Susanna M. Lingua

Die bruid van Blouberg


Скачать книгу

      

      Susanna M Lingua

      Die bruid van Blouberg

      Melodie

      1

      Die vier en twintigjarige Lecia Brank sug diep en hardop van verligting.

      Ai, hoe heerlik tog om ’n volle naweek lank van ’n klomp onmoontlike, sieltergende musiekleerlinge ontslae te wees! My senuwees voel sommer kapot uitgerafel. Om te dink dat ek nege maande gelede nog sorgeloos aan die konservatorium vir musiek in Rome gestudeer het, en nou sit ek hier met ’n hele wavrag ellende opgesaal. Ek moes in Rome gebly het . . . lekker ou stad. Daar het ek geen probleme geken nie, gesels Lecia met haarself onderwyl sy met haar luukse geel sportmotor behendig deur die Johannesburgse verkeer vleg op pad na haar tante, Emma Reyneke, se huis in een van die gegoede voorstede.

      Drie jaar gelede het Lecia albei haar ouers in ’n motorongeluk verloor. Haar enigste familielid is tant Emma by wie sy inwoon. Dan is daar natuurlik ook haar oorlede pa se oudste en enigste broer, Isak Brank. Maar van oom Isak praat sy glad nie. Niemand praat ooit van hom nie. Trouens, Lecia beskou hom nie eens as lid van die familie nie. Wat haar betref, kon hy net sowel nie bestaan het nie. Sy wil hom nie ken nie, en sy dink nie eens aan hom nie.

      Wat Lecia alles van oom Isak Brank van Blouberg gehoor het, het haar tot die slotsom laat kom dat hy vol duiwelstreke is. Nie dat haar oorlede pa, advokaat Gerrit Brank, juis ’n engel was nie. Inteendeel, hy was ook maar ’n uitgesproke en kortgebakerde man. Maar sy is ook so. Dis ’n eienskap van die Branks van Blouberg. Hulle laat nie met hulle speel nie, en hulle laat ook niemand toe om op hul kop te sit nie.

      Oom Isak is nie net uitgesproke en kortgebaker nie; hy is trouens ook die grootste ou skelm en heiden wat leef. Dis nou alles dinge wat sy van haar oorlede pa en ma gehoor het. En haar pa behoort te weet, want hy en oom Isak is albei op die familieplaas, Blouberg, gebore en het saam daar grootgeword. Ja-nee, as iemand oom Isak geken het, was dit beslis haar pa. Oom Isak se vrou, tant Breggie, was glo nie onaardig nie, maar sy is lankal oorlede.

      Sy het oom Isak maar een keer in haar lewe gesien, en dit was toe hulle op pad na Kaapstad vir ’n dag by Blouberg aangedoen het. Sy was toe maar vyf jaar oud en sy kan feitlik niks van hul besoek onthou nie. Sy onthou net vir Wouter, tant Breggie se broerskind, wat by haar en oom Isak gewoon het. Wouter was toe vyftien, en hy het haar daardie dag soos ’n ouer broer be­skerm en vertroetel.

      Waarom sy Wouter so goed onthou, is omdat hy haar so tydig gered het toe sy aan die kant van die rivier in die vlak water gespeel en ’n yslike krap haar aan die groottoon beetgekry het. Daarna het hy haar huis toe gedra en met haar geloop en gesels totdat sy opgehou huil het en heeltemal van die aaklige krap vergeet het.

      Die vervreemding tussen die twee Brank-broers het glo ontstaan toe Gerrit besluit het dat hy nie vir ’n plaasboer uitgeknip was nie en liewer in die regte wou studeer.

      Maar Gerrit was ook ’n Brank. Dus het die vonke dae lank op Blouberg gespat, en Gerrit het sak en pak Johannesburg toe verhuis. ’n Paar jaar later is sy pa oorlede en Isak is as die enigste erfgenaam van Blouberg benoem, maar Gerrit was heeltemal bewus daarvan dat dit deur Isak se slinkse toedoen geskied het.

      Wat daardie dag, negentien jaar gelede, tussen Isak en Gerrit gebeur het, weet net hulle twee. Sedert daardie dag is Isak se naam nooit weer in Gerrit se huis of selfs in sy teenwoordigheid genoem nie. Nie eens sy vrou, Mara, het dit gewaag om Isak se naam in sy teenwoordigheid te noem nie.

      Gerrit was daardie dag woedend, en toe hulle van Blouberg af vertrek, het hy bitter gesê: “So ’n satanskind! Hy is die grootste ou heiden, skelm en onderkruiper wat leef. Ek sê jou nou, Mara, ek erken hom nie meer as my broer nie, en ek wil sy naam nooit weer hoor nie. Die skobbejak was bepaald onder die indruk dat ons van armoede en ellende krepeer en dat ons net by Blouberg aangedoen het om van hom geldelike hulp te vra. Ek moes die ellendeling met die vuis bygedam en hom ’n paar goeie opstoppers gegee het oor sy vermetelheid. Net die duiwel sal weet waarom ek dit nie gedoen het nie.”

      Mara wou nog haar man probeer kalmeer, maar Gerrit was briesend en het nog talle ander dinge in sy drif kwytgeraak. Sedert daardie dag was daar nie meer net ’n vervreemding tussen die twee broers nie, maar openlike vyandskap.

      Na etlike jare, toe Lecia oud genoeg was om dinge in die regte perspektief te sien, het haar ma haar die hele onaangename geskiedenis van haar pa en oom Isak vertel. Gevolglik het sy net so ’n diep hekel aan haar oom Isak, want die onreg wat hy haar pa aangedoen het, raak haar ook.

      Ná die motorongeluk het sy hom nie eens van haar ouers se afsterwe in kennis gestel nie. Gevolglik is Gerrit Brank nie in Blouberg se kerkhof begrawe waar al sy voorsate van die afgelope driehonderd jaar rus nie.

      Die verkeerslig word rooi, en Lecia hou stil. ’n Lawwe motor­ryer agter haar druk sy voertuig se toeter lank en hard. Sy vererg haar oombliklik vir die vent en draai in die sitplek om. Woes beduie sy met haar vuis hoe sy hom disnis gaan slaan as hy nie dadelik sy ongeskiktheid staak nie.

      Die verkeerslig word groen, en die geel sportmotor trek met ’n vaart weg.

      A, eindelik tuis, dink Lecia toe sy langs haar tante se dubbelverdiepinghuis stilhou. Salige rus en vrede ’n hele naweek lank.

      Sy klim uit die motor, draf die huis soos ’n sestienjarige binne en loop haar tante byna onderstebo waar die ouer vrou in die voorportaal vir haar staan en wag.

      “Genugtig, kind, gaan jy dan nooit grootword nie?” vra tant Emma glimlaggend, glad nie verbaas of verskrik nie. Sy ken mos darem al die emosionele Branks.

      “Haai, middag, tant Emma!” Lecia lag vrolik en omhels die vrou liefderik. Sy kyk haar opgewek aan. “Maar hoe praat tant Emma dan nou van nooit grootword nie? Ek was dan net verlede week vier en twintig!”

      “Toemaar, jy hou jou verniet onnosel,” glimlag die ouer vrou goedig. “Ek weet werklik nie waarom ek my nog moeg maak om jou te vermaan nie. Julle Branks laat julle tog van g’n mens leer, voorskryf of vermaan nie. Maar kom, ek wag al die afgelope halfuur in spanning op jou tuiskoms.”

      Lecia kyk haar dierbare tante laggend aan.

      “Waarom al die spanning, tant Emma?” vra sy terglustig. “Is iemand dood, of het tant Emma en daardie lastige ou wewenaar vanoggend skelmpies voor die landdros getrou?”

      “Jy moenie nog spot nie, kind,” vermaan die ouer vrou haar ernstig. “As jy weet wat ék weet, sal jy glad nie so vrolik daar uitsien nie. Maar sê eers vir my: Het jy al weer iemand met daardie windmakerige motor van jou raak gery, of het jou vinnige humeur al weer gemaak dat jy iemand beledig het?”

      Lecia lag saggies. Sy plaas haar een arm liefdevol om die mollige vroutjie se lyf en vra gemaak vroom: “My liewe tant Emma, waarvan praat tante nou? Hierdie nuwe vuurwa van my het tot dusver nog niemand raak gery nie, en ek kan tante verseker dat ek die afgelope twee maande ook niemand beledig het nie. Maar vertel my, waarom verdink tante my van sulke nare dinge?”

      Tant Emma meet die jong meisie ’n oomblik met ’n skeptiese blik, maar verduidelik dan met groot erns: “Omdat hier vandag vir jou ’n brief van ’n prokureur af gekom het, en ’n prokureursbrief wat aan jou geadresseer is, voorspel gewoonlik net een ding – moeilikheid met hoofletters. Maar as jy niks onwettigs aangevang het nie –”

      “O, giftig,” val sy haar tante met ’n sweem van ’n glimlag in die rede, “dit klink werklik of iemand my in die tronk wil stop! Laat ek net eers dink teenoor wie ek laas my humeur verloor het. Dis sweerlik daardie konstabeltjie wat ek nou die môre byna raak gery het. Maar, nee, dit kan nie hy wees nie . . .”

      Tant Emma frons effens, maar swyg wyslik.

      “Natuurlik is dit hy!” sê Lecia gerusstellend. “Hy sal my nie aankla nie, nie ná daardie stroopsoet glimlaggie waarmee ek hom vereer het nie. Hy het dan selfs vir my geglimlag met sy hand op sy hart . . .”

      “Ag, loop, kind,” bestraf tant Emma haar goedig, “jy is vandag weer vol duiwelstreke. Kom lees liewer die brief. Ek moet weet wat jy al weer teen die gereg gesondig het, sodat ek onverwyld met ’n prokureur in verbinding kan tree in verband met jou verdediging.