Adriana Faling

Rewolusie van die hart


Скачать книгу

volg stil en kom staan by Dirk.

      “Hallo, bulletjie.” Dirk vryf oor sy hare.

      Hy sê niks.

      “Sê hallo vir oom Dirk, Alexander,” moedig Salomé aan.

      “Hallo,” sê Alexander kortaf.

      Sy kyk verleë na Dirk, maar hy skud sy kop om te beduie dat sy nie sleg moet voel nie.

      “Help jy jou mamma mooi by die huis?” probeer Dirk weer.

      Alexander staan halfagter haar en hou aan haar been vas, sê niks.

      “Jy moet jou mamma mooi help as Pappa nie hier is nie, hoor? Jy moenie met haar baklei nie.”

      Sy voel hoe Alexander terugtrek. Dirk het te ver gegaan. Jy moet Alexander nooit direk konfronteer nie. Jy moet ompaaie loop met hom, die verhouding eers opbou. Petrus doen dit altyd so goed.

      Sy tel hom op. “Kom kyk wat doen oom Dirk; hy gaan vir ons die wasmasjien regmaak.”

      “Probeer regmaak,” sê Dirk bekommerd.

      Hy begin aan die masjien se wastrommel draai en wikkel die skroewe aan die agterkant los terwyl hy ’n klomp vrae vra. Alexander gly van haar heup af en staan nader. Hy wil gewoonlik weet hoe alles werk. Tjoepstil kyk hy na alles wat Dirk doen.

      “Bêre ’n bietjie vir my die skroewedraaier, bulletjie.”

      Alexander staan gretig nader en doen dit. “Het Oom ’n hamer ook?” vra hy toe hy in die gereedskapkas loer.

      “Ja, maar ek dink nie ek het dit saamgebring nie.”

      “My pa het twee hamers,” sê hy trots.

      “O? Waarvoor gebruik hy twee?”

      “Hy gebruik die een as hy nie die ander een kan kry nie.”

      Salomé lag. Ja, dis presies hoekom hy twee het.

      “My pappa het gevlieg.”

      “Regtig?” Dirk hou hom dom terwyl hy werskaf. “En waarheen het hy gevlieg?”

      “Na ’n ander land toe.”

      “O? En wat doen hy daar?”

      “Hy vertel die mense van Jesus.”

      Dirk is ’n oomblik stil. Salomé voel sy ongemak aan.

      “Jy’s reg, my seuntjie. Ek sien jy is baie slim,” probeer sy die oomblik red.

      “Is Oom nou klaar?”

      “Wel, ek het die fout gekry. Kyk hier, die pyp is verstop.” Hy wys vir hulle. “Ek gaan dit losmaak en afhaal, dan spoel ons dit skoon.”

      Nie lank daarna nie loop die masjien weer klopdisselboom.

      “Dankie, Dirk. Ek is sommer baie verlig. Ek het nie nou geld vir ’n nuwe een nie.”

      “Plesier. Maar nou soek ek asseblief my betaling.”

      Sy lag en gooi ’n groot glas koeldrank in. “Jy kan die kleingeld hou.”

      Hoofstuk 3

      NYLRIVIER. AUGUSTUS 2010

      Toe Saleh wakker word, beweeg die boot reeds. Sy sak dankbaar op die kussings terug en bekyk haar omgewing vanaf die bed. Sy kan nie glo sy is in ’n luukse kajuit op die Nylrivier nie. Daar is ’n gerustellende wete in haar dat haar nuwe Vader dit so bewerk het. Sy voel veilig en kosbaar, al vlug sy vir haar en haar kind se lewe.

      “Dankie, Vader. Wees asseblief ook so ’n beskermer vir Ashraf,” fluister sy.

      Vaagweg kan sy beweging hoor. Die boot se passasiers is wakker. Sy moet nou gou stort.

      Erg dankbaar staan sy onder die kraan en was en was haar hare met die komplimentêre sjampoe. Sy spoel weer die klere van gister uit en was dit sommer met die badseep wat hier neergesit is. Toe sy uitklim, voel sy soos ’n nuwe mens.

      In die kas kry sy plastiekhangers en hang die nat klere daaraan in die badkamer op. Sy wens sy het nog ’n stel skoon klere, maar trek toe maar weer gisteraand s’n aan.

      Sy is honger. Verskriklik honger. Wanneer laas het sy geëet?

      Sy trek die bed reg en kyk na die klein slukkie water onder in die bottel. As sy net haar tande kan borsel. Miskien … Sy krap in haar sak en vind haar beursie, selfoon en laaier. En ’n tandeborsel! Dierbare Ashraf. Dankie.

      Sy wens sy kon weet of hy veilig is, haar foon aanskakel en hom bel. Tog het hy haar so streng verbied. Nee, sy kan dit nie doen nie. Daardie laaste oomblikke tussen hulle speel weer in haar gemoed af.

      “As dit die wil van Isa is, Saleh, sal Hy ons vir mekaar beskerm. Hy sal ons help om mekaar op te spoor. Hou by die plan en ek sal alles in my vermoë doen om jou daar te kry. Gaan nou. Gaan nou vinnig.”

      “Ek wil jou nie hier los nie, Ashraf. Sê nou hulle maak jou dood?”

      “Ek wil net eers seker maak dat jy en ons kind veilig is, dan sal ek ’n manier vind om te ontsnap. Gaan nou, Saleh. Ter wille van ons kind.”

      Hulle het die woedende stemme gehoor wat na die kamer toe opkom.

      Sy het hom een laaste keer vasgegryp, omgedraai en moeisaam met haar groter buik deur die venstertjie geklouter.

      Hy het die rugsakkie deur die venstertjie aangegee. “Maak gou, Saleh,” het hy dringend gefluister. “Hulle is nou bo. Daar is niemand wat sal sien as jy nou spring nie. Isa is by jou.”

      ’n Sagte klop aan die kajuit se deur onderbreek haar gedagtes. Sy is te bang om te roer. Bly net so sit. Hou haar asem op. Weer ’n sagte klop.

      “Saleh?”

      “Farouk. Dankie tog.” Sy maak die deur saggies agter hom toe.

      “Sjoe, dit ruik beter,” glimlag hy vir haar.

      “Dankie. Ek het van die sjampoe en goed gebruik, maar ek kan betaal daarvoor.” Sy stap na haar sak om haar beursie uit te haal.

      “Nee wat. Daar is baie gaste wat verkies om hulle eie seep en goed wat hulle saamgebring het te gebruik; dus is daar altyd ekstra. Ek sal môre weer vir jou bring.”

      Hy lyk steeds moeg.

      “Het ek jou uit die slaap gehou?”

      “ ’n Bietjie,” antwoord hy eerlik.

      “Ek is jammer. Ek weet nie hoe ek jou ooit kan vergoed nie?”

      Dit is ’n oomblik ongemaklik tussen hulle. Dis nie die gebruik dat ’n man alleen met ’n ander man se vrou praat nie.

      “Ek is net bly ons is nou op pad, ” verbreek Farouk die stilte.

      “Ek ook.”

      “Ek kan nie nou gesels nie, hoewel ek brand om alles te hoor. Ek wou net kom kyk of alles reg is by jou. Ek sal vir jou iets te ete probeer bring sodra die gaste klaar geëet het. Ons gaan later vanoggend weer stilhou. Die boot gaan by Esna vasmeer, dan gaan die gaste gewoonlik ’n bietjie inkopies doen vir ’n paar uur. As ek seker is dit is veilig, loer ek by jou in. Reg so?”

      Sy knik.

      “Nou ja, geniet die rit aan boord die Jewel of the Nile.” Hy hou dit lig.

      “Ek voel soos ’n koningin.”

      “Goed so. O ja, hier is solank nog ’n bottel water.” Hy bring dit van onder ’n stapel wit handdoeke te voorskyn.

      “Wonderlik.”

      “Dit kos egter geld,” sê hy effe verleë.

      “Als reg. Ek het kontant by my. Kan ek met jou regmaak aan die einde?”

      “Ja, dis makliker.”

      “Nou goed.”

      “Tot