap gelos het
(jy het altyd te veel los gedagtes gehad).
Maar jy is soek. Jy wil jou tog nie wréék nie?
Wanneer ek wakker word uit die nag het jy
’n leë vel papier vir my gelos.
Oor