P.J Haasbroek

Die ander vennoot


Скачать книгу

voel hoe sweet onder sy hoedband in sy hare kriewel en teen sy slape af spoor. Dit lok mopaniebytjies – soos taai vliegies – wat hy nie weggewaai kry nie. Hulle soek die vogtigheid in die hoeke van sy oë, in sy mond en neus. Die insekte se gepla krap hom nog meer om.

      Brits wys na die donkerbruin jonasklipplate wat agter die doringdraadheining bokant die sand uitsteek. “Hoekom is’t afgekamp?”

      “Daar’s diep gate en skeure in daai klip. Ons wil keer dat daar nie ’n bees inval nie.”

      “Het jy al daarin gekyk?”

      Pretorius skud sy kop. Hulle stap soontoe en klim deur die draad. Brits gaan hurk by ’n donker skeur in die rots. Tuur daarin af.

      “Sal môre ’n tou saambring om te kyk,” sê hy.

      “Maak soos jy lekkerkry.” Pretorius is geïrriteerd. “Moet net nie dink ek klim saam met jou hier in nie.”

      Net voor skemer die volgende middag kom Brits huis toe met ’n sakkie klippe. Hy gooi dit op die kombuistafel uit: ’n paar pers kristalle waarvan een groot blinke byna perfek seskantig gevorm is.

      “Dis ametis, ’n halfedelgesteente,” sê hy. “As hier genoeg van hulle is, is dit dalk die moeite werd om te myn.”

      Dis die eerste keer dat die bot man glimlag. Diep plooie kerf sy bruin gesig soos ’n ou hardekoolstam.

      “Hoe sal mens weet?” vra John.

      “Ek sal ’n paar slote moet grawe om te sien hoe lê die rif.”

      “Die werksvolk kan jou help,” bied John dadelik aan.

      Brits stap weg na sy tent toe, waar sy vrou en twee seuntjies onder ’n kameeldoring op hom wag. Die kinders hardloop hom tegemoet; dit lyk of hul kaal voete skaars die warm grond raak. Hulle is gewoond daaraan.

      Die aand op die stoep gesels John opgewonde. “’n Mens wonder mos altyd wat lê onder die grond weggesteek. Maar as jy die dag besluit om te begin soek en jy breek die kors oop, is daar nie ’n einde aan wat jy kan ontdek nie. Goud en diamante, steenkool, yster en ametis – alles is joune, jy moet net hard en diep genoeg grawe.”

      Pretorius moet lag. “Jy kan ook ’n helse klomp grond en klip uitgrawe voor jy iets kry wat die moeite werd is.”

      “Dis waarvoor jy manne soos Brits nodig het, Herklaas. Hulle ken die are.”

      Die week daarop gaan huur hulle ’n laaigraaf en lugdrukboor in Windhoek; Brits het dinamiet gebring. Hulle begin die eerste sloot grawe waar hy die kristalle ingebed in holtes tussen dolomietlae gevind het. Almal op Guntsas kom kyk, nuuskierig om te sien wat die grond oplewer. Die mooi pers kristalle maak hulle opgewonde.

      Toe Brits die dinamietkerse in die boorgate druk en die lont aansteek, hardloop hulle weg en wag op die ontploffing. Stukke swart klip word in ’n groot bruin stofwolk in die lug opgeblaas, en almal draf nader om na die gapende sloot in die rots te kyk.

      Reeds op die tweede dag ontbloot Brits se dinamiet ’n glinsterende klont pers kristalle in die rotslaag. Hy reken die ametis kan meer as vyfduisend rand werd wees. “Dis ’n soort kwarts,” verduidelik hy. “Ametis word gevorm uit silikondioksied, wat dit taamlik hard maak: teenoor ’n diamant se tien, ’n hoë sewe. Daarom kan dit heel mooi geslyp word.”

      “Sien jy nou?” roep John opgewonde uit. “Ons breek deur die rotsbanke wat al eeue lank hier lê, en kyk net wat haal ons uit!”

      Hulle werk hard in die blakerende son, en algaande skeur die myn dieper in die harde rotslae in. Pretorius het ’n koekepan gebou wat hulle aan ’n kabel teen die skuins helling afstuur om onder vol gelaai te word met stukke rots. Hy beheer die windas waarop die kabel rol, en hou toesig oor die grawery.

      Brits se seuns kom staan by hom en kyk, gefassineer deur die kragtige, raserige meganiese aksie. Hy vertel hulle die storie van die Boesmans en ’n luislang wat in ’n dolomietskeur gebly het. Uiteindelik het hulle die slang gevang met ’n pers kristal in ’n kalbas – toe die slang dit in sy bek vat, kan hy nie meer sy kop uittrek nie en daar’s hy vas. Hulle vat die slang na die Kunene, waar hulle hom in ’n seekoeigat los. Maar die slang het die ametis saamgevat, en hy dra dit op sy kop om hom te herinner hoe hy gevang is.

      Hulle hét al ’n luislang gesien, vertel die seuns, ’n grote, op ’n plaas naby Grootfontein. En ’n mamba!

      John en Brits ry ná ’n tyd Windhoek toe om die paar kilogram ametis te gaan verkoop. Toe hulle terugkom, vertel John dat hy sommer ook ’n mynmaatskappy geregistreer het: Teufelsbach Gemstones (Pty) Ltd. En dat hy genoeg uit die verkoop gekry het om die laaigraaf wat hulle huur te koop.

      Volgende kom die lugdrukboor, beloof hy. “As ons ernstig wil myn, moet ons ons eie gereedskap hê.”

      “Waar kom jy aan die naam?” vra Pretorius hom die aand op die stoep.

      “Teufelsbach is daardie droë loop duskant Windhoek. Maar dit sal die administrasie laat dink ons is buitelandse beleggers – Duitsers of Engelse. Dan los hulle ons dalk uit.”

      Brits is heel gemoedelik. Toe John vir hulle elkeen ’n fris dop brandewyn-en-coke inskink, vertel hy dat mense in die ou dae geglo het ametis help teen dronkenskap. “Dit hou jou glo sober en jou verstand helder.”

      “Kom ons drink op slim planne en goeie besluite,” sê John vrolik. “Sodat ons sakke vol geld uit ons myn kan maak!”

      “Op genoeg ametis om die hele Suidwes nugter te hou in hierdie droogte,” sê Pretorius.

      Hy het van Brits leer hou. Die prospekteerder is soos ’n ou wag’n-bietjie-boom: knoetserig en vol dorings, maar altyd dáár, oor die plassie koelte wat hy jou bied. Kom jy weer by hom uit, weet jy dis nog dieselfde Brits.

      John gaan haal sy kitaar. Hy speel en Pretorius sing saam: “Duitswes was lekker, Duitswes was goed; Duitswes lê rooi van die Jermans se bloed.”

      Twee maande later, op ’n diepte van vyftien meter met ’n sloot wat agt meter breed is en skuins na onder loop, stuit die lugdrukboor teen ’n harde bank. ’n Spiespunt graniet het in ’n dolomietskeur ingewig en deur die kristaldraende rif gebreek. Of verhoed dat die silikonoplossing waarin die molekules van die ametiskristalle diep ondergronds gedra is, verder spoel.

      Waar die rif onder hulle eindig, voor die graniet, stop die Teufelsbach-ametismyn. En daarmee saam eindig al hulle mynbedrywighede. Laat die middag staan hulle onder die sinkafdak en beraadslaag oor wat om te doen.

      “Ons kan in die graniet boor en dit wegskiet om te sien wat van die rif geword het, maar ons kanse lyk sleg met so ’n definitiewe breek.” Brits klink bekaf.

      “Hoeveel sal dit kos?” vra John. “En hoeveel het ons myn in die bank?”

      “Te min as ons dieper myn en niks kry nie. Ons kan wel die toerusting verkoop en terughuur.”

      “Tot al ons geld op is?” vra Pretorius ontsteld. Hy verstaan nie Brits se voorstel nie. As hulle nóú stop, beperk hulle ten minste hul verlies.

      “Die vraag is of ons die kans wil vat of nie,” sê Brits.

      Pretorius skud sy kop. “Ons het ten minste nou ’n laaigraaf en ’n kompressor. En ’n bietjie geld in die bank.”

      John gaan haal ’n bottel brandewyn uit sy bakkie. “Kom ons drink daarop,” sê hy. “G’n ametis gaan my vanaand keer om poepdronk te word nie.”

      Wat sy twee vennote beaam. Met geesdrif, wat later die aand tot groot uitbundigheid lei, voeg hulle daad by die woord. Hulle skink die bottel leeg in hul plastiekglase.

      Nog voor sonop het Brits sy kamp opgebreek en agter op sy ou bakkie gelaai. “Julle weet waar om my te kry,” sê hy voor hy wegry.

      Die twee seuns waai vir Pretorius van hul sitplek tussen die kampgoed. Hulle is gewoond aan kom en gaan.

      Die volgende Vrydagaand ry Pretorius saam met John Otjiwarongo toe, deur die skemerende