>
Abel se dogters
Helene de Kock
Human & Rousseau
Vir my gesin
Hoofstuk 1
Adelien bly ietwat verslae met die gehoorbuis in die hand staan. Dus gaan Bernadette nie saam plaas toe nie. Dis die soveelste maal dat sy ’n verskoning het. Sy’s te besig. Sy skryf toets. Sy’t eenvoudig nie lus nie, het sy so pas gesê. Dis die eerste maal dat sy prontuit erken daar’s fout met haar lus vir die huis.
Adelien was geskok. “Verlang jy dan nooit huis toe nie?”
“Nie baie nie. Dis regtig nie meer lekker nie. Pa en Dirk is nes twee ramme wat gedurig kopstamp. As ons ’n slag op Stille Weide was, moet ek Dirk aanhoudend paai en tuis moet ek Pa weer kalmeer. As ek dan regtig moet kies, kies ek vir Dirk. Ek wil nie eendag as ek al oor veertig is huis toe gaan net omdat ek nêrens anders het om heen te gaan nie, Adie …”
“Maar … Wat ’n kinderagtige redenasie!” het Adelien losgetrek. “’n Mens se huis bly jou huis. Dis jou nes, jou kokon, jou …”
Sy kon nie gesê kry wat sy wou nie. ’n Soort skrik het haar keel laat nou trek. Wat is dit tog met Bernadette? Sedert sy en dié Dirk so danig is, het sy anders geword. Erg uitgesproke. En antagonisties teenoor haar eie mense. Bernadette moes haar suster se ontreddering aangevoel het, want sy het skielik haastig gepaai: “Ag jong, dis hoe dit is. Ek voel nou so. Môre waai dit weer oor, wie weet.”
“Praat jy van Dirk?” wou Adelien gretig weet. “Is dit hy wat gaan oorwaai?”
“Adie, moenie begin nie. Ek weet nie van Dirk nie. Ek wag om te sien wat gaan word. Los my tog. Ek is groot en ek is soet. Waarom bekommer jy jou so?”
Daarop kon sy haar suster nie antwoord nie. Maar sy weet: Bernadette is alles behalwe volwasse. Sy is wel in daardie gevaarlike stadium dat sy doodseker is van haar eie volwassenheid. En dit kan net moeilikheid spel. Daarby het sy so gehoop dat sy en Bernadette vir ’n verandering ’n heerlike suster-kuiertjie kan hê. Hulle twee saam met kleinsus Christelle en Pa Abel alleen in die groot sandsteenhuis met sy hoë staalplafonne. Anna sal kook en brou en saans sal hulle drie susters op die mat in die sitkamer sit en dambord speel terwyl Pa swyend maar tevrede toekyk. Dis amper al wanneer hy ooit tevrede lyk. Wanneer hulle drie, koppe bymekaar, sit en klets of sommer net iets speel. Sy wonder opeens wat hy sal maak as hulle skielik hul ware gevoelens sou lug terwyl hulle so bymekaar sit. Of hy sal opstaan en loop en of hy versteen sal bly sit. Ag vader, liewe Pa … hoe kan mens iemand liefhê en hom nogtans glad nie begryp nie? Hoe lank moet mens iemand ken om te kan sê jy weet wat in sy hart aangaan? Meer as ’n leeftyd? Meer as drie of vier vinnige gesprekke so twee maal per jaar, dis vir seker. Al wat Adelien weet, is dat dit broodnodig is dat Abel en sy dogters meer tyd saam deurbring.
Adelien skud haar hare ergerlik agtertoe in die klein kopgebaar uit haar kindertyd. Wat sal dit tog help om te tob? Die teuels van haar gesin is al lank nie meer in haar hande nie, as dit ooit was. Sy is maar net die oudste van Abel se dogters. Die ousus na wie op ’n manier opgekyk word, maar wat gerieflik geïgnoreer word as die ander nie in haar rigting wil trek nie. Soms wil-wil sy haarself bitter jammer kry hieroor. Want sy weet, soos ’n vrou weet, dat dinge in haar ouerhuis nie is wat dit moet wees nie. Gebroke ouerhuis, help sy haarself reg terwyl sy haar tas pak en die woonstelvensters een vir een begin toemaak. Want as die dood reeds een maal ingetrek het, verbrokkel daar iets binne die mure van ’n huis. Niks sigbaars nie, net ’n hol onsekerheid wat soms alles wil wegvreet. Soms voel dit so normaal om net ’n pa te hê. Maar dit is nie. Dis half. Soos ’n afvlerk voël nog ’n voël is, maar nie regtig kan vlieg nie.
“Hoe was jou week?” wil Nomsa weet toe sy in die motor klim. Haar bruin oë glinster ondeund.
“Soos gewoonlik,” sug Adelien en trek weg, vleg deur die verkeer, draai links by die verkeerslig in Universiteitsweg.
“Dis nou ’n antwoord,” sê Nomsa, haal ’n dik plak sjokolade uit en breek vir hul elkeen twee blokkies af. Adelien gee haar ’n verwytende kyk, maar vat dit tog. “Eet,” glimlag Nomsa weer, “dan voel jy beter.”
“Hoe weet jy ek voel … e … minder goed?”
“Het oë, kan sien.”
Adelien sit albei blokkies in haar mond, suig behaaglik daaraan. Tot by die Fonteine-sirkel eet Nomsa ook stilweg. Toe sê sy: “Ek het vir jou en daai blonde dosent …”
“Professor …”
“Oukei, die blonde professor eergister voor die Ou Lettere sien verbyloop. Dit het gelyk of julle twee saam net drie bene het!”
“Hy is my kollega en …”
“Haak ál jou kollegas so styf by jou in?”
“Nomsa, asseblief, ek wil graag hierdie vakansietjie geniet. Gesels met my oor jou studies, oor die koshuislewe. Enigiets. Net nie oor Henk Verwey nie.”
“Oukei,” sug Nomsa, breek nog sjokolade af en eet smaaklik.
“Jy word vet,” maan Adelien. “Die meeste eerstejaars swel teen Julie al uit hul klere. Jou ma gaan raas.”
“Sy gaan eerder met jóú raas,” sê Nomsa en smul voort. “Sy gaan sê jy is te maer. As jy so voor die klas staan, dink ek partykeer jy lyk nes ’n meerkat in die droogte.”
“Dankie, nè,” sê Adelien styf, maar om haar mondhoeke pluk ’n laggie. Nomsa is hoeka gewoond om haar sê te sê. Enigste dogter van Anna Molofe wat haar eie kind saam met Abel Buitendag se drie dogters grootgemaak het. Want die dag toe Abel se vrou van ’n verwaarloosde griep sterf, het Stille Weide se huis ’n routyd ingegaan soos wat daar net in die Bybel van gelees word. So dink Adelien altyd daaraan. Ure, weke en maande van weeklag. Dooie dae waarin die trekkers bly staan en die werkers suutjies oor die werf beweeg het om die dwingende dinge van ’n plaas gedoen te kry. Grafstil aande dat Abel dit nie kon verdra as hulle die radio of televisie aansit nie. En hulle drie, sy en Bernadette en Christelle wat kaalvoet die gang af sluip. Dan oor die stoep, die klam gras en die nagdonker strook veld deur na die rye werkershuise anderkant die populierbos. Bernadette wat halfpad al die blerrie-woord begin sê omdat die duwweltjies haar kou en Christelle wat kermend huil op Adelien se heup. Anna wat hulle hoor kom en die deur oopmaak sodat die ligbaan van die lamp hul nader trek tot binne in die huisie met sy klamwarm papgeur. Nomsa wat haasbek lag omdat haar maats gekom het. En dan, die boepenspot rooibostee wat Anna op die koolstofie laat prut-prut terwyl haar soet Sotho-woorde hulle kalmeer.
“Toemaar … die donkerte sal weggaan. Die nag hou nie vir altyd nie. Julle pappa sal weer praat en hy sal weer lag!”
“Wanneer?” wou Bernadette klokslag weet.
Maar dit was altyd Anna se man, Thabu, wat geantwoord het: “Net soos die winter weggaan …”
Om die een of ander rede het die onverstaanbare woorde hulle telkens getroos. Miskien juis omdat dit nie ’n antwoord was nie.
“Waaraan dink jy?” wil Nomsa weet.
“Aan goeie en slegte tye,” sê Adelien en frons. Die verkeer verby Johannesburg ontsenu haar altyd.
En dis eers naby Vereeniging dat Nomsa dit eensklaps weer waag: “Tye van nou of tye van doerie tyd?”
“Doerie tyd,” sê Adelien en vryf agter oor haar stywe nek. “Soms is dit goed om te onthou hoe seer ’n mens gekry het.”
“Omdat jy bang is jy gaan weer seerkry?”
Adelien glimlag en tik Nomsa op die knie. “Jy is veels te skerp vir ’n eerstejaar! Ja, ek skat dis omdat ek weet hoe pyn voel.”
“Waarom dink jy aan pyn?”
“Omdat …” begin Adelien, maar skud skielik haar kop. “Nee, wag! Vertel my liewer hoe het dit met die Sielkundevraestel gegaan.”
“Ek praat ook nie oor dinge wat seermaak nie,” sug Nomsa en sak terug teen die kussing.
Adelien skud van die lag. Nomsa is ’n oulike kind. Agtien en onstuitbaar vrolik. Bernadette sê sy is ’n aanwins vir die koshuis.