Maar Noag …
Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; … want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Maar Noag is deur die Here begenadig. … Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Genesis 6:7–9
~
Ek verstom my oor Noag se onwrikbare, kinderlike geloof. Hy was eenhonderd persent oortuig daarvan dat God self hom beveel het om ’n groot skip op droë grond te bou, ver van enige water. Dié vreemde optrede van Noag was veel meer as ’n “menslike malligheid”, dit was ’n preek, ’n preek in die eindtyd. Want ja, dit was inderdaad vir die mense van Noag se tyd ’n eindtyd. Die wêreld het op die punt gestaan om te vergaan.
Noag was nie ’n willose pion in ’n Goddelike skaakspel nie. Hy kon kies. Hy het voor ’n geweldige uitdaging gestaan. Moet hy maar sake hulle gang laat gaan? Solank hyself tog net in God glo en Hom gehoorsaam. Of moet hy God se eienaardige opdrag uitvoer en sy oordeel verkondig?
Noag was ’n regverdige man wat naby God geleef het. Met dié kort getuigskrif word vertel waar Noag gekies het om standpunt in te neem: aan God se kant. Die gevolg was dat Noag en sy dierbares en ’n groot aantal dierespesies van ondergang gered is. In hierdie man is die aarde geseën en die mensdom van algehele ondergang gered.
Soms verg ’n lewe naby God dat ons afstand van die wêreld al groter word. Dit mag wees dat ons vriende en aansien verloor en selfs as dweepsiek beskou word. Maar, soos Noag se verhaal duidelik maak, ’n lewe naby God beteken uiteindelik die verskil tussen lewe en dood.
Soms verg ’n lewe naby God dat ons afstand van die wêreld al groter word.
6 Januarie
Blindelingse geloof
Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.” Genesis 12:1–2
~
God kies vir Abram om volksplanter te word, om die eerste treë te gee op die pad wat uiteindelik op ’n kruis en ’n nuwe koninkryk sou uitloop.
Die uitdaging waarvoor Abram te staan kom, is geweldig. Vir ’n Oosterling byna ondenkbaar moeilik. God roep vir Abram om alles wat vir hom kosbaar is te verlaat en die vreemde, onbekende in te trek. Sonder waarborge. Net hy en sy neef en hulle gesinne en kleinvee. Wat moes hy prysgee? Sy land en sy mense. Die sekuriteite van ’n gemaksone. Naam en aansien. En wat gaan hy in ruil daarvoor kry? ’n Belofte van God. Woorde wat nog moet waar word. Maar tog: Gód se woorde.
Die uitdaging was om tussen die tasbare, sigbare en meetbare sekuriteite enersyds en ’n vae belofte andersyds te kies. Maar dan was daar God. Die Bybel vertel nie vir ons hoe Abram se verhouding met God was nie. Daar moes reeds ’n verhouding bestaan het, want hy het geweet dis God wat met hom praat. En die verhouding was so intiem dat hy dadelik God se opdrag gehoorsaam het.
Om God so blindelings op sy woord te neem – dít is geloof. En die gevolg? Hy word toe vir die hele wêreld tot seën. Uit sy nageslag sou die Koning van alle konings gebore word. En deur dié Messias sou God se seën, die seën van verlossing en ewige lewe, vir die wêreld beskikbaar word.
Om vir God blindelings op sy woord te neem – dít is geloof.
7 Januarie
Wanneer God jou aanraak
Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?” Hy het vir Jakob net daar geseën, en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.” Genesis 32:29–30
~
Ons leer vir Jakob ken as ’n kansvatter en bedrieër, iemand wat met die medewerking van sy ma nie skroom om agteraf te konkel ten einde met die wins van ’n eersgeboortereg weg te kom nie. Maar die eienaardigheid is dat God met Jakob besig bly. Ten spyte van ’n aantal betreurenswaardige besluite wat hy neem, bly God by hom! Wat net maar duidelik wil sê dat God nie goeie mense kies nie.
Maar toe kom Jakob op ’n dag voor ’n belangrike keuse te staan. Besluitnemingstyd. Hy is op pad terug huis toe. Hy weet nie wat vir hom wag nie. Gaan broer Esau wraak neem? Hy beplan sy strategie so fyn as moontlik. Stuur geskenke vir sy broer vooruit. Hoop vir die beste. En toe hy alleen deur die Jabbokrivier stap, gebeur daar iets wat sy lewe sou verander.
’n Man raak met hom aan die stoei. Die Bybel vertel baie min van die Man of van die stoeiery. Wat belangrik is, is dat ons ontdek (saam met Jakob) dat dit God self is wat op dié uitsonderlike manier oor Jakob se pad kom. Dit wil amper lyk asof Jakob die geveg wen, maar dan kry hy ’n uitklophou op sy heup. Nogtans hou hy vas en pleit vir die seën van God.
Die man wat mank-mank verder stap was nie die arrogante, selfgenoegsame Jakob nie, maar die afhanklike Israel wat sy lewe, sy toekoms in God se hande geplaas het.
Wanneer God jou aanraak (of raak slaan!) word jou lewe onherroeplik verander.
8 Januarie
God se reddingsplan
Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” Genesis 41:51–52
Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Genesis 45:5
~
Josef moes besluit hoe om teenspoed te hanteer. En van teenspoed kon hy ’n paar grieselrige stories vertel! Ons leer hom aanvanklik ken as ’n effe voorbarige witbroodjie wat vir homself sy broers se argwaan op die hals haal. Eers toe die broers se moordpoging skeefloop en Josef as slaaf verkoop word, leer ken ons die man se karakter. En karakter het hy vir seker gehad.
Die teenspoed wat hy moes verwerk kan kortliks opgesom word: sy broers gooi hom in ’n diep put met die doel om hom later van kant te maak; hy word egter aan handelaars verkoop wat hom in Egipte as slaaf verkoop; hy beland in die tronk op grond van ’n vrou se vals getuienis; ’n skinker vergeet van sy belofte om vir Josef ’n goeie woord te doen.
En hoe hanteer Josef sy ellende? Hy bly positief! Eers onderskei hy homself as ’n uitstekende werker in Potifar se huis. Dan word hy ’n raakvatter in die tronk! Hy laat net nie toe dat slegte omstandighede hom onderkry nie. Hoe kry hy dit reg? Hy erken die hand van die Here in sy omstandighede en aanvaar dat die Here slegte omstandighede kan gebruik om lewens te red. Josef vergeet van die slegte en vestig sy aandag op die goeie, die hoopvolle, die “Efraim-ervarings” van sy lewe.
God maak van drenkelinge lewensredders.
9 Januarie
Wanneer God Hom laat ompraat
Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? … “Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.” … Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring. Eksodus 32:11–12, 14
~
Moses het voor ’n hele reeks uitdagings te staan gekom, elkeen ’n spanningsdrama op sy eie. Ons ken nou reeds al die stories met die gelukkige eindes. Maar probeer jouself net ’n oomblik lank in die man se skoene indink toe hy vir die eerste keer oor elke krisissituasie ’n besluit moes neem. Dit moes angswekkende oomblikke gewees het! Luister net weer