dit mos genoeg,” antwoord sy pleitend.
Tant Gertruida sug diep en vat haar hande op haar maag saam.
“Dis soos jy sê, hartjie, maar ek weet nie so mooi nie. Jy sê die Groenewalds vertrek Maandag na Johannesburg om vir hulle mense daar te gaan kuier, en dat jy maklik sal kan saamry tot op Kroonstad en by jou vriendinnetjie daar sal kan kuier … maar of ek moet instem, weet ek nog nie. Daar is oorlog in die Vrystaat en Transvaal.”
“Ouma vergeet een ding: Jean is my broer, en hy is deel van daardie oorlog. As Ouma Jean liefhet, as Ouma my liefhet, laat my asseblief toe om na hom te gaan soek,” pleit Annemarie desperaat en steek haar regterhand in ’n smekende gebaar na tant Gertruida uit.
2
Hartseer en verlange na haar enigste kleinseun lê vlak in tant Gertruida se oë. Sy steek haar arms na Annemarie uit en vou haar teen haar bors.
“My kind … my arme kind,” praat sy sag, deernisvol. “Ek durf jou nie teëhou nie, maar ek kwel my oor wat met jou daar in die vreemde kan gebeur. Maar Jean is jou broer en my kleinseun, en as jy voel jy moet gaan … Ag, kind, as ek nie so vol vrese was nie.”
Annemarie ontspan in tant Gertruida se arms, wetende dat die stryd reeds gewonne is.
“Ek sal versigtig wees, Ouma, en boonop sal ek mos nie lank wegbly nie. Ek wil net gaan uitvind wat van Jean geword het, en dan kom ek dadelik weer terug.”
“En jou oupa, hartjie? Gaan jy niks vir hom sê nie?” vra tant Gertruida onseker.
“Nie nou al nie, Ouma. Sodra ek op Kroonstad aankom, sal ek Ouma-hulle dadelik laat weet,” beloof Annemarie en haal ’n pypkaneelkleurige lang rok wat van sersje gemaak is uit haar hangkas. Die kraag, skouerstrook en mouboordjies is versier met ’n roomkleurige kant oor pienk satyn en afgerond met pypkaneelkleurige koord. “Ek dink ek sal dié rokkie dra wanneer Oupa my Kaapstad toe neem, Ouma. Ek sal my hoed wat met dieselfde kleur lint versier is, dra, en my donkerbruin mantel saamneem ingeval dit koud word.”
“Maak so, Annemarie. En kyk maar of jy nie vir jou ’n paar koel organdie- of chiffonbloesies in die Kaap kan koop nie. Hulle is so nuttig saam met ’n paar goeie rompe,” sê tant Gertruida en vroetel in haar voorskootsak. “Daarvan gepraat, kind … Hier, dis vyftig pond wat ek so in die stilligheid gespaar het. Ek sal hoor of Oupa ook vir jou vyftig pond kan gee, want ’n mens weet nooit hoeveel geld jy daar in die vreemde sal nodig kry nie.”
“Maar vyftig pond, Ouma! Dis ’n fortuin!” roep Annemarie uit terwyl sy die geborduurde brokaat-en-satynsakkie met die geld onwillig neem.
“Almiskie, hartjie, maar Kroonstad lê ver en gedurende die oorlogstyd is alles skaars en duur. Toe, neem nou maar die geld. Wie weet, dalk kan jy nog vir Jean ook help.”
“Dankie, Ouma.” Annemarie probeer glimlag, maar die trane van dankbaarheid wat warm agter haar ooglede brand, laat haar hard op haar onderlip byt en sy draai haastig weg om tant Gertruida met die inpakkery te help.
Oom Jacob hou met sy kapkar en vier perde onder ’n skaduryke boom stil en beduie met sy sweep na die ruim dorpswoning regs van hom.
“Dis die huis van die Groenewalds, hè, sussie?”
“Ja, Oupa. Ek het nie verwag Oupa sal so goed onthou nie, want Oupa het my nog net eenkeer hier kom aflaai. Sal ons maar afklim?” vra Annemarie en hou die voordeur van die Groenewalds se woning gespanne dop. As Petro of tant Helena nou net nie onverwags hulle verskyning maak en alles bederf nie, dink sy benoud. Sê nou hulle praat oor hulle besoek aan Johannesburg en die feit dat sy saam met hulle tot op Kroonstad sal reis? Haar oupa sal ’n toeval kry!
“Klim af, kind, en gaan groet solank die mense,” antwoord oom Jacob, draai hom om en roep na die man wat te perd aangery kom. “Opskud, Simson! Ons moet die meisiekind se bagasie aflaai,” roep hy sy agterryer nader.
Annemarie wag nie langer nie, stoot die traliehek oop, en drafstap in die tuinpaadjie op na die voordeur van die woning.
“Annemarie!” roep ’n lang, skraal meisie met rooibruin hare, ’n sprinkeling sproete op haar effense spits neusie en vriendelike grysgroen oë verras uit die voordeur en omhels Annemarie. “Wêreld, maar ek is bly jy het besluit om saam met ons Johannesburg toe te reis. ’n Treinreis kan so vervelig wees, veral omdat die Britse troepe …”
“Sjuut!” sis Annemarie, haar oë donker van skrik, en stoot Petro die huis binne. “Asseblief, Petro, my oupa mag nie weet dat ek saam met julle tot op Kroonstad reis nie.”
“Maar hoekom nie?” vra Petro oorbluf.
“Ek sal alles later verduidelik. Asseblief, gee net voor dat ek by julle kom kuier. Hier kom Oupa en Simson nou met my bagasie,” versoek Annemarie dringend. “Jy onthou mos nog my oupa, oom Jacob Malan, Petro?” vra sy met ongewone hartlikheid.
“Natuurlik,” antwoord Petro, haar glimlaggie effens vaal, en steek haar hand na oom Jacob uit. “Môre, oom. Oom-hulle is mos vroeg hier in die Kaap.”
“Dag, niggie. Ons plaasmense staan graag saam met die hoenders op, want om in die hitte van die dag te ry, is ook nie aangenaam nie. Gaan dit nog goed met jou ouers?” verneem oom Jacob.
“Baie goed, dankie, oom. Oom-hulle kan die trommels en koffers net hier laat – een van die mans sal dit later na Annemarie se kamer toe bring. Het oom tyd om iets te drink?”
Oom Jacob huiwer en skud dan sy kop.
“Dankie, niggie, maar ek het nog ’n bietjie besigheid om af te handel en ek wil weer vroeg terug plaas toe.” Hy kyk na Annemarie, sy uitdrukking ineens besorg. “Jy het alles wat jy nodig het, kind? Laat weet tog maar net as jy dalk iets vergeet het.”
“Ek sal, dankie, Oupa, maar ek is seker ek het alles ingepak. Tot siens, Oupa, en baie dankie vir al die moeite,” groet Annemarie. Sy hou oom Jacob ’n oomblik lank styf vas nadat hy haar gesoen het, en laat hom dan onwillig gaan. Liewe Oupa, dink sy skuldig. As dit net nie nodig was om hom te bedrieg nie, maar hy sal nooit toelaat dat sy die Vrystaat besoek terwyl die oorlog nog voortduur nie. Sal hy haar kan vergewe as hy eendag van haar bedrog uitvind?
“Nou dan groet ek maar. Tot siens, niggie. Lekker kuier, Annemarie,” groet oom Jacob, draai om en stap met sware tred weg.
“Liefde vir Ouma, Oupa!” roep Annemarie hom agterna en veg teen die warm trane wat dreig om haar oë vol te loop.
Oom Jacob lig sy hand in erkenning dat hy haar gehoor het, maar kyk nie weer om nie. Oomblikke later maak hy die tuinhekkie agter hom toe en stap na sy kapkar.
“Foeitog, hy is darem baie lief vir jou, Annemarie. Die meisies op kollege het altyd gesê jou grootouers bederf jou verskriklik omdat jy al is wat hulle het. Geen wonder jy trek altyd so mooi aan nie,” sê Petro en kyk waarderend na Annemarie se deftige uitrusting.
“Hulle is goed vir my, maar soms wens ek ek was nie hulle enigste kleindogter nie,” antwoord Annemarie, haar stemtoon nog hartseer. “Oupa is soms oorbeskermend. Ek het my onderwysdiploma, maar Oupa weier volstrek dat ek gaan skoolhou. Volgens hom het ek ’n goeie geleerdheid nodig net ingeval ek eendag met ’n man trou wat my uitroei, en ek dan verplig sal wees om te gaan werk. Ek dink ek sal dit baie geniet as ek kan gaan skoolhou.
“Is iemand ooit tevrede met sy lot?” vra Petro laggend. “Ek móét gaan skoolhou, want my broer is op die kweekskool in Stellenbosch en my jonger broertjies is ook nog op skool. My pa is net ’n bankbestuurder en hy verdien nie juis ’n fortuin nie. As my ma nie heelwat geërf het nie, sou ons nie hierdie mooi huis kon bekostig het nie.”
“Het jy al ’n pos by ’n skool gekry?”
“Ja, by juffrou Engela Smuts se skool vir jong meisies, maar gelukkig kon my pa haar oorreed dat ek ’n vakansie dringend nodig het ná al my jare van studie. Pappa moet om besigheidsredes Johannesburg toe gaan, en ek en Mamma het besluit dis die ideale geleentheid om by my suster te gaan kuier. Maar vertel my nou eers waarom jou oupa nie mag weet dat jy saam met ons na