wat iets vir haar voel en dit elke nou en dan subtiel (hy dink klaarblyklik dis subtiel) aan haar probeer tuisbring.
’n Man vir wie sy niks voel of kan voel nie. Nou is die ding egter, hulle werk albei vir ’n geheime organisasie en hy is aan die hoof daarvan. Sover Lana se kennis strek, en sy vermoed sover enigiemand hier rond weet, is Die Fabriek die enigste geheime diens in die land. Dit beteken Sharpe het ’n graad van mag waaroor geen ander landsburger beskik nie: daar is in Suid-Afrika leiers met miljoene volgelinge en groter uiterlike vertoon, en daar is goete soos ’n president en ministers, maar verskuilde mag het sy eie kriteria. Hoe gaan sy hom op die lang duur op ’n afstand hou sonder om van hom ’n vyand te maak?
’n Man wat moeite doen om met haar geselsies aan te knoop, wat haar uitvra oor wat sy in haar vrye tyd doen, die soort onderwerp wat lede van ’n geheime organisasie nie behoort te bespreek nie. Hy het ook al probeer uitvis of daar ’n spesiale persoon in haar lewe is – iemand anders as Mark Steyn. Met sy oë wat so skerp is soos sy van, weet sy Sharpe het opgelet daar is of was iets tussen hulle.
Dis die vraag wat sy haarself afvra: Is dit of wás dit? Dit wat sy vir die man hier langs haar gevoel het, is nog nie weg nie, al probeer sy dit konstant nekomdraai. Dalk probeer sy te hard.
Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan –
Swanger. Hoe is dit tog moontlik?
Clive Sharpe kyk na haar en Lana is op die punt om haar oë te laat sak, toe sy blik na Steyn dwaal. Hy, hul baas, frons en gee ’n sluk. Sy kon sien hy het iets op die hart, iets wat hom ontsenu, en hier kom dit.
“We have a problem – or I do …”
3
By ’n kruising
Clive Sharpe stap uit en kry weer daardie onwerklike gevoel soos elke keer wanneer hy die hysbak verlaat en die gewone wêreld betree. In die voorportaal meng hy met mense waarvan die meeste so professioneel geklee is soos hy, baadjie-mans en snyerspakkievroue, en nie een van hulle – behalwe dié wat ook in Die Fabriek werksaam is – vermoed dat hy ’n gans ander soort besigheid as hulle in hierdie gebou bedryf nie. Marktendense en koopsyfers mag hulle soms hoofbrekens gee, maar dit is net in uiterste gevalle sake van lewe en dood.
Of. Daar is tog ooreenkomste tussen hulle en hom, al wil hy dit nie weet nie. Sedert hy agter ’n lessenaar in bevorder is en nie meer in die veld aktief is nie, voel hy week na week meer korporatief. Hy het al ’n vermoede as hy nou ’n sending aanpak wat regtig gevaarlik is, kan dit ’n katastrofe wees.
Hy moet egter in gedagte hou dat dit ’n indrukwekkende lessenaar is daar bo en hy nie die aansien (en gepaardgaande finansiële implikasies) kan geniet én nog al die dinge kan doen waarmee hy in die bedryf van spioenasie en eliminasie begin het nie. Al is dit dinge waarmee hy homself eenmaal gedefinieer het. Waardeer wat jy het, herinner hy homself telkens. Geniet ook die wete dat jy so ’n totaal ander rigting ingeslaan het as jou klasmaats, selfs die res van die rowwe bende waarvan jy die leier was, en dat jou ouers hartversaking sal kry as hulle uitvind wat jy regtig vir ’n lewe doen.
Die triomf oor alledaagsheid is wat dit waarlik die moeite werd maak – soos pas weer, toe hy uit die hysbak gestap het met die wete dat hy van die agste vlak af kom, maar die gebou na al hierdie volgelinge van voorspelbaarheid se beste wete nie so ’n verdieping het nie. Nifty trick, en elke keer wanneer hy sien hoe dit ’n nuwe aankomeling by Die Fabriek beïndruk, word hy self weer daardeur beïndruk, soos ’n nuwe pa weer soos dekades tevore na die wêreld kyk as sy kind dit begin raaksien.
Dit – trou en kinders maak – is nog ’n alledaagsheid wat hy vrygespring het. Party werknemers kry dit reg om hul bedrywighede met ’n gesinslewe te balanseer, maar dis hoofsaaklik administratiewe personeel en hulle hoef die minimum leuens by die huis te gaan vertel. Die meeste van die ander besluit dat afhanklikes te veel innerlike konflik sal meebring, want hoe bereid kan jy wees om jou lewe te waag as daar ’n kleinding by die huis wag op Pappa of Mamma se volgende drukkie?
Sharpe verlaat die gebou en word opgeneem in die mensemassa op die sypaadjie. Good day, Cape Town, we meet again. Enjins grom en uitlaatstelsels poep rook. Dis nogal ’n warm dag en hy besef hy het ’n slegte tyd gekies om uit te kom, so reg oor middagete. Die kantoor het net te klein geraak met al sy ou weelde om in vas te kyk, en hy mag nou wel daar deur mense omring wees, maar is nog meer beslissend deur die toe deur van hulle geskei as deur die verskil in hul posvlakke. Almal se baas en niemand se vriend nie.
Hy herinner homself hy wil nie hul vriend wees nie. Net so met al die siele wat hier om hom maal: wil hy enigeen van hulle ken? Almal van hulle lei klein lewens vol nuttelose detail en nie een maak ’n verskil nie.
Iewers naby lê ’n bestuurder op sy toeter en ’n paar sekondes later snel ’n groot wit taxi verby Sharpe. Hy kon nou in daardie taxi gesit het, sonder die ruimte – en lugreëling! – van sy eie ryding.
Hy moet sy loop ken om nie met ander voetgangers te bots nie. Dalk moes hy eerder die motor gevat het, maar hy wou nie te ver gaan nie, moet oor ’n ruk terug op kantoor wees. Dit word van jou verwag, jou werknemers moet kan sien jy neem jou werk ernstig op.
’n Halwe blok voor hom is ’n groot kruising en Sharpe oorweeg dit vir ’n oomblik om terug te draai, want Kaapstad oor die etensuur is waaragtig net vir dapperes, maar hy hou aan met stap omdat dit so goed voel om in beweging te wees. Iewers agter hom skree remme en iewers regs van hom kom die nog skriller geluid van iemand wat op iemand anders skel: hy kan nie woorde uitmaak nie, neem net die woede waar. Verkopers op die rand van die sypaadjie probeer sy aandag trek sodat hulle blink gemorsies aan hom kan afsmeer, maar hy ignoreer hulle met die gemak van ’n ou stedeling. Rotte, almal wriemel soos rotte, en by daardie gedagte kry hy juis ’n reuk wat ’n rot tuis sou laat voel, dan vervaag dit gelukkig namate hy aanstap. Geluid van ’n winkeldeur wat oopskuif toe die sensortjie van hom bewus word. Geluide van stemme soos hy verby mense loop.
Sharpe kyk vlugtig oor sy skouer, ’n ou gewoonte. Jy moet altyd seker maak jy word nie gevolg nie, al is daar geen rede om so iets te verwag nie; dit bly ’n goeie veiligheidsmaatreël. Sy sintuig vir gevaar is so goed ontwikkel – of hy hoop dit is nog – dat hy behoort te kon vóél as daar iemand was. Jou oë is net daar om so ’n vermoede te bevestig, en verder vir algemene waarneming, soos ’n sekuriteitskamera.
Niemand nie.
Of daar is báie, ’n opwelling van lewe, maar geen bedreiging nie, slegs talle ontstellend gewone mense.
’n Bejaarde bruin vrou met (in dié hitte?) ’n jassie wat saam met haar jonk was, kom reg voor hom tot stilstand toe iets in ’n winkelvenster haar aandag trek en Sharpe onderdruk ’n vloek toe hy verby haar skuur. Te veel kontak, hier is glad te veel kontak met die massas. Haar oorsoet parfuum stroom agter hom aan.
Dan het hy die kruising bereik. Die mannetjie is rooi en hy gaan staan en wag saam met ses ander mense wat elk om ’n ander rede oor die besige straat moet kom.
’n Bus snel nader, ’n ligte oranje blits.
En toe.
Eers voel hy net die persoon agter hom is veels te naby, dan weet hy dit is ’n man, is hy bewus van warm asem naby sy oor.
’n Stamp laag in sy rug.
Dit was ’n paar hande, hy is van balans af en in die pad van die aankomende bus, niks tyd om te keer dat hy onder dit beland nie.
Maar meteens word dit ’n lange proses, dié afwaartse tog. Sharpe gewaar ’n vrou doer aan die ander kant van die straat, hoe haar mond oopgaan toe sy besef wat aan die gebeur is. ’n Lang oomblik later kan hy nie meer haar gesig sien nie, want die hoek waarteen hy kyk, is aan die verander en nou is daar nog net haar plompe lyf wat in ’n liggroen rok vasgevang is, en dan die metaal-blinkheid van ’n liggrys motor wat tussen hulle verbyry.
Sharpe steek sy hande uit, dan tref hulle die teer of die teer tref hom en weet hy daar’s nie ’n sekonde te spaar om te kyk presies waar die bus se wiele is in verhouding met waar hy geval het nie, hy sal dié maneuver moet uitvoer op grond van wat hy terloops