voorbidding
Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring. – Eks 32:14
GESELSVRAAG:
Wat is die geheim van kragtige gebed?
“Ek is regtig moedeloos en depressief oor ons gemeente,” bely ’n kollega. “Ek was al baie dae lus om my hoedjie te vat en te loop.” Wanneer mense so moedeloos kan raak, dink net hoe moet die Here oor ons voel wanneer ons Hom so dikwels teleurstel. Hy het ’n wonderlike plan met sy kerk om die hele wêreld deur hulle te seën. Maar elke keer word hulle selfsugtig met hul liefde en gee hulle geensins om vir die miljoene mense wat nog verlore gaan nie.
Moses het nou die wonderlike tyd saam met die Here deurgebring. Dit was vir hom soos ’n besoek aan die berg van verheerliking. En toe vertel die Here hom dat Hy die volk gaan uitdelg omdat hulle afgode gemaak en losbandig gelewe het. Moses het toe vir sy volk ingetree. Hy het die Here aan sy beloftes herinner en aan die verbond en aan wat die ongelowiges sou sê as die Here sy volk vernietig. Menslike argumente is swak, maar God se eer was op die spel; daarom het Hy Moses se gebed verhoor en die volk nie vernietig nie. Maar dit het nog nie gekeer dat Moses self woedend geword het toe hy sien wat aangaan nie (Eks 32:19).
Die Here hou daarvan wanneer ons Hom aan sy beloftes herinner (Jes 62:6). Dit gee krag aan ons gebede. Oefen dus om Skrifgebede te bid en vertrou die Here om sy wil uit te werk.
GEBED:
Leer my om so te bid dat dit ’n verskil maak, Vader.
Lees vanaand in Eksodus 32:21-35 oor Aäron se flou verskonings en hoe Moses die volk gestraf het.
Sondag 16 Februarie 2014 Lees eers Psalm 128:1-6
Die vrug van gehoorsaamheid
Kyk, so word die man geseën wat die Here dien. – Ps 128:4
GESELSVRAAG:
Watter soort seën het ons van die Here nodig?
“Ek sal my bekeer as ek eers oud geword het. Nou wil ek eers my lewe geniet,” is die onuitgesproke voorneme van baie jongmense. Hulle besef nie dat hierdie keuse die pad van die dood is nie. Sonder God het jy nie ’n toekoms nie. Ware vreugde lê nie in ’n losbandige lewe nie, maar in oorgawe en gehoorsaamheid.
Hierdie pelgrimslied skilder ’n beter prentjie. Die geheim van ware voorspoed is om die Here te dien. Letterlik staan daar: om die Here te vrees. Dit loop uit op gehoorsaamheid. So iemand is gelukkig in sy werk (Ps 128:2) en in sy huisgesin (Ps 128:3). Die psalm sluit af met ’n pragtige gebed wat ons gerus vir mekaar kan aangee (Ps 128:4-6). Is dit nie wonderlik om in so ’n familie groot te word nie!
So dikwels dink ons aan seën as iets wat net geestelik is. Of dalk het dit met ’n goeie oes of baie geld te doen. Maar dit het ook baie met ons gesondheid, gesindheid en gesin te doen. Dit is mos lekker om ’n kind van die Here te wees! Watter groter seën kan daar wees as dít?
Daarom kan ons ook daarna uitsien om vandag saam met die ander kinders van die Here bymekaar te kom, ons Vader te loof en sy liefde, toerusting en opdragte te ontvang. Ons kan mekaar bemoedig en ondersteun in die stryd van elke dag. Ons hoef nie ons laste alleen te dra nie.
GEBED:
Dankie dat U ons so onverdiend seën, hemelse Vader.
Lees vanaand in Psalm 129:1-8 waarom ’n gelowige kan moed hou in tye dat hy of sy dit nie maklik het nie.
Maandag 17 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 33:1-11
Hoe hoor ek God se wil?
[…] Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. – Eks 33:7
GESELSVRAAG:
Hoe weet ons wat God se wil vir hierdie week is?
“Wat sê God oor hierdie saak?” wou die een Arabiese leier na die ander van een van ons vriendinne weet. Sy het jare lank reeds in hul land gewoon en hulle het agtergekom God praat met haar. “Vra Hom self,” het sy dikwels aanbeveel, maar hulle het Hom nie geken nie. Maar hulle het haar vertrou, al het hulle geweet sy is ’n Christen. Sy het ’n lewende verhouding met God gehad, en hulle het dit geweet; daarom het hulle haar raad gesoek.
Moses het ’n spesiale tent ver buite die kamp gaan opslaan. Dit was nog nie die tabernakel nie, want dit was nog nie gemaak nie. Hy het dit die Tent van Ontmoeting genoem. Wanneer iemand na God se wil gesoek het, het hulle daarheen gegaan. Moses was hulle tussenganger en het God se wil aan hulle bekend gemaak. God het met hom gepraat soos met ’n vriend (Eks 33:11). Ons lees dat die volk soveel respek vir daardie ontmoeting gehad het, hulle het op aandag gestaan wanneer Moses daarheen gegaan het (Eks 33:8).
Vandag het ons Moses nie meer nodig nie. Die Here Jesus het die pad vir ons oopgemaak sodat ons direk met Hom kan praat. Ons probleem is dikwels by die luister. Wat sê Hy vir my? Hy praat deur sy Woord, sy Gees, omstandighede en ander gelowiges. Kom ons luister mooi hierdie week.
GEBED:
Help my om u stem te ken en u wil te doen.
Lees vanaand in Eksodus 33:12-23 hoe Moses vir die volk ingetree het totdat die Here beloof het om Self saam met hulle te trek.
Dinsdag 18 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 34:1-9
Leer ken die Here
[…] Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. – Eks 34:6
GESELSVRAAG:
Wat is ons eerste indruk wanneer ons aan God dink?
“As jy God leer ken, sal jy nie meer met sonde speel nie. Hy is heilig, almagtig, alomteenwoordig. Hy is regverdig. Hy is Drie-enig. Hy haat en straf alle sonde. Hy is die finale regter.” So kan ons voortgaan om Hom te probeer beskryf.
Hoe anders as God Homself aan ons kom voorstel. In die oorspronklike Hebreeus staan daar JHWH wat eers verkeerdelik met Jehowah vertaal is. Die beter uitspraak Jahweh beteken volgens sommige kenners: “Die Een wat alles wat bestaan laat ontstaan.” In die Afrikaanse Bybels word die woord Here deurgaans gebruik. Maar Hy beskryf Homself as die “barmhartige en genadige God (die Een wat werklik vir mense omgee), lankmoedig (die Een wat baie geduld het), vol liefde en trou”. Hy is nie aan tyd gebonde nie, en betoon sy liefde aan duisende geslagte. Hy vergewe sonde, maar omdat Hy regverdig is, spreek Hy niemand sonder meer vry nie. Sonde moet gestraf word. Jy moet self die straf dra, of God se plaasvervanger, Jesus, vir jouself toe-eien. As ons dit nie doen nie, is dit tot nadeel van ons nageslag.
Dit is die God wat ons nou nog elke dag wil ontmoet. Ons het die voorreg om met Hom ’n liefdevolle verhouding te bou. Hy is ons hemelse Vader. Ons kan Hom vertrou. Hy wil jou vandag lei.
GEBED:
Hemelse Vader, ek wil U waarlik leer ken soos U is.
Lees vanaand in Eksodus 34:10-20 hoe ernstig God ons teen nuttelose afgodsdiens waarsku.
Woensdag 19 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 34:21-35
Blink gesig
Toe hy van Sinaiberg af gaan […] was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. – Eks 34:29
GESELSVRAAG:
Wanneer sê ons iemand se gesig skyn?
“Ai, my dogter het so ’n blink gesiggie, maar sy gebruik geen grimering om dit reg te stel nie,” kla ’n vriendin. Nou wie het besluit dat ’n dowwe gesiggie die regte voorkoms is? “Die beste grimering vir ’n vrou is ’n glimlag,” lees ek in ’n e-posboodskap. Maar hoe het Moses se gesig geblink? Silwer? Goud?
“Sy gesig het horings gehad,” sê die Latynse Vulgaat Bybel by hierdie vers. Die vertalers wou seker iets sê van