Elsa Winckler

Tydlose liefde


Скачать книгу

spook by my venster was dit ’n heerlike, rustige nag? Hulle sal dink sy is stapelgek. Maar dalk moet sy uitvra oor die vrou.

      “Ek het die vreemdste droom gehad. Ek kon sweer –”

      “Môre, Ma,” sê Lukas agter haar en sy draai verlig om. Dalk beter om maar niks te sê nie.

      “Julle al klaar geëet?” vra Lukas. Hy het iets in sy hand.

      “Nee, Lukas, ons gaan nou net aansit. Jy hoef nie bekommerd te wees dat die kos op is nie,” lag sy ma.

      “Kalinda, ek het dit buite jou rondawel opgetel, is dit joune?” vra hy en hou iets na haar toe uit.

      Kalinda kyk af na Lukas se hand. Sy stem klink veraf. Haar hand beweeg asof vanself uit en vou om die voorwerp wat hy vashou. Dis ’n wit kantsakdoekie. Soos die een wat in haar motor was. Soos die een wat die vrou wat gisteraand by haar venster was, vasgehou het. Dan beteken dit sy hét die vrou gesien, dit was nie ’n droom nie. Haar bedliggie was ook af vanoggend. Sy onthou nie dat sy dit afgeskakel het nie. Wie sou dan … ?

      “Daar was ’n vrou … Gister op die pad, en gisteraand by my venster … ” prewel Kalinda, haar oë wyd oopgesper. Sy het alle lewe in haar bene verloor. Verskrik kyk sy in die rondte. Sy sak neer op die naaste stoel, die sakdoekie nog toegevou in haar hand. Haar hart klop so onstuimig, sy’s bang dit spring uit haar borskas.

      “Nou toe nou, wil julle vir my sê Sannatjie loop weer hier rond ná al die jare?” vra Lukas met ’n lag in sy stem. “Kalinda, lyk my jy’t ons plaaslike spook weer opgejaag.”

      “Spook?” vra Kalinda met ’n baie effense stemmetjie. Is sy nou wakker, droom sy, is sy besig om heeltemal mal te raak? Wie is hierdie mense en wat op aarde gaan hier aan? Niemand anders lyk ontsteld nie.

      “Ja, jong, ons geweste spog met ons eie, vreemde spook. Een soortgelyk aan die spook waaroor die mense by Uniondale praat. Daar word mos ook altyd vertel van die vrou wat so langs die pad staan en –”

      “Lukas, kry end,” sê sy ma vinnig. Sy stap tot by Kalinda en gaan sit langs haar. “Die kind is eintlik bleek. Kalinda, wat het gebeur? Vertel ons wat jy gesien het.”

      Kalinda kyk verdwaas na haar. “Wel, laat gistermiddag, dit was al skemer, het ek ’n vrou opgelaai. Altans, ek het so gedink. Maar toe, die volgende oomblik … ”

      “ … is sy weg?” sê-vra Lukas. Hy staan belangstellend nader. “Ons het al die stories gehoor. Ma, het jy dan nie ook al vir haar gesien nie?”

      Tant Madaleen glimlag. “Ek het. Baie lank terug.”

      Lukas knik sy kop. “Ek het gisteraand weer vir die eerste keer in ’n lang tyd daaraan gedink. Toe Kalinda vertel van die Kanadese verpleegsters … ”

      “Wat lawaai julle so vroeg in die oggend?” vra die oom van die deur af. Hy stap nader.

      “Sy’t haar gesien, Zacharias. Gister.” Die tante glimlag.

      “Haar, watter haar?” vra die oom, uit die veld geslaan. Hy kyk na Lukas en sy vrou en dan begin ’n glimlag stadig om sy mondhoeke sprei. “Sannatjie? Regtig? Ek het aangeneem sy het haar rus gekry. Jy was tog die laaste persoon wat haar gesien het, dan nie?”

      “Nie dat ons ooit veel uit Ma kon kry nie,” lag Lu­kas. “Ma glimlag net altyd as iemand daarna verwys.” Hy beduie na haar gesig. “Kyk, dis al wat sy doen: lyk ewe vroom.”

      Die oom en tannie kyk vir mekaar. “Dit was so lank terug, en sover ek weet, het niemand haar weer daarna gesien nie. Ek kan nie onthou wanneer laas iemand oor haar gepraat het nie, en ek weet ook nie van iemand wat haar gesien het sedert … ” Sy kyk skalks op na haar man. “Wel, sedert veertig jaar gelede nie,” sê die tante en kyk weer na Kalinda. “Tot gister. Ek het nogal gewonder toe jy so verdwaas lyk.”

      Is sy nou skielik op ’n ander planeet? Kalinda skud haar kop. “Wat gaan aan?” vra sy verbouereerd.

      Die tante gee haar hand ’n drukkie voordat sy opstaan. “Dit was vir my so interessant toe jy gisteraand vertel dat jy vir ’n Anglo-Boereoorlogstigting in Kanada werk. Die vrou, die een wat jy gesien het? Daar word vertel dat sy Susan Mayers is of was, ek weet nie eintlik hoe om te sê nie. Sy was een van die eerste agt verpleegsters wat saam met die einste Kanadese soldate waarvan jy gisteraand gepraat het, Suid-Afrika toe gekom het. Sy was deel van die Engelse mediese personeel wat tydens die Slag van Paardeberg by die veldhospitaal gewerk het. Kan jy dink ’n jong meisie van daardie tyd het huis en haard net so agtergelaat om hiernatoe te kom? Hulle kon mos nie weet waarvoor hulle hulle inlaat nie.”

      “Verpleegster … ” prewel Kalinda, en sy onthou die iets wat haar gisteraand bly ontwyk het. “Dit verklaar haar uitrusting – sy het so ’n kappie-ding op haar kop gehad,” sê sy en beduie hoe dit gelyk het. “En sy het … ”

      “ … ’n oorrok aangehad, ’n soort voorskoot?” sê-vra tant Madaleen.

      Verward knik Kalinda. “Hoe is dit moontlik, tannie? Spoke, geeste, sulke goed bestaan mos nie?” Sy vryf oor haar arm. Sy is koud tot in haar murg.

      Tant Madaleen lag saggies. “Wel, hartjie, ek het haar gesien, jy het haar gesien … ”

      “Hoekom nou weer ná al die jare aan my verskyn?” vra Kalinda heeltemal oorstuur terwyl sy haar arms styf om haarself vou.

      “Wel, die storie wil dit hê dat sy en haar Boereminnaar afgespreek het om mekaar ná die oorlog te ontmoet. Net daar waar die Modderrivier ’n draai maak. Waar die Slag van Paardeberg plaasgevind het. Sy het glo aan die verkeerde kant van die rivier vir hom gewag. Toe hy haar sien, het hy die vol rivier summier probeer oorsteek. Maar dit was tydens groot reëns, die rivier was in vloed. Die stroom was te sterk. Daar word vertel dat toe hy skielik deur die water meegesleur word, sy ook ingespring het. Daar is twee grafte naby die draai van die rivier, dis glo hulle s’n.”

      “En van toe af, so vertel die mense,” sê die oom en vat ’n sluk koffie, “verskyn sy aan sekere mense. Dié wat haar gesien het – jy kan maar my vrou vra – reken sy’t iets op die hart, maar niemand kon nog uitvind wat dit is nie.”

      “Hoe bedoel oom?” vra Kalinda.

      “Wel,” begin tant Madaleen, “dit lyk asof sy huil – ek weet nie of jy dit ook gesien het nie?”

      Kalinda knik en die tannie gaan aan. Sy beduie na die sakdoekie in Kalinda se hand.

      “Sy hou so ’n sakdoekie vas, styf vas, en dis asof sy vir ’n mens iets wil sê, iets wil beduie, maar … ” Tant Madaleen bly skielik stil en tuur ’n paar oomblikke voor haar uit. “Wag net gou,” sê sy dan en stap vinnig uit die vertrek.

      “Ek het nog altyd gewonder hoekom ons Sannatjie huil,” sê Lukas. “Sy sterf saam met haar geliefde. As hy nou sáám met haar oor die veld rondloop en spook, soos Brontë se Heathcliff en Catherine, kan ’n mens dit nog verstaan, maar sy is hartseer en soek na iets of iemand anders as haar geliefde. Da-da da-da dum,” maak hy sy stem diep. “Die misterie verdiep.”

      “ ‘I have to find him.’ Dis wat sy gesê het. Van wie sou sy gepraat het?” vra Kalinda.

      Tant Madaleen kom al prewelende terug in die vertrek.

      “En nou, vrou, as jy so met jouself loop en praat?”

      Die tannie beduie na die sakdoekie wat Kalinda nog steeds in haar hand vashou. “Ek het ook so een gehad. Sy’t dit ook op die sitplek van my motor gelos. Ek het dit in my kas gebêre. Dit was nog al die tyd daar, ek het net nou die dag weer daarop afgekom. Maar nou is dit weg. Ek het orals gesoek.”

      Kalinda maak haar oë vir ’n oomblik toe en trek haar asem diep in. Dan staan sy vinnig op. “Wel, ek het werk om te doen. En of daar nou spoke hier rondloop of nie –”

      “Spoke? Het iemand weer vir Sannatjie gesien?” vra Zach terwyl hy instap.

      Lukas wink hom nader. “Jy moet kom luister, Kalinda het haar gesien.”

      “Regtig?”