Helena Hugo

Satyn Omnibus 2


Скачать книгу

soos kinders behandel.

      Hy draai die stortkrane toe. Iemand klop aan die deur.

      “Darling, it’s me!”

      Suzette met haar Engels.

      “Ek kom, ek’s nou klaar.”

      Hy begin om hom hard af te droog.

      “Food’s on the table!”

      Asof sy sal eet.

      “Ek trek gou aan.”

      Hy het die deur gesluit, en op daardie oomblik besluit hy om dit gesluit te hou. Hy help homself liewer vanaand voor hy by Suzette gaan inkruip. Of haar toelaat in die kamer waar hy Sharise die laaste keer hoor lag het.

      5

      Louise het die tafel vir die spesiale aandete met erfstukke en Kaapse blomme gedek. Die vyfgangmaaltyd word met sorg bedien deur twee netjiese jong kelners wat aan Jacques voorgestel word as Donald en Lucy.

      Hulle is aantreklike mense, deftig in swart en wit geklee. Hulle bedien die kos en wyn geruisloos en professioneel. Donald maak die wyn oop en skink dit soos ’n maître d’hotel, met selfvertroue en panache, alte swierig. Sy hemp is kraakwit, so ook die vadoek wat oor sy arm hang. Lucy is skaam-vriendelik en fyntjies mooi, haar welige swart hare in ’n Franse rol.

      Sy lyk vir Jacques so baie na Sharise dat hy skrik. Hy dink weer daaraan dat hy haar by die werkershuise gesien het. Hy wil graag glo dat dit Sharise was, maar dit kon hierdie meisie ook gewees het.

      Hy moet daarop konsentreer om haar nie aan te staar nie, nie agterna te kyk nie. Netnou toe hulle by die werkershuise verby is, het hy opsetlik niks gesê oor die ou vrou en die jong meisie wat hy daar gesien het nie. Sy pa se kortaf antwoord nadat hy vroeër oor Sharise verneem het, was genoeg om sy mond te snoer – veral vanaand aan sy ma se etenstafel.

      Sharise sal nie hier genoem word nie, nooit! Maar pla dit nie sy ma dat dié Lucy so baie op Sharise trek nie? Of is dit net hý wat Sharise in elke fyngeboude donkerkopmeisie sien?

      Konsentreer op die ete, sê hy vir homself. Vergeet vir vanaand dat jy terug is in jou ou omgewing, en dat sy hier iewers is.

      “Op Rosedal en op die toekoms!” sê Zack en lig sy glas.

      “Op Rosedal en die toekoms,” sê Jacques en dink aan Sharise.

      “Op jou en Suzette!” sê Louise.

      Die hand waarmee Jacques die wynglas lig, bewe liggies. Ter wille van die skyn kyk hy vlugtig na Suzette, glimlag selfs. Sy pa het die beste uit sy kelder gekies. Dis werklik spesiaal, sy ma se kos ook. Alles is so perfek en smaakvol dat Jacques sy gedagtes aan Sharise met mening onderdruk.

      Hy geniet elke happie, al sien hy hoe Suzette maak of sy eet: twee klein skeppies consommé afwurg, die kreef thermidor verder uitpluis, net een happie in haar mond steek. Die escalope van kalfsvleis, die hoender fricasée en paupiettes raak haar oor; sy weier die nagereg van gâteau au chocolat en glace à la fraise; sy laat die kaasbord by haar verbygaan. Sy het die ete met ’n chardonnay begin en hou daarby. Maar heeltyd swymel sy oor Louise se kookkuns en oom Zack se wyn. Jacques let op dat sy groente eet en baie stadig kou. Sy sluk asof sy ’n heel volstruiseier moet afwurg.

      Hy sien hoe sy pa sy wenkbroue lig toe sy die soveelste bord met ’n gefrommelde servet bedek en vir Lucy aangee om kombuis toe te neem. Sy en Lucy is blykbaar kop in een mus, want Suzette kry elke keer weer ’n skoon servet. Jacques se ma het haar sinne verloor, sy is blind en doof vir die klugspel. Of dalk het sy en Suzette dit vooraf afgespreek. Jacques ken Suzette se dieetgrille, maar hy glo nie sy pa weet nie, tensy sy ma hom ingelig het.

      Hy en sy pa maak op vir Suzette en eet soos wolwe, beskaafde wolwe darem, wat hul wyn ook waardeer. Bekroonde oesjare word oopgemaak en deeglik bespreek. Hulle vermy die onderwerpe waaroor hulle haaks kan raak soos brandewynversnyding, en praat oor nuwe wingerdvariëteite en ekologies volhoubare boerderymetodes. Hulle is dit hartroerend eens daaroor, ook Suzette, wat ’n verskoning kry om haar kos te vergeet en opgewonde te raak oor die bewaring van witkruisarende, vleivalke en die Afrika-grasuil. Jacques is naderhand geamuseerd, want sy het voorheen net mooi niks van hierdie voëls geweet nie, maar sy het duidelik haar huiswerk gedoen.

      Dis ’n goeie weersiens. Suzette dra ’n laag uitgeholde rok en haar vol borste swel sensueel, veral toe sy begin opgewonde raak oor die grasuile. Die kerslig speel op die rondings en raak weg in die spleet waar die twee bymekaarkom. Die goue hart van die hangertjie wat hy ’n tyd terug vir haar gegee het, lê met sy punt reg op die spleet. Dit laat sy hande jeuk. Haar borste is nou wel vergrotings gedoen deur ’n plastiese sjirurg, maar dit voel eg en sag, en die tepels werk normaal. Ten minste is haar vel haar eie, en dis heuningbruin en vlekkeloos.

      Terwyl Jacques en sy pa en ma hul nagereg eet, beduie sy hoe sy eenkeer saam met uile moes poseer.

      “Dit was vir nagklere, en hulle het heeltyd gesit en slaap! Maar een het wakker geword en sy vlerk gestrek. Toe haal die foto die voorblad. Kan julle glo, dit was my eerste voorblad – net omdat ’n uil sy vlerk gerek het! Seker dié dat ek hulle so graag die lewe gun.”

      As Suzette so flap met haar kunsmatige wimpers en vroetel met haar goed versorgde hande, lyk sy so ingetoë en beskeie, dink Jacques, dat iemand wat nié van haar hou nie, baie onregverdig sal wees. Sy ouers kyk albei met deernisvolle oë na die brose wese wat hul seun se hart gesteel het en trane in haar oë kry oor die Afrika-uile wat soveel vir haar loopbaan beteken het en nou gaan uitsterf.

      Jacques voer haar drie teelepels van sy roomys sodat sy kan proe sonder om skuldig te voel. Roomys is immers haar swak in die lewe.

      Ná ete verkas hulle almal sitkamer toe, waar Louise met Lucy se hulp sjokolade, koffie en likeur bedien.

      Suzette kan haarself nie meer keer nie, sy eet eers een en dan ’n tweede Switserse sjokolade, drink haar hele glasie likeur. Dis van verligting omdat sy nie ingegee het aan tafel nie, dis haar beloning vir haarself en haar bomenslike wilskrag.

      Toe sy ’n vierde sjokolade neem, weet Jacques ook dat sy die stryd verloor het en vannag heelnag gaan opgooi. Hy wens hy kan in sy kar klim en ry, iewers in ’n hotel gaan slaap, want hy sal byderhand moet wees om haar gesig af te vee.

      “Jacques, maar vat dit weg!” Sy lees seker sy gedagtes. “Voor ek nog een neem.”

      “O, ek kan ’n hele boks opeet,” erken Louise.

      “Ek ook, maar ek mag nie!”

      “Jacques ...!” Louise kyk streng na haar seun.

      Zack skink die likeurglasies weer vol, Suzette s’n ook.

      “O nee!” roep sy uit. “Ek het vanaand só geëet en gedrink, ek sal môre nie in Jean-Luc se klere pas nie!”

      Suzette sit graag skuins en gooi dan haar een lang been oor die ander een. Vanaand doen sy dit weer so uitlokkend, selfs Zack kan nie help om te kyk nie. Die swart wolrok wat sy aanhet, pas soos ’n tweede vel en is besig om onbehoorlik ver bokant haar knieë op te skuif. Sy doen dit aspris, maar vir wie? wonder Jacques.

      Hy staan op, vat die glasbord met sjokolade en loop daarmee uit. Hy is van plan om dit op die eetkamertafel neer te sit, ver genoeg. Vir hom is die aand bederf, want as Suzette met haar dieet en Jean-Luc se klere begin, slaan sy ore toe. Hy wil dit nie hoor nie en dis waaroor dit nou gaan, hy hoor sy ma en Suzette terwyl hy wegstap. Hulle praat oor die hongerly-lewe van internasionale modelle, én oor Suzette se lyf.

      Jacques grinnik in sy mou. Sy pa skink seker nou vir hom nog ’n stywe Drambuie en versluk hom daaraan, of is hy teen hierdie tyd gewoond aan die vroumense se geklets? Miskien is likeur nodig om hom te kalmeer as Suzette ’n slag haar rok so hoog oor haar knieë opskuif.

      Jacques wil by die eetkamerdeur ingaan toe hy ’n manstem hoor. Klink soos Donald die kelner.

      “Sharise jou gesê?” vra hy.

      “Jy bars as jy gaan oorvertel!”

      Die meisie wat heelaand so bedees was, klink so parmantig