Anti-inflammatoriese pynstillers kan die simptome help verlig. Die Mirena, ’n intra-uteriene apparaat (’n soort veer), die voorbehoedpil en progesteroonbehandeling kan ook help.
(d) Blaasontsteking
Ontsteking van jou blaas of blaaspypies kan jou urien laat brand en skerp laat ruik. Jy kan ook bloed daarin hê en heel moontlik pyn in jou laerug. Jy sal meer gereeld wil urineer.
Te nou blaaspypies, ’n te kort urienbuis, hardlywigheid of sommige antidepressante kan veroorsaak dat urien in jou blaas agterbly en bakterieë daar vorm. Besmetting uit jou eie dermkanaal kan ook ’n oorsaak wees, daarom moet jy altyd wanneer jy toilet toe gaan, van voor na agter afvee, nie andersom nie.
Jy sal meer geneig wees tot blaasinfeksie as jy swanger is, skielik meer as gewoonlik seks het, soos op jul wittebrood, te min sekshormone het vanweë die menopouse, of irriterende onderklere dra. (Katoen is die beste, want dit haal asem.) Sekere sepe, of deodorante spesifiek vir daardie intieme plekke, kan jou vel irriteer en dit kan dan soos ’n blaasinfeksie voel.
Gaan sien so gou moontlik jou dokter. Drink intussen baie water en maak jou blaas so goed moontlik leeg. ’n Urientoets sal bepaal of jy infeksie het of nie. ’n Spesifieke kursus antibiotika sal die infeksie laat opklaar. Navorsing wys dat bessiesap en spesiale bessiekapsules (in ’n vroeë stadium geneem) kan keer dat die infeksie vererger.
As jy herhaaldelik blaasontsteking kry, sal jou uroloog moet ingryp om byvoorbeeld jou blaaspypies onder narkose te rek.
(e) Spastiese kolon
Prikkelbaredermsindroom (spastiese kolon) kan pynlike seks veroorsaak. Simptome sluit in maagkrampe en abdominale pyn, opgeblaasdheid, asook hardlywigheid wat afgewissel kan word met diarree.
Jy kan dalk inflammasie en ’n wanbalans in jou derm hê; baiekeer as gevolg van ’n lang kursus antibiotika vir ’n ander siekte.
Gebruik probiotika om die natuurlike bakteriële balans in jou derm reg te stel. Drink baie water en rus genoeg. Heelwat kenners reken dat stres ’n rol in prikkelbaredermsindroom speel.
Gaan dokter toe as jy vermoed dat jy ’n spastiese kolon het. Jy sal heel moontlik krampwerende medikasie (soos Colofac of Buscopan) moet gebruik. Indien diarree ’n simptoom is, sal jy ’n teendiarreemiddel moet neem. Hardlywigheid kan hokgeslaan word met ’n massavormende middel (korrels wat vog absorbeer, uitsit en dermbeweging aanhelp).
Nuwer medikasie sluit in: pille wat serotonien in die dermkanaal naboots om só dermbeweging aan te moedig; medikasie wat vloeistofafskeiding in die dermkanaal bevorder; en antibiotika wat nie deur die dermkanaal opgeneem word nie (Rifaximin).
Jy sal moet oefen en ook gasvormende kos (soos uie, kool, droë boontjies, avokadopeer, sitrusvrugte, hawermout en klapper) uit jou dieet moet sny. Voldoende vesel is belangrik.
Maak seker dat geen ander medikasie, soos iets wat kodeïen bevat, jou hardlywigheid veroorsaak nie.
Stel vas of jy nie dalk laktose-intolerant is nie, want dan het jou liggaam nie die vermoë om laktose, ’n suiker wat in melk voorkom, behoorlik te verteer nie.
(f) Vulvodinie
Daar is nie een spesifieke oorsaak vir hierdie pyn rondom jou vaginale opening nie. Jy kon dalk die senuwees in die area seergemaak of geïrriteer het. Hormonale veranderinge, allergieë, chirurgie met komplikasies, vorige vaginale infeksies asook seksuele misbruik (ook in jou verlede) kan ’n rol speel.
Vulvodinie is nie gewoonlik ’n teken van kanker nie en is ook nie seksueel oordraagbaar nie.
Jy kan verskeie simptome hê, soos pyn, ’n kloppende en/of brandende sensasie, en/of ’n steekpyn in jou vaginale area. Ander kenmerke is rouheid, ’n gejeuk en pynlike seks.
Dis belangrik dat jy so gou moontlik jou ginekoloog raadpleeg om oorsake soos vaginale infeksie of diabetes uit te skakel. ’n Sielkundige kan help met angs, depressie en slapeloosheid, wat ook uit vulvodinie kan voortvloei.
Daar is verskeie behandelingsmetodes vir die simptome, wat van vrou tot vrou verskil. Bioterugvoerterapie (bio-feedback therapy) is ’n voorbeeld. ’n Sensor word in jou vagina geplaas, impulse word na ’n spesifieke masjientjie gestuur en jy kan na aanleiding van die liggies sien wanneer jy jou bekkenvloerspiere saamtrek en weer laat ontspan. Só leer jy hulle beheer.
Medikasie vir pyn sluit trisikliese antidepressante of teenkonvulsiemiddels in. ’n Verdowende salf (soos Lidocaine) of ’n inspuiting kan ook die pyn help verdoof. Antihistamien kan die gejeuk verminder.
As jy spesifieke plekke kan uitwys waar dit pyn, soos daar waar jou vel of weefsel aangetas is, kan chirurgie dalk help.
Vulvodinie kom redelik algemeen voor. Jy kan maande lank of selfs jare daaraan ly, en dan verdwyn die simptome skielik. Die probleem verg egter gespesialiseerde behandeling deur ’n multidissiplinêre span. Jy het baie goeie mediese en sielkundige ondersteuning nodig om seker te maak jy kry die beste resultaat. Raadpleeg eers jou ginekoloog, en dan ’n seksuele gesondheidspraktisyn of ’n ander kundige wat baie ervaring van dié probleem het.
Volg intussen dié raad
• Plaas koue kompresse (soos dié wat vroue ná die kraamproses gebruik) op jou vaginale area.
• Moenie onnodig druk daarop plaas deur aktiwiteite soos fiets- of perdry nie, tensy dit jou simptome verbeter – dit gebeur ook.
• Gebruik tydens seks ’n smeermiddel sonder geur- of kleurmiddels.
• Was jouself versigtig. Moenie intieme plekke skrop nie en vermy seep asook deodorant spesifiek vir daardie plek. Gebruik liewer akwaroom (aqueous cream) om mee te was.
• Moenie te lank sit indien dit jou simptome vererger nie.
• As sanitêre doekies jou vel irriteer, gebruik eerder tampons.
• Dra katoenbroekies, hulle haal asem.
• Vra jou dokter of jy ’n antihistamien voor slaaptyd kan neem. Dit sal die gejeuk laat verminder en jou beter laat slaap.
2. Vaginale droogheid
Vaginale droogheid kan ’n simptoom wees van ’n laer estrogeenvlak tydens sekere tye van jou menstruele siklus of vanweë die menopouse. Droogheid kan jou angstig maak oor ongemak en pyn tydens seks en daarom tot ’n lae libido lei.
Gebruik ’n smeermiddel, wat ook ideaal is vir wedersydse masturbasie. As julle kondome gebruik, is ’n smeermiddel met ’n waterbasis die beste. Jy kry die gewone jel-smeermiddel, maar ook soorte met allerhande geurmiddels. Met massering word sommige smeermiddels koud en ander warm.
Medisinale olyfolie werk ook goed vir vaginale droogheid. Moet egter nie petroleumjellie gebruik nie, dit kan infeksie veroorsaak (of ’n kondoom laat verswak). Onthou, anti-inflammatoriese middels kan vaginale smering verminder.
3. Die menopouse
’n Gebrekkige libido is ’n algemene simptoom van die menopouse. Volgens die webwerf van Epigee Women’s Health (epigee.org) neem tussen 20 en 45 persent van menopousale vroue se seksdrang af. Simptome soos vaginale droogheid, moegheid, gemoedskommelinge, depressie en ’n lae selfbeeld kan dié situasie vererger.
’n Laer libido in die menopouse word toegeskryf aan onder meer laer vlakke van die hormone estrogeen, progesteroon en testosteroon. Elkeen speel ’n rol in jou libido: Estrogeen verhoog seksuele sensitiwiteit; progesteroon hou jou libido in stand; en testosteroon, ’n manlike sekshormoon, vuur seksdrang (ook joune) aan. Testosteroon dien ook as vaginale smeermiddel.
Praat met jou ginekoloog oor die voor- en nadele van hormoonvervangingsterapie. Dit kan jou simptome verlig en daarom seks minder gekompliseerd maak. Dit kan ook met vaginale smering help en sorg dat seks minder pynlik is.
Vaginale estrogeenroom, -ringe en -tablette kan bloedvloei na die vaginale area verbeter, sensitiwiteit verhoog, en daarom sorg vir makliker orgasmes.
Gesels ook met jou ginekoloog oor (die omstrede) testosteroonvervanging. Omdat dié aanvullings manlike eienskappe