was sag en koel teen my vel. Ek het die onderkant van die bokke se hoewe gesien. Oopgerekte oë, flitsende horings en slym wat by die bekke uitspat. Het die harde slag my benewel?
In die duiseligheid het dit gevoel of ek uit die gemaal begin opstyg. Asof ek hoog van bo af op die gestamp en die gespring afkyk.
Asof dit ’n bevel was, het die bokke meteens in die middel van die boma bymekaargekom. ’n Oomblik het dit gelyk of die trop botstil staan. Die stof het stadig om hulle neergedaal.
Maar toe begin hulle maal. Al vinniger en vinniger. My oë kon die lywe nie meer volg nie. Meteens het hulle weggebreek uit die sirkel, koers gevat en die seilgordyn platgetrap. Stofstrepe het oor die vlakte gehang. Die wit hartbees was nêrens te sien nie. Hy het saam met die trop bokke oor die rant verdwyn. Die vangers se gesigte was asvaal. Net die dooie bok het tussen die graspolle agtergebly.
Ek het om my rondgekyk. Was die slag teen my rug dan so hard? Dit was of die bokke nooit in die boma was nie. Miskien was die son te warm op my kop. Voor my oë het ek gesien hoe die geknakte grasspriete weer regop kom; die struike se blare het stadig oopgevou.
Om my het ek die geklap van tonge gehoor. Die nette het net so opgefrommel op die grond bly lê. Ek het na my arms gekyk. Nee, ek het my nie verbeel nie, daar wás ’n rooi horingstreep oor my vel.
Die vangs het net die een dooie bok opgelewer. In my rug het die steekpyn weggeraak, maar die lamheid het nog lank agtergebly. Ek het nie vir Bullet en Julius gewag nie; ek het stadig op my eie teruggestap huis toe.
In my kamer het ek op die bed gaan sit, die bedkassie se laai oopgetrek en die vel papier onderin raak gevat . . .
Tydens die meeste groot wildvangoperasies sluip daar iewers ’n fokop in. ’n Fokop en vloek gaan gewoonlik hand aan hand en die taal wat hom by uitstek hiertoe leen, is blykbaar Afrikaans. Die fokop kan hom op verskillende maniere aanbied. Die gordyn word te vinnig getrek en die bokke is nog nie verby nie. Daar was dus ’n probleem met die kommunikasie. Het die pilot te vroeg die sirene getrek? Onthou, die vangers kan nie die bokke sien aankom nie. Of het een van hulle net nie plat genoeg gelê nie?
Die wild wat in die bek van die tregter omgedraai het, práát nou met die ander wild op die plaas. So versprei die geheim van die plasing van die tregter se bek. Om die boma nou weer na ’n nuwe plek toe te skuif, is groot werk. Daarom is dit ’n groot fokop as die aap so uit die mou gelaat word!
Maar daar is ook ander fokops. Bulle in plaas van koeie, blesbokke en nie hartbeeste nie. Die pilot het die bokke te vinnig gejaag. Of die vangers raak deurmekaar met die merkery en niemand is skielik seker watter bokke is gekalmeer nie. Twee bakleierige bulle beland in dieselfde hok . . . die bokke ontsnap agter uit die vragmotor terug in die boma in.
Die Afrikaanse woordeskat bied hier ’n wye spektrum om van te kies. Fok, kont en doos blyk nietemin gewilde keuses te wees.
6. HENNING
Daai wintervakansie was die eerste keer dat oom Ludwig my alleen op Dwaalpoort gelos het. Ek het nie geweet wat om daarvan te maak nie, die platteland het nou maar eenmaal hierdie ding met studente gehad. Jy sou dit nie uit hulle kry nie. Hulle het mos altyd beter geweet. En dit nog met die twee rooibokjagters wat ook op pad was. Maar dit was nogal nice om my eie ding te kon doen. Ek was nou al ’n bietjie moeg om elke keer te hoor hoe die wind waai en of dit ram of ooi is.
Toe almal weg was, het ek Rentia se kamerdeur oopgestoot. Ek het eers aan haar handdoek geruik, dit het op die voetenent van die bed gelê. Toe het ek haar bra uit die klein laaitjie gelig, maar dit dadelik weer laat val. Nou wat de hel het Bullet se foto hier tussen haar onderklere gesoek?
In oom Ludwig se kamer het gevlegte perdekarwatse en swepe teen die mure gehang. Oom Ludwig wat volgens Rentia twee lewens gelei het – een op die dorp en een op die plaas. Oor die balk het ’n perdesaal gehang en op die vloer was ’n gebreide beesvel met sy brandmerk op.
Vir ’n boer nogal baie papierwerk op die tafel. Ek het een van die rekeninge bekyk en in my kop ’n som oor Dwaalpoort se omset gemaak. Dié week was my kans om te sien wat alles hier aangaan. Al die bleddie geheimsinnigheid. ’n Mens sou sweer ek is ’n spioen of iets. Maar dit was half moeilik om te konsentreer. Ek kon dit nie help nie. Ek was ’n bietjie senuagtig oor die jagters. Toe sien ek die nota raak wat op die blad lê.
Jou ideale skoot is die hoofare aan die bokant van die hart. As jy hulle tref, lei dit tot massiewe bloeding, want as die bok begin hardloop nadat die koeël die hoofslagare getref het, vul die borskas baie gou met bloed en het dit al selfs gebeur dat die bloed met so ’n skoot by die wond begin uitspuit.
Ek het die nota neergesit sonder om dit verder te lees. Soveel detail was darem seker ook nou nie nodig nie. Die kere dat Bullet die jagters veld toe gevat het, het ek fyn opgelet. Ek het ook die video oor trofeejag gekyk. So, ek het darem backing gehad. Ek kon hier en daar die regte buzzwords drop as daar op my nommer gedruk word.
In die hoek het die swaar geweerkluis gestaan; op die bedkas ’n blaker met ’n boks vuurhoutjies. Wanneer oom Ludwig in die nag wakker word, het hy mos nie die lig aangesit nie, hy het ’n kers opgesteek. Ek het die ekstra patrone in die blaker bymekaargemaak om van die stoep af ’n paar skote op ’n leë bierblikkie te skiet sodat ek aan die geweer gewoond kon raak.
“Daar kan nie skade kom nie,” het ek steeds oom Ludwig se woorde aan Rentia gehoor toe hulle gedink het ek was buite hoorafstand. “Ek gee vir hom ’n ligte geweertjie saam, die twee-vier-drie.”
Ek het die bierblikkie op die hekpaal neergesit. Vyf-en-twintig meter, dis mos wat Bullet te vertel het, dan maak die koeël dieselfde trajek as wanneer jy op ’n honderd meter skiet. Onder die sinkdak was die klap van die skoot harder as wat ek verwag het. Demmit. Ek het deur die oop voordeur in die gang af geloer. Net die varings het langs my gehang. Maar hoekom sou ek skrik? Ek het die hele magasyn leeggeskiet. Toe ek die blikkie gaan haal, was daar net een koeëlmerk aan die rand. Ek het die teleskoop se proppies afgedraai. Hoeveel klieks?
Toe ek in die plaaspad opkyk, het die bakkie se stof aangekom. Die jagters het uitgeklim. Body language. Hulle het aan hul jagbaadjies gevat asof hulle sommer dadelik al hulle stempel wou afdruk. Sigarette. Hulle het daaraan getrek en oor die plaas gekyk asof hulle iets sien waarvan ek nie weet nie.
“Siggie?” het die een gevra.
Ek het my kop geskud. “Ek rook nie.” Die stilte het ongemaklik geraak. “Ek dog julle is drie?” het ek gevra. “Waar’s die ‘nie-jagter’ dan?” Ek het die woord in die katalogus raakgelees.
Hy het iets gemompel . . . veghoender? Was dít wat ek gehoor het?
“Moenie worry nie,” het hy gesê. “Ons het al baie saam gejag; ons ken die reëls. Dis flat rate vir almal.”
Hy het probeer om die sigaretboks in sy bosak terug te druk, maar skeef gemik en die pakkie het op die grond geval. “Ons is droog in die veld.” Was dit iets soos ’n verskoning? “Ons dop nie as daar gewere by is nie.”
Hulle het die stompies teen hul skoensole doodgedruk. Rondgekyk. Ek kon sien hulle was haastig om by die boskamp te kom. Toe hulle wegry, het ek dofweg ’n derde persoon tussen hulle sien sit.
Ek was vroeg die oggend al by die boskamp om te kyk dat alles reg was. Ek het die as laat uitkrap, vir vuurmaakhout gestuur, die kampbeddens reggeskuif, die sand om die braaiplek laat vee en die veldtoilet gecheck.
“Ons sit die longdrop net hier op,” het Bullet aan oom Ludwig gesê toe hulle die kamp destyds uitgelê het. “Ons grawe hom lekker diep uit . . . so twee tellings. ’n Mens dink nog altyd jou beste gedagtes uit as jy oor die veld uitkyk terwyl jy kak.”
Hulle moes na die veeveiling ’n hele paar doppe gedrink het. “Ou army-tente,” het Bullet gesê, “dís wat ons opslaan.” Hy het op die grond afgetree en merke met sy hak in die sand gemaak. Hulle het gepraat en beduie asof ek nie by was nie. “Cheap,” het hy benadruk en dit so reggekry om oom Ludwig opgewonde te hou oor die idee om Dwaalpoort se beestroppe te verminder en na wild oor te slaan.
Nadat die jagters boskamp