word by die dag beter gesmee.
Tina het nooit kon droom dat dit so wonderlik is om lief te hê nie. Renier is haar hele wêreld en elke gedagte, elke droom van haar kring net om hom. Sy weet as sy hom moet verloor, sal haar lewe nooit weer dieselfde wees nie, want dan sal die kernelemente ontbreek – die elemente wat haar lus laat voel om te lewe, wat elke dag vir haar tot ’n goue dag omskep, wat haar hart laat jubel van blydskap omdat sy ’n mens is wat kan liefhê en droom.
Ook Renier weet dat Tina die enigste vrou vir hom is. Hy weet nie of dit haar mooi persoonlikheid, of iets in haar donkerbruin oë is nie, maar daar is iets in haar wat haar anders maak as die meisies wat hy ken, iets wat haar vir hom baie dierbaar maak . . . Ja, hy is vasbeslote om Tina sy vrou te maak, kom wat wil.
Ten spyte daarvan dat Julie ’n koue wintermaand is, geniet die agt jong mense hul vakansie ten volle. Daar is trouens nie ’n berg of ’n kloof in die nabyheid wat hulle nie verken het nie. Die mans hengel elke middag na hartelus, en menige aand braai hulle die dag se vangs sommer daar oor die kole van die kampvuur. Vir elkeen is dit ’n genotvolle vakansie, maar vir Tina en Renier is dit onvergeetlik.
Die dag van hul vertrek breek eindelik aan, en toe hulle vroeg die oggend weer in die pad val, terug Johannesburg toe, kondig Wessel sommerso uit die bloute aan dat hy en Anita besluit het om hul wittebroodsdae hier langs die Ebenezerdam te kom deurbring.
Dit is byna drie-uur toe Renier vir Tina by haar ouerhuis besorg. Sy nooi hom binne vir ’n koppie tee, maar Renier is ietwat huiwerig om haar uitnodiging te aanvaar, aangesien hy nie aangetrek is vir ’n besoek nie.
“My pa is nog op kantoor,” lig sy hom in. “Net die huishoudster en die huishulpe is tuis, en hulle sal nie eens merk dat ons skoene nie blink nie. Hulle weet in elk geval dat ons nou van die dam af kom en soos reisigers sal lyk wat deur ’n woestyn getrek het.”
Haar stem is meteens sag en pleitend toe sy vervolg: “Ek kan nie nou al van jou afskeid neem nie, Renier. Kom drink net saam met my tee en . . . en kuier nog so ’n klein rukkie by my.”
“Dink jy dit is vir my aangenaam om nou al weer van jou afskeid te moet neem, ou kleintjie?” Hy kyk haar aan met oë wat net liefde vir haar weerspieël. “Nou goed, ek sal saam met jou tee drink, maar dan kom eet jy vanaand saam met my. Sal jou pa jou toelaat om saam met my te kom eet, my poppie?”
’n Skaduwee skuif meteens oor haar mooi gelaat en die glimlaggie om haar mond verstar.
“Solank my pa onder die indruk verkeer dat jy maar net ’n vriend is soos . . . soos die drie Beukes-kinders, sal hy geen beswaar maak nie, Renier.” Haar stem klink duidelik ongelukkig.
“Die botsing sal kom wanneer jy hom om my hand vra, want hy het reeds vir Thys Joubert as sy aanstaande skoonseun gekies. Trouens, hy probeer al die afgelope jaar om Thys aan my af te smeer, en ek het hom al oor en oor verseker dat ek vir die vent nie ’n druppel tyd het nie. Hy is ’n losbol met te veel geld en te min verstand, en dan is hy nog boonop verwaand en vermetel ook. Maar kom, laat ons liewer gaan tee drink. Ek vind Thys Joubert glad nie ’n interessante onderwerp vir bespreking nie.”
“Ja-nee, ek ook nie, my skat,” stem Renier saam. “Maar wat ek eintlik wou sê . . . moenie verontrus wees nie, ek sal nie toelaat dat jy in ’n ongewenste huwelik gedwing word nie.”
Tina kyk hom met openlike verligting aan.
“Wat sal jy doen as my pa my in ’n huwelik met Thys probeer dwing, Renier?” vra sy ernstig.
“Dan roep ons jou oom At se hulp in, en ons trou sonder jou pa se toestemming.”
Hierna klim hulle uit die motor en stap binnetoe. Tina voel op die oomblik baie gelukkig, en ook gerus in die wete dat Renier haar teen ’n ongewenste huwelik met Thys Joubert sal beskerm . . . Ja, Renier sal haar teen die snobisme van ’n ryk, ambisieuse pa beskerm.
Toe hulle later in die sitkamer tee en koek geniet, kyk Renier belangstellend om hom heen en vra bedaard: “Ou kleintjie, is jy seker dat jy gelukkig sal kan wees sonder hierdie weelde waarmee jy grootgeword het?”
“Ek sal selfs in ’n tent saam met jou gelukkig wees, Renier,” verseker sy hom ernstig. “My hart is nie aan weelde verknog nie, ek sal eerder sê my hart is aan jou verknog, en jy weet dit.”
“Die ou mense het altyd gesê, as armoede deur die voordeur kom, vlug die liefde deur die agterdeur,” terg Renier haar goedig.
“Ja, ek het dit ook al gehoor,” glimlag sy. “Maar ek sien eerder kans om droë brood te eet saam met ’n man wat ek liefhet, as ’n koninklike maal saam met ’n man wat ek nie liefhet nie. In elk geval, ek is bereid om saam met jou van onder af te begin, Renier, en saam met jou ’n sukses van ons lewe saam te maak.”
Toe Renier later aanstaltes maak om te gaan, stap Tina saam met hom tot by die motor. Net die huishoudster is ’n ooggetuie toe hy met ’n liefdevolle soen van Tina afskeid neem, maar die geheim van hul liefde is heeltemal veilig by haar.
Elsie Alberts is reeds agt en twintig jaar lank die Eksteens se huishoudster. Sy is baie lief vir Tina en haar ouer suster, Santi, wie se ma hulle anders opgevoed het as die gewone rykmanskinders. Sy weet ook hoe ’n snobistiese mens haar werkgewer is en dat hy ’n verhouding tussen Tina en daardie mooi jong man nooit sal duld nie.
Meneer Dreyer lyk na ’n goeie man, maar sy goeie hoedanighede sal nie ’n aanbeveling by Tina se pa wees nie, mymer die sestigjarige Elsie Alberts terwyl sy die vertrekkende motor deur haar kamervenster agternakyk.
Meneer Eksteen ken net een maat waarmee hy mense se waarde bepaal, en dit is die syfers wat hul bankrekening beloop en die aansien wat hulle in die eksklusiewe sosiale kringe geniet.
Elsie dink aan die hewige argumente wat destyds tussen Gerhardus Eksteen en sy oorlede vrou, Annette, ontstaan het, toe Santi met Walter Froneman in die huwelik wou tree. Walter was toe nog die onderbestuurder van die Unika-staalfabriek op Groenbaai, en vir die ryk Gerhardus niks anders as ’n kerkmuis wat sy dogter se ou skoene nie waardig was nie. Maar Annette Eksteen het soos ’n tierwyfie vir haar dogter se geluk geveg, en Gerhardus moes later voor sy vrou se argumente swig. Nou is dit weer Tina wat met haar trotse, hooghartige pa ’n potjie gaan loop indien sy planne koester om eendag met daardie aangename jong man te trou.
Elsie sug mismoedig. Haar hart gaan uit na Tina, want sy weet dat die jong meisie nie opgewasse sal wees teen haar pa se onverbiddelikheid nie, derhalwe sal sy seker maar die onderspit delf.
Die res van die vakansie sien Tina en Renier mekaar elke dag. Een aand het sy al haar vriende saam met wie sy gekampeer het, vir ’n informele aandete genooi. Daardie aand het Renier, Hennie, Anita en Wilma die eerste keer met die ryk makelaar Gerhardus Eksteen kennis gemaak. Ofskoon hy ’n man is wat baie min glimlag, was hy nogtans op sy manier gasvry teenoor sy dogter se jong vriende, maar na die ete het hy dadelik verskoning gemaak en na sy klub toe gery. Die jongklomp het na ’n ander vertrek toe gegaan, waar hulle beurtelings tafeltennis, dambord en skaak gespeel het.
Nadat die skole weer begin het, kon Tina en Renier mekaar net naweke sien. Deur die week het hulle hard geleer en gestudeer, want vir albei was dit lewensbelangrik dat hulle die einde van die jaar sou slaag.
Tina is Sondae feitlik nooit meer tuis nie. As sy en Renier die dag nie by die Dieretuinmeer of by die Beukesse deurbring nie, gaan kuier hulle vir haar oom At en tant Louise wat in Germiston woon. Albei besef dat Renier haar nie te dikwels en ook nie alleen by haar ouerhuis mag besoek nie, want haar pa mag nie nou al van hul verhouding weet nie. Eers wanneer Renier sy graad in die ingenieurswese ontvang het, sal sy haar pa self in dié verband inlig.
Maar Tina het nie met haar pa se skerpsinnigheid rekening gehou nie. Die feit dat sy sedert die Julievakansie feitlik elke Sondag uithuisig is, het die oubaas agterdogtig gemaak en hom laat besluit om met haar oor haar toekoms te praat.
Dit is naby die einde van November toe hy vir Tina sê dat hy haar na die aandete in sy studeerkamer wil spreek.
Waar sy nou saam met hom na sy studeerkamer toe stap, wonder sy heimlik waaroor hy haar wil spreek. Het hy straks te wete