Annelie Ferreira

Dit vat guts


Скачать книгу

      Die fliek was The Black Stallion en die tannie het dit gesien toe sy ’n kind was. Sy het gedink ek sou ook daarvan hou, want “jy hou mos van diere, Mia?”

      Ná aandete het ons voor die TV ingesettle, met bakkies Chinese crackers en Hollandse drop en gemmerbier wat Annika se ma self gemaak het.

      Die fliek was oor ’n seun en sy pa op reis op ’n groot skip. Dit was ’n vragskip, maar daar was ook ander passasiers, en ’n groot swart hings wat nie daar wou wees nie. Toe breek daar ’n brand uit en die skip vergaan. (Ek gaan so nooit op ’n skip vaar nie, nooit nie.)

      Die seun en die perd was gelukkig, hulle was die enigste oorlewendes. Die seun het die perd probeer red, maar op die ou end het die perd die seun gered, en hulle het uitgespoel op ’n eiland, stoksielalleen. Die seun het nie ’n clue gehad oor perde nie, maar die hings was die enigste ander lewende ding daar behalwe vir ’n paar bome en bossies en visse, toe het die seun maar vriende probeer maak met hom.

      Maar nie met woorde nie. Met – magic. Dit was so stil daar. Net golwe wat sag klots en takkies wat ritsel, en dan, skielik, die manjifieke swart hings wat weggalop. Maar elke keer het die seun nader gekom, sy hand na die perd uitgesteek, opgegee, weer probeer. En uiteindelik het die wonderwerk gebeur en hy het die swart hings gery, bloots, in die golwe.

      Dit was amper jammer toe ’n boot daar aankom en die seun red. Veral toe hulle die perd daar wou los. Maar trust die perd om agter die boot aan te swem. Op die ou end is hy en die seun saam huis toe geneem, waar nog ’n paar probleme vir hulle gewag het – dis ’n fliek, orraait – maar ook avonture.

      Dit was ’n goeie fliek. Die perd was stunning mooi, en sterk, en dapper, selfs toe hy bang was. Hy het nie nonsens gevat van enigiets of iemand nie.

      Toe die laaste crackers en gemmerbier op is, het ek en Annika na haar kamer gegaan. Ek het eers die nuwe silwer-en-blou gordyne bewonder wat haar ma van oorskietmateriaal gemaak het, en toe het ons elkeen op ’n bed neergeval. Daar was ’n gemmerkat teen my kussing, en ek het langs hom ingeskuif.

      “Ek wens ek kon perdry,” het ek gesê en oor die fyn knoppies van die kat se ruggraat gestreel. “Wat ’n awesome dier.”

      Annika het haar arms voor haar uitgestrek en gegaap. “Hoekom probeer ons dit nie?”

      “You’ve got to be joking.”

      “Why?”

      “Ek ken nie van perde nie,” het ek redelik gesê. Plus ek het in die laerskool twee keer probeer om op die ponies by die kermis te ry, en elke keer het my moed my begewe.

      “Ons kan mos leer.” Annika het haar arms agter haar kop gevou. “Ons kry net ’n perd iewers. Easy.”

      “Ek het dit nie soos baie ernstig bedoel nie,” het ek probeer keer, maar dit was te laat. Annika se oë het gevaarlik begin skitter.

      “Dit sal so cool wees. Sê nou ons kry ’n swart hings!” Sy was op haar voete. “Kom ons gaan soek op die Internet!”

      En dit is hoekom Annika later daardie aand haar Heath Ledger-versameling bokant haar bed afgehaal en na die muur langs haar deur geskuif het, en toe swart perde met wondergom bokant haar kopstuk vasgedruk het. Sy het twee prente uit die fliek geprint, en een vir my gegee om saam te neem huis toe.

      En vir die eerste keer vandat ek kan onthou was dit nie die donker van die nag wat my wakker gehou het nadat haar ma-hulle die laaste lig afgesit het nie. Dit was ’n donker perd. Perde is groot. Selfs ’n herdershond sal soos ’n Yorkie lyk teen ’n swart hings. En perde hou van skop. Dis net cool as jy dit op ’n skerm sien.

      Ek het ure rondgerol voor ek aan die slaap geraak het.

      7

      Heelpad van die skool af hoop ek Pa gaan nie weer by die huis wees as ons daar aankom nie. Hy is minstens vanoggend vroeg werk toe soos gewoonlik. Hy het net nie in die stort gesing soos altyd nie. Hy het eintlik baie lank laas in die stort gesing. Maar hy het gesê hy voel beter van die nuwe pille. En hy moet ontwerpe gaan klaarmaak sodat die mense by sy maatskappy daarmee kan aangaan as hy in die hospitaal is, alles moet agtermekaar wees. Hy is ’n elektroniese ingenieur wat satellietkameras ontwerp.

      Ouma Issie het laasjaar omtrent ’n klein olifantjie gekry toe sy hoor Pa gaan ’n maatskappy begin. Hy het dan ’n goeie werk gehad! Hoe kon hy so ’n kans vat! Pa het gesê dis als goed en wel om veilig te speel grondlangs, maar partykeer wil jy darem vlieg ook.

      “Ek voel goed oor Pa,” sê Isabel terwyl ons loop. “Hy gaan oukei wees, ek weet dit. As ek volgende week by die jeugkonferensie in Johannesburg is, gaan ek die mense daar ook vra om te bid. Is dit nie awesome dat die kerk my sponsor om soontoe te gaan nie?”

      Die straat lyk minstens nie meer so weird soos gister nie. Dit lyk amper soos ’n gewone straat ná ’n nag se reën. Dis vreemd om te dink ek en Isabel het gister nog al met die skadubome langs geloop in die hitte. Nou skyn die geel gras hier en daar amper groen, en blare lyk weer lewendig en blink. Behalwe dié wat besig is om te verkleur, maar hulle lyk ook mooi, rooi en geel en bruin.

      “Ek kan nie wag vir die vakansie nie,” sê Isabel. “Ek het so lank laas sommer net fun saam met my vriende gehad. Dis skool en sport en die band – nie dat ek omgee vir die band nie, maar ons is rêrig besig. Vanaand tree ons op by die Vroue vir Vreugde-seminaar by die kerk, en Donderdag by die aftreeoord.”

      Ons stap op met die tuinpaadjie. Toe Isabel die voordeur oopstoot, staan my ore soos ’n perd s’n vir Pa-geluide, maar alles klink veilig. Ma en Tes praat iewers in die huis, en niks ruik soos salami-pizza nie.

      Die telefoon lui net toe ek daar verbyloop. Dalk is dit tannie Theresa, Ma se suster in Pietersburg. Sy het ’n tyd gelede ’n baba gehad en as die telefoon lui en Ma praat oor goed soos nappy rash of melk of tande, dan weet jy dis sy. Weet tannie Theresa van Pa?

      Ek huiwer met my hand op die gehoorbuis. Toe dit weer lui, tel ek op.

      Dis Ouma. Sy sê: “Hallo, Mia” in ’n stem so verlate soos die Karoo.

      “Haai, Ouma,” sê ek so nice as wat ek kan. “Ek roep Ma gou.”

      Ma vat die foon sonder ’n woord. “Hallo, Ma,” sê sy. “Nee, dis alles reg.” Sy luister vir ’n paar oomblikke. “Ja, Ma, ek dink jy kan dit maar drink. Dis vir skok, en Ma het net genoeg vir ’n paar dae, so jy sal nie verslaaf raak daaraan nie.”

      Ek loop kamer toe. Die swart hings het losgekom, die boonste regterhoek krul om.

      Ek leun oor om dit vas te druk, versigtig om Prinses nie te pla waar sy halfpad onder my duvet in lê en slaap nie. Langs die swart hings is die foto van nog ’n perd wat Annika Sondag vir my ge-epos het. Hy bly op ’n plaas teen die Weskus. Hy lyk sweet, kleiner as die swart hings.

      Isabel skop haar skoene uit. “Wat’s dit met die perde?” vra sy. “Hoekom het jy die prente opgesit?”

      “Wel …” Ek sal haar maar die waarheid vertel. Die abbreviated version. “Ek en Annika soek ’n perd om te ry.”

      “’n Perd?”

      Nee, ’n seekoei. “Ja.”

      “Cool. Onthou jy hoe ons altyd op die ponies by die skool se kermis gery het?”

      Ek onthou eintlik hoe party van ons nie op die ponies gery het nie. “Hulle was oulik,” sê ek maar.

      Isabel trek haar haarrekkie af en skud haar krullerige bruin hare los oor haar skouers. “Waar gaan julle ’n perd kry?”

      “Ons soek nog.”

      Die telefoon lui weer. Dalk is dit nou tannie Theresa. Ek druk die hoeke van die Weskus-perd ook vas. “Wat dink jy van rassisme, die jeug van Suid-Afrika en aardverwarming?”

      “Huh?”

      “Dis vir die debatskompetisie Donderdag.”

      “O!” Isabel grinnik. “Die juffrou het my ook