wêreld mos seker goed ken. Hulle was – om dit maar so te sê – die eerste mense wat toe weer by die dassies oorgeneem het.
Maar daardie huis, daardie garage, daardie motor was (verskoon sy taal, vra hy) tóé onder lae en lae en lae van tien, elf jaar se dassiedrolle en dassiepis. Die gang was vol, die sitkamer, die eetkamer, kombuis, al die slaapkamers, ’n spens langs die kombuis (mure met mooi houtpanele borshoogte gelambriseer), tot die stoep voor die huis ook, hoewel net die helfte daarvan eintlik behoue gebly het, die res was al weggereën. As hy saans by sy huis terugkom, het hy eers buite in die tuin net in sy onderbroek gaan staan en hom met Lifebuoy gewas nadat Martha hom help afspuit het, dan nóg moes hy laventelgoed aanspuit voor hy by die etenstafel kon gaan aansit.
“Ek het die voorste slaapkamer links van die voordeur die eerste skoon gehad. Toe ’n stuk van die gang. Op aanbeveling van ’n vrou wat by Martha in die galery werk, het ek haar buurman en sy broer gehuur om te help. Toe het ons begin vloere afskuur en weer blink maak, later stadig die een vertrek na die ander uitgeverf. En hulle het vir my die stories van die hele dorp en sy distrik vertel, so lank terug as wat hulle kon onthou. Tot van die spook ook, al was dit net maar kort en stuk-stuk. ‘Daardie soort witmense, Meneer, wag, laat ’n mens maar liewerster stilbly. Dis oor en dis verby, maar waar wil so ’n ou mens ook rus kry?’
“Een nag het ek uit die bloute begin droom ek was in ’n donker, stink grot vol vlermuise. Jakkalse het die ganse tyd buite gehuil en diere het deur die dorpe gedwaal. Die reuk van die dassies was ondraaglik. Tog was ek bewus van elke beweging wat ek maak, my hele lyf, elke spier het gepyn. Iewers was daar ’n gerug van ’n groot oorstroming en water en ek moes sandsakke pak teen mure wat aan die inmekaarstort was. ’n Hele paar nagte het die droom teruggekom. Ek het my helpers om verskoning gevra dat ek so kortgebaker was bedags.
“Wanneer die drome begin verander het, weet ek nie. Maar die eerstes van die nuwes was almal van reën, reën hier in die Karoo, oral, in die veld, tussen koppies waar ek dwaal, een nag het ek selfs met die teerpad langs gestap in die reën. Soms het ek iewers gesweef oor baie lusernlande en oor stukke weiveld. Oral was daar ’n stowwerige reuk tussen die skerp geure van nat grond en bossies: boegoe, heuningbos. As ek wakker geword het in die nag, het ek stil bly lê, asof ek veilig was in ’n ark, en weer aan die slaap geraak. Saans as Martha my in die tuin afspuit, kon ek die verbleikblomme in die heining weer ruik. Dit was asof ek na ’n lang tog oor ’n leë, verswelgde land iewers aangekom het, iewers op ’n plek aangekom het wat soos ek is. In my is. Ek probeer dit alles nog uitpluis.
“Ps. As u iewers die sitplekke van ’n ’37-Chevvie raakloop, laat my weet. Die Duco was dassiebestand, maar nie die sitplekke voor en agter nie.”
Het ek Colas ooit ’n definitiewe antwoord op die aanbod van die Oosterlinge gegee?
26 Julie
In die ouhuis is daar genoeg meubels wat ons deur die jare gekoop het by vendusies van omringende plase. Ons moet vir die mat op die nuwe voorkamer se vloer ’n dik onderlaag koop vir die winters, sê my vrou. Ouma Malie Bruwer se kombuiskas kom in die spens.
Iewers in die voorkamer kom ook die ovaal raam wat Makkie met haar en Dawid se seun saamgestuur het. Die seun is ’n onderwyser by Boys’ High in die Paarl. Makkie het ook al gehoor die waenhuis word reggemaak. Dawid was sy lewe lank so geheg aan die foto, van sy sterfbed af kon hy nog daarna kyk. Die laaste vakansie wat ons almal saam op Vadersgawe was. Hoe kon ons weet? Vader en Moedie, ek en Broer en Sus. Makkie en Dawid ook. Moeder het daarop aangedring, want vir haar was Makkie nie net haar huishulp nie, sy en Dawid was deel van die familie. Die Vadersgawe van my jeug. Miskien is daar darem ’n plekkie vir hulle ook? het Makkie gevra. Ek het versoek dat een van die seuns hulle ma die laaste dag van volgende maand moes uitbring plaas toe, dat sy dit self, met haar eie hande, kan kom ophang. Dis afgespreek en ek het gedink: die datum het Petyn jou wragtag ook reggekry om uit sy graf uit te reël! (Maak tog net klaar, klong! – die skoolmeester sal nie vir jou wag nie! Ek gaan nie weer met die plaas se bakkie jaag nie. Ja, Dawid, ek kom, Dawid . . .)
17 Augustus
Ons het die waenhuisdeur uitgebreek en die boonste driehoek opgekleide muur met ’n wilger-dwarspaal teen instorting versterk. En elke dag wonder ons, gaan die kleimuur hou? Die vensters en die deure is groot. Eers met die inbreek van dié aan die dam se kant sien ons hoe groot die klippe is wat daardie jare se bouers in die klei ingepak het.
Wéér met klippe, reken die bou-opsigter toe ek hom vra hoe ons die stukke muur wat al verkrummel het, gaan opbou. Hierdie klei en klippe en strooihalms is ’n sterker storie as wat die hol stukke rofkas mens laat dink, Meester, sê hy. Die oumense was maar bôkkers, nes ons, maar party was slim bôkkers.
Hy is een van daardie mengsels van baie bravade en ’n baie klein hartjie wat ’n mens soms hier onder die boerebevolking kry. Ek hoor Vadersgawe se manne wat om die beurt die lusernsaad dors en help bou, noem hom Oupie! – iets tussen Oubaas en Oompie. Hulle het hom in die sak, maar as hy naby is, is hulle so sedig soos brode.
Met hom is verhale dinge wat regtig gebeur. Hy was al alles: matroos, garage-eienaar, boer, visser, slagter, bouer. Op see was hy en ’n doofstom Herero uit Namibië baie groot maats. Dan lê hulle saans op die boot in die donker en hulle gesels, die Herero het hom met een hand aan die keel beet, sodat hy met sy vingers kan “hoor” wat Oupie sê; Oupie weer is die enigste op die water wat die dowe se binnensmondse pratery agter uit sy keel uit kan verstaan. Maar oor die stemme iedere nag tot wie weet hoe laat uit die donker uit kom, dink die ander vissers toe die twee is besig met ’n soort geestesoproepery. “Ons is byna versuip van dié gepratery in die donker,” sê Oupie. “Vriendskap was daardie jare lelik gevaarlik!”
Partymaal, onverwags, asof dit iewers in hom oorkook, vra hy vir my: “Waarnatoe reken Meester is ons op pad?” Dan sê ek, nee, dit weet ek nie, en ek maak maar ’n grap: ek wíl eintlik ook nie weet nie. Vadersgawe is nog in die familie, sê ek (op die dorp het ek weer onthou van die aanbod en ek het toe met Colas in sy kantoor die ding gaan uitpraat), en die Weerburo voorspel reën.
Soms as ek ons so bekyk (buite wit hulle nou ook al die mure af, die vet is uitgekook in die ongebluste kalk, dit hou nattigheid en verkrummeling uit die klei), dan dink ek: ons ken almal hierdie land soos ons onsself ken, ons weet hoe voel verbrokkeling, ons weet wat wind en weer aan wonings doen, ons leef almal saam met die verskrikkings waarvan die koerante by julle skryf, die weeïge reuk van bloed, ons ken die stilte van rysmiere wat stadig sterk mure laat verkrummel, ons weet van die leegte wat groei op plase wat onbewerk lê en vergaan. Snags kom uit die duister na ons toe aangedryf: Petra, Efese, Sibaris, Babilon, dan mompel ons name wat ons beter ken: Marico, Laeveld, Namakwaland, Boland, Klein-Karoo.
Waar anders kan ons blind loop dag en nag? Waar anders as op hierdie werwe?
Ons bou saam ’n huis. Moenie vra hoekom ons dit doen en vir hoe lank en vir wie nie. Dis winter, die dae is koud en kort tussen stukke nag. Ons bou saam aan ’n paar vertrekke met breë mure en groot vensters. Jare gelede het Vadersgawe so begin. Daar kom tye waarin bou al is wat oorbly.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.