Orpen. Ek kry ’n groot leeumannetjie wat waak oor ’n buffelkarkas. Ek bly omtrent ’n uur daar en kyk hoe hy jakkalse en hiënas verjaag. Dan ry ek aan.
Skielik storm ’n trop olifante oor die pad. In ’n oogwink is hulle weg. ’n Entjie verder storm nog ’n trop voor my verby. Ek hou stil. Meer olifante is in aantog. Hulle is duidelik ontsteld. Ek wag dat hulle voor my oor die pad gaan. Toe hoor ek ’n bekende klop-klop-geluid. Ek klim uit en gaan staan agterop die bakkie.
Bo die boomtoppe sien ek ’n blou-en-wit helikopter. Ek besef hulle is besig met olifantuitdunning. Min het ek geweet dat ek jare later self daarby betrokke sou wees. Baie water sou egter eers in die see moet loop.
Oor naweke in die rondawel raak dinge plesierig. Ek en Deon knoop ’n reeks verhoudings met die hoërskoolmeisies aan. Soms raas ons tot laat. Elke nou en dan moet die kampbestuurder ons kom stilmaak. Die toeriste kla. Ek en Deon ontwikkel ’n reputasie.
Eendag loop ek twee technikonstudente in die kafeteria raak. Hulle dra veldwagteruniforms. Ons begin gesels. Wayne Vos en Ross English is besig met hulle praktiese jaar. Hulle doen ’n diplomakursus in natuurbewaring by die Tech. In die derde jaar werk jy as studentveldwagter in een of ander wildtuin. Die beste studente gaan gewoonlik Krugerwildtuin toe. Hulle is tans besig met weidingevaluasies en hulle nooi my saam veld toe.
Toe ek teen laatmiddag saam met hulle terugkom, is my besluit geneem. Ek moet natuurbewaring gaan studeer. Ek moet veldwagter word.
Ek vertel dit vir Deon. Hy gaan volgende jaar weermag toe. Ek het dit ook oorweeg, want my been het mooi aangesterk. Maar nou weet ek. Ek kan nie meer wag nie. Ek moet ’n lewe in die veld hê. Natuurbewaring is die enigste rigting vir my.
Ons is weer saam met Danie en Con by die visvanggate. Ons drink te veel bier en whisky. Dinge raak buite beheer. Teen laatmiddag jaag ons terug in Danie se Volla. Ons gooi donuts op die grondpad. Toe gooi ons donuts op die teerpad. Ons besluit om ’n paar esse te gaan kap in Skukuza se kampterrein. Juigend en jillend jaag ons die ruskamp binne. In ’n stofwolk gooi Danie ’n drie-sestig in die karavaanpark. Oorblufte kampeerders kyk op van hulle braaivleisvure. Met die wegjaag vang Danie ’n draai te fyn. Die Volla se agterbuffer haak ’n tenttou. ’n Karavaan se sytent word uit sy voerings geruk en saamgesleep. Kampstoele, tafels, koelbokse en kosbakke spat in alle rigtings. Die toeriste skel en skree.
Daardie aand klok Deon dronk by die restaurant in. Hy struikel oor ’n stoel en skouer ’n kelner uit die pad. Die kelner dra ’n vol tafel se hoofgereg en stort borde vol warm kos oor die mense. Twee dae later is Deon Roodt uit die wildtuin. Die laaste wat ek van hom hoor, is toe hy my bel voor hy inklaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn.
Toe roep Skukuza se veldwagter my in. Hy wil weet van die dagga wat daar in die rondawel gerook word; ’n skoolmeisie het dit gerapporteer. Ek ontken enige kennis daarvan. Hy lyk onoortuig. Hierdie veldwagter was ’n streng man. Almal was bang vir hom. Hy kyk my stip aan.
“Jy en Roodt het net kom moeilikheid maak hier. Julle is ’n slegte invloed op die wildtuin se kinders. Hier glo ons nog aan waardes en beginsels. Julle het julle stadsmaniere wildtuin toe gebring.”
Voor ek loop, vra ek: “Ek gaan volgende jaar natuurbewaring studeer. Ek wil ’n veldwagter in die wildtuin word. Staan ek ’n kans?”
“Solank ek veldwagter in die Krugerwildtuin is, sal jy nooit hier werk nie,” kom sy antwoord kort en saaklik.
Ek sou ’n paar jaar later weer van hierdie veldwagter hoor.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.