François Bloemhof

Die vampiere van Londen


Скачать книгу

      Hulle gaan na die saal waar hulle hulle tasse moet kry. Oral skarrel mense rond en dit klink asof elkeen ’n ander taal praat.

      Ken se tas is heel laaste op die band. Almal moes vir hom wag. “Kom.” Hy wys na ’n skuifdeur, waardeur hulle medepassasiers geloop het. Dit neem weer ’n hele tydjie om deur al die beheerpunte te gaan.

      Nadat hulle kaartjies vir die moltrein gekoop het, sê hulle pa: “Londen het ’n fantastiese treinstelsel. Jy het nie ’n motor nodig nie. Die stad is so groot soos ’n klomp Johannesburgs langs mekaar. Jy ry onder die grond – dis hoekom hulle dit moltreine noem.”

      Toe hulle op die moltrein klim, is daar nie veel plek om te sit nie. Daar is baie mense wat in die gangetjie staan en almal druk teen mekaar. Hulle pa en ma maak maar soos die meeste mense en hou aan die oorhoofse relings vas. Hulle ma sit haar arm om Eljo en hulle pa sy hand op Rohan se skouer, en hy wink vir Ken om ook vir hom ’n vashouplek te kry. Hulle bagasie neem baie plek in en van die passasiers kyk hulle geïrriteerd aan.

      Die trein ruk en trek weg. Die grys mure van die tonnel snel verby.

      “Hoe ver is dit Earl’s Court toe, Pa?” vra Rohan. Dis waar die hotel is waarin hulle vir twee weke gaan woon.

      “Mr Ratcliff het gesê dit is omtrent ’n uur se ry,” sê hulle pa. “Dis so sestien stasies. Julle moet maar help dophou vir die name. As ons verbyry, is dit een groot gesukkel.”

      Mr Ratcliff gaan dalk hulle pa se nuwe baas wees. Dit is hy wat hulle hierheen laat kom het – hy wil met hulle pa ’n onderhoud voer om vas te stel of hy geskik is vir die werk. Dit was uiters vrygewig van hom om die hele gesin te laat kom.

      Die trein kom by ’n stasie aan en skuur tot stilstand. Hatton Cross.

      “Mind the gap,” sê ’n elektroniese stem toe die deure oopskuif. “Mind the gap.”

      Niemand klim af nie, dis nog te na aan die lughawe. Almal is op pad iewers die groot stad in.

      Eljo kyk na die gaping tussen die platform en die trein. Die waarskuwing is seker sodat mense nie dalk daarin trap en seerkry nie. As jy daar moet vassit … Sy wil eerder nie daaraan dink nie.

      “Stand clear of the door,” sê die elektroniese stem. “Stand clear of the door.”

      Dan slaan die treindeure hard toe en die trein trek weer met ’n ruk weg.

      “Dink net,” fluister hulle ma vir Eljo. “As Pappa die werk kry, kom bly ons hier!”

      Eljo weet nie of sy wil nie. Wat van haar maats?

      Maar sy moenie selfsugtig wees nie. Sy het haar pa en ma een aand hoor praat in die kombuis toe hulle gedink het al drie kinders slaap. Daar is ’n kans dat hy sy werk kan verloor.

      En hulle sukkel. Daar is soveel goed wat sy graag sou wou koop, maar nie kan nie. Sy en Rohan en Ken het nie eens selfone nie, terwyl al hulle maats het. ’n Tiener sonder ’n selfoon, dit kan mos net nie waar wees nie!

      Toe kom die oproep van Mr Ratcliff. En hier ry hulle nou in ’n moltrein na ’n hotel in ’n vreemde stad, in ’n vreemde land …

      “Is Ma al lus vir inkopies doen?” vra Eljo en giggel.

      “Hmmm!” Nou lyk haar ma nie meer moeg nie. Mr Ratcliff moet regtig baie geld hê. Hy het gesê die vrou van die huis kan darem nie net in winkelvensters kyk nie, toe reël hy dat daar genoeg geld vir inkopies sal wees. Eljo vermoed dié “genoeg” is eintlik baie, want haar ma se oë blink elke keer as sy van Londen se winkels praat.

      Elke stasie waar die trein stilhou, lyk anders. Die name is met verskillende kleure teëls teen die mure geskryf.

      Die mense op die trein is vir Eljo interessanter. Niemand kyk na iemand anders nie, asof hulle bang is jy gaan met hulle begin praat. En dan moet hulle weer met jou praat. Daarvoor lyk hulle gans te moeg …

      Uiteindelik kom hulle by Earl’s Court-stasie. Eljo hou aan haar ma se arm vas en hulle klim vinnig af. Sy’s verlig toe sy sien haar pa en broers is ook veilig af met hulle bagasie.

      Op die perron is dit koud na die lekker warmte in die moltrein en hulle knoop hulle baadjies stywer toe. Buite die stasie voel hulle hoe koud dit régtig is. “Ons beter ons handskoene aantrek en ons musse opsit,” sê haar pa. “Hier gaan ons warmbloedige Suid-Afrikaners nog verkluim.” Hy lag en begin die bagasie bymekaarmaak. Gelukkig het die tasse wieletjies en elkeen kan sy eie sleep.

      “Ek dink dis hierdie kant toe,” sê haar pa. “Kom! Dit begin reën.”

      Eljo sien hoe Ken ’n eienaardige trek op sy gesig kry … Hy wys in die teenoorgestelde rigting. “Nee, ek dink dis soontoe.” Sy pa kyk hom vir ’n oomblik vraend aan, dan begin hulle loop in die rigting wat Ken gewys het.

      Hulle is koud en nat en baie moeg toe hulle uiteindelik by die regte straat kom en hulle hotel gewaar. Dit was ’n lang rit in die vliegtuig en hulle het maar min geslaap.

      “Welcome Hotel,” lees hulle pa toe hulle voor die hotel staan.

      Daar is drie verdiepings. Die liggroen verf aan die mure is besig om af te skilfer en dit lyk half of die gebou uitmekaar wil val.

      Hulle volg hulle pa en ma teen die vyf sementtrappies op. Hulle pa wil nog die klokkie lui, toe word die deur oopgemaak deur ’n vrou met wit krulhare.

      “You must be the Dreyers!” Sy sê hulle van op ’n snaakse manier: Draaiers. “Come in, come in. You must be freezing! And you’re wet!”

      Die vrou is baie vriendelik en dis lekker warm binne. Daar brand ’n elektriese vuur in die stofie in die sitkamer. Hulle vergeet sommer gou van die verwaarloosde buitekant van die gebou.

      “I’m Mrs Burton and I run this hotel.” Mrs Burton se wangetjies is rond en baie pienk. “If there’s anything I can do to make your stay more comfortable, you must let me know.”

      “Thank you,” sê hulle pa.

      “You must be very tired! Come, let me show you to your rooms.”

      Sy lei hulle by twee stelle steil trappe op. Die geel en groen muurpapier peul plek-plek af, maar hier binne is dit ten minste warm.

      Eljo kry haar eie kamer; dit is ’n lekker verrassing. Nogal met ’n eie klein badkamer! Rohan en Ken moet die kamer net langs hare deel, en hulle pa en ma het een net ’n entjie in die gang af.

      Hulle pak uit en koop sommer wegneemetes by ’n nabygeleë kafee. Elro gaan stap saam met Rohan en Ken in die parkie oorkant die hotel en kyk ’n bietjie rond. Hulle pa en ma het gesê hulle gaan ’n bietjie voor die warm stofie in die sitkamer met koerante en tydskrifte ontspan.

      Heelwat later, toe die tweeling en Ken bibberend by die hotel terugkom, is dit reeds sterk skemer. Mrs Burton bring vir hulle tee en sê: “I suggest you get into bed early tonight. This must have been a very long day for you.”

      “Ek dink dis goeie raad,” sê hulle ma nadat die vrou haarself verskoon het. “Toe, al my mensies, bed toe met julle.” Sy lag. “Ons is in ’n groot, vreemde en wonderlike stad en môre moet ons reg wees vir hom!”

      Toe Eljo haar kamerdeur toemaak, voel sy half anders. Skrikkerig. Sy sluit die deur vinnig. Sy wens sy en Rohan het liewer ’n kamer gedeel. Sy mis skielik haar tweelingbroer.

      Sy draai die deurknop om seker te maak die deur is gesluit. Sy gaan na die venster en begin die gordyn toetrek.

      Dan pluk sy dit vinnig toe. Daar het iemand onder ’n boom gestaan en dit het gelyk of die persoon reguit na haar kyk.

      Eljo raak yskoud. Sy gaan skakel gou die lig af en loop terug venster toe. Dit is nou al amper heeltemal donker. Versigtig trek sy die gordyn net so effentjies oop.

      Daar is nou niemand nie. Sy wag ’n rukkie en loer deur die skrefie. Miskien skuil die persoon agter die boom, maar niks