wagtende geliefde, ja,
en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg
om die verlore Rembrandts te bespied.
“Die lewe is ’n reis,” staan dit opgeteken
in ’n klein notaboek, “en die liefde ’n hellevaart.”
Later in die Hermitage staan ons verwonderd:
“Die ontering van Haman” en in die meester
se fyn balans tussen donker en lig,
geskiedenis en verbeelding,
weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.
’n Gedig word voltrek in stille toeval.
Derdeoog
Op ’n markplein in Athene
sit ’n ou man met pêrels op sy oë:
in sy ónsienlike bestaan kyk
hy na die gewerskaf, hoor die geredekawel
en, glo my vry, voorspel hulle
dat hy eendag weer sal sien.
Op die vismark glinster ’n visoog,
kieue oopgeskeur, skubbe afgekrap.
In daardie blindeoog,
in daardie visoog, staar iets terug.
’n Siener voorspel reise na orals
en nêrens, ’n lewe van oorvloed.
Op daardie markplein in Athene
was daar ’n man en ’n vis,
beide was kortstondig hier,
vasgevang in die lens van ’n kamera,
in die blindekol van ’n optelvers,
presies in die derdeoog se hoek.
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ’n goed gevormde, netjiese kruik.
’n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ’n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ’n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak …
Boonop word vertelle ’n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ’n goed gevormde, nuttelose kruik.
Die onbetroubare muse
Ons nag in Luxor
toe jy verdwyn
en ek wag in die klein kabine
en hoor hoe passasiers rumoer op die bodek,
selfs die kaptein bel om te hoor: is dit veilig?,
die patryspoort oopmaak en sien hoe twee geliefdes
in die aangrensende vertrek
(die twee logge skepe lê twee sardiens geblik)
met mekaar praat, foto’s van tempels laai op ’n skerm,
watter een sou ek nie nou kon raai,
dalk Karnak? Met ’n half-blinde Nefertiti
koekeloerend
op ’n poskaart gekoop op ’n mark
met gebottelde water,
Koningin Hatshepsoet
in die Deir el-Bahri,
het jou geweldig bekoor.
Daardie nag bevat al die elemente
van die einde van ’n verhouding
en ’n gedig se aanvang;
boonop wis ek nie tóé
dat die gegewe die werklikheid vooruitreis:
jy het in die nag spoorloos verdwyn
en my stil agtergelaat sonder adres
vir daardie poskaart,
’n blote hiëroglief.
In ’n andersoortige kamer,
wag ek steeds op jou:
’n stanza is immers ’n halte, ’n staanplek.
Nou val daar oggendlig oor die volta
van dié verdoemende gedig.
Die algebra van pyn
Vir Johann de Lange
Sou jy ooit kon dink toe ons op ’n plaaspad stap
hoe die lewe genadeloos álle illusies sou afskil?
Ons ken beide die verslawing van hierdie bedryf,
verkeerdelik al as ’n stil, eensame proses beskryf.
Op daardie plaaspad, diep in die geheue geberg,
’n koue kelder met gemerkte bottels vol sand,
wys jy toe na ’n sekelmaan as ’n nael gebreek.
Vele afleggings, eindes, selfs moord oor ons lewenspad.
“Fata,” het jy uitgeroep. “Blote toeval dalk?”
Lewe soos dood toe vir jou ’n snel-grys-fantoom.
Op hierdie nag, ver van daardie plaas met ’n emmer
roesend in ’n gedig en ’n uil wat hoe-hoe roep,
vra ek vannag, enkel uit genade, dat ek, eerder as jy,
eerste uit hierdie lewe, ’n ónsierlike gedig, sal stap.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.