soene onthou en nou op die plek doodgaan!
O, Jacques ...
Sy onthou hulle eerste romantiese soen. Sy was nog in die laerskool. Skaars twaalf jaar oud, toe bring hy vir haar ’n bos rose, in Mevrou se tuin gesteel. Dit was laatmiddag, haar ouma en haar ma was dorp toe en sy was alleen by die huis besig met haar skoolwerk. Die bodeur was oop en snaaks genoeg het sy op daardie oomblik aan hom gedink en gewens hy verskyn. Toe gebeur dit. Skielik staan hy voor die agterdeur met die bos rose in sy hand.
“Vir jou, maar ek het dit gesteel. Steek dit in jou kamer weg.”
“Jou stupid, hoe steek ’n mens blomme weg?” het sy gevra en die deur vir hom oopgemaak. “My ma sal sien.”
“Sit dit langs jou bed. Sê dan maar vir haar dis ek.”
Sy het ’n blompot van die rak afgehaal, water ingetap. “Jou ma maak jou dood.”
“Ag, daar’s nog baie.”
Die rose het lekker geruik en dit het mooi gelyk.
“Dankie,” het sy gesê en hom ’n piksoentjie op sy wang gegee. “Dis baie mooi.”
Hy het vreeslik gebloos, sy vingers teen sy wang gedruk asof dit brand. Dit was niks, sy het hom al baie so gesoen. Maar daar was iets anders in die lug daardie middag, iets in die geur van die rose, iets soos afwagting.
“Wil jy koeldrank hê?” het sy gevra.
“Ek het jou ouma en jou ma sien ry,” het hy gesê.
“Hulle is dorp toe.”
Skielik het hy een tree vorentoe gegee en haar gegryp asof hy haar in ’n rugbyoefening onder stof loop. Hy het sy mond hard op hare neergesit en haar gesoen tot sy nie meer kon asemhaal nie. Toe haar net so skielik gelos en die hasepad gekies.
Die deur het agter hom toegeklap en sy het haar hand op haar mond gesit en snaaks gevoel: half naar, half lekker. Dit was anders as al die ander soentjies; daar was iets van ’n grootmensgevoel, iets wat haar ouer laat voel het.
Dis toe dat sy finaal besluit het sy gaan eendag met Jacques du Plessis trou. Matriek skryf en trou, dadelik op haar agtiende verjaardag. Sy sou oud genoeg wees, haar ma was veertien toe sy getroud is, miskien kan sy in standerd agt uit die skool gaan en op sestien trou. Maar nee, sy wou darem ’n bietjie meer geleerdheid hê. Jacques se mense is baie vernaam en hulle sal nie daarvan hou dat sy vrou agterbly nie. Sy het haar neus in die rose gedruk en gedroom en gedroom.
Hoe vernaam en hoe geleerd en hoe belangrik die Du Plessis’s van Rosedal is, het sy jare later wel uitgevind. Daaraan het niks verander nie. Sy is nog wie sy is en Jacques wie hý is – nie van dieselfde stand nie.
’n Siddering trek deur haar lyf. Daardie een was die eerste soen, hierdie een die laaste soen. Die heel laaste soen, van nou af ook maar net ’n herinnering. Sy lek oor haar lippe, proe hom. Was dit regtig hy?
’n Bedeesde kloppie aan haar kamerdeur ruk haar terug na die werklikheid.
“Sharise, ons het gaste vir ontbyt. Gaan jy afkom of moet ons aangaan?”
Sharise staan op. Haar lyf voel swaar en seer. ’n Trein is vanoggend nie oor haar nie, maar dwarsdeur haar. Sy sluit die deur oop. Myrna lyk baie bekommerd.
“Het hy gery?” vra Sharise.
“Ja.”
“Dankie.”
“Was dit Jacques?” vra Myrna versigtig.
Sharise kan nie praat nie, sy knik net.
“Was dit onverwags?”
“Ja, dekselse mansmens.”
Onder in die restaurant hoor hulle stemme: uitlandse Engels, en Donald wat sy bes doen.
Myrna lig ’n lok van Sharise se deurmekaar hare, skuif dit agtertoe, uit haar gesig.
“Sien jy kans? Dis drie karre.”
“Gaan af, haal die vrugte uit die yskas, die quiche behoort reg te wees.”
“Donald het dopgehou.”
“Sit die pan op vir roti. Ek is nou by julle, was net gou my gesig.”
Myrna gee ’n tree agteruit, skud haar kop. “Jy is amazing. Ek sou tot môre getjank het.”
Sharise kry dit reg om te lag. “Ek wil, maar gelukkig het ek werk om te doen.”
Toe gee Myrna haar ’n drukkie. “Alles sal regkom, jy sal sien,” troos sy voor sy haastig met die trap afklim.
In haar badkamer gaan staan Sharise voor die spieël. Sy lyk soos iemand wat haar in ’n spook vasgeloop het. Daar is rooi vlekke op haar wange, haar oë is rooi, haar mond seer.
“Deksels!” sê sy en draai die warmwaterkraan oop. “Dekselse vark van ’n mansmens!”
8
By die huis parkeer Jacques sy pa se kar en stap om stalle toe. Hulle hou ’n paar ryperde aan vir eie plesier en omdat sy ma so lief is vir perdry. Dis vroeg en die perde sal seker nog op stal wees. Hy wil kyk of daar een is vir hom sodat hy die plaas op sy tyd kan verken, sy ou speelplekke besoek, ouma Maria gaan groet en haar uitvra oor Sharise. Hy moet weet.
Dis by die stalle waar hy sy ma raakloop. Sy is in rydrag en besig om met ’n jong man te praat.
“Jacques, dis Johnny. Hy bestuur die stalle vir ons, nou amper drie jaar, nè, Johnny?” stel sy ma hom voor. “Wat hy nie van perde weet nie, moet hulle self nog uitvind,” voeg sy by.
Johnny is klein en skraal soos ’n jokkie, maar sy handdruk is stewig. Werkers is besig om vurke hoog gelaai met die vorige dag se hooibeddens uit die stalle te dra. Een is op pad kampie toe met ’n pragtige Arabiermerrie aan ’n halter; haar vul draf saam.
“Hoeveel perde hou julle nou aan?” wil Jacques weet. “Lyk soos Arabierperde almal.”
“Hier is veertien, drie nuwe vulletjies, en Shakira moet nou enige tyd vul. Ná Hanover en Flying Star se dood het ons die bontspul opgeruim. Ons het deesdae net suiwer Anglo-Arabiere,” antwoord sy ma.
Jacques fluit saggies. “Ek hoop Ma het versekering.”
“Vanselfsprekend.”
“Is dit die moeite werd?”
“Ons doen goed, maar op klein skaal. Ek skou en verkoop vullens. Die teelprogram is geweldig interessant en veeleisend, maar ek stel nie meer belang in wedrenne nie.”
“Wat van oefening?”
“Johnny het sy helpers. Jou pa raak lui die laaste tyd, hy ry nie meer gereeld nie. Ek ry elke oggend, wel, amper elke oggend, ek was nou net uit op Catherina. Johnny, Jacques kan julle help met die oefenprogram. Hy kan vir Robyn of Seymore ry. Hy’s ’n goeie ruiter.” Sy kyk na Jacques. “Of het jy jou slag verloor?”
“Ek het verlede week nog gery, toevallig ’n Franse Anglo-Arabier, so ’n lewendige reuntjie, Chagall. Die eienaar het my sy landgoed te perd gewys, eers gedag ek praat sommer toe ek sê ek ry. Nee, ek is goed in oefening, Ma.”
“Ek saal vir jou Robyn op,” sê Johnny. “Sal gaaf wees as jy ons kan uithelp. Een van ons manne is vanoggend af siek, en dan raak ons besig.”
“Goed, dankie! Sien jou oor vyftien minute.”
Jacques stap saam met sy ma huis toe. “Jy het nog nie ontbyt gehad nie,” sê sy.
“Dis oukei, Ma. Ons het gisteraand wel gedaan, so die koffie en beskuit van vanoggend was genoeg. En ek wil nie vir Johnny laat wag nie.”
“Ek maak tee en toebroodjies vir as jy terugkom.”
“Dankie. Ek gaan trek net gou ander skoene aan.”
Hy hou vir haar die agterdeur oop. Louise is netjies gebou en fiks vir ’n vrou van haar jare. Sy sal nog