Helene de Kock
Vrou van formaat
Human & Rousseau
1
“En jy bly maar so alleen daar op die plaas?”
Danika se moed sak. Mevrou Renske gaan aanhou grawe, soos ’n hond agter ’n been aan. Maar dit sal wys wees om haar nie heeltemal te verwilder nie, want dan gaan sy met mening begin grou. Mens moet haar liewer net so hier en daar ’n snuffie in die neus gee om haar nuuskierigheid te sus, terwyl jy die feite veilig buite haar bereik hou.
Dis immers wat sy wat Danika is mos doen vandat sy Juliemaand hier aangeland het: sy gooi doelbewus ’n rookskerm om haar eie bedrywighede. Want die vrae hou nie op nie: Waarom bly jy op Ribbebeen en nie by jou pa en suster in die pastorie nie? Dis alleen en gevaarlik, dan nie? Buitendien, wat máák jy heeldag met jouself? En haar sorgvuldig bedinkte antwoorde: Ag, wat, ek is mos my eie mens en ek het baie planne om van Ribbebeen ’n spogplek te maak. Nee, ek gaan niks meer sê nie. Julle sal maar moet wag en sien …
Dan, onvermydelik: Jy is vroeër terug uit Frankryk; jy sou mos ’n volle jaar lank gegaan het. En sy, met geoefende argeloosheid: Ag, dis mos maar ’n vrou se voorreg om van plan te verander. Ek het die Blou Lint-kursus voltooi en ’n ruk een van die ambassade-vroue se onthale behartig. Toe’t ek gevoel ek het genoeg ervaring opgedoen.
Maar mevrou Renske het nie klaar gevis nie. Sy het soos gewoonlik na kerk kom tee drink by die wewenaar se pastorie, want sy wil alle nuusbrokkies oor die dominee se twee dogters eerstehands oppik.
“En weet jy, Danika,” torring die vrou verder, “almal praat daarvan hoe riskant dit is, ’n meisie so op haar eie daar tussen die berge.”
Danika glimlag met geveinsde geduld. “Ek is nie alleen nie, mevrou. Soos u weet, woon die plaasbestuurder, oom Kas Viljoen, en sy vrou in die werfrondawel.”
“Ja, maar hulle is al in die sestig, nie waar nie?”
Genoeg, besluit Danika. Sy kruis haar lang bene by die knieë en sit vorentoe. “Die Viljoens is in hul fleur. Buitendien, Moses en Mieta Ntabathi is ook naby. Ek voel geensins onveilig nie!”
“Ja, maar in hierdie tye …”
“Is dit goed om tussen mense te woon wat jy kan vertrou,” sê Danika, en staan op om die skinkbord met tee by haar suster, Surien, aan te vat.
“Ja wat,” lag Surien, “Moses-hulle het as jongmense by Oumie op Ribbebeen gaan woon. Hulle is al vasgegroei daar.” Sy plant haar klein agterstewe gesellig langs mevrou Renske op die bank neer. “Ek dink Danika is wys om nou daar nes te skop. Om nou weer by my en Pappa in die pastorie in te trek, sal ’n trutreetjie wees!”
“Inderdaad,” beaam dominee Roux met ’n knik van sy silwer kop, sy vingerpunte teen mekaar en sy blik na binne.
Danika gee sy tee aan en ’n vloed van vertedering spoel deur haar. In die vier jaar sedert haar ma se dood dra haar pa sy verdriet met hom saam soos ’n miswolk wat elke dag eers deur die son verdryf moet word. Seker dié dat mevrou Renske so knaend hoop om die lig van dominee Roux se lewe te word. Want Eureka Renske dra gebak en siekenuus aan, kom pas die jong weduwee, Surien, se klein Janneman op, trek ’n voorvinger deur die lagie Augustusstof op die kaggellysie en voorsien die huishulp voortdurend van raad en raat. Maar als verniet. Dié mens het nie ’n aardse kans nie, soos wat haar pa met een van sy rare ontboesemings teenoor haar en Surien erken het. “Ek soek nie vrou nie,” het hy hulle verseker. “Dis genoeg dat Surien nou hier by my is, al is dit om so ’n hartseer rede.”
Maar mevrou Renske is gedetermineerd. Sy draai haar skuins om behoorlik oogkontak met Surien te maak en Danika sug by voorbaat. Praat van ’n stoetkoei in ’n glasfabriek!
“Ja, Surien, dis gelukkig dat jou pappie darem iémand by hom het in die grote ou pastorie, maar só sal dit seker ook nie kan aangaan nie, nè?”
Danika sug hoorbaar en haar pa frons na haar kant toe. Dat hy darem Jobsgeduld met die vroumens openbaar, is waar. En Surien is van dieselfde stoffasie. ’n Mens sou amper nie kon dink ons is susters nie, vee die ou-ou gedagtetjie soos ’n rafel agter aan ’n besem deur Danika se gemoed. Surien is so petite en onverstoorbaar vrolik, selfs in die nasleep van haar verskriklike verlies. Miskien kan sy haarself net beter versteek as ek, dink Danika. Nog al die jare is dit Surien wat alles met ’n glimlag bedek: haar borrelende blydskap toe sy en Hannes getroud is; haar vertederende smart toe hy in ’n motorbotsing dood is. Ek sal regkom, het sy deur haar geswelde oë geglimlag. Gee my net kans.
Dis sy, Danika, wat altyd haar hart soos ’n wilde ponie probeer tem, maar klokslag ruk dit los en galop oor alles heen. Sy is nou ook sommer lus en sê mevrou Renske aan om haar verwagtinge in ’n blik te druk en te waai. Dis byna halfeen, en vandag se spesiaal bereide breyani gaan net te min wees vir nog ’n gas. Die hoenders was juis ’n bietjie klein. Moontlik gaan Simon ook opdaag, soos dit in die laaste tyd Sondae se gewoonte geword het. En hy is ’n lang man met ’n groot aptyt.
Nou bly karring mevrou Renske al hoe nader aan etenstyd op dieselfde ou wysie: “Surientjie, jy moet begin buitetoe leef, my kind. Jy is te jonk om in dié grote ou plek pastoriemoeder te speel.”
“Nee wat, as die nuwe predikant eers kom, sal dit ook nie meer nodig wees nie,” val dominee Roux haar rustig in die rede.
“Maar dis eers oor ses weke,” kla mevrou Renske pruilerig, “en ons is al almal so vol afwagting!”
“Nee, ons is almal doodnuuskierig,” sê Danika pront, en staan op om die leë koppies agtertoe te vat. As sy langer sit, gaan sy erger dinge sê. Is die mens siende blind? Hul pa is g’n lus vir vrou vat nie.
Toe sy al in die gang is, hoor sy hoe Surien soos male vantevore haar suster se skerp woorde probeer rond maak: “Haai ja, ons is almal nuuskierig om die nuwe dominee se bruid te sien! Om darem so net na die wittebrood by ’n gemeente in te val, is ook seker nie maklik nie.”
“Ons sal haar almal op die hande dra,” sê mevrou Renske vroom voornemend, en Danika ril liggies toe sy kombuis toe stap. Sy kan haar dit net voorstel. Nee, dit lyk al hoe meer asof dominee Roux se twee dogters die jong bruid sal moet beskerm totdat sy haar voete gevind het in die nuwe pastorie in Harrisstraat. Jonk getroud is seker ook nie net grappies nie.
Die speelse gedagte betrap haar onkant, maak haar polse lam, sodat sy die skinkbord met die porseleinkoppies kletterend neersit.
Gesina se blink trosse vlegseltjies waaier toe sy omkyk van waar sy by die wasbak staan. “En nou dan?”
Danika sluk vervaard, maar glimlag net. “Toe maar, Gesie, ek word sommer net vies vir daai Renske-vrou. Ek wens sy wil my pa uitlos!” Sy teug na asem. “En ek wens sy wil haar mond hou oor my blyery op die plaas!”
Gesina se raakvat-hande droog ’n glasbord versigtig af. Toe trek sy haar skouers op. “Jou pa is nie dom nie, Daantjie. Hy sal nie aan ’n vrou vat net omdat sy rok dra nie. En hy sien sy dink dis klaar haar huis dié. Ek en jou sussie lag net. Jy moet ook!”
“Hm, maar ek het nie lus nie. Ek wil haar sommer gryp,” sug Danika en staar fronsend na die pruttende kastrol op die stoof. Hoe sal sy maak om die kos te rek? Hierdie gereg verloor juis geur as die kastrol in die kooktyd oopgemaak word. Sy dink aan die malse lekkerte van die koljander en kaneel, die saffraan en ander speserye wat daarin is, en pers haar mond saam. Nee wat, die breyani moet tot sy reg kom. Sy sal liewer ’n stewige drieboontjieslaai bymaak; tamaties ook opsny, en ’n piesangslaaitjie.
Sy en Gesina werk in rustige swye, want hulle kom al ’n lang pad saam – sedert hul kleuterjare toe hul ma’s in dié huis saam gewerk het. Intussen is die twee vroue kort ná mekaar oorlede en dit was Gesie wat Daantjie en Surie, soos wat sy hulle altyd genoem het, help vertroos het. En hulle vir haar. Dit was ook Gesie wat destyds toe Danika weg is Frankryk toe om haar kookkuns te gaan slyp, met somber bruin oë gemaan het: “Jy moet mooi loop, Daantjie. Ek weet nie van ver plekke nie, maar ek weet van mans. Daar is goeies wat goed is en daar is slegtes wat goed lyk. Jy sal moet mooi kyk, hoor.”
’n Beklemming vou om Danika se hart.