>
Susanna M Lingua
Blom van Venesië
Melodie
1
Die drie en twintigjarige Terri Massyn kan nog nie glo dat sy werklik ’n graad in landboukunde behaal het nie. Sy is blond, fyn en van gemiddelde lengte. Haar medestudente, almal mans, was oortuig daarvan dat sy nooit die paal sou haal nie, aangesien die landbou, volgens hulle, net vir mans bedoel is. Maar sy het hard gewerk en die teendeel bewys. Nou sal sy graag ’n pos as plaasbestuurder in die hande wil kry . . . of miskien haar eie plasie besit.
Terri krap in een van haar lessenaarlaaie rond, op soek na haar jongste bankstaat om te kyk of sy darem nog genoeg geld het om in ’n plasie te belê. Miskien sal die bank haar selfs die res van die koopsom leen . . . ’n plasie met sterk onderaardse water.
Sy vind die bankstaat – aangenaam verras dat haar geldsake nog so gesond is nadat sy vier jaar lank vir haar studie betaal het en ook in al haar behoeftes voorsien het. Sy moet nou nog net ’n vliegkaartjie na Italië koop, sodat sy haar suster op die Italiaanse eiland Santa Teresa kan gaan besoek, voordat sy aan ’n pos of ’n eie plasie kan dink.
Terri se ouers is al langer as vier jaar oorlede. Sy en haar ouer suster, Lana, wat al sewe jaar lank getroud is en in Italië woon, het ná hul ouers se dood gelykop geërf. Haar erfgeld voorsien die afgelope vier jaar in al haar behoeftes, en moet nou ook help sodat sy haar eie plasie kan bekom . . . ’n hoenderplaas, ’n melkplaas of ’n saaiplaas – of miskien ’n sitrusplaas. Maar daaroor sal sy besluit nadat sy die plek gesien het.
Met die bankstaat vergete in haar hand, droom Terri wonderlike drome oor ’n eie plasie. Maar voordat sy die grond aankoop, besluit sy, moet oom Willie – een van haar medestudente se pa – eers gaan kyk of daar sterk onderaardse water is. Want as hý sê daar is sterk water, kan ’n mens met ’n geruste hart laat boor. Hy was nog altyd in die kol.
Die skril gelui van die telefoon ruk Terri terstond uit haar heerlike droomwêreld. Sy tel die gehoorbuis op en sê met ’n ligte frons: “Juffrou Massyn. Goeiemôre!”
Dit is ’n vreemde manstem wat in ’n mengsel van Engels en Italiaans sê: “Buon giorno! Dit is Marco de Castellano wat praat. Is jy signorina Teresa Massyn, signora Lana Contarno se suster?”
Dit tref Terri dadelik dat sy nou met grááf Marco de Castellano praat, ’n edelman wat Lana al ’n paar keer in haar briewe gemeld het. Derhalwe antwoord sy kalm, maar tog effens nuuskierig en ook op Engels: “Dit is met haar wat jy praat, meneer die graaf. Ek hoop my suster-hulle verkeer nog almal in goeie gesondheid.”
“Dit gaan nog goed met jou suster en die kinders, signorina, maar jou swaer, Roberto, het vanoggend aan ’n hartaanval beswyk. Jou suster is baie hartseer en verward, en ek is seker jou teenwoordigheid sal haar die morele ondersteuning bied wat sy in hierdie hartseer dae baie nodig sal hê.”
“Ek is jammer dat Roberto oorlede is, meneer die graaf,” sê Terri met skok en meegevoel in haar stem. “Ek sal met die eerste beskikbare vlug na Italië vertrek om my by Lana en die kinders aan te sluit. Ek was in elk geval van plan om hulle volgende week te besoek. Maar ek sal nou dadelik navraag doen en so gou moontlik vertrek.”
“Dit sal nie nodig wees nie, signorina. Ek het reeds navraag gedoen. Daar vertrek vanaand om elfuur ’n vliegtuig na Rome. Ek vrees ek het eie reg gebruik en vir jou plek op daardie vliegtuig bespreek. Jou reiskaartjie is reeds betaal, jy kan dit net gaan afhaal.”
“Wel, ek moet sê dit was ietwat voorbarig van jou, meneer die graaf,” kan die uitgesproke Terri nie help om te sê nie. “Ek hou daarvan om my eie besluite te neem en my eie reëlings te tref. Maar aangesien die omstandighede ietwat ongewoon is, sal ek jou maar moet verskoon.”
“Dankie vir jou vriendelike tegemoetkomendheid, signorina,” hoor sy die edelman sê. Sy frons liggies, want sy kon sweer daar was iets soos ’n gedempte laggie in sy stem. Maar sy moes haar bepaald vergis het, want sy stem is byna steurend bedaard toe hy vervolg: “My private vliegtuig sal op die lughawe Fiumicino wag om jou na Venesië te neem. Van daar sal my helikopter jou na die eiland toe bring.”
“My wêreld, dit klink na ’n vreeslike omslagtigheid om daardie eiland te bereik. Wat op aarde het my swaer en suster besiel om op so ’n afgeleë, haas onbereikbare plek te gaan woon? Die eiland klink vir my amper na ’n afgesonderde tronk,” praat Terri al weer uit haar beurt. Sy het ’n oomblik lank vergeet dat byna die hele eiland aan die graaf behoort.
“Jy maak ’n fout, signorina. Die eiland is hoegenaamd nie afgeleë of onbereikbaar nie. Trouens, jou suster en die kinders was nog altyd baie gelukkig op die eiland,” hoor sy die edelman met ’n merkbare kilheid in sy stem sê. Sy besef egter dadelik dat sy al weer die verkeerde ding gesê het en die man om verskoning sal moet vra.
“Verskoon my, meneer die graaf, ek het regtig nie bedoel om die eiland te verkleineer nie,” maak sy dan ook dadelik verskoning. “Dit is vir my, wat hier in Johannesburg gebore en getoë is, maar net baie ongewoon dat ’n mens nie van die lughawe af met ’n motor na jou tuiste kan ry nie. Ek weet eerlikwaar nie hoe my suster op so ’n afgesonderde plek gelukkig kan wees nie. Ek hoop ek sal dit twee weke lank kan uithou.
“In elk geval, as ek die elfuurvlug vanaand moet haal, sal ek nou dadelik moet gaan inpak en ook ’n paar dringende sake in orde bring. Dankie dat jy my geskakel het. Dra asseblief my groete en my innige meegevoel aan my suster oor, meneer die graaf.”
“Ek sal so maak, signorina. Sorg jy maar net dat jy nie daardie vlug verpas nie, want dit sal al my reëlings omvergooi en jou suster oneindig baie kommer besorg, waarsonder sy baie goed kan klaarkom.”
“Toemaar, moenie jou bekommer nie, ek sal nie daardie vlug verpas nie, meneer die graaf. Dan sê ek maar voorlopig tot siens!”
“Arrivederci, signorina Massyn!” hoor sy die man se mooi, diep stem sê.
Terri staan etlike sekondes lank diep ingedagte met die telefoon se gehoorbuis in albei haar hande. Sy dink aan haar suster, Lana, se beskrywing van die graaf. Hy is trots, kil en hooghartig, het Lana kort ná haar en Roberto se huwelik geskryf. Maar afgesien daarvan, is hy ’n wonderlike man. Hy is natuurlik skatryk en geniet groot respek en agting van die mense in Italië. Sy het ook iets geskryf van die graaf se jonger broer wat ook die een of ander belangrike titel het.
Die ontslape Roberto was glo verlangs familie van die twee edelmanne, en het ook ’n tante en ’n neef wat die eienaars is van ’n pragtige hotel in Venesië, langs die bekende Groot Kanaal.
Terri was sestien jaar oud toe Lana en Roberto sewe jaar gelede in Venesië in die eg verbind is. Sy was destyds in graad elf en een van die uitruilstudente wat daardie jaar in Amerika skoolgegaan het, en kon dus nie Lana en Roberto se troue saam met haar ouers bywoon nie.
Terri se hart bloei vir haar suster wat met twee jong kinders agtergelaat is. Die seun, Armando, is maar vyf jaar oud en die dogter, Lisa, drie. Sy hoop dat Roberto darem vir hulle voorsorg getref het, anders sal Lana maar weer moet terugval op haar vorige loopbaan as model . . . dis te sê as sy nog so mooi, lank en skraal is. Toe sy Lana vier jaar gelede op hul ouers se begrafnis gesien het, was sy nog net so mooi soos altyd.
Terri weet Roberto het ’n landgoed op ’n deel van die vrugbare eiland Santa Teresa, wat in die Adriatiese See geleë is, ongeveer drie seemyl noordoos van Venesië af. Die res van die eiland behoort glo aan die edelman wat haar flussies geskakel het . . .
Terri plak die gehoorbuis haastig en verleë terug. Sy was so verdiep in haar eie gedagtes dat sy skoon van die edelman se oproep vergeet het.
Sy besef dat sy onverwyld met haar woonstelmaat, Linda Verster, in verbinding sal moet tree om haar van die graaf se oproep te vertel. Sy behoort immers nie langer as twee of drie weke in die buiteland te vertoef nie.
Terri bel dadelik die skool waar Linda onderwys gee en ná ’n rukkie hoor sy haar vriendin se stem.
“Linda, dit is Terri wat praat en –”
“Laat ek raai. Jy het ’n pos gekry?” val Linda haar opgewonde in die rede.
“Verkeerd, iets anders het