begryp glad nie waarom jy sulke nare dinge van Marco sê nie, Terri,” sê Lana effens verward. “Jy ken hom dan nie eens nie!”
“Dis waar, ek ken hom nie. Maar ons telefoongesprek eergister het my baie duidelik laat besef dat hy die soort mens is wat hom verbeel hy het die eerste en laaste sê oor almal.” Sy vertel Lana van haar en die graaf se telefoongesprek en sluit af: “Maar ek het hom baie goed laat verstaan dat ek niemand toelaat om vir my te besluit nie.”
“Dit is nogal jammer dat julle sommer uit die staanspoor haaks is,” merk Lana half verontskuldigend op. “Marco is in werklikheid ’n baie aangename en behulpsame man, Terri. Hy het my al oneindig baie gehelp en bygestaan sedert Roberto se heengaan. Ek is seker jy sal van hom hou sodra jy hom beter ken. Almal hier in Italië koester groot respek, eerbied en agting vir hom en sy broer –”
“Ek verkies nogtans om die stad te gaan verken, eerder as om met jul voortreflike graaf kennis te maak,” val Terri haar suster met ’n besliste stem in die rede. “Hy mag vir jou en sy mense iemand wees na wie met groot eerbied, respek en agting opgesien moet word, maar vir my is hy net ’n doodgewone man soos elke ander man.”
“O, nou goed, gaan verken dan maar die stad. Moet net nie verdwaal nie, my sussie,” waarsku Lana besorg.
“Toemaar, jong,” stel Terri haar laggend gerus, “as ek so onnosel is om te verdwaal, sal ek die eerste gondel wat ek sien, nader wink en die gondelier vra om my na die Albergo Grande te bring.”
Ná die middagete gaan rus Lana, haar tante en die twee kinders. Terri trek haar baadjie uit en gaan sit in die hotel se sitkamer waar sy ’n mooi uitsig het oor die kanaal en sy bedrywighede van gondels en lang, smal afleweringsbote wat kom en gaan, almal groot genoeg om onder die brûe deur te vaar.
Toe die graaf se gondel later die middag voor die hotel vasmeer om Lana en die kinders na sy kasteel, die castello De Castellano, te neem, gaan haal Terri haar handsak en stap tydsaam in die rigting van die Sint Markusplein, waar sy later by ’n restaurant instap en tee drink.
Die graaf en sy weduweetante, Francesca Villani, en dié se weduweedogter, Carla Albereto, is al drie in die kasteel se klein sitkamer toe die butler Lana en die kinders se aankoms aankondig en die sitkamer se deur vir hulle oophou om binne te gaan.
Lana groet die graaf en sy familie – wat vir ’n onbepaalde tyd by hom kuier – en neem op sy uitnodiging plaas.
“Het jy en die kinders alleen gekom, Lana?” hoor sy die graaf merkbaar gesteurd vra, nadat hy op die stoel langs hare gaan sit het.
“Ja, ons het alleen gekom,” sê Lana sag en half verwese. “Terri, my suster, wou nie saamkom nie. Sy meen dat jou uitnodiging net aan my en die kinders gerig is, omdat jy my oor die een of ander saak wil spreek.”
“Waar is jou suster nou?” wil die graaf met ’n ligte frons weet.
“Sy het ’n ent gaan stap om ’n deel van die stad te besigtig. Sy het gesê sy wil graag die Sint Markusplein besigtig en sal middagete sommer in ’n restaurant geniet,” vertel Lana.
“Jy moes haar nooit toegelaat het om die stad alleen te besigtig nie,” laat die graaf besorg hoor.
“Ek vrees ek het geen seggenskap oor Terri nie, Marco,” weerspreek Lana hom. “My suster was twee jaar gelede al mondig. Met haar volgende verjaardag sal sy vier en twintig wees.”
Die graaf se gesig helder merkbaar op toe hy verras sê: “Bedoel jy dat sy drie en twintig jaar oud is?”
Lana knik haar kop. “Terri is oor ses maande vier en twintig, Marco, en baas van haar eie lewe. Terloops, Terri is sommer ’n bynaam, ’n verkorting van Teresa, haar doopnaam.”
“Ek het jou suster vanoggend in die begraafplaas tussen die twee kinders gesien staan. Sy het my aangenaam beïndruk en ek wou baie graag vanmiddag met haar kennis gemaak het,” hoor die drie vroue hom sê.
Carla frons onderlangs en ook haar ma lyk duidelik gesteurd omdat Marco so teleurgesteld is oor Terri se afwesigheid. Trouens, Carla en haar ma het Marco uitsluitlik besoek met die hoop dat hy ’n gevoel van liefde vir Carla sal ontwikkel en met haar in die huwelik sal tree. Hulle verwelkom dus glad nie sy belangstelling in die pragtige Suid-Afrikaanse meisie nie, wat hulle glo ’n bedreiging vir Carla se geluk inhou.
Lana is nog so hartseer en afgetrokke dat sy nie eens bewus is van die graaf se teleurstelling nie.
“Is jou suster ook ’n model, Lana?” hoor hulle die graaf ná ’n paar sekondes belangstellend vra.
Lana skud haar kop en verduidelik sag: “My suster het ’n graad in landbou en het ook baie praktiese ondervinding in veeartseny. Sy het my gister vertel dat sy planne het om ná haar tuiskoms vir haar ’n plaas te koop wat sy self sal bestuur, asook om ’n deel van die boerdery self waar te neem.”
Die edelman lyk duidelik geskok. Daardie pragtige, fyn meisietjie ’n plaasboer en veearts!
“Haar planne is ongehoord, absoluut ongehoord!” roep die graaf onverbiddelik uit.
’n Diensmeisie verskyn in die oop deur met die dienwaentjie, en die graaf is verplig om sy skok en ergernis te beteuel en met gedwonge bedaardheid te sê: “Ek sal jou môreoggend op die eiland besoek, Lana, en dan sommer ook die sakeonderhandeling wat ek in gedagte het met jou bespreek.”
Nadat die diensmeisie die vertrek verlaat het, sê die graaf weer: “Ek stel voor dat jy by jou suster aandring om haar tuiste hier by jou en die kinders te maak, aangesien albei jul ouers oorlede is en daar tog niks is wat haar in Suid-Afrika bind nie.”
’n Glimlaggie waarin al die hartseer van die wêreld opgesluit lê, verskyn om Lana se mond toe sy probeer om vir Terri in die bres te tree. “Ek sal Terri vandag nog vra of sy permanent by my sal kom woon, Marco. Maar ek vrees niemand kan haar dwing om haar tuiste hier te maak nie. Jy sê daar is niks wat haar in Suid-Afrika bind nie. Maar hoe weet jy of daar nie ’n verloofde of ’n geliefde vir haar in Suid-Afrika wag nie?”
“Sy dra nie ’n verloofring nie, dus kan sy nie verloof wees nie,” sê die graaf beslis.
“Hoe weet jy Lana se suster dra nie ’n verloofring nie, Marco?” wil Carla met bedekte afguns weet. Sy hou glad nie van sy skielike besorgdheid oor die vreemde meisie nie.
“Ek het vroeër vandag geen ring aan haar vinger gesien nie, sy kan dus nie verloof wees nie,” hou die edelman vol. “Die enigste juwele wat sy gedra het, was goue oorkrabbetjies en haar polshorlosie.”
Hierdie woorde van die graaf lewer afdoende bewys dat hy Terri baie noukeurig moet dopgehou het, om selfs te kan weet watter juwele sy gedra het. Dit laat Carla duideliker as ooit besef dat Terri ’n groot bedreiging vir haar toekomsplanne inhou; daarom sal sy ’n plan moet maak om die meisie so gou moontlik terug te laat gaan na haar eie land toe. En om daarmee te begin, sal sy Marco môre na die eiland moet vergesel . . . Ja, sy sal die Suid-Afrikaanse indringer goed moet laat verstaan dat sy onwelkom is in Italië.
“Ek sal vir seker met Terri praat, Marco,” belowe Lana. “Ek sal self ook bly wees as sy haar hier wil kom vestig. Maar ek kan nie belowe dat sy my voorstel sal aanvaar nie. Jy ken Terri nog nie. Sy het ’n selfstandige wil en laat niemand toe om vir haar te besluit nie. Ek vrees sy is soms pynlik reguit en uitgesproke en stuit vir niks en niemand as dinge haar nie geval nie.”
“Jy het nie nodig om my dit te vertel nie. Ek het reeds met haar uitgesprokenheid kennis gemaak . . . al was dit ook telefonies,” kom dit ongeërg van die edelman.
Lana se stem is opvallend bekommerd toe sy verontskuldigend sê: “Ek is jammer daaroor. Ek hoop nie sy het jou ernstig beledig nie, Marco.”
“O nee, sy het net vir my gesê dit is baie voorbarig van my om vir haar te besluit en al die reëlings vir haar reis hierheen te tref,” vertel die graaf met ’n geslote gesig waaruit niemand iets wys kan word nie. “Daarna het sy hardop gewonder hoe dit moontlik is dat jy gelukkig kan wees op so ’n eensame, afgesonderde eiland. Sy verkies om op ’n plek te