Marianna Brandt

Emma en die geheime gang


Скачать книгу

het ’n lekker bed en die kos is heerlik. En sy hou ook van haar kamermaats.

      Tweede pouse storm die kinders met hulle kosblikke uit na die skoolterrein. Iemand stamp aan Emma se arm.

      “Haai, Em!”

      “Hendrik!”

      “Lekker plek hierdie, nè?”

      Sy sien hoe hy saam met ’n groot seun verbystap en iets uit sy kosblik haal. Uit nuuskierigheid maak Emma haar kos­­blik oop en vind die lekkerste hamburger, ’n stuk koek, vrug­tesap en ’n groot staaf sjokolade daarin.

      “Ons gaan snoepie toe. Kom jy saam?” vra Willa skielik agter haar.

      “Ek sal saamstap, maar ek wil regtig nie nog iets hê om te eet nie,” sê Emma. ’n Lang ry kinders met leë kosblikke staan en wag om gehelp te word.

      Toe sien hulle die nuwe onderwyser, die aantreklike meneer Valkens, tussen die kinders in die ry staan.

      “Wat maak hý hier?” vra Emma. Onderwysers eet mos in die personeelkamer. As hier so baie kos vir die kinders is, het die onderwysers seker ook?

      “Dalk is hy lus vir iets uit die snoepie. Hoekom kla jy, Em­ma? Hy’s die oulikste onnie wat ons nog gehad het.” Willa hou haar hart vas. “Hy’s ’n hunk. Ek is mal oor blonde ouens met blou oë.”

      Anja gee haar ’n stamp aan die boarm. “Toe nou, kan jy nie sien hy weet hy maak meisies se knieë lam nie?”

      Toe die skool uiteindelik uitkom, is Emma skoon moeg om teen kos en lekkergoed vas te kyk. Middagete is weer net so oorvloedig, en teetyd is daar tien verskillende koeke om van te kies. Emma eet net een stukkie wortelkoek.

      Daardie aand kry hulle pastas en pizzas en die heerlikste Italiaanse roomys. Nie net dit nie, maar ook braaihoender, vleis en vark.

      Ná ete bel Emma haar ma.

      “Hoe gaan dit in die koshuis?”

      “Baie goed, Ma. Ons eet ons net dood,” sê Emma en weet dadelik die ou gesegde het vir haar ’n heel nuwe betekenis hier in Kosterkloof se koshuis gekry.

      “Maar dis mos lekker!”

      Emma weet haar ma dink sy maak ’n grap.

      “Ma, wat betaal Pa om vir my en Hendrik hier te laat bly en skoolgaan?”

      “Presies dieselfde as vir die koshuis in die stad.”

      “Is Ma seker?”

      “Hoekom vra jy? Dis wat jou pa gesê het.”

      “Ma, dis nie ’n koshuis nie, dis ’n hotel!”

      “Wel, ek is bly julle is so gelukkig daar.”

      Emma probeer verduidelik, maar kan nie deurdring tot haar ma nie. Dis omdat sy nie die plek gesien het nie.

      Toe sy aflui op haar selfoon, sien sy vir Hendrik aan­kom.

      “Hei! Ek het nou net met Ma gepraat. Dit gaan goed daar, en ek het vir haar gesê dit gaan goed met ons,” sê Em­ma vinnig. “Wat dink jy van die skool?”

      “Blêrrie great. Het jy van die pannekoek geëet? Dit was awe­some!”

      “Nee, ek kan nie so baie eet nie, Hendrik. Ons eet ons dood hier.”

      “Aag, kom nou, Em. Daar’s niks so lekker soos lekker kos nie.”

      “Pas net op dat jou broeke nie ook so styf begin sit soos die ander ouens s’n nie,” waarsku Emma. “O, ja, het jy gehoor hier word nie rugby of sokker gespeel nie?”

      “Ja, ek het. Maar dis oukei. Ek sal maar eet en swot. Dis wat die ouens hier doen.”

      Emma kan nie glo wat sy hoor nie. Hendrik was nog altyd mal oor rugby. Hy het in graad agt al in hulle vorige skool­ se tweede span gespeel.

      Op pad terug kamer toe sien Emma een van die meisies van die kamer langsaan hulle.

      “Haai, ek is Janine. Ek wou al met jou praat,” sê die meisie met die lang bruin hare en vriendelike groen oë.

      Emma glimlag. “Ek’s Emma. En ek kan sommer sien jy’s ook nuut hier.”

      “Hoe so?” vra Janine met ’n frons.

      “Al die kinders hier is spekvet,” fluister Emma. “Ons twee met ons maer lywe staan uit soos ’n geel puisie.”

      Janine lag. “Dis ’n goeie beskrywing.”

      Sy loer in die gang af en sê dan geheimsinnig: “Daar’s iets wat ek jou wil vra.”

      “Ja?” Emma kyk na die aantreklike meisie met die atletiese lyf in die stywe jeans en rektoppie.

      “Ek haat melk. Ek raak skoon naar daarvan,” kla Janine.

      “Great! Dit maak twee van ons. Ek is ook allergies vir melk,” sê Emma.

      Janine sug. “Maar nou móét ons voor etes milkshakes drink!”

      “Ek stuur dit net terug,” antwoord Emma. “Hulle kan jou nie dwing nie.”

      Janine glimlag. “Ek gaan dit probeer. Ek het vanaand van ete af weggebly, net daaroor.”

      “Dis nie nodig nie. Doen net wat ek doen,” sê Emma.

      “Oukei, ek sal, dankie!” Voor Janine by haar kamer ingaan, draai sy om na Emma en sê: “Ons moet weer praat.”

      “Ja, ons moet.”

      Emma stap na haar kamer en gaan lê en dink op haar bed. Janine is sekerlik net soos sy en Hendrik ook nie van ’n kinderhuis nie. As die meeste kinders in dié plek uit kinderhuise kom, hoekom neem hulle dan ander kinders soos sy en Hendrik en Janine in?

      Dit kan nie wees oor die bietjie geld wat hulle ouers be­taal nie. Dit kos tog seker baie meer as dit om in ’n plek soos dié te bly.

      5

      Die volgende aand word daar weer melkskommels voor hul­le neergesit. Emma ignoreer dit en skep ’n beskaafde bord kos in, soos altyd by die huis. Sy was nog nooit ’n groot eter nie, hoekom moet sy nou hier skuldig voel daaroor?

      Skielik staan mevrou Snopke langs haar. Emma kyk op in die lang neusgate bokant die dun rooi lippe. Op die vrou se skouer sit ’n yslike papegaai met ’n snawel wat nes hare lyk.

      “Hoekom eet jy so min?” vra mevrou Snopke. “Voel jy siek?”

      “Nee, Mevrou.” Emma loer na Willa en Anja wie se bor­de weer kreun onder die kos.

      “Hier by Kosterkloof Koshuis is dit belangrik dat julle goed eet. Kos voed jou brein. Dis hoekom ons kinders so bril­jant presteer.” Die vrou glimlag suur. “As daar iets verkeerd is met die kos, moet jy dit aan my kom rapporteer.”

      Voor Emma kan antwoord, hoor sy: “Eet, eet, eet, eet!”

      Sy kyk op en sien hoe die papegaai haar aangluur. “Toe, toe, toe, toe, eet!” sê hy in sy Snopke-papegaaistem.

      Die kinders aan Emma se tafel lag, en mevrou Snopke se suur mond vertrek in ’n glimlag. “Sê haar, Engelbert, sê haar.”

      Nog ’n engel, dié simpel voël, dink Emma.

      “Ek wil sien dat jy goed eet,” vervolg die vrou. “Ons hou julle dop. Julle eetgewoontes en julle vordering is vir ons baie belangrik.” Dit voel vir Emma of mevrou Snopke se oë haar in haar stoel vaspen.

      “Ek sal, Mevrou.” Maar Emma weet nie hoe sy dit gaan regkry nie, want háár genoeg is nie mevrou Snopke se genoeg nie.

      Die vrou draai om en gaan sit Engelbert in sy hok op die stoep. Dan stap sy tussen die tafels deur na die kombuis.

      Ek weier, dink Emma. Moet ek op die ou einde soos Willa en Anja lyk? Nooit!

      Sy eet stadig sodat dit lyk of sy