is die ergste. Hulle vermom hulle as familielede.”
“Ek kan dit dink. Maar dink so daaraan, T. Hulle hoef mos nie hier te wees as Raj al klaar in die hospitaal is nie.”
Ek wink vir Annie nader, sit my mond by haar oor. “Ek dink hy’t vir Sanusha beetgehad. Sy vra allerhande vrae. Vertel vir my goed,” sê ek. “Dink jy ek is dalk reg?”
Annie kyk na my, ’n onleesbare uitdrukking op haar gesig. Toe tel sy my haarborsel op. Met lang hale maak sy die kraaines om my gesig netjies. “Nee, Thea, ek dink nie so nie. Sy lyk vir my net dieselfde.”
“Sy’s nie sy spioen nie?”
“Sanusha is jou dogter. Sy’s lief vir jou. Sy wil hê jy moet huis toe kom sodat jy kan pannekoek bak en haar park toe kan vat.” Annie draai my kop effens en druk ’n paar haarslierte agter my ore in. “Luister na my, T. Jy vertrou my mos, nè?”
“Natuurlik.”
Sy vou haar hand om my ken. “Sê agter my aan: ‘Ek hoef my nie oor Sanusha te bekommer nie.’”
Dit voel vreemd, maar ek sê dit.
“Sanusha is my pragtige dogter en sy sal altyd lief wees vir my,” sê Annie.
“Sanusha is my pragtige dogter en sy sal altyd lief wees vir my.”
“Ek kry net op die oomblik swaar en sy’s bekommerd oor my.”
“Ek kry net op die oomblik swaar en sy’s bekommerd oor my,” sê ek agterna.
Annie glimlag. Sy het ’n operasie gehad en dra nie meer ’n bril nie. Haar turkoois oë was altyd agter die brillense weggesteek, maar nou is haar oë haar grootste bate. Dit vonkel, en ek voel hoe die spanning uit my lyf vloei. Maar toe onthou ek.
“En wat van Clay? Het hy hóm dalk beetgehad?” vra ek.
“Wie de hel is Clay?”
“Die ou van die koffiewinkel. Hy was al ’n paar keer hier.”
“Regtig?” Annie se oë blink.
“Hy bring vir my muffins. Hy’t eenkeer vir my ’n trui gekoop. Ek hou van hom.”
Annie kyk na my en ek kan sien sy dink nie dis ’n goeie idee nie. “Luister, Thea, ek ken nie die man nie. Al wat ek kan sê, is dat jou lewe op die oomblik ingewikkeld genoeg is.”
“Ek hou van hoe hy lyk. Hy’t sulke silwer hare. Hy glimlag met sy oë. Nes jy.”
Annie vleg haar vingers deur myne en verander die onderwerp. “Het jy al daai tydskrif gelees? Soek jy nog een? Wat van ’n nuwe CD?”
“Ek voel nie lekker nie, Annie. Ek kry hoofpyne …”
“Jy sal beter word, skat. Dis net ’n kwessie van tyd.”
“Ek kan nie saam met hóm huis toe gaan nie,” sê ek. “Ek vertrou nie vir Rajit nie. Miskien sit Asmita iets in my kos. Dis partymaal bitter. Sy kook nie soos Ma nie, dis vir seker.”
“Ja, jou ma kon ’n fantastiese paella maak.”
Ek mis Ma. My hart is seer en ek wil haar hier hê. Ek het al soveel keer tot by haar hek gery met Sanusha om vir haar te wys wat sy mis, en dan weer weggery. ’n Ma bly ’n ma, selfs al is sy die slegste een op aarde.
“Sy’s nie hier vir my nie, Annie.”
“Nee,” antwoord Annie en hou my hand in hare. “Maar ék is. As jy wil, kan jy ’n ruk lank by my kom bly, T. Met of sonder Sanusha. Tot jy besluit wat jy volgende wil doen.”
Sanusha (6): Om met 1 hand eiers te breek
Appa hou nie daarvan as Annie by Mamma is nie. Ek kan dit sien aan hoe hy sy arms vou nadat hy stilgehou het.
“Tannie Annie se huis is vreeslik groot,” sê ek, en probeer my gordel losmaak. “Daar is groot bome, ’n swaai, ’n klimraam, ’n trampolien én ’n sandput.”
“Ek weet, Sanusha,” sê hy in sy knorrige stem. “Ek was al daar.”
“Hoekom kom Appa dan nie saam met my in nie, dan drink ons tee by Mamma?”
“Jou ma is siek. Sy moet rus.”
“Sy rus nie as ek hier is nie. Ons stap in die tuin en speel Ludo en Snap en drink Oros uit baie mooi koppies. Ons skink dit uit ’n teepot met rose. Die koppies is geel.”
“So dis net die twee van julle wat tee drink?”
“Dis nie tee nie, Appa. Dis Oros,” sê ek en ek pluk aan die deurknip. Partykeer luister Appa nie.
“So, jy drink Oros saam met Mamma en dis net julle twee?” vra Appa.
“Nee,” antwoord ek. “Laas keer het ek vir Grootbeer saamgebring en Matthew was ook daar. Matthew is morsig. Is seuns altyd morsig, Appa?”
“Niemand anders nie?” Hy antwoord nie my vraag nie.
“Appa! Ek vra of seuns altyd so mors!”
“Seker maar meestal, ja. Sanusha …”
“Kan ek nou ingaan? Ons gaan vandag koekies bak.”
Appa klim nie eens uit om saam met my hek toe te loop nie. My skoolsak is regtig swaar en ek moet op die punte van my tone staan om by die deurklokkie by te kom. Tannie Annie se klokkie is rêrig cool. Elke keer as jy dit lui, speel dit ’n ander deuntjie. Ek lui dit weer om te hoor watter liedjie volgende gaan speel (“Walking on Sunshine”). Die deur gaan oop en toe ek omdraai om vir Appa te waai is hy klaar weg.
Mamma se gesig is nog vol krappe van die glas. Sy kyk oor my skouer na die straat.
“Wie’t jou afgelaai?” vra sy.
“Appa.”
“Was daar nog mense in die straat?”
Wat is dit met al die vrae?
“Nee. Kan ek nou inkom? Ek wil koekies bak.”
Mamma neem my by die voordeur in asof ek nie weet waarheen om te gaan nie. Tannie Annie is nie altyd hier nie, en dis jammer. Ek wens Mamma wil my hard druk, soos tannie Annie maak. Soos voor die ongeluk. Ek weet sy is seer van binne, maar ek het ook ’n seer arm en ek hou nog altyd van drukkies.
Mamma beweeg soos ’n ou tannie. Sy vou haar arms oor haar lyf en skuifel soos Asmita Ayaa wanneer sy haar dik winterpantoffels aanhet.
“Ons gaan mos koekies bak, nè, Mamma?” herinner ek haar.
Sy knik. In die kombuis haal ons meel, eiers, botter en suiker uit. Wanneer jy bak, is dit rêrig belangrik om die hoeveelhede reg te kry. Hier is ’n paar belangrike dinge wat jy moet onthou:
1 teelepel is 5 ml
1 eetlepel is 15 ml
1 koppie is 250 ml
Daarmee kan jy enigiets bak. Maar vandag bak ons soetkoekies. Ons pak al die speserye op die tafel uit: kaneel, gemmer, neutmuskaat, naeltjies. Toe die gekapte neute en bakpoeier en die ander wit goed wat die koekies laat rys. Hierdie resep het wyn in – dis die kleur van ’n pruim wat reg is om te eet.
So gou ons al die droë bestanddele deurmekaar geroer het, sny ons die botter in. My arm werk nie so goed nie, maar ek kry dit reg, want Mamma doen die moeilike goed met die mes. Ek hou die handmenger met my gesonde arm vas en Mamma hou die bak stil. Mamma het hierdie slim toertjie met eiers – sy breek dit met een hand, soos ’n regte sjef.
“Hoe weet Mamma hoe om dit te doen?” vra ek.
“My ma,” sê sy, maar sy sê niks verder nie.
“Nes ek by Mamma leer!” sê ek.
“Presies.”
Ons maak ’n lekker deeg en rol dit op die toonbank uit en kies ons koekievorms. Ek hou