of … of ek maak ’n spesiale skemerdrankie van skokiaan en jenewer en noem dit Oer-rumoer!” Sy giggel opeens só dat sy amper die bak laat val.
Surien kan ook kwalik haar lag bedwing, maar toe die kos op tafel staan en stoom, fluister sy: “Jy’s nou lekker verspot, maar asseblief, Daantjie, nie een van ons is blind nie. Pappa is ook bekommerd oor jou. Selfs Simon sien dat jy skoon oorstuur is.”
Danika byt die binnekant van haar wange tot dit pyn, en die soutwater wat so in haar binneste kolk, wil weer in haar keel opstoot. “Los my, Surien. Ek sal regkom, ek belowe jou. Soos jy sê, ek is net oorstuur.”
By die ete lag en sprankel sy, want die nuwe idee het haar werklik gepak. ’n Restaurant in Ribbebeen se groot ou sitkamer, die Neanderdal Klub. ’n Kleiner, meer informele eetplek in die ontbytkamer, Vonk Spelonk. En dan, die toegemaakte stoepie aan die noordekant met sy potte hangende varings is perfek vir paartjies wat alleen wil wees.
“Ek sal vir jou ’n naam daarvoor uitdink,” sê Rudolf, en die gesprek verstil. Maar hy glimlag met sy effens skewe tande en maak ’n paaiende handgebaartjie. “Toe nou, wat. Die wêreld is nog vol romanse, al het myne nou nie uitgewerk nie!”
“Haai, foei tog, dis darem maar so tragies …” kom dit van mevrou Renske.
Danika het lus en keer die soutpot oor die vrou se bakkie gemmerpoeding om. Kan sy nie hóór hoe die seer in Rudolf se stem uitslaan nie? Kan sy nie sién hy probeer so normaal moontlik aan die onderwerp raak nie?
“Gee jou bakkie,” sê Danika doodgewoon, asof dominee Theron net so ’n ou en gereelde gas soos Simon is. “’n Mens eet nie net een keer van hierdie poeding nie. En, ja, jy moet my beslis help dink aan ’n oorspronklike naam vir die liefdeshoekie. Dit is soos jy sê. Één mens se trane maak nie die wêreld nat nie. Dit kan nie eens ’n graspol laat stoel nie!”
Dis of haar woorde haar gesonde verstand vooruitgehol het, en sy skrik toe sy besef hoe stip Simon na haar kyk.
Maar dis Rudolf wat opmerk: “Dit klink kompleet asof jy weet hoe min verskil trane aan die gang van die lewe maak.”
Versigtig nou, dink sy en haal ’n skouer op. “Dít, dominee, is bloot ’n waarneming, gerugsteun deur die baie clichés wat ’n mens hoor.” Sy glimlag, vat Simon se poedingbakkie aan wat hy na haar uithou, skep vir hom ’n berg poeding in met strome dik, romerige vla. Toe stut sy haar ken in haar hand en sê kamma diepdenkend: “Miskien moet ’n mens die saak só sien: skep ’n milieu vir die liefde, maar moenie verbaas wees as dit geen rol speel nie.”
“Goeie genade!” roep Surien omgekrap uit. “Watse soort snert is dit?”
Danika fladder haar lang, donker wimpers in haar suster se rigting en sug: “Ag, ek speel maar net! As ’n onderwerp te gewigtig raak, moet ’n mens ’n bietjie ballas afgooi, nie waar nie?”
“O, absoluut,” stem Rudolf speels saam, maar agter in sy blou oë gewaar sy die roering van ’n vermoede en sy draai na haar pa om haar hand uit te hou dat hy kan dank.
“Nou moet julle my verskoon,” sê sy. “Hierdie afgelope week het nie net Gesie se bene onder haar uitgeslaan nie. Ek is kapot. En voor die mense môre met die plaveisel van die wandelpaadjies begin, wil ek darem ’n bietjie rus.”
Haar pa se blik is besorg. “Dalk werk jy te hard. Temper maar die geesdrif, my kind, dan brand dit dalk langer.”
“Aag, my ou pappie!” sê sy laggend en vly haar teen sy benerige lyf aan. “Kom kuier liewer in die week vir my.”
“Ja, ek was self lanklaas op Ribbebeen,” flikflooi Eureka ook, “en ek sal so graag wil kom handjie bysit met die binneversiering!”
“O, baie dankie,” antwoord Danika, “maar ek het mense uit Bethlehem gekry om dit vir my te doen. Maar kom kyk gerus.”
Toe sy eindelik op pad is Ribbebeen toe, is haar kop leeg en haar lyf seer. Ek is régtig moeg, dink sy toe sy die ou sandsteenopstal binnestap en die winterwind met die dik voordeur wegkeer. Sy gaan lê op haar bed waar die middagson die voetenent lekker warm bak, en die slaap sak oor haar toe asof ’n kersvlam uitgeblaas word.
Toe sy wakker word, kom sy stram orent en luister verdwaas na ’n dawerende geklop van kneukels op hout. Toe vlie sy vervaard op. Dis nag, besef sy. Sy moet ure lank geslaap het. Sy skakel die lig aan, skree “Ek kóm” in die gang af en gryp gou na ’n haarborsel. Sy tik lipstif aan haar vol mond en spuit van die parfuum aan wat Werner vir haar in Parys gekoop het. Waarom nie? dink sy wrang. Hy het mos gesê dis ’n geur wat hulde bring, en die delikate aroma van katjiepiering en rooshout laat haar op hierdie oomblik vars voel. Buitendien, sy het mos besluit: geen assosiasies met geure of kleure nie. Anders gaan sy nog mal word.
Sy draf gangaf, skakel ligte aan so ver sy gaan en is nie baie verbaas toe sy die voordeur oopmaak en Simon, gehoed en gejas, daar sien staan nie.
“Magtie, wat vat jy so lank? Ek verkluim!”
Sy lag, ril self van die ysige, plukkerige wind. “Sjoe, dis wreed koud, nè? Jammer, hoor! Ek het geslaap. Ek kry net gou vir my ’n trui, dan maak ek koffie.” En toe, as nagedagte: “Wat maak jy hier?”
“Was in die buurt. Die Du Toits van Immergroen se kleintjie het kroep.” Hy leun vorentoe en snuif behaaglik. “Hemel, jy ruik fantasties. Ná ’n kroepkamer se kanferreuk het ek dit nodig!”
Sy gaap hom ’n oomblik aan, draai om en vlug kamer toe, hoor met kloppende hart hoe hy sitkamer toe stap en werskaf by die kaggel wat tant Miem vroeër al gepak het. Moenie gek wees nie, maan sy haarself. Dit was ’n gawe en onskuldige opmerking. En dis Simon, wat jy ken.
Sy haal semelbeskuit uit en toe sy dit saam met die koffie indra, is sy heeltemal kalm. “So ja,” sê sy, “die kaggel brand en die koffie is klaar. Nou-nou gaan jy weer mens voel.”
Hy sit die skinkbord op die mat voor die kaggel neer en strek hom langbeen langsaan uit. Sy hoed en jas lê eenkant en hy het ’n blou trui aan wat sy oë donkerblink maak. Surien, dink sy afwesig, sal nie sleg doen as sy met hom trou nie. Hy is ’n baie aantreklike man. Lank en ferm van aanskyn, soos haar pa sou sê. ’n Suglaggie ontsnap haar en sy sak ook op die mat neer. Toe sy vooroor buk om haar koffie te roer, vang hy haar hand vas. Sy sluk verskrik, bly versteen na die twee hande kyk.
“Danika,” sê hy sag, “ons is almal bekommerd oor jou!”
Sy trek haar hand weg, vat die koffie. “Daar is geen rede tot kommer nie. Ek het ’n ligte teleurstelling gehad. Tevrede?”
“Vertel.”
“Nee. Het Rudolf jou miskien al vertel waarom sy aanstaande hom gelos het?” En toe hy swyend sy kop skud: “Nou ja, laat slapende honde met rus!”
“En as hulle wakker word en begin byt? Wat dán, Daantjie?” vra hy so deernisvol dat sy moet sluk om die trane in haar hart te hou.
“Simon, asseblief,” prewel sy en druk haar hare weg oor haar skouer. “Los my.”
Hy staar lank na haar in die vuurlig, knik toe stadig. “Goed, dan. Maar jy gaan my sowaar vertel waaroor ek destyds vir jou gepreek het!”
Sy lag verlig, reik agtertoe na ’n rak vol albums en haal ’n paar uit. “Ek sal jou ’n foto wys. Eintlik het jy my destyds baie goeie raad gegee.”
Sy soek tussen die albums en haal een uit, maak dit oop by ’n groot kleurfoto van haar in ’n asemrowende smaraggroen aandrok. Sy kyk met ’n soort suur satisfaksie daarna. Dit was immers die naaste wat sy ooit daaraan gekom het om soos ’n skoonheidskoningin te voel. Net jammer van die outjie wat saam met haar was.
Sy loer na Simon. Sy oë is wyd gesper en sy mond effens oop. Dat hy presies snap wat aangaan, is duidelik. “My hemel tog, Daantjie,” sê hy skor. “Het jy my sowaar só letterlik opgeneem?”
“Dis ’n fout, ja. Ek neem mense se woorde ter harte.”
Sal sy dit ooit vergeet? Die marteling om ’n maat