sit die koning sy sewe dogters so en kyk en hy kry ’n glimlag om sy mond. “My dogters,” sê hy, “ek wil graag weet hoe lief julle vir my is.”
Nou, die koning was baie lief vir soetigheid. Hy het altyd ’n silwer bakkie vol Indiese soetgoed langs sy troon gehad.
Die eerste ses dogters sê almal: “Pappa, so lief soos vir die soetste suiker.” En die ou koning se oë blink.
Toe is dit die beurt van die sewende dogter. Haar naam was Sjameli. “En jy, Sjameli, hoe lief is jy vir my?” vra die koning.
Die jongste prinses sê: “Pappa, ek is vir jou so lief soos vir sout.”
Wat! dink die koning. Sy weet tog ek is so lief vir soetgoed. En toe dink die koning sowaar sy jongste dogter is nie lief vir hom nie. En hy sê sy moet vir haar ander woonplek soek as sy dan nie lief is vir hom nie.
Die jongste prinses stap die grote wêreld in. Sy dool oral rond. Mense is goed vir haar, maar niemand weet sy is ’n prinses nie. Eindelik kom sy by ’n paleis met ’n leliedam vol bont visse wat daarin ronddartel. Sy verlang so na haar pa se paleis dat sy sommer daar by die leliedam onder ’n tamarindeboom gaan sit en huil.
“Kan ek miskien help?” vra ’n sagte manstem agter haar. Sy kyk verskrik om. Dis die prins van die paleis.
“My naam is Sjameli,” sê sy, “en ek soek werk.”
Só word Sjameli toe een van die vrouens wat in die paleis werk. Maar die prins sorg dat sy haar eie kamertjie kry, en in die aande stuur hy vir haar lekkernye, want iets sê vir hom sy is nie ’n sommerso-meisie nie.
Net voor die prins op ’n lang reis gaan, vra hy vir Sjameli wat hy vir haar kan saambring. En sy sê: “In die Nimmer-Immer-Bos is daar ’n sonkissie onder die oudste boom in die bos begrawe. Daardie sonkissie wil ek graag hê. Maar waar die bos is, weet ek nie.”
Die prins soek die wêreld vol na die Nimmer-Immer-Bos. Hy soek ’n hele jaar. En toe ontmoet hy ’n wyse ou man in ’n berggrot. Met bewerige vingers teken die ou man die pad na die Nimmer-Immer-Bos.
Ná baie dae vind die prins die Nimmer-Immer-Bos. ’n Vaal voëltjie kom draai bokant sy kop en fluit: “Een tree links, een tree regs, draai vinnig om, daar’s die oudste boom.”
En sowaar, onder die wortels van daardie boom kry die prins ’n kissie van silwer en ivoor. ’n Sonkissie.
Toe die prins uiteindelik weer by die paleis kom, laat roep hy Sjameli dadelik en gee die sonkissie vir haar. Sy druk dit teen haar bors.
Dieselfde nag neem Sjameli die kissie na ’n bos naby die paleis. Daar in die maanlig maak sy dit oop. Sy haal sewe poppies en ’n silwerfluit uit. Toe Sjameli op die fluit blaas, begin die poppies dans. Sierlik en fyntjies, met knikkekoppies. Maar die eensame fluit in die maanlignag maak Sjameli so treurig dat sy begin huil.
“Hoekom huil jy?” vra die sewe knikkekoppies. En Sjameli vertel hulle sy is eintlik ’n prinses en sy is baie, baie lief vir haar pa, maar die ou koning het haar verkeerd verstaan.
Wat Sjameli nie geweet het nie, was dat ’n houtkapper daar verby gestap en alles gehoor het. Hy vertel dit toe vir die prins.
“Ek het gewéét sy is dalk ’n prinses,” sê die prins.
Nou ja, nie te lank nie of die prins vra Sjameli om met hom te trou. Met ’n goue pen skryf Sjameli die uitnodigings na die troue. Haar pa en ses susters word ook genooi. ’n Boodskapper te perd ry dae lank om die uitnodiging af te lewer.
Op die troudag huil die ou koning, so bly is hy om Sjameli te sien. Sy soen hom, maar sê verder niks nie. Die fees duur dae lank. Al die gaste kry heerlike soet en suur en sout kosse, maar voor die ou koning staan elke dag by elke maaltyd net ’n bord met soetigheid. Ná drie dae is hy siek en sê: “Ek kan nie meer iets soets in my mond kry nie. Ag, hoekom kry ek niks souts om te eet nie?”
Toe sê Sjameli: “Pappa, nou verstaan jy seker hoekom ek gesê het ek is vir jou so lief soos vir sout. Sonder sout smaak niks later lekker nie.”
“My kind,” sê die koning, “vergewe my dat ek so dom was! Nou weet ek hoe lief jy vir my is.”
Woordverklarings
berggrot – ’n grot in ’n berg
dartel – vinnig en lig rondbeweeg
dool – dwaal, doelloos rondloop
knikkekoppies (nuutskepping) – met koppies wat knik
kortsigtig – nie mooi nadink voor jy optree nie
soetigheid – enige voedselsoort of lekkerny wat soet is
sommerso-meisie (skrywer se nuutskepping) – nie ’n gewone meisie nie, ’n spesiale meisie
sowaar – verbasend maar waar
tamarindeboom – dadelboom uit tropiese Afrika en die Ooste
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Van watse materiaal word sari’s gemaak? |
2. | Hoe weet ons Sjameli is ’n Oosterse meisie? |
3. | Was die koning verkeerd toe hy Sjameli weggejaag het? Skryf een sin om jou antwoord te verduidelik. |
4. | Skryf in jou eie woorde ’n sin om te verduidelik die prins het gedink Sjameli is nie ’n sommerso-meisie nie. |
5. | Bestaan daar in die werklike lewe ’n plek soos die Nimmer-Immer-Bos? Hoekom sê jy so? |
6. | “Sonkissie” is ’n nuutskepping, ’n woord wat die oorverteller geskep en wat ons nie in ’n woordeboek sal kry nie. Wat word met hierdie woord bedoel? Leidraad: lig, glans. |
7. | Hier onder verskyn twee kenmerke van volksverhale. Gee een voorbeeld elk daarvan wat ons in hierdie volksverhaal aantref (skryf ’n volsin in jou eie woorde): |
a) | Iets gebeur wat nie in die werklike lewe moontlik is nie. |
b) | Dit bevat ’n lewensles. |
8. | “Iemand is die sout van die aarde” beteken iemand wat dalk nie so briljant of aantreklik of magtig is nie, is nietemin waardevol en goed. Skryf een sin om te verduidelik hoekom dié spreekwoord op hierdie volksverhaal van toepassing is. |
9. | Wie het vir die prins beduie onder watter boom die sonkissie begrawe is? |
10. | “Geluk word ongeluk.” Hoekom is die teenoorgestelde van dié spreekwoord van toepassing op hierdie volksverhaal? Skryf een sin in jou eie woorde. |
Postaktiwiteit (verryking)
Skryf ’n paragraaf (120 tot 140 woorde) om iemand vir wie jy baie lief is dinge toe te wens wat vir hom/haar baie werd sal wees. Dit moenie iets wees wat baie duur is of moeilik is om in die hande te kry nie.
Die skoenmaker se kitaar
Linda Rode
Prelees – groepbespreking
Kyk na die illustrasie. Die kitaar lyk nie soos dié wat jy waarskynlik gewoond is nie. Dit is omdat hierdie verhaal uit die Portugese kultuur kom en dit is ’n tradisionele Portugese kitaar.
Die Portugese het ’n baie lang verbintenis met hierdie musiekinstrument, ongeveer van die vroeë 1800’s af. ’n Kitaar in die gesin word as ’n erfstuk beskou. Vir enige Portugese gesin sal dit hoogs ongewoon wees om só ’n familiekitaar te verkoop.
Die Portugese gebruik ook hierdie kitaar om iemand te begelei wat fado sing. Fado is ’n soort lied eie aan die Portugese. Dit is weemoedige liedere oor die see, armoede en die mens se lot. Jy kan op YouTube na heelwat fado’s luister.
Hou jy van kitaarmusiek? Hoekom? / Hoekom nie?
Watter emosie (gevoel) wek kitaarmusiek by jou?
Die verhaal
Eenmaal was daar ’n skoenmaker met ’n kitaar