die magistraat, “hoe lyk hy vir jou?”
Willie skink rustig sy bier voor hy ongemerk kyk.
“Hy pie ’n gevurkte groen straal,” sê Willie.
“O,” sê Karolina.
Willie neem ’n sluk bier.
“Waarskynlik vroeg deur die moeder verwerp,” sê hy. “Onlesbare dors. Konstitusie van ’n os. Maklik irriteerbaar. Krities. Moedswillig. Aggressief. Manipulatief. Neiging tot anale vratte. Migraine oor die linkeroog, asof ’n spyker daar ingeslaan word.”
Willie kyk rustig voor hom.
“Ken jy hom?” vra Karolina.
“Nee,” sê Willie.
“So?”
“So?”
“Hoe weet jy dié goed?” vra sy.
“Enigeen kan dit doen,” sê hy. “Daar’s geen trieks aan nie.”
Karolina aarsel ’n oomblik.
“Hoekom sit jy jou geld op die rooie?” vra sy.
“Jy sal self sien,” sê hy.
Elke keer as sy in Pol se rigting kyk, kyk hy na haar, knik betekenisvol, alvorens hy met die diep welluidende stem ’n nuwe onhebbelike lied insit.
Karolina stel voor dat sy en Willie gaan kyk wat langsaan, in die snoekerkamer, aangaan.
Toe sy die vertrek binnestap, voel Karolina die hare op haar ruggraat en agter in haar nek regop staan. ’n Vertrek vol vreemde vibrasies dié, ’n plek waar jy kan mal word en ’n misdaad pleeg, waar jy jou kop kan verloor, en jou goeie oordeel; oorgelewer aan jou medemens se geheime agendas en aan jou eie ondeurgrondelike drifte. ’n Plek wat die skakels in ’n ketting van óú herinneringe onverwags kan aktiveer. ’n Lekker plek, gesellig.
Aan die een kant van die vertrek staan die halfgrootte snoekertafel. In die res van die vertrek is daar rottang- en kunsleergemakstoele. Teen die mure is daar bokkoppe (soos in die dameskroeg), bieradvertensies en geraamde foto’s. Die mure het ’n vreemde geel kleur – waarskynlik ’n weerkaatsing van die groot lig bo die groen oppervlak van die snoekertafel. Die vertrek is heelwat ligter as die dameskroeg. Op die grond is ’n verslete olyfgroen volvloertapyt.
Ook hier is daar vanaand nie baie mense nie.
Die man in uniform wat besig is om oor die tafel te leun, kom orent toe hulle binnekom. Dit is die polisieman in blou van vanmiddag. Nou sonder sy pet. Hy het smal Oosterse oë en gespierde boarms; hy beskou haar ’n oomblik voor hy verder speel. Toe hy sy skoot gespeel het, sit hy die stok neer, vee sy handpalms aan sy broek af, en kom na hulle met uitgestrekte hand.
“Kieliemann,” sê hy. “Luitenant. Bly te kenne.” ’n Man, kennelik, wat nooit iets laat blyk nie.
Hy stel hulle voor aan die ander spelers om die tafel en aan die ander mense in die vertrek.
Daar is ’n sersant Frikkie Visser, ’n sersant Duif Visagie, ’n sersant Blaf Buytendach; ’n meneer Maritz en ’n meneer Retief (wat vir Karolina soos FAK-manne en produkte van ’n universiteitskoor lyk); op stoele in die hoek, twee vaal onderwysers: ’n meneer Abel Kriek en ’n meneer Vrug Botha, en ’n reisiger met ’n vreemde naam (Karolina het hom tydens middagete in die eetkamer opgemerk).
Hulle word met verskillende intonasies, infleksies en grade van agterdog en vals Boere-hartlikheid gegroet, maar niemand neem hulle ernstig op nie. Karolina omdat sy ’n vrou is, Willie omdat sy van September is.
Op daardie oomblik kom ’n man by die agterste deur in, die een wat na die toilette lei. Uit die skadu kom hy in.
Die man is besonder lank, vaalblond, bleek in die gesig; hy steek sy hand na Karolina uit.
Karolina aarsel ’n oomblik, waarin sy haar van ’n paar feite vergewis. Sy hand is yskoud, sy handpalm sweterig.
“Kaptein Gert Els,” sê die man. Bleek oë, sien sy.
Karolina en Willie wys luitenant Kieliemann se aanbod van die hand om saam te speel. Karolina beduie onderlangs vir Willie, laat ons so gou moontlik hier uitkom. Hulle kom later in die week speel, sê Karolina.
“Kom ons gaan drink iets op die stoep,” sê sy sag.
Toe hulle buite sit, die koel naglug teen hulle wange, by die tafel waar die twee mans vroeër vandag gesit het, sê sy: “Hoe lyk dit vir jou daarbinne, Willie?”
Willie lag net.
“Dit lyk maar soos dit oral hier lyk,” sê hy. “No better, no worse.”
“Hoe lyk die kaptein vir jou?” vra sy.
Willie trek sy skouers effens op. “’n Man wat homself moeilik beheer,” sê hy.
“Ek het so geskrik,” sê Karolina. “Ek het ’n oomblik lank gedink hy is iemand anders. Iemand wat ek lank gelede geken het.”
Sy ril effens. Koue luggie?
“Ek vertrou hom nie. Nie so ver as ek my hand in die donker kan sien nie,” sê sy.
Willie kyk haar ’n oomblik lank stip aan. Asof sy eerder iets oor haarself as oor die man daarbinne gesê het.
Vrydagoggend kom Karolina op ’n vinger in die veld af. Of iets wat baie soos ’n vinger lyk. Willie ondersoek die vreemde voorwerp lank en aandagtig. Dan sit hy dit in ’n bruinpapiersakkie om saam te neem. ’n Vreemde plantaardige groeisel, wit en wortelagtig. Die vorige nag, onthou Karolina, het sy gedroom van swart klippe en swart sprinkane.
Hulle is albei goed toegerus vir die veld. Karolina doen navorsing oor die verspreiding en broeipatrone van die motspesie Hebdomophruda crenilinea. Willie is op soek na ’n verskeidenheid dinge, hy help meneer Isayago die Argentyn met die voorbereiding van geneesmiddels. Dit neem hulle maande, soms jare, vertel hy haar, om party van die middels uit die basiese grondstowwe voor te berei.
Dié bepaalde soort mot word hoofsaaklik in hierdie streek aangetref. Byna ’n honderd jaar gelede het Boer en Brit vrylik hier rondbeweeg. Hierdie provinsie was toe ’n betwiste gebied. Vroue, kinders en swartes is in groot stofwolke soos troppe diere hier rondgejaag. Die aarde is afgebrand. Die vernielde grond het weinig opgelewer. Die plantegroei en insektelewe het ’n gevoelige knou gekry – hier was plek-plek kilometers aaneen nie ’n blom, nie ’n plant, nie ’n graspol oor nie, nie ’n klipper onomgedolwe gelaat nie; die aardoppervlak was tot stof gereduseer soos die kloutjies van duisende groter en kleiner hoefdiere maande lank kruis en dwars daaroor beweeg het.
Nou is dit droog in hierdie streek. Karolina bestudeer die oorlewingstrategieë van hierdie motspesie onder presies dergelike omstandighede.
Voor middagete stap hulle terug dorp toe. Hulle stap weer met die begraafplaas langs. Dit is so warm dat die sipresse vibreer, geen skaduwee gooi nie. Geen teken van die minnaars vandag nie. Hulle kom moeg, stowwerig en honger terug in die koelte van die hotel se barokingangsportaal, en eet middagete in die eetkamer met die beskilderde panele. Die ses panele beeld insidente uit die volksgeskiedenis uit: konfrontasies tussen Boer en Brit, wit en swart.
Die middag rus Karolina. Sy droom van ’n kol. Dit is ’n nat kol wat sprei soos bloed.
Toe sy wakker word, kyk sy na haar handpalm. Die vrou het twee mense daarin gesien: ’n man wat haar altyd sal liefhê, en ’n vrou wat haar nooit in die steek sal laat nie. Die lug was inderdaad ’n vurige rooi toe sy by daardie karavaan ingegaan het. Sy dink aan die wit wortelvinger wat Willie in die papiersakkie gesit het. ’n Grillige vonds. Sy dink aan die dans in die hotel môreaand (sy het ’n advertensie daarvoor in die ingangsportaal gesien). Sy dink aan Pol, aan die lede van die plaaslike polisiemag wat sy ontmoet het in die snoekerkamer (in die besonder dink sy aan Gert Els), aan die magistraat, en aan die minnaars wat mekaar met soveel hartstog en intensiteit in die begraafplaas