ion>
Somersneeu
Helene de Kock
Human & Rousseau
Vir my kinders – Herman en Emmie en Sylvia
En kleinkinders – Hanna en Emma
But no one really knows Africa.
– Lawrence G. Green
2010 April
In Afrika is die nag nooit stil nie, dink hy loom.
Die dag nog minder.
En die lewe die minste.
Die lewe gaan snags bloot ondergronds en slaap is net ’n bolangse saligheid. Iemand, of iets, is altyd wakker. Die nagwind sugtend al om die huis, die krakerige inkrimping van muur en plafon, die swaar kreun van een van die groot honde wat iewers op die stoep lê. Die roeringe in die kraal waar die paar melkbeeste gehou word. Die meer gedempte woelinge by die werkershuise teen die hang waar van die kleintjies in die vroegherfs al klaar deur kroep geteister word en koolstofies byna deurnag gestook word om die knyp uit die lug te haal. Die uile wat met eentonige reëlmaat op die nok van die dak kla, muise en klein diere wat ritselend skarrel. Hy verbeel hom hy ruik muishond toe die wind deur die venster stoot.
Nou en dan is daar ’n delikate verposing, wyk fyn klanke en growwer geluide asof dit suutjies deur die bries weggedra word. Dán is dit stil. Asof opstal en werf en berge ’n oomblik asem ophou, en die hemelruim laer afsak. Dan lig die sfere weer hoër en sypel die wêreld en sy gedruis opnuut onkeerbaar binne.
Hy kry lag vir homself. Soms dink hy nes ’n vrou, so dromerig. Sy eie vrou dink hy peins te veel en te diep. Dit maak mens saf om te dikwels te filosofeer, meen sy, maar glimlag darem as sy dit sê. Hy draai op sy ander sy en sug ligweg.
Dis ’n feit dat die nag aan die roer bly.
En hy ook.
Hy draai onrustig terug op sy rug, maar sag sodat hy haar nie steur nie. Die laaste paar nagte het hulle min geslaap met dié dat die kind ook hoeserig is.
Soos altyd, veral as hy tussen indommel en wakker huiwer, beleef hy die nag met verskerpte sintuie. Vannag voel dit weer vir hom so oerbekend, so wesenlik sýne, dat hy dit wil vashou. Die dikke donkerte soos ’n kombers om hom wil vou, daaraan wil snuif. Dis een van daardie nagte wat hy bang is hy mis miskien iets as hy slaap. Dalk ’n halwe, glanswit maan wat agter donker wolke uitskuif, ’n duif wat onverhoeds en melancholies begin koer. Dalk ’n roofdier wat nader sluip. Dit gebeur nogal deesdae dat die werf hulle trek. Hier is katte en sulke halfwas kuikens.
Hy wonder of hy dit kan waag om op te staan om ’n ruk by die venster te sit. Die gordyne oop te skuif en die nag in te nooi.
Maar dalk steur dit haar. Sy is juis in die laaste tyd so afgemat.
Hy kom tog saggies op sy elmboog orent, spits sy geoefende ore vir die dieper geluide verder af in die vallei, dowwer as die ander wat vlak en digby opklink. Dis of die wind ’n brose klankie aandra. Soos iets wat ver weg sagkrakend afwaarts rol. Dan weer die veraf stilte. Weer ’n geluid soos ’n fluistering. ’n Tak wat buig en terugspring. Ook skaars hoorbare woorde wat op die wind aangedobber kom.
Hy frons. Moontlik ’n werker wat laat tuiskom. Het seker op ’n buurplaas gekuier. Ligte plofgeluidjies soos katpote wat op die dak land. Die werfkatte word te veel. Hy wonder waar die honde is dat hulle nie oproerig begin blaf nie. Geneig om soms weg te dwaal, maak hulle jag op enigiets wat roer. Hulle moes weer ’n gat onderdeur die heining gegrou het. Raak al slimmer daarmee en dan moet hy weer toemaak.
Toemaak, heelmaak, keer en afweer. Dis waartoe dit gekom het.
Vroeër dae was net die honde nodig om rondlopers weg te hou. Maar deesdae vlug almal binnenshuis sodra die son westekant toe staan. Sluit traliehekke. Toets of die buiteligte werk. Lok die honde huis se kant toe met afgeëte bene.
Hy roer slapeloos en wonder weer oor die honde.
Gewoonlik maak hulle smiddae laat amok onder die swetterjoel katte wat die bakkies oorskietsels by die agterdeur kom eet. Hy hou niks van katte nie en wens meermale die honde wil die hele spul verwilder. Maar vergeefs, daar is die vasbyters wat vlugvoetig weghol en snags weer miaauend nader sluip om te aas aan wat oorgebly het.
Hy luister weer … Niks. Sak terug teen die kussings, gee hom oor aan die ander, meer gewone nagklanke. ’n Rusteloosheid onder die paar beeste in die kraal wat dan weer bedaar, en by die werkershuise blaf ’n keffertjie aamborstig en aanhoudend. Iets ritsel verskrik tussen die dig beblaarde struike in die voortuin, en ’n hond draf grommend deur die yl jasmynheg voor die venster verby om ondersoek in te stel. Dit stel hom gerus. Dan is die honde tog in die omtrek. Hy snuif liggies. Die reuk van klam kraalmis en omgedolwe tuingrond lê op die bries saam met dié van najaarsgras en uitgeblomde rose.
’n Afrikanag op sy kenmerkendste. Vir hom, altans.
Stedelinge sal van hom verskil. Maar stede, weet die man ook, klink selfs in Afrika se ooptes byna almal dieselfde. Straatgeluide wat in ’n zoemerige lawaai sonder identiteit versmelt. Ontstelde honde wat later almal ewe hees en sonder ophou blaf. Maar hier in die bergwêreld roer Afrika ánders. Elke klank het ’n unieke herkenbaarheid. Spel iets uit. Synde versugting en verlange, begeerte of benoudheid. So dink hy dikwels.
Hy glimlag wrang.
Sý Afrika.
Hy sug sag. Hy is nou eenmaal ’n Afrika-mens. Bloed en murg verkleef aan hierdie bodem. Hierdie raaiselagtige kontinent wat soos ’n vraagteken gevorm is. So het een van sy ou skoolvriende altyd beduie. Het dit glo iewers gelees. Ook dat Afrika se blote landkaart ’n mistieke atmosfeer oproep waar die sluier net nou en dan effentjies gelig word. Daarmee kan hy saamstem. Maar dis juis die opwinding van geheimenis – dat die enigma nie sonder stryd ontrafel kan word nie. Indien ooit.
Hy glimlag en wonder peinsend oor sy vriende. Veral die klompie wat destyds saam met hom in matriek was. Die ekstra klasse wat vroegjaar al vriendelik dog ferm op hulle afgedwing is. Lang middae wat hulle gapend en sukkelend deurgeworstel het. Sodat hulle beter kan presteer. En daardie laaste tydjie voor die eindeksamen waar daar koorsagtig gepoog is om die fyner verbloemings van die letterkunde en die kompleksiteite van die wiskunde vir hulle oop te maak – selfs al was die hoop op fenomenale sukses maar skraal. Die smorend warm ekstra klasse in die middae was sosiaal veel meer suksesvol as akademies. Want ’n hegte band het onwillekeurig tussen hulle gevorm toe hulle almal destyds met matriek geworstel het. Hul hormone was gevaarlik op loop en hul angs om te dop, was tasbaar. Miskien het hierdie twee faktore juis daartoe gelei dat die dwingendheid van hul begeertes en hul akademiese nood ondergeskik geraak het aan ’n vriendskap wat die toets van jare deurstaan het. In hul oë was die kollektiewe dilemma nie werklik om akademies kop bo water te hou nie, maar eerder die opwindende en onsekere bespiegeling oor wat om te doen as hulle nou eers deur die matriekrivier gewaad het.
Toe het hulle saamgestaan soos wat net matrikulante kan. Hul lewens was vervleg en as een geroer het, het die hele web gebibber.
’n Glimlag pluk aan sy mond. Verdwyn weer. Dis lank terug.
Meer as ’n dekade.
Toe hulle almal eindelik die gesogte sertifikaat kon toon, het feitlik almal die vier windstreke in gespat. Tog het die vriendskapsband tussen hulle nooit verslap nie. Dank die Vader daarvoor. Hy weet so presies waar elkeen hom of haar bevind, én wat in hul lewens aangaan. Afstand en heelwat ander faktore ten spyt, het die drade wat hul bind nooit gebreek nie. Verweer, wel. Hy sug swaar. Die verwering was seker onvermydelik.
Sy gedagtes draai terug na homself.
Dis eintlik net hy wat nooit werklik lank hiervandaan weggegaan het nie. Graad gekry, ja. Kursusse bygewoon en selfs kongresse en seminare nou en dan om op hoogte te bly van wat in die landbou aangaan. Teësinnig maar ter wille van die saak, want hy hou nie van groot groepe mense nie. Ook nie van lang lesings en ’n gekarring oor allerlei kleiner sake nie. Hy wil plant en oes en leef, dis al.
Sy vrou was wel destyds vir ’n ruk weg. En toe hulle weer bymekaarkom, was sy vol praatjies