Nuwe Wêreld – ’n woonkamerdrama
Jy is 11 maande oud en jy sien my
toe ek uit die badkamer kom.
Tussen ons lê die houtvloer van die woonkamer
en die byna vier dekades
van vergissing
wat ek jou vooruit is.
En hier kom jy –
oop en toe –
op jou doekstert moonwalk jy
boudskuifel-roei jy
jou afwagtende glimlag oor die hout-oseaan.
Die kat hou jou dop
uit haar pelswagtoring op die rusbank –
’n mengsel van jaloesie en hoon
vir ’n primitiewe popkultuur
sonder snorbaarde of swier;
’n stam wat nooit die kuns van spin
sal bemeester nie.
En jy slaan jou hande om my been,
kyk verleë en hoopvol op.
Jy wys my die stowwerige lig teen die plafon.
“Da! Da!” sê jy gelowig salig
onbewus van my afgestompte gelatenheid
oor die wonders
van elektrisiteit en katte.
Jy het my bereik, Columbus, maar jy dink nog
die Nuwe Wêreld is die antieke Ooste
en ek – ’n ander onbeskawing vol
bygelowe, oervrese en vreemde gewoontes – ek
kyk oorstelp na jou
deur die boskasie van ouerliefde.
En dan tel ek jou op en ons wals twee wêrelde
’n oomblik in vervoering
op die silwer rand van
selfuitwissing.
Die kat sluit haar oë.
Sy het genoeg gesien, dankie.
Digter, basterwit
Die beste gedigte het nie
betekenis nie.
Die beste gedigte is ’n ervaring
nie ’n les nie.
Dieselfde geld vir mense.
Gedigte is soos kerke en tale –
gewyde tekens van afwesigheid.
Ook mense is maar hol en mensgemaak.
En tog glo ek in sekere gedigte
in sekere mense.
Ek brand hulle as ek bang word
en kyk hoe die donker sy
magtige skadu’s na my uitstrek.
Ek glo nie dis net wit basterdigters
wat in postkoloniale Afrika
op ’n bitter hopie erfskuld
staan en duimgooi
wat so voel nie.
Maar dalk weet basterwit digters
in beleërde bastertale
deegliker van donker
en die verpaste vaderland;
begryp miskien intiemer hoe
geruisloos die laaste skip hoe
stil gedigte lewens
in hulle se suiwer wit moer kan gaan.
Encore!
As VIP-voyeur by die Huisgenoot Skouspel
in die Super Bowl in Sun City
het ek besef
dit is nie nodig om ’n verhandeling
te skryf oor die verhouding
van die sterre van ligte Afrikaanse musiek
met die ligte Afrikaanse volk nie –
dit is ’n eenvoudige gedoente
wat my aan ’n ou grappie herinner:
Liewe Heksie gaan sit smagtend
op Pinocchio se neus
en jil:
“Lieg, Pinocchio! Lieg!”
Die Orrelis
By die begrafnis
van ’n sagte man
wat hom opgehang het aan
die relings van sy balkon met die uitsig
oor Tafelbaai
spook ’n ou psalm
trap en slaan die Orrelis
die wit en die swart
tot die vaal rokerige sang
van sy gemeente
styg en val
styg en val
donker longe
die Groote Kerk
in en uit
in en uit
want wanneer
sy gewyde blaasbalk dreun
hef jy aan, broer,
vals suiwer sag hard
of tjoepstil weerbarstig na binne
maar jy sing soos ’n sirene
“Wees stil en weet”
jy bulk soos ’n mishoring
“Ek is die Heer”
tot jy nie meer kan nie
of die orrel
stop
In Woodstock skeur die wind
’n week al lank.
Ons dak kraak soos die maste
van ’n ou seilskip in ’n storm
en die wolke maal en mor
oor Tafelberg se rand.
Aan die berg se voet lê die stad
oorbelig en deinserig
soos ’n ou poskaart.
In Stellenbosch het jou senuwees ingekonk
en jou wil jou versaak –
oor die telefoon sleep jou tong
en tussen die snot en trane deur
hoor ek nie mooi wat jy probeer sê nie:
wetie & seblief & slaappille & rotgif & drain cleaner
& hospitaal & uitgepomp & ingespuit & oukei, ja, oukei
is min of meer al wat ek verstaan . . .
In Woodstock skeur die wind
gepas
terwyl ek wag dat die telefoon weer lui.
As die wind gaan lê
sal dit stil en skoon en leeg wees,
maar terwyl die palmbome stuiptrek