Etienne van Heerden

Asbesmiddag


Скачать книгу

jou boeke en jouself te aanvaar in die nugtere besef dat jou boeke jóú skryf, en dat daar geen ontsnapping is nie.

      Die Romeine noem dit die fabula, hierdie lou skinderbrander wat argeloos heen en weer beweeg, nes ’n tropiese seestroom wat bamboese op en neer laat dein. Die koerante kan een ding skrywe, tyd­skrifte kan jou dalk ’n keer reg aanhaal, die uitgewer se bemarking-span kan hul beplande spin gee in die reklamemateriaal wat hulle uitreik, maar die fabula is ’n dier met ’n wil van sy eie. Dis ’n donker tier, sou jy kon sê, en hy sluip rond in die grootste van alle woude: dié van jaloesie en hongerte.

      Met ’n boek vars op die winkelrakke, is hy hom bewus van die geur van kollektiewe aptyt om hom. Hy kan dit ruik. En hy is gewillig om ’n bietjie meer te betaal om vir ’n wyle daarvan weg te kom.

      Google het blogs met sy naam begin optel; hy sit soos kougom onder die voetsole van die webtrappers vas. Op Wikipedia tik iemand snert oor hom in; dit sit ’n dag daar voor ’n ander anonieme skrywer die orde herstel. Hy word voor die mikrofoon vasgekeer deur joernaliste met hul eie agenda. ’n Nuuskierige gastehuiseienaar vra, toe hy op ’n boektoer moet oornag: “Is dit u eerste boek?”

      Onderhandelings met uitgewers en agente. Vertalers wat sy tong uit sy mond steel. Opsienemers by groot ateljees in die Moederstad se industriële hawegebied, vir films wat waarskynlik nooit sal gebeur nie. Mense wat finansieringscenario’s en subsidiemodelle skep wat sy vermoëns om te fabuleer ver oorskry.

      Hier by Giuseppe voel hy veilig. Hy hou van die haarkapper omdat hy vermoed dat Giuseppe in sy lewe nog nooit in ’n behoorlike boekwinkel was nie. Van ernstige literatuur weet hy g’n sout of water nie. Boeke is vir hom vreemd.

      Maria dink in romantiese terme. Vir haar is hy ’n skrywer van die liefde, en sy hanteer hom dienooreenkomstig. Hy geniet dit: die stoeiersliggaampie met die uitgepofte vlees, die honger klein hand­jies wat in sy nat hare wroet. Die dromerige oë terwyl ’n tenoor sing en Giu­seppe in sy gemakstoel op ’n kliënt wag en Sylvia uit is bank toe.

      Sylvia is van donkerder tint. Wat huidkleur betref, ja, maar hy verwys eintlik na haar geaardheid. Op ’n dag toe Maria ’n wyle uit was, het Sylvia gebieg dat sy in haar jeug by ’n masseersalon in die stad gewerk het. Masserings wat “met blygeit geëindig het”, soos sy giggelend aan hom vertel het terwyl Giuseppe op die foon was en Pavarotti die desibels opgejaag het.

      “Slim hande, Sylvia,” het hy opgemerk, en in die spieël het sy trots vir hom geglimlag terwyl hy verby sy snor na haar lê en kyk het. Sy was agter die wasbak, leunend oor die toonbank, en hy kon die areol­as van haar borste deur haar bloes sien.

      Hy kan begeerte en verlies in Sylvia aanvoel, ’n donker gleuf wat by tye oopmaak wanneer sy hom vertel van haar ervarings in wat sy noem “gangsterland”. Alles het gebeur toe sy bloedjonk was, en terwyl sy praat oor afmakery en lyke op karsitplekke en bloed op lemme word haar hande in sy hare al angstiger en grou sy dieper en dieper in sy kopvel.

      Ná een so ’n intense sessie skroei sy sy kopvel met ’n spuitkop warm water en toe hy kla, lyk sy vreemd gedissosieerd en versteurd.

      Hy glo nie al haar stories van bloed en verspilde derms nie, maar soms is hy nogals ontstig deur haar fantasieë van besoeke aan lykshuise nadat die vreeslikste misdade gepleeg is.

      Nieteenstaande lê hy meestal geboeid onder Sylvia se hande.

      Maar vandag neem Giuseppe sy hand en deel hom mee dat die Doktor ongesteld geraak het – hy had ’n episode kort nadat hy die vorige week die salon verlaat het. Niemand is seker wat presies die aard van sy ongesteldheid is nie, maar die riemtelegram wil dit hê dat die Doktor vinnig agteruitgaan.

      Dis waarskynlik, besef die skrywer, die opmerking van die sjampoe-assistent wat die Doktor ’n knou gegee het. Ook Giuseppe moet dit kennelik weet.

      Hulle swyg egter, want albei weet dat die fabula op die dorp brom soos ’n swerm bloubrommers. Hoofsaaklik oor hierdie vraag: Wat gaan gebeur met die magnaat se fabelagtige fortuin wanneer hy heen­gaan?

      “En waar is sy vandag?” vra hy tog later, met verwysing na die gewese skoendametjie wat haar voet die week vantevore verkeerd gesit het.

      Giuseppe is kortaf. “Sy durf nie so met my kliënte praat nie.”

      Die skrywer torring nie verder nie, maar hy sien oorwinning in Sylvia se oë glinster.

      Hy verander liefs die onderwerp. “Giuseppe, as jy die Doktor se geld gehad het, wat sou jy daarmee doen?”

      Giuseppe antwoord blitsvinnig; dis duidelik dat hy al voorheen daaroor nagedink het.

      “Ek sal Ferrari uitkoop,” sê hy. “Daar is geen ander maatskappy nie, Professore.”

      Giuseppe bied hom ’n koppie koffie aan tesame met ’n Italiaanse beskuitjie wat hy die vorige aand self gebak het. Hy verduidelik aan die skrywer hoe hy die neute versigtig by die deeg ingevou het.

      “En jy, Sylvia?”

      Sylvia het eweneens dadelik ’n antwoord reg. “Ek vat ’n makeover,” sê sy. “Soos op TV.”

      “Wat maak jy dan oor, Sylvia?” vra Giuseppe guitig. Dit ontgaan Maria nie.

      Sylvia lig haar hande na haar borste. “Alles.”

      Die skrywer draai na Maria. “En jy, Maria?”

      Haar woorde is aan hom, maar is eintlik gerig aan Giuseppe. “Ek sal ware liefde koop,” sê sy en gooi ’n skalkse blik na die skrywer.

      ’n CD word uitgesoek en begin speel. Verdi, L’Elixir d’amore.

      “En jy, Professore?” vra Giuseppe. “Wat sal jý koop?”

      “Ek wil nie geld hê nie. Ek benodig verrassings, elke liewe dag van my lewe. As geld verrassings vir my kan koop, dan vat ek die geld. Maar ek dink eintlik geld kan net konvensie koop. Geld is net belangrik as jy dit nié het nie. Wanneer jy dit eers het, is dit van geen belang nie.”

      Hy het dit oor die radio gehoor.

      “A!” sê Giuseppe. “Die Professore is reeds ’n ryk man!”

      “ ’n Skrywer, Giuseppe? Ryk?”

      Sy skrywersgenerasie is anders as die jonges deesdae, wat in die gety van materialisme totaal openlik is oor hul geldlus. In sy tyd het hulle geld ontken. Sý geslag het ontkiem in die teenkultuur van die 1960’s, en het in mindere of meerdere mate geflankeer met die Marxisme. Woodstock, hippies, flower power. Vir hulle – so sê hulle altyd – stink geld. Alhoewel hulle natuurlik vies is vir diegene wat dit wel het, en jaloers is daarop.

      “Watter soort verrassings?” vra Maria waar sy die botteltjies sjampoe en invryfmiddels aan die rangskik is.

      “Onverwagse eindes. ’n Woord wat ek nooit kon voorspel het nie. ’n Karakter wat skielik ’n groot sprong gee.”

      “Jy lieg, Professore,” sê Giuseppe skelm. “Almal wil geld hê. En ook jý wil die Doktor se geld hê.”

      Dit sou in orde gewees het as hy dit grappenderwys gesê het, maar ondanks sy ligte aanslag sien die skrywer ’n harde en bitter trek om Giuseppe se mond.

      Miskien, dink hy, hou Giuseppe glad nie van my nie. Eenvoudige mense soos hy vind mense soos ek dikwels pretensieus. En dalk ís ek. Maar ek voel nogtans dat hy nou te ver gegaan het.

      Hy sit onder die Italianer se skêr met sy hart wat in sy bors hamer. Die dolksteek is nie die akkurate waarneming dat geld vir almal, ook vir hom, die skrywer, belangrik is nie. Nee, dis eerder Giuseppe se stemtoon en die kyk in sy oog.

      Daarmee verloor die skrywer hierdie veilige hawe, waar die rolle tot nou toe versigtig gedefinieer was.

      Miskien, dink die skrywer, sien Giuseppe opera in alles wat hier gebeur. Met sy Sisiliaanse bloed en straatslim kennis van die wêreld is hy nogtans deurdrenk met Italiaanse musiek. Hy ken sy opera goed; vir hom is opera klaarblyklik soos die sepies waaroor Sylvia en Maria graag klets. Dalk dra ons verf aan ons gesigte, en is Sylvia se hande rooi