section>
Soos honde van die hemel
Marzanne Leroux-Van der Boon
Tafelberg
The Hound of Heaven
I fled Him, down the nights and down the days;
I fled Him, down the arches of the years;
I fled Him, down the labyrinthine ways
Of my own mind; and in the mist of tears
I hid from Him …
From those strong Feet that followed, followed after.
But with unhurrying chase,
And unperturbed pace,
Deliberate speed, majestic instancy,
They beat – and a Voice beat
More instant than the Feet …
That Voice is round me like a bursting sea …
‘Lo, and things fly thee, for thou fliest Me! …
‘Whom wilt thou find to love ignoble thee,
Save Me, save only Me? …
‘Ah, fondest, blindest, weakest,
I am He Whom thou seekest!’
Francis Thompson
Een
Ruud klim uit sy motor en kyk om hom heen. Aan die onderent van Avonstraat hang ’n groot wit maan laag teen die ooste. ’n Kat wat skigtig agter ’n boom uit te voorskyn kom, kyk hom oomblikke lank bewegingloos aan. Sy oë glim in die flou straatlig. Maar toe Ruud buk en hom wil aanraak, skiet hy geruisloos in die donker weg.
Toe eers word Ruud bewus van geluide om hom. Die deurdringende stem van ’n televisie-nuusleser agter toegetrekte gordyne, opwasgeluide deur ’n oop kombuisvenster, ’n vrou wat iemand dreigend aanspreek …
“Lossit nou vi my, Cilla, djy moet maak lat djy byrie wêk kom!” Oumie se stem is skril.
“Mammie … ie … ie!”
“Nikse ge-mammie nie, weg is djy!”
Die voordeur klap so hard dat Roedie die hoenders in die agterplaas onrustig hoor krys.
“Blerrie astrant!” mompel ouma Dais toe sy na sy en oompie Willy se kamer toe aankom.
Hy maak of hy slaap toe Oumie inkom, maar hy mislei haar nie. “Roedie, djy moet opkom, my boytjie, annerster ry Mister Boddington siekelik sonner djou skool toe vimôre!”
Aan haar vingers wat teen sy gesig raak, ruik hy die knoffel wat sy gesny het.
Ruud bly staan en kyk na waar lig uit die smal venster by nommer 12 oor die tuintjie na die stoep toe streep. Hy ruik die jare se digte bank verrotte dennenaalde wat teen die draadheining van die parkie lê. Hy knyp sy oë vinnig toe asof iets verblindends hom te binne skiet en vee met sy hand oor sy mond.
Toe Oumie oor hom leun, slaan hy sy arms so angstig om haar nek dat sy byna haar ewewig verloor en op hom val. Hy voel hoe sy skrik. Haar deinende bors is sag soos ’n kussing teen sy gesig. Sy het nog haar nagruik. Dit wil hom laat huil.
Maar toe hy aan haar bly vasklou, sê sy half driftig: “Djy moet nou groot djongetjie raak, Roedie, djou mammie sillit nie laaik is sy trugkom en djy gedraag djou soes ’n bybietjie nie! Djy’s mos oekal darem siewe djaar al! Kom nou!” Maar sy wieg hom in haar arms, hou sy kop teen haar skouer vas.
“Ek wil nie in dié kamer slaap nie, Oumie,” sê hy skaars hoorbaar teen haar nek.
“In vir wat nie?”
“Ek’s bang hieso.” Hy sê dit, indien moontlik, nog sagter.
Sy druk hom van haar weg. “En vi wat sil jy bang wies hieso, Roedie! Hie slaap djou oempie Willy oek nog iedere nag by djou! En tewyl ons anne oek almal hieso is! Ek en Oupie en Mavis en Cilla en Djaney! Agge nie, kom nou, vi wat sil djy nogal voor bang wies, hè? Djy was nog noeit hieso bang nie!”
Sonder om sy oë oop te maak, sê hy: “Ek wil weer by Oumie en Oupie kom slaap.”
Sy word radeloos, voel hy aan die manier waarop sy hom skud. “Maar, Roedie! Ag nie, kom nou, djy’s vispot nou. Djou pappie sillit nie laaik lat djy deerentyd by ons slaap nie! Staan nou op vir Oumie, toe, djy gat laat wies vi skool! Kom nou, my bybietjie, ons praat vinaand weer, gehoor?”
Toe sy die beddegoed van hom wegtrek, voel hy die lug koud op sy nat klere. Hy krimp voor die skrik in haar gesig.
“Roedie! Hoe het djy dan nou in djou kooi in gepie?” Hy voel hoe sy gesig vertrek om te huil en sy vat vinnig aan sy skouer. “Toemar, dis maar niks die ou iene keertjie nie. Mar as djy in die nag closet toe moet gan, dan kin djy mos net vi djou oempie roep! Hy sil mossie mindtie, my boytjie, hy lê dan hieso vlak langes djou in sy kooi in! Of Oumie kin vi djou ’n piepotjie ok hie sit, nè!”
Terwyl hy sy pap in die kombuis eet, hoor hy haar buite in die agterplasie waar sy die uitgespoelde beddegoed tussen die vyebome uithang. Sy praat met Oupie: “Daar’s moeilikgeit met die kind, Saulus! ’n Kind van sy oudedom pie nie somme viniet in sy kooi innie!”
“Dis oorlat sy ma weg is.”
“Moenie ridiculous wiesie, Saulus! Sy ma is al wie weet hoelank weg, in nóú doet hy dit! Djy moet vi my hoor, dis anne moeilikgeit!”
“Soes wat, Dais?”
“Hoe sil ekkit miskien wiet, Saulus! As ek gewiet het, het ek da siekelik iets an gedoen! Kin djy wiet!” Sy klap die nat laken venynig uit voor sy dit oor die draad gooi.
Nou stap Ruud oor die straat tot by die huis. Hy kan sien dis nie meer dieselfde vensters van vroeër nie, al het die restoureerder dit klaarblyklik pynlik korrek probeer nadoen. Maar dit het hy die vorige kere al gemerk. Sedert hy ’n week gelede in die land aangekom het, het hy al drie of vier keer hier verbygery.
Eers toe gewaar hy beweging agter die glas. Hy tree verskrik in die betreklike donkerte van die straat terug en sien dit is ’n vrou wat besig is om ’n Kersboom te versier.
Daar op die juiste plek waar oompie Willy se bed vroeër gestaan het. Langs syne. Hy byt magteloos in sy kieste toe hy die trane in sy oë voel skiet.
“Gekke jongen, wat kan jij tog overal over stotteren! Op jouw leeftijd!”
Hy kan Michaela se gesig in die donker teater nie goed onderskei nie, maar hy voel aan sy speel met hom.
“Ben altijd so ontzettend vertedert door muziek …” fluister hy verleë terug.
“Door álles!” sê sy en dié keer hoor hy geïrriteerdheid in haar stem en hy klem haar hand vaster.
In die eerste jare van sy lewe het hy en sy ouers altyd sonder uitsondering hierheen gekom met Kerse. Sy grootouers was Kristelike mense. Sy Hollandse pa wou nie Kristelik wees nie, maar sy skoonfamilie se manier van doen met die feestyd het hom tog aangestaan. Miskien het dit op ’n manier sy verlange na sy eie mense in Holland effens getroos. Hoe ook al, Kersnag as almal al wou rus hê, het hy die“Wilhelmus” hoogdronk op die agterstoepie sit en sing.
Ruud dink aan die klein kersies in blikblakertjies wat hy met Oumie se bystand aan die dennetakke mog vasknyp. En die twee wondermooi glasvoëltjies met hulle kleurryke sterte van regte vere. Maar dié het sy self versigtig vasgesit. Hoog bokant bereik van sy handjies.
Oukersaande het hy op Oumie se skoot aan die slaap geraak lank voor die Kersverhaal uitgelees was. Haar sagte borste en maag was gerusstellender teen hom as sy ma se stywe jong lyf. Dan het hy net half wakker geword as die straatsangers middernag Kersliedere weemoedig by akkordeon voor die deur sing en Oumie uitgaan om vir hulle gemmerbier en koek te gee.
“Lat die kind nou mar by ons in die kooi in lê, Shireen, die man is byte kennis weer!”
Ruud tree behoedsaam vorentoe om na die vrou agter die ruit te kyk. Dis ’n