Abraham H. de Vries

Verbeel jou dis somer


Скачать книгу

      Verbeel jou dis somer

      Abraham de Vries

      Human & Rousseau

      Hierdie een is vir Wium, Hennie en Han en almal van Elke slot ’n weerbegin.

      In de herfst krijgt de twijfel gelijk.

      – Simon Carmiggelt

      Woede

      12 Junie

      Die begin van die beloofde verhaal stuur ek nou vir jou. Hoe verder, dit weet ek nog nie. Oor die geskiedenis rondom die storie sal ek jou in briewe inlig.

      Hoewel die opgekleide mure van die plaashuis op Vadersgawe vier geslagte lank al staande bly teen die strafste winde en die hardste stortreëns het die lang waenhuis vlak langs die ouhuis verval tot byna ’n ruïne. Wind en weer het lappe pleister van die dik mure laat loskom, later het dit afgereën of afgewaai, die strooi en die klippe in die kleilae was toe onbeskut teen die seisoene en die rysmiere. Die geute het teen die mure af in bruin strepe gelek, later het die roesgate groter en groter geword, tot die sink van die houtstroke af losgekom en skeef begin hang het. Selfs die waenhuisdeur se sinkplate het begin roes en skeef gesak, die dwars sluityster het nie meer oor die kromming van die slothaak gepas nie. As die wind snags hard waai, het die deure krakend en piepend oop- en toegegaan, asof onsigbare kuiergaste uit vervloë tyd in die lig van die volmaan hul perdekar daar instoot. In die wind was die perde se ongedurigheid en die geknars van die wiele op gruis verweg hoorbaar. In die gebou, bo van die ronde balke af – dun populierstamme waarop die riete en die kleilaag van die brandsolder eens gerus het – tot in die diep lae rommel op die vloer, was daar net stof en spinnerakke waar vroeër gevlegte swepe en blink tuie teen die mure gehang het. Agter die plafonriete was die maanlig van binne af sigbaar deur die gate in die blink plate van die sinkdak.

      Soms het ek my gelê en verbeel ek hoor die geluide van die jaarlikse basaar of van ’n begrafnis, die stemme van boere langs die rivier wat daar bymekaargekom het om waterverdelings uit te pluis, of die reëls van die rivier te bevestig teenoor ’n nuwe intrekker.

      Soms het ek my verbeel ek hoor vrouestemme in die klein woonstelletjie aan die rivier se kant (slaapkamer, eetkamer, sitkamer en kombuis) wat een van die eerste eienaars jare gelede, toe hy getroud is, daar laat verbou het vir sy suster. Die wind het snags stemme nageboots, stemme en gelag. Maar meestal kon ’n mens die stilte hoor in die waenhuis se beskermende ruimtes tussen die ouhuis en die plaasgewoel.

      En soms het iewers vandaan – van doer ver onder uit die populierbos of deur krake in die stukkende houtdeure – ’n knaende gekerm gekom, soos van ’n viool, soos van ’n lang klag. Dan het die voëls in hul neste aan die doringtakke geswaai, geswaai en geswyg.

      Verder is daar voorlopig nog niks.

      Uit julle koerant- en televisieberigte ken jy al die verhale van wetteloosheid en geweld hier te lande, van politieke leiers se minagting van die onafhanklike regspleging, die inmekaarstort van infrastrukture. Selfs die makabere bly ons nie meer gespaar nie. Al die koerante berig vanoggend oor die eensame man in Gauteng wat na ’n hartaanval en omdat die deure en vensters van sy huis almal uit vrees vir rowers dig toe was, deur sy eie huisdiere opgevreet is.

      Wanhoop is ’n verlate en troostelose geluid waarna niemand kan bekostig om lank te luister nie. Hoe groot ís die uittog al van diegene wat nie meer glo dat die verval net tydelik is nie? Ek sien selfs Van Dale se voorbeeld van hoe die woord “verval” by julle gebruik word, klink soos ’n waarskuwing: “zo zagen die mannen dan het verval van de Republiek wel, maar hielden het voor een voorbijgaande inzinking. (Geyl)”

      19 Junie

      Wat ek eers gedink het tamheid was, ’n soort tam terneergedruktheid oor die daaglikse aftakeling wat niemand kan miskyk nie (tot van medemenslikheid en mededoë, ja – en nie net in ander nie, nee, ook in myself): mense sterf in onbeskryflike wreedheid, daar is geen respek vir dienste en strukture en ook nie meer vir lewe nie, alles verbrokkel, en dit hou áán en áán – daardie tamheid het in die laaste tyd sy ware gesig gewys en ek het daar geen raad mee nie. Ek was nie vir iemand of oor iets kwaad nie, elke sug het eggo’s van ánder, vroeër, se gille, elke sterk emosie ’n horde redes en konsekwensies, niemand van ons is al vry van die roemlose verlede van magsmisbruik en diefstal en moorde wat ter wille van ons “veiligheid” gepleeg is nie. Maar as ek alleen in die bakkie was op pad iewers heen, kon ek myself nie meer bedrieg nie. Die gevaar van mag en eiebelang wat geen goed of kwaad, reg of verkeerd, ja, selfs wettig of onwettig erken nie, is nie meer mis te kyk nie.

      Ek ken my jammer hart én my hulpeloosheid by die aanskoue van lyding. Ek ken die suur smaak van later omdat ek die brutaliteit van mag en misbruik nooit verstaan het nie. Uit iewers diep in my, uit die buurt van daardie eerste week medelye en verdwaasde onbegrip, het in die laaste tyd ’n redelose drif gekom.

      Het dit begin by die ruïne langs Vadersgawe se ouhuis? Nee, die ruïne het voor my oë gegroei. Of daardie middag met Colas (my prokureursvriend, jy het hom al ontmoet) se onskuldige vraag: “Hoekom doen jy nie iets aan daardie gebou nie? Voor die plek op julle inmekaarval?” Omdat dit my gedwing het om die verbrokkeling raak te sien? Aan die aanbod, ’n week later, van die Oosterse maatskappy uit Windhoek, op soek na ’n plaas met ou opstalle waar hulle ’n godmagweetwat, uiteraard vir rykes, kon vestig, het ek my nie gesteur nie. “Dis ’n helske bedrag, dis kontant en jy kan kies hoeveel daarvan in euro’s moet wees,” het Colas gesê. Ek het nie eens vir die huismense daarvan vertel nie.

      Dat Ouboeta, Karlien en ons klein Danie oor ’n maand België toe emigreer, het ons geweet van die begin van hul planne af. Dit gebeur nie meer net in ander gesinne nie.

      Ons word seker maar almal in ons knus beddens wakker van die geritsel van verdorde roosblare.

      28 Junie

      Die datum, 1798, wat in reliëf op Vadersgawe se gewel staan, is nooit sonder skaduwees nie, want die son trek van oos na wes oor die nok van die gewel. Die eerste eienaar was ’n Du Toit: Gerhardus Johannes du Toit. Aan hom is die eerste wetlike bewys van besit gegee. Sy kleinseun het die ouhuis laat bou. Maar wie het dit voor 1798 besit? Khoi-stamme wat hier deurgetrek het, nomade op soek na water en weiding vir mens en dier. Toe kom die seilskepe van oor die see met die mense met sulke snaakse broeke en witterige velle. Voor hulle gekom het, was besit iets tydeliks, ’n nag se oorstaan met die diere, ’n week, miskien ’n somer of so lank as wat die gawes van die winterveld gehou het. Met hulle koms het die weiveld eiendom geword, daar is gesaai en geoes, winste en verliese gemaak, die vrug van die seisoene het beskikbaar geraak vir geslagte lank.

      En swendelary met mag in die naam van God en roeping en beskawing het daarvoor gesorg dat daar ook geslagte lank diegene was wat geploeg en gesaai het sonder om ooit te mog besit.

      Is dit my opvoeding wat my lewe lank in my oor fluister: besit beteken geleen? Geleen met ’n Opdrag en ’n Waarskuwing. Rooikappie, vat vir Ouma die mandjie met die koek en wyn, maar pasop vir die Gevaar langs die pad, die wolf wat jou kan laat vergeet wat jou opdrag is en waarheen jy op pad was.

      Waarheen lei Vadersgawe? Wat was die opdrag? Dié grond is nooit met wette of bevele van iemand afgevat nie. Dit sou besluite vergemaklik het. Maar Vadersgawe is aangelê waar eers net spoelgrond langs ’n rivier was en karoobossies tot aan die limiete. Volgens oorlewering en te oordeel aan die breë kleimure is die ouhuis gebou óm die twee kamers en kombuis van ’n hartbeeshuisie wat die eerste Du Toit vir sy vrou gebou het. In die familiekerkhof en net daarbuite, geskei deur ’n ringmuur, lê die eerste geslagte wat hierdie plaas gemaak het: die Du Toits, later die De Genestets en die De Witts; buite die muur: die Windvogels en die Blouws.

      Dit is dié plaas wat ek geërf het in die Klein-Karoo. Maar ek, wat die erfenis moes bewaar ná broer Josua se dood, is ook die eerste begunstigde wat kon oorweeg om van Vadersgawe ontslae te raak. Daar is nêrens naby die opstal en die werf ’n berg of ’n diep ravyn nie; die Klein Swartberg met sy skeure en kranse is immer ’n veraf, beskermende aanwesigheid op die grens van die hele gebied. Vanwaar dan die gevoel van onvastigheid, van ’n onstuitbare, bodemlose val, van ’n suigwind uit ’n afgrond?

      Cry, the beloved country.

      11 Julie

      Ek