om uit die neerlaag oorwinning te behaal.
GEBED
Vader van vertroosting, dankie dat ek selfs in die nag van my beproewing lofliedere tot U kan sing omdat ek deur Jesus Christus onlosmaaklik aan U verbind is.
28 Februarie
Hy is met ons al die dae
LEES Johannes 14:15–31
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle wees ... – Johannes 14:16
Onder die talle dinge wat mense vrees, is vereensaming een van die ergste. Vereensaming kan vele oorsake hê: verwydering uit ’n bekende omgewing na ’n nuwe lewensituasie waar ons sukkel om aan te pas; probleme wat ons met niemand kan deel nie en wat dag en nag aan ons gemoedsrus knaag; skeiding van vriende en dierbares weens die eise van die lewe; en dan ook die wrede skeiding wat die dood meebring. Sulke ervarings kan veroorsaak dat ons selfs tussen ’n skare mense troosteloos eensaam voel. Wat moet ’n mens dan doen?
In elke probleemsituasie kan ons na die Woord van die Here gaan vir leiding. Al sou ons van die hele wêreld verlate wees, ons is nooit van God verlate nie. Omdat sy Seun eenmaal sy Godverlatenheid aan die kruis moes uitsnik, sal God altyd deur sy Heilige Gees met ons wees. Daarom is ons eensaamheid nooit alleenheid nie, want ons hoor Hom sê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).
GEBED
Hemelse Vader, dankie dat U in u liefde ook voorsiening maak vir my eensaamheid. Dankie dat u Gees my vertroos en gedurig verseker van u teenwoordigheid in Jesus Christus.
29 Februarie
Hemelse vertroosting
LEES 1 Korintiërs 2:6–16
Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. – 1 Korintiërs 2:9
As ons maar ’n vae beeld kon hê van die hemelse heerlikheid, sou ons nie treur oor ontslape dierbares nie. So onbeskryflik is God se volmaakte voorsiening vir hulle wat in Hom glo, dat daar in sy teenwoordigheid net blydskap en vervulling is.
Openbaring bied telkens flitse van hierdie hemelse heerlikheid: Dié wat daar woon, is verhef bo aardse pyn en word liefdevol vertroos deur Hom wat op die troon sit. Hul honger word gestil in groen weivelde en hul dors geles by die fonteine van lewende water. God self vee die laaste trane van hul oë af weg (vgl Op 7:16–17).
Die wete dat ons ontslape dierbares die besitters is van hierdie hemel, dring ons om ons te verheug in God se ryke genade. Dit gee ons moed om ons ontwrigte lewens in die geloof te hervat. Wie hierdie troos nie het nie, is aan wanhoop blootgestel. Met God se vertroosting in ons harte kan ons egter onder die grootste droefheid staande bly.
GEBED
Hemelse Vader, vertroos in genade deur u Heilige Gees almal wat treur en sterk hulle om die uitdagings van ’n nuwe lewensfase te aanvaar.
Maart
Dis herfs, Here,
met sy rypheid en rykdom van kleure. Dankie vir geestelike groei en rypwording wat uiteindelik uitloop op rustigheid en vervulling. Dis ook die tyd van die jaar wanneer ons U, Man van smarte, in die gees op u lydensweg volg. Dit was vir die wêreld, ja, maar ook vir my – al u lyding, smaad en smarte, elke kruiswoord – selfs u Godsverlatenheid – was om my ontwil. U het u lewe vir my gegee, dat ek dit nie werd is nie, ten spyt. In diepe dankbaarheid wy ek opnuut aan U my gees en liggaam. Maak my u dissipel en u vreeslose getuie. Laat my deur die kruis die verdoemenis van die sonde besef sodat ek daarvan sal wegvlug. Laat my u liefde in Jesus Christus raaksien sodat ek my toevlug tot U kan neem. Lei my steeds in die lig van u vriendelike aangesig.
Amen
1 Maart
Hy onderhou ons
LEES 1 Petrus 5:1–7
Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:7
Dit is bemoedigend om te weet dat God nie alleen ons Skepper is nie, maar dat Hy ook die getroue Onderhouer van sy skepping is. God weet nie slegs alles van ons nie, Hy sorg ook van dag tot dag vir ons. Daarom moet ons nooit onder die wanindruk verkeer dat ons alleen staan met ons lewensprobleme nie. Bekommernis los geen probleme op nie. Inteendeel, dit is verlammend en laat ons telkens met verleentheid as eindproduk.
Waarom sou ons ons kwel en bekommerd wees as ons weet dat ons ’n almagtige God het wat sorg vir ons en ons onderhou, wat ons liefhet en belangstel in ons? Kwelling eer God nie, maar toon ’n gebrek aan geloof in Hom: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom 8:32, 1953-vertaling).
Hy het aan ons sy kosbaarste, sy beste, gegee – sy Seun. Sal Hy ons dan nie ook die dinge gee wat ons op ons lewensreis nodig het nie: genade vir elke beproewing, krag vir elke kruis, voedsel vir elke dag?
GEBED
Ewige Here en Verlosser van my lewe, ek aanbid U vandag as die Leidsman en Voleinder van my geloof. Ek werp my onvoorwaardelik en vertrouend op u liefde en trou.
2 Maart
God is liefde
LEES 1 Johannes 4:7–21
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. – 1 Johannes 4:7–8
Elke mens kan verval in ’n bestaan van absolute selfsugtigheid en selfgesentreerdheid. Jy kan ’n lewe van absolute liefdeloosheid lei; ’n lewe wat bestaan uit kla en eise stel; van ontevredenheid en selfs bitterheid oor beweerde onregte wat jou aangedoen is. Dit kan veral gebeur wanneer die lewe vir jou ’n ondraaglike kruis opgelê het en jy al klaend daaronder inbuk.
Hoe oorwin ’n mens hierdie negatiewe lewenshouding? In Jesus Christus het God vir ons die volmaakte uitweg gedemonstreer: die pad van die Liefde. Dit is die mees gebalanseerde, nugtere, praktiese en genoeglike manier om te leef. As jy God liefhet en daardie liefde laat uitkring na almal rondom jou, word jy ’n nuwe mens in Christus en tot seën vir jou medemens. Deur jou liefde word jy onlosmaaklik aan God verbind, want God is liefde!
GEBED
Hemelse Vader, gee my die genade om weg te kyk van myself en Christus en my naaste te sien. Gee my die genade om my liefde meer oorvloedig en vrylik te gee sodat die gesindheid van Jesus ook in my lewe tot openbaring sal kom.
3 Maart
Vredemakers vir God
LEES Matteus 5:3–10
Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. – Matteus 5:9
Baie mense soek vrede in besittings of deur oorlog te maak. Hulle vind dit nie, want vrede het te doen met mense en geregtigheid, nie met besittings of oorlog nie.
Die taak van ’n vredemaker is ’n Godopgelegde sending. Dit verg positiewe en dinamiese aksie. Die vredemakers ontduik nie verantwoordelikhede nie. Hulle worstel met probleme totdat hulle dit oorwin.
Soek jy vrede? Soek dit in God. Dan sal jy selfs vir jou vyande kan bid. Vrede met God is die begin van jou taak en roeping as vredemaker. Dis nooit genoeg om net vir jouself vrede te verwerf nie; jy moet dit deel met ander. Die seën word tog beloof aan dié wat vrede maak, nie aan dié wat vrede besit nie.
Wanneer daar nie vrede tussen mense is nie, is dit omdat hul verhouding met God nie reg is nie. Christus het gekom om die wêreld met God te versoen en daardeur vrede te skep. As sy getuie moet jy die wêreld oorreed om God se vrede te aanvaar. Dan bereik jy jou hoogste vervulling deur by te dra tot die skep van vrede in hierdie wêreld.
GEBED
O Here, openbaar u liefde in ons sodat ons mekaar sal liefhê en u vrede kan ken.
4