Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Die boek van toeval en toeverlaat


Скачать книгу

meteens gaan besoek en ten minste ons ver­trouensverhouding herstel. As ek reg onthou, was die digter en die uitgewer maar alte gretig om my te vergesel. Uit­ge­honger vir ’n bietjie opwinding. Ons het laat­aand by Felix se woonstel in Braamfontein opgedaag. Ek was in ’n opge­werk­te en ooremosionele toestand. Sexy Felix du Randt met sy spits, sluwe vosgesig het ons hoflik ontvang, maar teen­oor my was hy yskoud. Van sy kant was daar geen sprake van ’n versoening nie. Nooit het ek kon voorsien dat vosse­rige Felix met sy warmbruin, sproeterige vel, wat my ’n paar maande vantevore nog met soveel harts­tog, so sonder ambi­valensie en met soveel vertedering be­jeën het, sy rug so on­verbiddellik op my sou kon draai nie. Hoe afstandeliker hy teenoor my was dié aand, hoe meer histeries het ek geraak. Wat wou ek van hom hê? Dat hy my terug in sy arms sou neem? Dat hy my teer en intiem sou toelag soos hy dit enkele weke vantevore in ons liefdesbed gedoen het? Dat hy steeds ewige trou aan my sou sweer nadat ek hom laat verstaan het dat hy nie die regte man vir my is nie? Felix het ’n ander sy van homself daardie aand laat sien, een waarvan ek nie vermoede gehad het dat dit bestaan nie.

      Marthinus Maritz is al dood. Felix het ek nooit weer ge­sien nie; hy was iewers in die Noorde hoof van ’n taalburo of taalkunde-departement voor hy tragies in sy vroeë veertigs in ’n motorongeluk dood is.

      Marthinus Maritz, die digter met die verbete lewensdrif, het effens vooroorgebuig gestap, sy bolyf was vlesig, sy voete effens na buite gedraai; sy swaar, donker, bebaarde kop te groot vir sy lyf; sy blik sowel uitdagend as verwil­derd; in sy oë die lig van poëtiese besetenheid. Sy eerste digbundel was ’n groot sukses. Hy was hartstogtelik oor die poësie, ambisieus, intellektueel energiek – selfs onvermoei­baar – maar ’n emosionele kreupele. ’n Vertwyfelde, gekwel­de man. Hy het moeilike kinderjare gehad, sy ma het hom skreiend verwaarloos, haar minnaars het hom mishandel. Hy was getroud; ons het een of twee keer seksueel iets probeer, maar ons kommunikasie en aangetrokkenheid tot mekaar was verbaal, nie fisiek van aard nie. Sy eerste digbundel is toegejuig as ’n gawe Gods aan die taal. Waar in Afrikaans is daar nog so ’n debuut – nog so ’n bundel trouens – waarin pyn, vertroebeling en emosionele versaking so aangrypend verwoord word, waarin daar soveel hartstogtelike verse oor jeug en illusie, wanhoop en ontgogeling is, as in daardie eerste digbundel van Marthinus Maritz? Hy kon dit nie weer regkry nie. Wallace Stevens was een van sy geliefkoosde dig­ters. Die motto in sy eerste digbundel was ’n aanhaling uit ’n gedig van Stevens. Marthinus was ’n misplaaste figuur, hy het homself toenemend misken en geïsoleer gevoel, die poësie opgegee, geld probeer maak, dit reggekry. Sy sake-onderneming was ’n reusesukses, hy het enorm welgesteld geraak, die poësie weer opgeneem, maar hy het nooit weer iets soos sy eerste bundel kon skryf nie. Miskien het hy ge­dink as hy ’n fat cat soos Wallace Stevens is, sal hy soos Stevens kan skryf.

      Marthinus was ’n man met ’n deurdringende intelligensie en ’n ongekontroleerde aggressiewe streep wat soos ’n foutlyn deur sy persoonlikheid geloop het. Sy aggressie was meesal op vroue gerig. Ek het dit nie toe besef nie. Hy het my die aand, toe ek histeries uitgevaar het en met opset rooi wyn op Felix se nuwe wit bokhaarmat gemors het, aan weerskante van my gesig geklap met ’n oorgawe waarvan ek nou, dertig jaar later, eers die intensiteit kan herken. Dit het daardie man genot verskaf om my in die openbaar te klap, besef ek nou, aan weerskante van my gesig dat die handmerke rooi gewys het, oënskynlik om my tot bedaring te bring. Felix du Randt, die gewese minnaar, het uitdrukkingloos toegekyk en ’n lap gaan haal om die rooi wyn op sy duur nuwe mat mee op te vee. Dit was duidelik dat hy alles wat hy vroeër emosioneel in ons verhouding belê het, in daardie duur, wit, geweefde, egte langhaarbokmat herbelê het – hy het die wynvlekke met afsku bejeën. Ek twyfel of hy tussenbeide sou getree het selfs as Marthinus my nog hardhandiger behandel (gestraf) het.

      Maar buiten Marthinus Maritz, Felix du Randt en Herman Holst was daar dus nog ’n vierde persoon teenwoordig, die newelagtige Freek van As, wat alles die aand waargeneem en met my ’n gesprek oor Plato gevoer het, as ek hom moet glo. Die uitgewer het verdwyn, die digter en die gewese minnaar is dood, net Freek van As het oorgebly. Na sewe en twintig jaar tree hy uit die newelryk van die verlede te voor­skyn om my aan ’n insident in my laat twintigerjare te herinner. Stel ek nog belang? Dit is verby en afgelope, daardie tydperk van vergissing en swak oordeel.

      *

      “Die mooiste deel in die boek waarvan ek jou gister begin vertel het,” sê ek die volgende dag vir Theo Verwey, “is mis­kien die beskrywing van die begrafnisoptog van die dooie rap-sanger. ’n Spektakulêr uitgebreide optog. Die ryk man klim uit sy motor en slaan dit gade. Die oorledene se lyk word in die lykswa ten toon gestel, ietwat gekantel, as ek reg onthou, sodat dit nie plat lê nie. Die dooie sanger se stem op kasset – geweldig versterk – begelei die optog. Stel jou dit voor. Daar is onder andere ook dervishes in die op­tog. Wat is ’n dervish tog weer in Afrikaans?”

      “’n Derwisj, ’n Mohammedaanse bedelmonnik,” sê Theo, “van die Persies darvish, wat arm beteken.”

      “Die bedelmonnike dans,” sê ek. “Hulle tol om en om. Dis een van die mooiste momente in die boek, die beskrywing van die tollende, draaiende derwisje.”

      Theo Verwey knik hoflik.

      “Daarna fantaseer die ryk man oor sy eie begrafnis,” sê ek. “Hy fantaseer oor die rol wat elkeen van die vroue met wie hy in die loop van die dag iets gehad het, by sy begrafnis sal speel. Hy het omtrent vyf toevallige seksuele interaksies met vroue in sy reis deur die stad dié dag. Hoewel dit nie eintlik ’n reis is nie – dis eerder ’n stadige voortgang deur die stad. Hy loop byvoorbeeld sy vrou op bepaalde punte raak – hy sien haar op ’n sypaadjie verbystap vanuit sy be­wegende motor, hy sien haar vanuit sy motor in ’n huur­motor langs hom verbykom. Hulle eet een of twee keer saam. Hy vra haar tydens een of twee van hierdie terloopse ontmoetings wanneer hulle weer seks gaan hê.” Ek kyk af na my skoenpunt. “Aan die einde van die boek het hulle ’n kortstondige seksuele ontmoeting. Op staande voet, iewers.”

      Theo Verwey kyk verbaas.

      “Sy slaan haar bene om sy lyf,” sê ek. “Dis ’n hartstogtelike bymekaarkoms.”

      Theo se wenkbroue lig nog hoër.

      Ek praat met neergeslane oë, ’n effens ironiese toon in my stem.

      “Die vrou is ’n digter,” sê ek. “Hoewel hy nie veel van haar digterlike vermoëns dink nie. Hulle is pas twee weke getroud. Sy is skatryk. Ek het dit al genoem. Sy kom uit een of ander Europese familie met óú geld. In die loop van die dag verhandel die man groter en groter somme geld, teen al sy finansiële adviseurs se raad in. Hy verloor alles. Sy vrou se geld ook, wat hy steel in ’n bedrieglik eenvoudige – onthutsend eenvoudige – digitale of kubertransaksie. Ek is nie seker presies hoe nie.”

      Theo Verwey luister nou met sy volle aandag.

      “Hy vertel haar dat hy haar geld verloor het, maar sy glo hom nie eintlik nie. Voor hy sy apartement die oggend verlaat, praat hy eers met sy honde.”

      Theo Verwey kyk my ’n paar sekondes woordeloos aan. “Beveel jy dit aan,” vra hy weer, “om alles wat jy het te verwed as jy weet jy kan dit moontlik verloor?” Hy glimlag. Daar is selfs iets ironies in sy stem. “Om jou vrou se geld te steel en dit te verloor in een of ander riskante transaksie?” Hy glimlag steeds.

      Ek glimlag ook. Ek kry my asem terug. Dit is die verste wat ek nog op ’n oggend met iemand gegaan het. Dit is die verste wat ons nog met mekáár gegaan het.

      *

      Die aand lê ek soos die vorige op die bank in my tuinwoonstel. Ek huur die kleiner, onderste deel van die huis, die huis­eienaars bewoon die groot boonste verdieping. Ek het my huisbaas onmiddellik die slotte aan die voordeur laat vervang en ’n stewige veiligheidsdeur laat insit. Hulle was die dag weg toe die inbraak gebeur het. Volgens hom het hulle nog nooit vantevore ’n inbraak gehad nie. Sedert die voorval voel ek nie gerus nie.

      Ek dink na oor die inbraak. Watter soort dief laat klere, juwele, skoene, ’n CD-speler, CD’s en ’n televisie agter en steel skulpe? ’n Versteurde dief, met geperverteerde be­hoef­tes? ’n Dief met ’n geheime agenda? ’n Dief waarvan die lin­kerhand nie weet wat die regterhand doen nie? ’n Dokter-Jekyll-en-meneer-Hyde-dief?