die spuitende water staan, kom daar ’n koele besinning oor haar. Wat het my besiel, wonder sy verstom, om Vuurvliegie se stoep te gaan vee? Maar sy keer die gedagte weg, want dis ’n groot gedagte. Te groot om nóú te oordink. Die gesprek ook. Vannag, as sy alleen in die donker is, sal sy dit met haarself aanroer. Want waarom het sy niks, maar niks uitgevra na die jare tussenin nie? Waarom het hy niks laat val nie? En hoekom voel dit skielik asof Alfons eintlik nooit weg was nie?
Sy vryf haar hare droog en trek gou aan. ’n Ligblou rok en wit sandale. En sy grimeer met sorg, tik reukwater met ’n fris jasmyngeur aan. Toe sy onder in die ruim woonvertrek kom, sit almal al aan tafel. Haar ma en pa, Frans en Anel wat saam met hulle vakansie hou.
En Alfons.
Skrik spring in haar op, maar die gesig wat hy na haar draai, is die ene verrassing.
“Nou toe nou, Danien!” Hy glimlag toe hy opstaan en ’n hand na haar uitsteek. “Lanklaas gesien, nè?”
Haar keel voel stram van spanning, maar sy beantwoord sy glimlag ewe lief, skud sy hand.
“Waar was jy al die tyd, jong?” vra sy en gaan sit op haar plek tussen hom en Frans.
“Laat ons eers die seën vra,” sê haar pa, en almal buig die hoof en hou hande. Ook Alfons vou sy hand oor hare, wat langs haar bord lê. Die aanraking ontstig haar só dat sy niks van die tafelgebed hoor nie. Daar is ’n druising in haar ore en ’n bewerigheid in die vingerpunte wat Alfons al stywer vasdruk. Toe haar pa amen sê, kyk sy verskrik op, maar almal vou ewe kalm hul servette oop en haar ma trek die bak bredie nader om in te skep.
“Gee julle borde aan!” sê sy vrolik. “Mooi op die ry af. Alfons, vertel jy solank alles! Maar alles, hoor!”
“Goed, tant Jacomien,” sê Alfons met ’n guitige inskiklikheid. “Maar daar is in der waarheid nie veel te sê nie. Ek het geswot en geswot totdat ek klaar was.”
“So alleen in jou tant Fienie se huis in Pretoria?” vra tant Jacomien simpatiek, en gee sy bord ’n ekstra skeppie.
“Ag ja, wat. Die huis is mos nou myne en dis so gerieflik na aan die universiteit dat dit dwaas sou gewees het om dit te verkoop. Buitendien, daar lê mooi herinneringe aan haar.”
“Jou tante was ’n baie mooi mens,” sê oom Karel peinsend. “Dit was swaar vir ons Valleiers om Vuurvliegie so dig toe te sien staan. Hoe vele male het ek en Jacomien nie daar ingeval vir ’n koppie koffie nie …”
“Ja …” antwoord Alfons sag, en Danien sien dat hy sy vingers plat druk op die tafel langs sy bord, só asof hy bang is dat hulle aan die bewe sal gaan.
“Ons het jou gemis hier,” sê Frans reguit. “Die vakansiejollery is net nie dieselfde sonder jou nie.”
“Dankie.” Alfons glimlag. “Dis goed om dit te hoor.” Maar hy begin ietwat haastig te eet, asof die woorde hom bewoë stem.
“Waarom het jy nooit kom vakansie hou nie?” wil Frans onverstoorbaar weet.
Alfons kou stadig klaar, kyk stilweg na Frans toe hy sê: “Ná tant Fienie se dood het ek vir ’n jaar lank in Europa en Amerika rondgeloop …”
“O, hoe lekker!” laat Anel hoor, en tant Jacomien beaam dit kopknikkend. Dat hy een en almal se volle aandag het, is nie altemit nie.
“Dit was lekker … en insiggewend,” sê hy stadig, en vir ’n kort oomblik het sy gesig weer die intense, gekwelde uitdrukking soos tydens hul stoepgesprek van vroeër. Maar toe glimlag hy en sy oë soek Danien s’n sodat sy spontaan terugglimlag en wonder of sy haar dit nie maar verbeel het dat hy so flus weer bekommerd gelyk het nie.
“Nou ja,” gaan hy rustig voort, “toe ek terugkom, was dit moeilik om weer te begin studeer. Ek moes vakansies ook maar studeer om weer by te kom, en toe ek eers aan die gang was met die studie het ek maar aan die gang gebly. Ek moet sê, ek is bly dat ek eindelik sover gekom het om hierheen te kom. Ek is doodmoeg en sien uit na my vakansie.”
“En het jy toe LL.B. klaargemaak?” por Frans geïnteresseerd.
“So pas, ja. En jy?”
“Maar dis gaaf!” roep Frans hartlik uit. “Ja, ek ook, ou maat, en laat ek jou sê, dis ’n allemintige gevoel! Nou’t ek nog planne om Leiden toe te gaan vir verdere studie. Ek het bitter lus vir ’n pos aan ’n universiteit. Wat gaan jy maak?”
Alfons se gesig verstil, toe skud hy sy kop.
“Weet nie mooi nie. Dalk swot ek ook verder. Miskien aan ’n ander universiteit. Ek wil eers dink daaroor.”
Daar is ’n klank in sy stem wat verdere vrae verbied, en Frans kyk ondersoekend na hom, reg om hom te peper met allerlei indringende vrae. Maar hy vang Danien se oog toe die hom kwaai aankyk, en hy swyg.
Later skuif almal stoep toe om verder te gesels, tot Anel en tant Jacomien koffie bring. Dis ’n breë houtstoep wat al om die huis loop, en Alfons kom sit op die houtreling langs Danien. Daar sak ’n stilte wat haar pa behaaglik na sy pyp laat reik. Dis soos altyd, dink Danien verstom. Asof Alfons net nooit weg was nie.
“Kyk net,” sê Alfons sag langs haar, “vuurvliegies … Tant Fienie het hulle mos die aan-en-af-goggies genoem!”
“Ja!” Sy gee ’n laggie. “Ek onthou!” En sy kyk gefassineerd hoe ’n hand vol vuurvliegies, so eie aan die aande in Die Vallei, verskyn en verdwyn in die ruigte wat vlak by die kant van die stoep begin. Verskyn en verdwyn, dink sy onwillekeurig. Dan hier, dan daar. Die aan-en-af-goggies …
Anel en tant Jacomien kom met die koffie en beskuit, en almal sit skaars met hul koppies of Paul Hough en ’n paar van hul ander vriende daag op.
“Ons het gewonder wat van jou geword het,” sê Paul geselserig, en steek vas toe hy Alfons sien.
“Kyk wie het teruggekom,” sê Danien bedaard, en daar is ’n oor-en-weer-groetery waarin Alfons oor en oor moet vertel van die twee jaar toe hy nooit hierheen gekom het nie.
In die halflig van die stoeplantern kyk Danien na die gesigte van die twee mans wat die meeste praatwerk doen: Paul en Alfons. Hulle gesels land en sand, maar Paul se gesig bly vol onuitgesproke vrae. Alfons kry soms midde-in die gesprek die vreemde, waaksame kyk in sy oë, en partymaal dink hy lank voordat hy antwoord.
En meteens weet Danien: Die vreemde gevoel wat haar heel vakansie nog vir haarself laat vlug, is ’n sekere voorwete. Van wat weet sy nie, net dat dit soet en bitter gaan wees. Want Alfons het teruggekom. En saam met hom – konflik.
2
Die nuus dat Alfons terug is in Die Vallei maak almal bly. Oor die jare heen het daar ’n eiesoortige verbondenheid tussen die gereelde vakansiegangers ontstaan. Gedurende die kwartaal is elk met sy eie bedryf besig en dink hulle skaars aan mekaar, maar vakansietye soek hulle mekaar op, heg weer ou bande met ’n entoesiasme wat aan ouwêreldse familiefeeste herinner. Want hier in Die Vallei, beskut tussen berg en see, is hul belange dieselfde. Hulle het die plek lief, en dié gedeelde droom snoer gemoedere saam. Hulle loer by Vuurvliegie in om koffie te drink, om alles te hoor wat in die twee jaar sedert tant Fienie se afsterwe gebeur het, en hulle nooi Alfons om op sy beurt te kom kuier. Oplaas besluit ’n paar van die vroue om ’n laataand-strandpiekniek te reël om Alfons se “tuiskoms” amptelik te vier. Fienie sou dit gedoen het, reken hulle moederlik.
“Lyk my hulle het die regte aand gekies,” meen Karel Fouché. “Nie ’n luggie wat roer nie.”
“Wat gaan jy aantrek?” wil Jacomien by haar dogter weet.
“Ek het nie lus om te gaan nie,” sê Danien bedaard, waar sy met ’n tydskrif in ’n diep leunstoel sit.
Karel en Jacomien kyk veelseggend na mekaar. Hulle is nie gister gebore nie, en vandat Alfons Minnaar weer sy verskyning gemaak het, is Danien swygsaam en buierig. Nes toe sy ’n tiener was en haar oë nie van dié frisgeboude regstudent kon afhou nie. Maar tóé het hy nog haar hare deurmekaar