my uit!” of “Ek makeer niks!” reg vertolk. Sy’t goed geweet hoe pla dit die jongste Roux-dogter dat haar suster so klein en feetjie-fyn is en dat mense altyd ’n eier daaroor te lê het omdat Danika slank maar stewig van gebeente is. Dit was immers Gesie wat destyds, toe Danika haar wou doodhuil omdat sy ’n nommer-agt-skoen dra, agtergekom het sy tjank nie oor haar grootte nie, maar oor die wêreld se siening daarvan.
“Wat maak dit saak dat jy so lank is?” wou Gesie verontwaardig weet. “Die liewe Here het jou so gemaak. Buitendien, jy’s nie oral ewe plat nie. Hier voorlangs is jy mooi rond. En as jou voete groot is, is dit omdat die Here dink jy moet kan vasstaan. Loop kyk in die spieël na jou gesig. Hy’s mooi, Daantjie. Nog mooier as Surie s’n. My ma sê die Here het een van daai prentjies in die Kinderbybel afgekyk toe hy háár gesiggie opgesit het, met die ou blou ogies en goue haartjies.”
“Maar my heiden, Gesie, ek het dan sulke roesbruin hare en my oë is nie groen óf blou nie!” het sy vies geprotesteer. “In watter prentjieboek dink jy het die Heer gekyk toe Hy my gemaak het?”
Gesie was ’n oomblik stom waar hulle op die ronde mat in Danika se kamer gesit en legkaarte bou het. Toe het sy opgespring en ’n groot boek van die rak loop haal, dit met versigtige vingers oopgevou. “Kyk, die Here het hierso gelees toe Hy jou gemaak het.”
Danika het na die prent gestaar en toe sommer op haar rug omgerol uit moedeloosheid. “Agge nee, Gesie! Dis nie eers ’n vroumens nie en dis dan daai nare storie van Pelgrim se reis na die ewigheid! Dis niks mooi nie!”
“Maar dit is!” het Gesie ontsteld uitgeroep, haar skraal bruin vinger op die gesig van Hoopvol toe Christen uiteindelik die Poort van die Hemel bereik. “Kyk! Die hare skyn so blink in die son en die oë is groot oop van lekkerte! Jou mammie dink ook dis mooi. Sy huil dan altyd as sy dié stukkie vir ons lees!”
Hulle het nog lank gestry oor die gesig van Hoopvol. Gesie het met geklemde kake volgehou dat dit die mooiste prent is wat sy nog gesien het, en Daantjie se wange was gloeiend van ergernis. Dat sy met dáárdie storiefiguur met die wapperende hare en hoog fladderende arms vergelyk is, pleks van met die pasverkose Mejuffrou Wêreld met die geel lokke en pienk popmondjie, was onvergeeflik. Dit het haar skoon muf laat voel. Sy was dae lank dikmond daaroor, totdat haar ma hulle uiteindelik opsy geroep het om te hoor waar die haakplek is.
“Sy willie soos daai mooi boek se mens lyk nie,” het Gesie betraand gesê.
“Ek háát daai storie!” het Danika teëgekap. “Pelgrim kry te swaar en die prentjie laat my aan … aan die Gouse van die Suiddorp dink.”
“Danika. Toe mevrou Gous jonk was, was sy beeldskoon. En sy het altyd gedrafstap asof sy oor iets bly was.”
“Wat het gebeur?” wou Gesie en Danika uit een mond weet.
“Wie weet ooit wat met ’n ander gebeur?” het sy gesug. “Miskien het sy toegelaat dat die swaar haar onderkry. Vier kleintjies so opmekaar, haar man wat siek geword het en die babatjie wat skielik dood is … Miskien het sy net moed verloor.”
Dit het Danika die swye opgelê, maar nie die onstuimigheid geblus nie. Sy het in die kerk na mevrou Gous se strak mond geloer en geril. Nooit, nóóit wil sy so word nie. En tog wou sy steeds nie soos die figuur van Hoopvol in John Bunyan se Pelgrim se reis na die ewigheid lyk nie. Dit was kompleet asof sy die sombere gesukkel van die lewenstryd kon ruik wanneer sy die groot boek oopmaak om te kyk wát dit was wat Gesie laat dink het dat Danika iewers tussen daardie bladsye ’n plek het.
Die boek was oud en vergeel en daar was die walm van dooie blomme tussen die bladsye. Haar ma moet op ’n tyd roosblare daarin gepars het. Sy onthou goed hoedat sy eenkeer byna dwarsdeur die nag opgebly het om die verhaal weer te lees. Dit was nog maar aan die begin van die storie dat sy al betraand begin voel het – daar waar Christen vir Plooibaar en Koppig ontmoet, en hulle hom so verwar dat hy in ’n moeras van wanhoop beland. En teen die tyd dat Christen by die Dal van Vernedering moet verby en eindelik Psalms begin voordra om hom te red van die duiwels wat by die vreeslike gat van die Hel uitpeul, moes sy trane wegpink. Dit was kompleet asof sy self saam met Christen die hele pelgrimstog meegemaak het: deur die dorp Ydelheid, deur die Vlakte van Gemak met sy baie versoekings, en eindelik die Rivier van die Dood, waar Christen so bang word dat Hoopvol hom moet help tot anderkant uit.
Danika het met haar nat oë na die laaste illustrasie gestaar en toe al snuiwend en uitgehuil gaan inkruip. Hoopvol se hare hét nogal mooi geblink, dit was net die arms en lyf … Ai tog. Nog lank het sy bly dink oor die storie – miskien omdat sy dit vir die eerste maal self deurgeworstel het – en so effentjies begin begryp waarom Gesie haar met Hoopvol vergelyk het. Die lang, stralende figuur bemoedig ’n mens op ’n vreemde manier. Maar darem. Sy wou so bitter graag so fyntjies wees soos Surien en Gesina. Gesie was van nature maer, met ’n bokkiegesig wat ’n mens se hart laat smelt, en Surien was maar altyd engeltjiemooi. Dis Gesie se ma wat haar gepaai het: Toe maar wat, as jy eers groot is, sal dit nie meer saak maak dat jy so lank is nie. Dan sal almal ewe lank wees net soos wat ons eendag in die hemel almal ewe goed sal wees.
Onwillekeurig skud Danika haar kop, ’n skewe laggie om haar mond.
“Wassit?” vra Gesie met haar wakker oë, en haar hande verstil in die skottelgoedwater.
“Ek wonder maar net,” sê Danika laggend. “Jou ma het mos altyd beloof almal sal eendag ewe lank wees. Nou wonder ek maar net wanneer gaan dit my ophou hinder dat sy vir my gejok het!”
“Sy’t g’n gejok nie!” Gesie kyk Danika half moedeloos aan. “Sy’t net bedoel dat elke vroumens haar eie mooi het, en dan is ons mos almal ewe mooi!”
“Loop vertel dit vir ’n mansmens,” sug Danika, en roer ’n slag die slaai goed deur voordat sy Gesie se vraende blik beantwoord. “Kyk, ’n man kan net sien wat sy kop vir hom sê om te sien. As hy eers ’n prentjie in sy kop het van ’n meisie met ’n middeltjie die omvang van ’n piering, dan kan jy maar vir hom vertel ’n sopbord gee meer én lekkerder kos, hy sal jou nooit glo nie. Kyk nou maar vir Simon. Hy vrek nog altyd oor klein vroutjies. Nie eens verlede jaar se Mejuffrou Koringfees kon hom behoorlik laat kyk nie en dit terwyl die meeste boere selfs sonder hul brille als kon sien wat ’n man wou sien!”
“O,” glimlag Gesie nou ook. “Ek verstaan, ja. Dis dié dat Simon nou ook so baie hier by Surie kuier. Hy’t mos nog altyd van haar gehou!” Maar sy frons skielik weer. “Jy praat darem nie heeltemal waar nie. Piet is baie lief vir my en hy gee niks om dat my boudjies so rond is nie. Ek kan dan nie eens ’n pencil skirt dra nie of ek lyk agterstevoor swanger!”
Danika giggel en begin tamaties in wiggies sny. “Ja, maar Piet is ’n man met verstand.”
“Hy’s slim, ja,” beaam Gesie tevrede.
Danika begin die piesangs in skyfies sny en daar sak ’n gemaklike stilte tussen hulle. Toe raak sy die gedagte aan waarmee sy nou al ’n paar dae speel.
“Gesie, man, sê nou ek leer jou alles wat ek weet van kos maak en dan begin ek en jy ’n gastehuis op Ribbebeen!”
Gesina verstil en trek haar hande stadig uit die water, draai om sodat die druppels van haar vingers af op die teëls plons.
“Sê jy swéér,” fluister sy, en Danika se hart keer om. Dis waarop sy gehoop het; waaroor sy dróóm vandat sy terug is uit Frankryk: om Ribbebeen die kroonplek van die Vrystaatse hoogland te maak. Dis die één ding wat haar die afgelope weke daarvan weerhou om totaal in duie te stort.
“O, Gesie!” adem sy en voel haar oë brand. “Dink net: as ons Oumie se opstal mooi regmaak met gastekamers en alles, dan adverteer ons en die stadsmense kom vir naweke en vakansies en ons twee kook vir hulle koningskos.”
“O, my hemeltjie,” lag Gesie en klamp haar nat hande saam voor haar bors. “Dis ’n vreeslike slim plan. Piet sal ook so dink!”
“Ek hoop so!” sê Danika. “Dan kan hy sommer ghrênd wees as die superintendent sy skool kom besoek en hom bring vir ete en ons sal hulle wys watter knap mense hier in ons kontrei bly!”
Dis