edelman se donker oë vernou opmerklik toe hy Terri agterdogtig aankyk en reguit vra: “Veg jy nou vir jou suster en haar kinders se toekoms, of vir jou eie voordeel, signorina?”
Terri se blou oë begin weer dadelik smeul toe sy vra: “Wat presies probeer jy insinueer, meneer die graaf?”
“Dit is tog duidelik dat jy tuis nie ’n betrekking het nie en dus hoop om hier vir jou suster te werk. Waarom laat jy jou suster nie self oor haar en haar kinders se toekoms besluit nie, signorina?” voeg die edelman haar skerp toe. Sy mag nou wel die mooiste meisie wees wat hy nog ooit ontmoet het, maar hy weier beslis om haar in hierdie saak haar sin te gee. Sy sake is ook nie met haar nie, maar met haar suster.
Terri vererg haar bloedig vir die graaf se valse beskuldiging. Haar gesig is opvallend bleek toe sy sê: “Verskoon my. Ek wou net my suster help, nie myself op haar koste verryk nie. Vir jou inligting, meneer die graaf: my diens aan my suster sou gratis gewees het, omdat ek geen sinnigheid koester om op haar te teer nie. Maar dit maak nie meer saak nie, want ek het nou finaal besluit om oor twee weke huis toe te gaan. Ek is nog nooit so deur vreemdes beledig soos deur jou en jou niggie nie. Ek glo nie ek hou van hierdie land se mense nie.”
Met hierdie woorde staan Terri op en gaan haastig na haar slaapkamer, voordat die edelman haar nog om verskoning kan vra. Van hom en sy niggie het sy genoeg gehad vir ’n leeftyd.
Nadat Terri haar in haar oorpak verklee het, stap sy na die skuur toe om die trekker te gaan haal. Sy besluit om maar gou die land klaar te ploeg, ingeval Lana nié die plaas aan die graaf verkoop nie.
Toe Terri ná ’n rukkie op die trekker verby die graaf se duur motor ry, draai Carla haar gesig haastig weg. Sy is nog steeds woedend omdat Terri die oorsaak is dat Marco vir haar kwaad is en haar versoek het om in die motor vir hom te gaan wag. Maar sy besef ook dat sy baie lig sal moet loop vir Terri, want so klein en fyn as wat sy is, sal sy bepaald ook nie skroom om Marco in te vlieg nie. Lana het gelyk gehad. Wanneer haar suster kwaad is, stuit sy vir niemand nie.
Terri is ook net verby die graaf se motor, toe keer Armando haar voor.
“Zia Terri!” roep Armando uit nadat Terri die trekker tot stilstand gebring het. “Zio Marco wil met jou praat!”
“My liewe kind, sê vir jou zio Marco ek sê hy kan met my komplimente in sy peetjie vlieg. Ek het niks vir hom te sê nie en ek wil ook nie weet wat hý te sê het nie,” voeg Terri die seun toe. Toe ignoreer sy die kind se verbaasde gesiggie, skakel die trekker aan en ry in die rigting van die halfgeploegde land.
Sy het byna klaar geploeg, toe hou die graaf se motor langs die land stil. Hy klim haastig uit, stap na die punt waar die trekker nou enige oomblik gaan draai en beduie met ’n handgebaar aan Terri om stil te hou. Sy doen dit egter teen haar sin, maar bly op die trekker sit en wag dat hy na haar toe moet kom.
Daar is ’n ergerlike trek op die graaf se skraal, fynbesnede gesig toe hy hom by Terri aansluit en sy blik op haar oorpak val. Maar dan val dit hom weer by dat hy haar om verskoning wil vra omdat hy haar vroeër onwetend beledig het. Haar koppigheid jaag ’n mens ook so die harnas in dat jy dinge sê wat jy andersins nooit sou gesê het nie, dink die edelman en stap nader totdat hy langs die trekker staan.
“Ek wil jou graag om verskoning vra omdat ek jou vroeër beledig het, signorina,” hoor Terri hom sê. “Ek het geen verskoning vir my gedrag nie, dus kan ek net sê ek is jammer.”
“Nou goed, ek aanvaar jou verskoning, meneer die graaf. Maar nou moet jy my asseblief verskoon,” sê Terri met ’n geslote gesig waaruit die man niks wys kan word nie. “Ek wil graag die land klaar ploeg en die saad insit . . .”
“Moet asseblief nie verder met die ploeëry aangaan nie, signorina. Ek –”
“Verskoon my, meneer, maar ek aanvaar nooit bevele van ander nie,” val Terri hom opstandig in die rede. “Dit is my suster se plaas . . .”
“Nie meer nie,” help hy haar dadelik reg. “Die grond behoort nou aan my. Trouens, die hele eiland behoort nou aan my. Jy kan jou dus nou soos die dame gedra wat jy is, en die boerdery aan die mans oorlaat.”
“In daardie geval sal ek my so gou moontlik van jou eiendom verwyder, meneer,” belowe Terri, nog steeds met ’n geslote gesig.
“Hoe gaan jy die eiland verlaat, signorina?” wil die graaf weet. Vir Terri klink dit asof daar iets soos ’n uitdaging in die man se stem is. Maar dan gaan hy ter verduideliking voort: “Al my bote is in Venesië. Ek het met die helikopter hierheen gevlieg.”
“O, ek sal wel ’n plan maak, al moet ek ook ’n vissersbootjie huur . . .”
“Ek sal jou aanraai om liewer jou suster te gaan help inpak om na die vasteland te verhuis,” versoek hy Terri met oë wat smeul van ergernis oor haar halsstarrigheid.
“Gaan gee bevele aan jou onderhoriges, meneer,” raai Terri hom met ’n ongenaakbare houding aan.
Hierna ignoreer sy die graaf openlik. Sy skakel die trekker aan en neem dit terug na die skuur, sonder om eens vir hom tot siens te sê. Vir Carla sal sy eerder met die trekker uit haar pad ry as om vir haar tot siens te sê.
Met vernoude oë kyk die edelman die pragtige, uitgesproke meisie agterna. Dan gaan sy blik stadig oor die halfgeploegde land, en dit is vir hom duidelik dat sy baie goed opgelei is. Maar onder sy mense het elke vrou haar plek – en Terri se plek is by haar suster in die huis.
Daar is ’n ongelukkige trek op die graaf se aantreklike gelaat toe hy in sy motor klim en na sy herehuis toe ry wat op die hoogste punt van die eiland staan. Vandat hy Terri gister in die begraafplaas gesien het, so beeldmooi, fyn en vroulik, het hy gehoop dat hulle vriende kon wees, mekaar goed sou leer ken, en later . . .
“Lana se suster is absoluut ongemanierd om jou so af te jak, Marco,” maak Carla met ’n ligte frons ’n einde aan sy gedagtes.
“Nee, dit is nie juffrou Teresa wat ongemanierd is nie, Carla, dit is jý wat jóú maniere iewers verloor het,” wys die graaf haar streng tereg. “Wie het jou die reg gegee om juffrou Teresa aan te kyk asof sy iets onaangenaams en benede jou is? Ek blameer haar glad nie dat sy jou op jou plek gesit het. Dus, moet nooit dink jy is beter as sy nie, Carla, want jy is nie en jy sal dit nooit wees nie. Maar vir jou inligting: juffrou Teresa het ’n rede waarom sy my afgejak het, en jou belediging is deel van daardie rede.”
Hy vertel Carla egter nie dat hy Terri ook vroeër onwetend beledig het nie, en dat dit lyk asof die pragtige witkop nou glad nie van Italië en sy mense hou nie. Hy voel bitter teleurgesteld hieroor en hy kan maar net hoop dat Lana haar sal kan oorreed om wel haar tuiste hier in Venesië te maak. Hy hoop nog steeds om haar vriendskap en vertroue te wen, ten spyte van haar afjak.
Carla voel op die oomblik platgeslaan en baie bitter omdat Marco so openlik kant kies vir daardie parmantige witkop. Sy erken dat haar optrede aanstoot gegee het, maar dit was bedoel om die klein snip af te stoot sodat sy huis toe kan gaan en nie dalk by Lana haar intrek sal kom neem nie. Sy hoop egter dat sy in haar doel geslaag het, anders het sy haar Marco se gramskap verniet op die hals gehaal.
Carla is diep bewus van Marco se afsydigheid teenoor haar, maar sy maak asof daar niks tussen hulle gebeur het nie. Sy sal dit alles en nog meer van hom verduur, as sy maar net eendag die geëerde posisie as sy vrou, die gravin De Castellano, kan beklee.
Ná haar tuiskoms gaan Terri dadelik bad en verklee haar in ’n bruin langbroek en blompienk bloes. Daarna lui die klok vir middagete en moet sy haar dadelik na die eetkamer haas.
Terwyl hulle die maaltyd nuttig, gesels Terri oor gemeenskaplike vriende in Suid-Afrika wat Lana jare laas gesien het. Sy meld egter nie ’n woord van die graaf se aankondiging dat Lana na die vasteland gaan verhuis nie. Sy het reeds besluit om haar liewer uit Lana se sake te hou, voordat haar goeie bedoelings dalk weer verkeerd vertolk word.
Ná die ete kondig Terri aan dat sy ’n entjie langs die strand wil gaan stap. Maar dan hoor sy Lana sag en vriendelik sê: “Kom sit eers ’n rukkie by my in die sitkamer, kleinsus. Daar is iets belangriks wat ek jou wil vertel.”
Hulle