Helena Hugo

Satyn Omnibus 3


Скачать книгу

lig Melt in oor die gholffunksie, die volgende toernooi in Desember en die dag se skedule. Dan vervolg hy: “Ek hanteer die sitruspromosie, en Perskebloeiseltjie sorg vir die Laeveldleeu se konsert. Die klank- en beligtingtegnici is aan die werk in die Lapa, en al die kaartjies vir môreaand se vertoning is uitverkoop. Leonardo self arriveer elfuur op die lughawe. Bloeiseltjie gaan hom haal.”

      “Ek sal die nuwe bussie gebruik,” voeg Cecilia by.

      Melt skud sy kop. “Liewer ’n motor, dis meer persoonlik.”

      “Die voertuie is almal uit, en myne is in Joe se werkswinkel,” verduidelik Cecilia, hoewel sy nie kan dink dat ’n vermaaklikheidster van Leonardo se status tuis sal voel in die Golf nie.

      Melt haal sy motorsleutels uit sy sak. “Hierso . . . Gebruik myne.”

      Cecilia se oë rek. Tien uit tien, meneer M, dink sy. Haar eks sou harakiri gepleeg het eerder as om sy motor vir haar te leen.

      Sy wil dubbel seker maak dat sy nie verkeerd verstaan het nie. “Jóú motor?”

      “My motor,” beaam hy.

      “Wat as ek hom stamp?”

      Hy haal sy skouers op. “Dis net ’n stuk blik . . . Dan betaal die assuransie.”

      As Garth nie by was nie, het sy hom vol op daardie mooi mond van hom gesoen.

      “Dankie, dis gaaf van jou,” antwoord sy stemmig.

      Melt neem nog ’n sluk bitter koffie. “Plesier.”

      “Ek sal versigtig ry.”

      “Ek weet jy sal.”

      Die blieper op sy heup maak ’n piepgeluid en Melt sug terwyl hy dit afskakel. “Ek het gehoop op ’n bietjie rus en vrede . . . Jammer, plig roep.” Voor hy loop, kyk hy vraend na Cecilia. “Daar is ’n dringende saak waaroor ek met jou wil praat. Wat van ete eenuur by die Impala?”

      Al die meisies gooi hul flikkers vir hom, het Garth gesê. Haar voorganger ook, en dis hoekom sy sak en pak weg is. Sy moenie dieselfde paadjie loop nie. Melt Meiring behoort ’n etiket om sy nek te dra wat waarsku: Gevaar! Bly weg!

      “Leonardo se vlug land eers elfuur; ek sal nie eenuur terug wees nie,” soek sy verskoning.

      “Dan maak ons dit halftwee, as dit jou beter sal pas.”

      “Halftwee is baie laat. Miskien moet jy solank eet en nie vir my wag nie.”

      “Ek sal wag.” Hy gee haar nie kans om nog verskonings uit te dink nie. “Afgespreek. Sien jou dan.”

      Garth kyk Melt agterna toe hy wegstap. “Hoekom lyk hy asof hy die boerpot by die casino gewen het?”

      “Lyk hy so? Ek het nie opgelet nie.”

      “Wat wil hy so dringend met jou bespreek?”

      “Ek weet nie.”

      “En jy?” Hy kyk nuuskierig na haar. “Wat lyk jy so agterstevoor en onderstebo?”

      Cecilia vryf haar hare plat. Dis ’n soort heldeverering, besluit sy. Omdat sy Steve mis, projekteer sy haar gevoelens op die eerste ou wat verbykom. Die fase sal oorwaai, en volgende week is dit dalk Garth se beurt. Of Joe. Of netnou dalk Leo­nardo.

      Dié logiese ontleding laat haar beter voel. Die res van haar hartkloppings blameer sy op die lentepakkie. Sy moet ’n klagte oor ’n stukkende TV-stel in suite 482 opvolg, en daarna gaan sy ter wille van haar gemoedsrus ’n donker romp en sober bloes aantrek. Dis nader aan ’n uniform, waaraan sy gewoond is en waarin sy veilig voel.

      In antwoord op Cecilia se vraag beduie die sekuriteitswag na ’n wit Mercedes Benz-sportmodel op die parkeerterrein. Dáái een is meneer Meiring se vuurwa . . .

      Cecilia het by Steve van duur motors geleer. Sy knip haar oë. Sy het mos die eerste dag al geraai dit sal sy styl wees . . . Haar vingerpunte streel waarderend oor die enjinkap, waaronder daar ’n lokomotief se perdekrag wegkruip. Is dít wat hy “ ’n stuk blik” noem? Wat nie saak maak as sy dit stamp nie, want die assuransie sal betaal?

      Binne ruik dit na leer en muskus, met Melt se Monte Carlo-donkerbril wat oor die truspieëltjie hang. Sy skuif vol ontsag agter die stuur in.

      Hoewel sy deeglik vertroud is met die pad na die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe, bestuur sy stadig en versigtig. Sy konsentreer op die aankomende verkeer en kyk nie rond nie. Op die lughaweterrein parkeer sy in ’n stil doodloopry en gee die veiligheidswag ’n vet fooi.

      “Meneer, pas hierdie motor met jou lewe op. As ek terugkom en hy is weg, of daar is soveel as net ’n mérkie aan hom, spyker ek jou met ’n stomp tuinvurk aan die naaste boom vas.”

      Hy skrik. “Reg so, juffie, ek sal sorg!”

      Sy is besig om die motordeur te sluit toe ’n bekende stem agter haar roep: “Cilla? Ek het gehoor jy werk by ’n hotel buite Nelspruit . . . Is dit wraggies jy?”

      Sy draai verras om. “Kaptein Doep! Wat maak jý hier?”

      “Ek is op die hop-hop-sprinkaanroete: Nelspruit – Durban – Oos-Londen – Port Elizabeth – Kaapstad. Net gou uit die aankomsaal geglip om ’n paar dampe te stook. Kan nog steeds nie die skoorsteengewoonte afskud nie.”

      Cecilia onthou hy is ’n strawwe roker; hy het swaargekry toe rook op vliegtuie verbied is. “Dis gaaf om ’n bekende gesig te sien. Hoe gaan dit?”

      “Goed, maar blykbaar nie so goed soos met jóú nie.” Hy kyk veelbetekenend na die wit sportmotor. “Jou wiele?”

      “Ek wens . . .” Sy lag. “Nee, dis my ryk baas s’n. En hoe gaan dit by Jakaranda?”

      “Darem nog neus in die lug en bokant die wolke. Ons het ’n nuwe roete Rio de Janeiro toe ingestel en is besig om die oorsese poel aan te vul. Ons mis jou. Jy was een van Jakaranda se topwaardinne. Oorweeg jy dit nie om terug te kom nie?”

      Haar oë is broeiend toe sy wegkyk en haar kop skud.

      “Lugdiens is nie die enigste wat jou mis nie, Cilla. Dit gaan sleg met Steve. Hy wou vir jou kom kuier, maar jy wil hom glo nie sien nie.”

      “Dis beter so, dat die wonde kan genees.”

      “Kry julle nie julle probleme uitgestryk nie?”

      Sy sug. “Ons het probeer, maar dit werk nie. Hoekom sê jy dit gaan sleg met hom? Wat makeer?”

      Kaptein Doep kyk haar reguit in die gesig. “Wat dínk jy makeer hom? Steve de Villiers is my vriend. Ek het groot agting vir hom – nie net as knap vlieënier nie, maar ook as mens. Daar was van die begin af net een meisie vir hom: jy. Hy sou vir jou die aarde versit het – jy weet dit self. Dit was vir hom ’n harde slag toe jy hom uit die bloute oorboord gegooi het en die troue gekanselleer het.”

      “Dit was nie uit die bloute nie,” verduidelik Cecilia, haar stem vol rou emosie. “Hy weet daar was oorgenoeg rede. Ek het hom tyd gegee om te verduidelik, en ek het my standpunt duidelik gestel, maar ons kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Moenie dink dit was vir my maklik nie. Om my rug op hom te draai en uit te stap, was waarskynlik die moeilikste besluit wat ek nog ooit in my lewe geneem het. Ek is jammer vir Steve, maar ek het nie ’n keuse gehad nie.”

      “Ek weet nie wat tussen julle skeefgeloop het nie, en ek wil nie my neus in julle privaat sake steek nie.” Hy kyk spekulerend na Cecilia en dan na die wit sportmotor. “Maar as dit ’n kwessie is van ’n ander man wat tussenbeide gekom het – dalk jou . . . e . . . ryk baas wat vir jou sulke duur geskenke gee – dan vra ek jou om ’n tweede keer te dink, meisie. Hoe lank ken jy hierdie man al? Sal hy goed wees vir jou?”

      Cecilia se wange vlam. “Dis nie wat jy dink nie, kaptein Doep. Ek het Steve nie vir ’n ander man gelos nie. Glad nie. Hoegenaamd nie.”

      Sy sou graag Nadine Groenewalt se geval wou noem, en een of twee ander insidente in die verlede wat ook nie heeltemal bo verdenking was nie.