weet sy, maak eerder van jou die prooi in die jaglig se straal. Daar bly jy skrikoog sit, botstil voor die skietlamp, en jy wag vir die skoot om te klap.
Jy’s lam.
En hierdie probleem lyk vir haar na so ene.
Een wat die tyd gaan laat stol; een waarom die stories gaan bly draai en draai, net omdat dit ’n stilte en verskrikking van sy eie het.
“Kom ons ry, my seuntjie.”
Knorrend in sy eie stof wat hom by die driffies van agter inhaal en oor hom uitsif, hop die Morrissie terug Lord Milner toe. By die Engelse soldate se kampplek verby, waar die geroeste boeliebiefblikkies se deksels nog ’n honderd jaar ná die oorlog gesaai lê, verby die verknotte ou peperboom waar Olive Schreiner glo uit eie beweging haar hand aan Cecil John Rhodes gebied het en agterna, nadat hy haar aanbod van die hand gewys het, smoorkwaad teen sy Empiredrome gedraai het, daar waar die swart kat nou skuilhou. Oor die spoor en tot by die hotel. Wip-wip, met Tattie wat snuiwend langs haar sit.
Daar staan hulle al. Voor die hotel. Beduie, soos sy verwag het, na links, na regs, na mekaar, na ver, na naby, na noord, na suid; na gister en sy gisters voor hom, na môre ook, en oormôre. Na hul eie voorspellings en vrese staan hulle en vinger wys, die Karoomense. Na mekaar wys hulle, maar nooit na hulself nie. Só ken sy hulle.
“Die gediertelorrie het Snaartjie opgeraap, haar viool daarmee saam, o roep Sy naam . . .”
Die Wederdopertaal ontgaan Miss Edelweiss nie. Soos die opwinding na die Suiderkruisderby opbou, kom die kerktaal ook by. Dis elke jaar se ding. “God het ’n wil van sy eie,” waarsku die pastoor Sondae, “en duiwedobbel is ’n gekansvattery met wind en weer. God en die wedvlugduif sit nie op dieselfde nok nie.”
Eers stop sy uit die cubbyhole van die Morrissie ’n pepermentjie in Tattie se nat hand en troos: “Ons kry die kind terug, moenie kommer nie,” en sy staan voor die mense.
Daar is Freddie Portier, entertainment manager. In sy wit handskoene, met sy pluiskeil en sy houding wat die maniertjies van ’n koloniale onderoffisier, ’n butler en ’n lekeprediker kombineer; Freddie wie se lyf saans in die bad blou raak, soos hy self graag vertel, want sy oupa was wit en van Skotse bloubloed, ’n offisier van die seinregiment wat daar gekamp het waar die roesblikkies vandag nog lê.
Freddie gee nou hoog op: “Hoe weet ons daai trok swaai nie af van die N1, uit Montagu se kant toe nie? Ons moet Touwsrivier se konstabels laat weet; hulle moet die smokkelaars voorkeer voor hulle daar by die squatter shacks op De Doorns aankom; netnou verdwyn die kind tussen al daai blikplate en vure. En wie sê hulle’s nie klaar op pad Cereskaroo toe nie?”
Daar hoor sy al: “die smokkelaars”. Daar gaan ons, dink Miss Edelweiss.
“En wie sê hulle is smokkelaars?” Sy staan in die kringetjie wat verontwaardig daar drom en stoom. Sy ruik hotelpolitoer en seep, pyptabak en stof.
“Hulle’t die kind bedwelm met chloroform!”
“Die viool is saamgeraap!”
“Wie’t dit gesien?”
“Hulle’t ’n doek oor haar oë gespan en sy’s tussen die diere agterin ingegooi. Jirre!”
“Hulle gaan die viool saam met maskers op die mark smous!”
So gaan die stemme op. Met die noem van die viool wil hulle haar natuurlik betrek by hul ontsteltenis.
“Wie’t wat gesien?” vra Miss Edelweiss vir die kelnerinne in hul gestyfde uniforms en hul fraai kappies en hul dun koperhande. Hier is te veel skrik, sien sy. Hier is nie rede nie.
“Wat het regtig gebeur?”
Maar voor die huise daar op die kale vlakte, op die hotelstoepe, voor die poskantoortjie en daar op die stasieperron, loop die stories al. Sak die verhaal neer. Vreet die gerug oor die verdwyning van Snaartjie, die vioolkind, sy eie brandpad oop. Kry die storie mondjies.
En al maak jy watter vuur daarteen, die swerm sal hoër uitwolk, styg soos ’n tyding en oor die vlamme kom, en jou lakens van jou bed en jou gordyne voor jou vensters skoonvreet.
Jy sal kaal staan teen die wind.
Miss Edelweiss se blou oë staan wyd soos sy dit insien, oombliklik.
Ek, dink sy – en dis soos ’n voorbode – ek is die een wat kaalgevreet gaan word, nes daardie Sutterlandse pastoor op sy fiets.
En sy onthou die dag toe die viool opgedaag het.
*
Die viool het skaam gelyk daar waar dit op die plaveisel voor die hotel bly lê het nadat die motor met die man en vrou en seun vort is.
“Die wees viool,” sou Matjiesfontein se mense later sê, toe die hele treurige besigheid agter die rug was en mense met die insig van tyd kon terugkyk en vasstel: “Ja, dis waar dit begin het, daardie dag van die verlore viool, bloots agtergelaat daar op die grond.”
Met sy strykstok daarnaas het die viool op ’n gevaarlike plek gelê. Motors wat warm gery oor die paaie van die Groot Karoo aangekom het, het daar kom stilhou. Die karre kom ingewaai van die langpad en ken hul eie spoed nie. “Stadsmense, sonder sinnigheid.” So waarsku die Matjiesfonteiners altyd hul kinders, wat graag op die oop parkeerplek voor die hotel speel en voorruite vir ’n fooitjie skoonvee. Hulle is opgehits, daardie karre. Suf gereis. Warm lug deins bo die enjinkappe. Die wiele druis oor die gruisklippertjies.
Jy moet eenkant staan en respekte hê vir ’n wye wêreld aan die twee punte – weerskante – van die langpad, van die N1 Kaapstad en Johannesburg toe.
Jy moet jou engtes ken. So praat die Matjiesfonteiners in helder oomblikke oor hulself, oor die inkommers, die karre, en oor die afstande wat alom wyk.
Met die inry kyk die reisigers na die ry skakelhuisies en verwonder hulle aan die broekieskant van Tweedside Lodge. Hulle sien die peperbome, die gemesselde watervoor, die koffiehuis. Daar is, opvallend, die Laird’s Arms-kroeg en die ou poskantoor met sy heining van kartelyster. Die ou ligpaal uit Londen ingevoer. En snags, in die donker, die vlerkgeklap van verdwaalde posduiwe wat oor die afstande van vlaktes en jare aankom en in die donkerte ’n nok vir die voet probeer vind.
Want Matjiesfontein staan in die nêrens van jare. Dinge kom hiernatoe aan, en dinge gaan hiervandaan weg. Die treinspoor verskiet noord en suid, grondpaadjies waaier kronkelend na leegtes en bulte, of verskiet beslis, geteer en blinkgery, na noord en suid.
Wat bly, is die duifswerms wat bokant die dorpie se dakke in die oop lug uitwaaier en altyd weer terugkom, asof so ’n swerm ’n vlieër is met ’n draad vasgeanker aan die grond.
Ook die tyd kom en gaan, draai en keer terug, en later is jy nie meer seker wat verby is, wat nog aan die gang is of wat voorlê nie. Dis hoekom die mense agterna so gestry het oor wat presies wanneer met Snaartjie gebeur het.
En of dit wél gebeur het.
Die aangesig van die Lord Milner Hotel verras inkommers. Met sy wapperende vlae en sy gesig in die wind, is die hotel iets tussen ’n kasteel en ’n Victoriaanse fort. Regs, met die inkom, lê die stasiemuseum met sy opgestopte poppe in swierige hoepelrokke en onderbaadjies, ou telegraafmasjiene en koperklokke, en dan is daar die treinspoor wat na weerskante in die vertes van die halfwoestyn verloop.
Vir baie besoekers lyk dit na ’n rolprentstel – iets wat Amerikaners hier langs die N1 Noord kom opstel het en agterna, as die storie vertel is, weer sal aftakel.
’n Inkomende motor sou die viool dus maklik kon miskyk en mens sou jou die melodieuse sug van snare en hout kon voorstel wanneer warm rubber daarmee klaarspeel. Maar gelukkig sien ’n gas vanaf die balkon op die eerste verdieping die viool lê. Hy beduie na die deurwag, Freddie Portier, wat by die hotelingang staan maar weens ’n hekpilaar wat sy uitsig versper, die viool en strykstok nie sien nie.
Met sy wit handskoene – die “vlekkelose handskoene”, soos hy self graag sê – stap hy verby die ingangspilare, tree oor die bruggie by die messelvoor, en