alt="25267.png"/>
Bevry van ‘geloofsekerheid’
Wanneer ek oor die jare van my godsdienstige vorming dink, is die woord wat ek die duidelikste hoor opklink seker “geloofsekerheid”. Daar is aan jou vertel jy móés gewoon geloofsekerheid hê om ’n goeie Christen te wees. Die manier waarop ’n mens dit moes bekom, was om ’n eenvoudige resep te volg: Bely jou sondes en neem Jesus in jou hart aan as jou enigste Verlosser.
Ek het dit alles presies so gedoen, maar nooit enige spesifieke wonderlike gevoel as gevolg daarvan ervaar nie. Die resep het skynbaar nie so goed gewerk vir my nie, of ek moet iewers iets verkeerds gedoen het. Die fout het waarskynlik al by my gebrekkige sondebesef ingesluip. Daardie vreeslike gewroeg oor sondaarskap en om verwerplik voor die oë van God te voel, was vir my altyd effens kunsmatig. Dit was eerlikwaar nie hoe ek binne-in gevoel het nie en ironies genoeg is my grootste skuldgevoel juis daardeur veroorsaak dat ek nié skuldig gevoel het nie. Die idee dat jy na die verlossing moet gryp omdat jy so skuldig voor die aangesig van God voel, het uit die staanspoor nie vir my sin gemaak nie.
Die teleurstelling en wantroue in die konsep van geloofsekerheid is waarskynlik een van die groot redes waarom ek myself later daarvan moes distansieer. Die ander rede het met die dood van ons bure se seuntjie te doen. Ek kom later op albei hierdie redes terug, maar vir eers meer oor my vormingsjare.
Ons was maar ’n gewone godsdienstige boeregesin – toegewyd, maar in baie opsigte gematig in ons godsdienstige betrokkenheid. Ons het elke tweede Sondagoggend kerk toe gegaan en al om die ander Sondagaand het my pa huisgodsdiens gehou. Die Sondagoggend as ons nie kerk toe gegaan het nie, het ons kerk geluister voor die groot bruin radio wat met jumper-kabels deur die eetkamervenster aan die bakkie se battery gekoppel was. Daardie uur met die dralende stem oor die radio was nog langer as die uur in die kerk.
Al wat in die kerk erger was, was dat ons seuns, soos die ooms, moes staan as die dominee bid. Ek sal nooit die dankbaarheid vergeet wat ek teenoor my ma gevoel het nie. Ná ’n lang gestaan het sy my soms met ’n plukkie aan my hemp die teken gegee dat ek maar kan sit terwyl die dominee vir ewig aanhou bid.
Veral my ma het die radio-kerk nogal ernstig opgeneem. Die gesangeboeke en die Bybel is nader gebring en ons moes saamsing en uit die Bybel volg. Dit was toe nog natuurlik net die drie susterskerke (die NG, Hervormde en Gereformeerde Kerke) wat die voorreg gehad het om eredienste oor die radio uit te saai. Ek kan tot vandag toe op grond van stembuiging en intonasie sê van watter een van die denominasies die uitsending kom.
Die huisgodsdiens was ook nie eintlik lekker nie, maar dit was baie beter as om oor die radio kerk te luister. Ek moet my pa darem daarvoor krediet gee dat hy nooit soos van die buur-ooms ná die huisgodsdiens vir ons kinders vrae gevra het nie. Ek onthou nog hoe gespanne ek was as ek op die buurplaas gekuier het en dan vir oom Christie die regte antwoord moes gee of ten minste moes sê wat onthou ek van die gedeelte wat gelees is. As een van die kinders wat voor jou ’n beurt gekry het, dan dieselfde ding onthou wat jy nog die hele tyd sit en memoriseer, moes jy vinnig ’n plan B ook hê.
Al was hierdie godsdienstige bedrywighede vir my as jong seun nie juis lekker nie, was dit ook nie iets slegs nie. Dit was gerusstellend en nie bedreigend nie. Die kerklike omgewing was ’n bekende wêreld met baie om vir die minder aangename te vergoed. Ons was byvoorbeeld huisvriende met die dominee en sy gesin. Ek het aangename herinneringe aan ds. Grové en juffrou Grové – ons het haar “juffrou” genoem, want sy was die graadeen-juffrou by die plaasskooltjie, Hallgate, waar ek skoolgegaan het.
Toe ek in standerd 4 (graad 6) was, het ek op ’n dag by Basie, die dominee se seun, gekuier. Een van sy slim planne was dat ons ’n rol draad by die ysterwarewinkel gaan koop en ’n foefieslaaid maak. Om die harde draad styf genoeg gespan te kry, was egter ’n bietjie bokant ons vuurmaakplek. Toe maak ons maar ’n plan en maak ’n dwarslat naby die einde vas, sodat een van ons onder staan en die draad styftrek terwyl die ander een afkom. Ná ’n paar keer se lekker ry was Basie moeg vir die styftrekkery en moes ek die tog van bo uit die boom sommer met ’n slap draad aanpak. Die volgende oomblik het ek onder die boom gelê met ’n been wat net bokant die enkel gebreek het. Ek moes geopereer word en was lank op krukke. Juffrou Grové het vreeslik skuldig gevoel en gevolglik het ek baie aandag en wonderlike presente uit die pastorie gekry.
Die pastorie was vir ons ’n bekende plek. Ek onthou Dominee het daarvan gehou om op sy sitkamermat met sy vet, bruin worshond te speel. Hy kon lekker lag en was vriendelik met my. Ek vermoed hy kon ook maar ’n moeilike man wees, maar ek het min daarvan beleef.
Ds. Grové kon ernstig preek, maar is nie juis as ’n uitstaande prediker beskou nie. My ouers het die amptelike geloof gehad dat “die gesalfde van die Here nie gekritiseer mag word nie”. Tog het hulle in die praktyk ook maar vrymoedig hul mening oor die preke gelug. Omtrent die enigste preek wat ek van hom onthou, is toe hy die keer teen rook gepreek het en sy vingers so vir die gemeente opgehou het terwyl hy vertel het hy het ook vantevore gerook en dat sy vingers daarvan bruin was. Dit het ’n diep indruk op my gemaak. Daardie denkbeeldige bruin vingers is miskien die grootste rede waarom ek nooit ’n roker wou wees of geword het nie, al het ek dit ook beproef.
Die Evangeliese godsdiens het ons eers getref toe ds. Louw op die toneel verskyn het. Hy het aanvanklik net deeltyds gehelp terwyl hy in Springs, die buurdorp, gewoon het. Later is hy as medeleraar beroep. Ek was so in st. 7 (gr. 9) toe dié nuwe dominee aangekom het. Hy het ’n mooi dogter gehad en ’n pragtige liggroen 1958-Ford met dubbele kopligte gery. Hy was ’n mooi man en het skynbaar ook bekend gestaan as “mooi Koos”.
Hy het ’n groot indruk as prediker gemaak. Ek was ook ’n ruk in sy katkisasieklas. Ek onthou daardie groot, slap Bybel wat hy so goed geken het. Hy was byna soos ’n towenaar daarmee en kon dit laat oopval op die plek waar hy gesê het hy gaan lees. Onder aanvoering van my ma het ons nou soms ook Sondagaande begin kerk toe gaan. Ds. Louw het bekeringspreke gehou en veral tydens Pinkster ook mense na vore geroep om hul harte vir die Here te kom gee.
Ek onthou een preek baie goed. Hy het vir die hoofdiaken gevra om vir hom een van die swaardlelieblommetjies uit die rangskikking voor die kansel te pluk. Hy het die mooi wit blommetjie in sy ongeskondenheid aan ons gewys voordat hy dit op die grond laat val het. Die volgende oomblik het hy daarop getrap en dramaties verklaar: “Ek staan nou op hom!” Ek dink hy het nog ’n paar draaie met sy voet op die arme blommetjie gemaak. Daarna het hy die verfrommelde blommetjie opgetel en vir ons verduidelik ons lyk almal as gevolg van ons sonde so. Wat ’n verskriklik gedagte! G’n wonder dat toe hy daardie aand ’n “altar call” gemaak het, ons hele gesin, saam met baie ander mense, die konsistorie gaan volpak het nie. Daar het hy traktaatjies uitgedeel en ons gevra om agter hom aan te bid en ons harte vir die Here te gee.
Dit was ook die tyd van die groot evangelisasiepredikers. Hulle het Nigel nooit besoek nie, maar die groter Springs wel, waarheen ons gery het, ook met van die buurkinders agterin ons bakkie. Ons het eenkeer na Billy Graham gaan luister in die volgepakte Pam Brink-stadion waar hy ’n reeks dienste gehou het. Op ’n ander keer was ons ’n week lank elke aand deel van die Pinksterskare wat die stadsaal van Springs volgepak het om na prof. Kolie Kotzé te luister. Dit was op ’n manier erg opwindend, amper soos om vir die Blou Bulle op Loftus te gaan kyk. Daar was vernuftige predikers wat die emosies kon opwek en wat ’n mens die gevoel kon gee dat jy deel van iets groots is. Tog was dit ook vreesaanjaend, want die soort godsdiens wat verkondig is, het my altyd tegelykertyd bedreig en boonop ontglip.
In daardie tyd was daar wel geleenthede toe ek gedink het ek het nou uiteindelik geloofsekerheid, maar van die beloofde gevoel van godsaligheid het ek steeds nie veel ervaar nie. My gevoelens van vrees en teleurstelling het ek maar vir myself gehou, want ek het gedink dit is dalk net ek wat dit nie alles mooi regkry nie. Later het ek besef my teleurstelling en selfs ontnugtering met die evangeliese godsdiens is eintlik nogal algemeen.
Een keer het ds. Louw saam met my pa huisbesoek gedoen in die plaaswyk waar my pa die ouderling was. Nadat hulle almal besoek het en ek genoeg tyd gekry het om die dominee se Ford, wat in ons garage geparkeer gestaan het, te bewonder, het ons gesin ook aan die beurt gekom. Ons was almal daar, my pa, ma, en Elize, my sussie wat vier jaar jonger