se hart ruk in haar keel. Hy gaan weg, sy sal hom nooit weer sien nie! Hy laat haar net so hier agter – sonder vertroosting!
Toe die trane vrylik oor haar wange begin loop, hardloop sy agter sy kleiner wordende figuur aan.
“Dolf!” roep sy, en haar stem word deur die wind versmoor. “Kom terug! Ek sal al die goud vir jou gee! Moenie my hier agterlaat nie!”
Waar die breë stofpad begin, gaan sy staan. Sy sien hoe perd en ruiter teen die sterk wind beur, hoe vlaag op vlaag rooi stof om hulle opwarrel. Dan swenk hy skielik weg vir iets in die pad, en sy sien hoe sy gestalte al kleiner word in die grou oggendlig totdat sy later nog net die verlate pad en die stofslierte wat dwarrelend tussen die huisies rondwaai, kan sien. Sy wag totdat sy die hoewegeklap nie meer kan hoor nie, totdat net die ratelende sinkdak en die geruis van die bome in die wind hoorbaar is. Toe draai sy om.
Dolf is weg.
Drie weke lank het die wind onophoudelik gewaai en eers teen die einde van Augustus het dit skielik gedraai. Swaar wolke het op die horison begin saampak en die skoon, blou lug gevul met die vol, swaar belofte van reën.
Die weer het dreigend gedreun en wit blitse het die nag verblindend verlig.
En die reën het gekom.
Maar Shannon het nie gekom nie.
Die dae het langer en eensamer geword, die stilte soms byna tasbaar. In die begin het April nog met sy nonna geskerts, maar later het hy dit ook laat vaar. Dit was ál asof Beth in niks belanggestel het nie – net haar groot, hartseer blou oë voortdurend in die rigting van die stofpad gedraai, en geen moeite gedoen om die diep teleurstelling in haar te verberg nie.
Byna elke dag het sy vir haarself gesê: Vandag sal hy kom. Maar hy het nie. Niemand het gekom nie.
Haar sewentiende verjaardag het verbygegaan, en nog het Shannon nie gekom nie. Met die koms van die reën het die hoop weer in haar opgevlam. Miskien sal hy nóú kom, noudat die rivier weer baie water het en daar weiding vir sy perd sal wees.
Maar nóg het Shannon nie gekom nie.
Die nagte was langer en donkerder as wat dit al ooit tevore vir haar was. Nagte wanneer die maan helder skyn, was elke huisie of boom duidelik sigbaar in die eienaardige lig, lê die skaduwees swart langs elke voorwerp. Die getjank van jakkalse of die gelag van hiënas het steeds meer onheilspellend en dreigend geklink in die eensaamheid van die verlate dorp. Menige nag het sy roerloos van angs lê en luister na die onaardse geroep van ’n uil, of die geskraap van takke oor ’n sinkdak daar naby. Dis dan wanneer sy telkens besluit het om dié plek so gou moontlik te verlaat. Maar as die son die volgende oggend helder skyn, het sy weer kans gesien om op Hugh Shannon te wag …
Dis Oktober, ’n maand nadat die eerste reëns begin val het. Beth staan voor die huis en tuur ingedagte oor die verlate pad wat laer af teen die rant tussen die bouvallige huise deurkronkel. Die son trek al water en nou-nou sal April kom om vuur te maak. Dan sal die nag weer eensaam en stil voor haar uitstrek totdat die son môreoggend genadiglik opkom. Môre sal sy weer na die stofpad kyk en wag dat Shannon moet kom.
April merk sy nonnatjie op waar sy roerloos na die horison staar, en sy hart word seer. Elke dag staar sy en elke dag lyk sy hartseerder as gister. Die groot seer van die nonnatjie is te groot vir haar om te dra. Maar April dra ook daardie groot seer in sy hart. Sy kleinbaas Dolf het weggegaan, en nou staan die nonnatjie elke dag so na die pad en kyk.
Met sy kop vooroor gebuk, loop hy na die afdak om die vuur aan te steek.
Met die son wat agter die rante verdwyn, sak die verlatenheid toe oor die omgewing en doem die huisies soos donker, onheilspellende skaduwees in die flouer wordende lig op. Beth se oë word vol trane. Shannon het nog nie gekom nie, en ook nie Dolf nie. Hulle het van haar vergeet!
Haar oë fynkam die horison en dwaal dan terug al met die pad langs tot aan die voet van die rant waarteen hul huisie staan. Dan weer kyk sy vir oulaas terug na die horison – en haar hart begin onstuimig klop. Sy vee vinnig met haar hand oor haar moeë oë om beter te kan sien.
Toe die laaste strale van die ondergaande son die rante kleur, sien sy die eerste osse stadig daaroor beur, en die silhoeët van ’n man op ’n perd staan helder afgeteken teen die lug!
Beth se hart bokspring in haar keel. Sy vlieg vervaard om en hardloop na die afdak, waar April pas die vuur aan die gang gekry het.
“Hulle kom! April, hulle kom!” gil sy dit uit, en lag en huil deurmekaar.
April kyk verskrik op.
“Hoe sê die nonna nou?”
“Hulle kóm!”
Sy spring om en begin met koorsagtige haas teen die rant af hardloop in die rigting van die naderende ossewa. Sy vee die trane met haar hand weg en laat stofstrepe op haar wange agter. Haar velskoene glip kort-kort uit; sy pluk hulle van haar voete af en draf kaalvoet al met die stofpad langs, die skoene swaaiend in haar een hand.
April kom stadiger agterna. Sy voete wil hom nie meer soos ’n wildsbokkie oor die klippers dra nie; sy rug is al krom getrek van die ouderdom. Ook hy het nou die wag gesien, maar besef skielik dat dit nie is waarvoor die nonnatjie gewag het nie.
Toe die ruiter ’n goeie ruk later aan die onderpunt van die stofpad sy perd inhou om die wa en osse in te wag, begin Beth weer hardloop.
“Meneer Shannon!” roep sy hard, en die vreugde borrel in haar keel op.
Die ruiter draai in haar rigting, gee sy perd spore en kom op ’n stywe galop na haar toe aangery. Eers toe hy sy perd hier by haar inhou, besef Beth met ’n sinkende hart dat dit nie Hugh Shannon is nie!
Haar arms val slap langs haar sye en sy hyg na haar asem. Haar uitbundige vreugde word ’n verslaenheid, en ’n snik stoot in haar keel op.
Die man klim van sy perd af.
“Ek is Hermaans du Toit,” stel hy homself bekend.
Sy kry dit reg om te glimlag.
“Ek is Beth Jonker, meneer,” sê sy hees.
Hy lag opgewek.
“Aangenaam!” Dan kyk hy om hom rond. “Woon julle nog steeds op hierdie verlate dorp? Ek dag dis lankal tot niet!”
“Ek woon alleen hier, meneer.”
Hy frons diep en lyk geskok.
“Alleen?”
Beth knik net. Voordat hy weer iets kan sê, maak die ossewa sy verskyning aan die onderpunt van die dorp, en die man spring weer haastig in die saal.
“Wag net hier, ek is netnou terug!” roep hy en ry weg.
Beth staan hom met ’n diep teleurstelling agterna en kyk. Dit is nie Shannon nie. Dit is ’n vreemde jong man!
April kom eindelik hygend by haar aan.
“Wie is dit, Nonna?”
“Vreemde mense, April.”
“Gaan hulle vannag hier bly?”
“Ek weet nie.”
“Miskien ek moet regmaak daar by die huis. Miskien hulle bly vanaand.”
“Dis goed, April.”
Die ou swart man kyk onbegrypend na Beth, draai dan stadig om en begin die ent pad na die huisie toe langsaam uitklim.
Beth kyk nie na hom nie, staar net na die naderende ossewa, en veg teen die trane wat dreig om in haar oë op te wel.
Die man met die perd kom na ’n ruk weer na haar toe aangery. Hy is nog jonk, omtrent net so oud soos Shannon. Sy wonder of hy ook op pad Spitskop toe is – of dalk na Geelhoutboom toe.
Dan is hy by haar en klim van die perd af.
“Ons sal hier moet oornag,” sê hy.
“Hier is baie plek om uit te span,” sê sy belangeloos,