Deon Meyer

Proteus


Скачать книгу

      Deon Meyer

      PROTEUS

      Human & Rousseau

1984

      Hy staan agter die Amerikaner, byna teen hom in die ingehoktheid van die moltrein. Sy gedagtes is ver, by ’n plek aan die Transkeise kus waar die branders reusagtig en donderend breek.

      Hy dink aan die rotspunt waar hy kan sit en kyk hoe die deinings in gelid aanmarsjeer oor die Indiese Oseaan, in verwondering oor hul reis, oor die groot, eensame afstand wat hulle aflê om hier hulself oor die klippe van die Donker Kontinent te kom te pletter loop.

      Tussen die stelle branders is daar ’n perfekte stilte, sekondes van absolute kalmte, wanneer hy die stemme van sy voorvaders kan hoor – Phalo en Rharhabe, Ngqika en Maqoma. Sy stamboom, sy herkoms, sy toevlugsoord. En hy weet dit is waarheen hy sal gaan wanneer sy tyd kom, wanneer hy die lang lem sal voel en die lewe uit hom syfer. Hy sal teruggaan na daardie oomblikke tussen die ontploffings van klank.

      Hy trek sy bewussyn terug, stadig, amper versigtig. Hy sien hulle is minute van die St. Michel Metro-stasie, hy leun af, net ’n halwe kop, na die oor van die Amerikaner, sy lippe naby, soos dié van ’n minnaar.

      “Weet jy waarheen jy gaan wanneer jy sterf?” vra hy in Engels, sy stem ’n basviool van swaar, vreemde aksent.

      Die vyand se nekspiere verstyf, die breë skouers beur effens na vore.

      Hy wag, kalm, vir die man om om te draai. Die moltrein is ’n oorvol drukgang. Hy wag om die oë te sien. Dit is die oomblik waarna hy smag, hierdie konfrontasie, hierdie neerwerp van die strydbyl. Dit is sy roeping, sy instink, sy volbringing – hy is ’n kryger van die vlaktes van Afrika, elke sening en spier geweef en gebrei vir die oomblik. Sy hartklop het versnel, die sappe van oorlog is afgeskei, die waansin bruis deur sy bloed.

      Eers die lyf wat voor hom draai, sonder haas. Dan die kop, dan die oë. Hy sien ’n valk daar, ’n roofdier, geen vrees nie, selfvertroue, geamuseerd, hoeke van die dun lippe opwaarts beurend, sentimeters uitmekaar, ’n eienaardige intimiteit.

      “Weet jy?”

      Die oë wat na hom terugkyk.

      “Want jy is amper daar, Dorffling.” Hy gebruik die naam met minagting, die finale oorlogsverklaring wat sê hy ken sy vyand, hy het die opdrag aanvaar, hy het die dossier bestudeer, hy het die agtergrond gememoriseer.

      Hy sien geen reaksie nie, die oë steeds lui. Die moltrein se snelheid neem af en hulle hou stil by St. Michel en hy sê: “Dit is ons stasie.” Die Amerikaner knik en beweeg. Hy volg hom, net ’n tree agter, op met die trappe, op, op, tot in die warm somernaggewoel van Parys se Latynse Kwartier, en dan hardloop Dorffling op met die Boulevard St. Michel, in die rigting van die Sorbonne. Hy weet die prooi kies bekende terrein. Sy lêplek is daar, net om die hoek van die Place du Panthéon. Sy arsenaal, sy lemme en wurgdrade en vuurwapens. Maar hy het nie verwag dat hy sou hardloop nie, gedink die ego sal te groot wees. Sy respek verdiep vir die oudseesoldaat, nou CIA-laksman.

      Sy eie liggaam reageer en die ingehoue adrenalien ontplof. Bene wat die groot lyf gemaklik voortdryf, ritmies, tien, twaalf tree agter Dorffling. Parysenaars se koppe wat draai. Wit man voor, swart man agter, oervrees in hul oë.

      Die Amerikaner draai skielik af in die Rue des Écoles, regs in die Rue St. Jacques. Hul voeteval eggo teen die mure in die stegies van die Universiteit, verlate in die Augustus van studentevakansie. Die eeue oue geboue is somber toeskouers, die nagskaduwees is diep. Hy versnel sy pas, haal Dorffling met lang, sekure hale in. Nader, nader, by hom, skouer hom. Die Amerikaner val geluidloos teen die sypaadjie, staan in een beweging weer op, vooroor, gereed.

      Hy haal die kort assegaai agter sy skouers uit die skede wat teen sy rug lê. Kort steel, lang lem.

      “Mayibuye,” sê hy sag.

      “What fucking language is that, nigger?” Skor stem, sonder infleksie.

      “Xhosa,” sê hy, klik sy tong. Die mure kaats die skerp klank terug. Dorffling beweeg, behendig, ’n leeftyd se ervaring in elke skuif van sy voete, soekend, metend, toetsend, om en om, die kleiner wordende sirkels van ’n ritmiese doodsdans. Aanval, onmeetbaar vinnig, en voor die knie hom in die buik kan tref, is sy arm om die Amerikaner se nek en die lang dun lem deur die borsbeen en hy hou hom so teen hom vas, die ligblou oë wat in syne staar.

      “Am-sing-gelli?” sê die seesoldaat.

      “Umzingeli,” korrigeer hy knikkend die uitspraak. Sag, met respek vir die proses van die dood. Vir die gebrek aan smeking. Vir die stille aanvaarding daarvan. Hy sien die lewe wat uit die oë vloei, die kleur wat verdoof, die hartklop wat verlangsaam. Die asemhaling is rukkend, rukkend. Dan stil.

      Hy laat die liggaam sak, voel die groot, harde spiere van die man se rug sag word, en lê hom saggies neer.

      “Waarheen gaan jy? Weet jy?”

      Hy vee die assegaai aan die man se T-hemp af, en plaas dit stadig terug in die skede.

      Dan draai hy om.

Maart

      1

      Transkripsie van ondervraging van Ismail Mohammed deur A.J.M. Williams, 17 Maart, 17:52, Suid-Afrikaanse Polisiedienskantoor, Tuine, Kaapstad.

      W: Jy wou met iemand van Intelligensie gepraat het?

      M: Is jy?

      W: Ek is, mnr. Mohammed.

      M: Hoe weet ek dit?

      W: Jy neem my woord daarvoor.

      M: Dit is nie goed genoeg nie.

      W: Wat sal goed genoeg vir jou wees, mnr. Mohammed?

      M: Het jy identifikasie?

      W: Jy kan hierna kyk as jy wil.

      M: Departement van Verdediging?

      W: Mnr. Mohammed, ek verteenwoordig die Staat se Intelligensiediens.

      M: NIA?

      W: Nee.

      M: Geheime Diens?

      W: Nee.

      M: Wie?

      W: Die een wat saak maak.

      M: Militêre Intelligensie?

      W: Ek vermoed daar is iewers ’n misverstand, mnr. Mohammed. Die verduideliking wat ek gekry het, is dat jy in die knyp is en jou posisie wil verbeter deur sekere inligting te verskaf. Is dit reg?

      [Onhoorbaar.]

      W: Mnr. Mohammed?

      M: Ja.

      W: Ja, dit is reg?

      M: Ja.

      W: Jy het vir die polisie gesê jy sal die inligting net aan iemand van die Intelligensiedienste verskaf?

      M: Ja.

      W: Dan is dit nou jou kans.

      M: Hoe weet ek hulle luister ons nie af nie?

      W: Volgens die Strafproseswet moet hulle jou waarsku voor die polisie ’n opname van ’n ondervraging mag maak.

      M: Ha!

      W: Mnr. Mohammed, is daar iets wat jy vir my wil sê?

      M: Ek soek vrywaring.

      W: O?

      M: En die waarborg van vertroulikheid.

      W: Jy wil nie hê Pagad moet weet jy het gepraat nie?

      M: Ek is nie lid van Pagad nie.

      W: Is jy lid van Moslems Against Illegitimate Leaders?

      M: Illegal Leaders.

      W: Is jy lid van MAIL?

      M: Ek soek vrywaring.

      W: Is jy ’n lid van Qibla?

      [Onhoorbaar].

      W: Ek kan probeer om namens jou te onderhandel, mnr.