Elza Rademeyer

Storms van die liefde


Скачать книгу

haar al regtig in sy hart vergewe het omdat sy met Richard getrou het. Nie dat sy hom dit kan verkwalik nie. Noudat sy ouer en wyser is, weet sy dit was dom en baie onverantwoordelik van haar om so op ’n ingewing en sonder haar oupa se toestemming voor die landdros op George te gaan trou het. Maar Richard was so wonderlik in haar oë. Sy wou alles doen wat hy van haar vra … Dit het vir haar so rég gevoel daardie oggend in George toe hy vir haar gesê het hulle moet solank voor die landdros trou, want hy kan nie langer wag om haar geheel en al syne te maak nie. Min het sy geweet …

      Die gedagtes aan die verlede laat haar skielik benoud voel. Om weg te kom daarvan, gaan skakel sy die ketel aan. En toe sy klaar tee gemaak het, besluit sy om vir De Wet ook ’n koppie te neem. Sy som hom op as ’n man wat nie vir homself tee sal maak nie. Hy laat haar aan oupa Janus dink: Die kombuis is nie ’n man se domein nie.

      De Wet staan gebukkend oor ’n lading patats toe sy die winkel binnegaan. Hy kyk om toe sy liggies kug om sy aandag te trek. Kom dan orent met twee patats in sy hand.

      “Kyk hier. Papvrot! So sien ek maar elke dag hoe my wins vergaan. Haai, het jy die tee vir mý gebring?”

      “As jy dit wil hê?”

      “Natuurlik! Dit gaan heerlik smaak. Maar waar is joune?”

      “Langsaan.”

      “Gaan haal dit, dan kom drink jy dit hier.”

      “En as daar ’n koper by my winkel instap?”

      “Ek sal agter my kasregister gaan sit, dan kan ek sien as iemand by jou winkel inloop. Toe, gaan haal jou tee.”

      Toe sy terugkom met haar tee, het hy vir haar ’n stoel voor sy toonbank staan gemaak.

      “Jy het gister vir my gesê jou oupa bly op ’n plaas daar by Groot-Brakrivier uit, nè. En jou ouers?”

      “My ouers is oorlede toe ek nog baie klein was,” sê Esbeth. “My ouma en oupa het my grootgemaak. Toe ek veertien was, is my ouma ook oorlede. Ek het op George skoolgegaan en daarna het ek by my oupa op die plaas gaan bly.”

      “En ná jou troue? Waar het jy toe gewoon?”

      “Steeds by my oupa op die plaas. My man, Richard, het gehelp om die Wolwedansdam te bou. Hy het vyf jaar gelede daar klaargemaak. Ons wou eers sien waar hy ander werk kry voordat ons gevestig raak.”

      “Dus was jy maar al die tyd van hierdie wêreld?”

      “Ja. En jy?”

      “Ek is ook maar hier van Mosselbaai,” sê De Wet. “Was hier in Punt Skool en so aan.”

      “En ná matriek?”

      “Het ek hierdie winkel begin. Daar was nie geld vir verder leer nie. Nie met ’n ma wat my alleen moes grootmaak nie. My ouers het geskei toe ek nog sommer ’n tjokkertjie was.”

      “Weet jy waar jou pa is?”

      “Nie die vaagste benul nie. Maar my ma sê hy was sommer ’n sleg ding. Het glo vreeslik gedrink. So dis dalk beter dat hy maar die pad gevat het.”

      “Sjoe, jou arme ma!”

      “Jy kan dit weer sê. Sy was ook nie ’n geleerde vrou nie. Die salaris wat sy by die garage gekry het, was te min om ordentlik van te leef. Sy het snags gordyne gemaak vir die ryk mense sodat ons darem min of meer respektabelik kon leef. En nou is ek die broodwinner. My ma kan nie meer werk nie, want sy moet haar suster oppas. Dié was in ’n motorongeluk en het breinskade opgedoen. Tant Anna is soms maar ’n hele handvol.”

      Hulle gesels tot die teekoppies leeg is. Toe staan Esbeth op. “Daar gaan net mooi niks aan by my nie,” sê sy vir De Wet. “Maar laat ek maar loop.”

      “Toe maar, dit sal môre beter gaan,” praat hy haar moed in. “Die ouers kom Vrydae hul kinders by die koshuise haal en dan doen hulle sommer inkope. Jy sal sien hoe besig gaan jy raak.”

      En tot Esbeth se blydskap is dit ook so. Dit gaan sommer baie beter as al die vorige dae. Ook die Saterdagoggend is haar verkope goed. Omdat De Wet se winkel die hele dag oop bly, ry sy Saterdae met haar eie motor werk toe. Sluitenstyd gaan groet sy vir De Wet.

      “Ek sien jou Maandag,” sê sy. “Onthou, dan is dit weer my beurt om te ry. Ek sal jou sommer by jou huis kom oplaai.”

      “Gaan jy nou plaas toe?”

      “Ja. Ek gaan net gou vir my en Eben ’n tas pak, dan ry ons. Ek het Oupa belowe om soveel naweke moontlik huis toe te gaan. Hy is maar baie alleen. En ek dink hy mis nogal vir klein Eben. Hy is baie lief vir die kind.”

      Toe sy loop, skud De Wet sy kop. “De Wet,” sê hy hardop vir homself, “jy moet kophou. Moenie dat jy jou hart verloop op die mooi meisiekind nie. Jy kan haar in die eerste plek nie bekostig nie. En in die tweede plek moet sy ouer wees as jy.” Want, dink hy, as sy pas mondig was toe sy getroud is, soos sy gister in hul geselskap laat blyk het, moet sy nou ses en twintig wees. Hý is drie en twintig.

      By ’n kafee hou Esbeth stil om vir Eben die roomys te koop waaroor hy al so lank neul. Net toe sy uit haar motor klim, val haar oog op ’n man wat oor die straat stap. Sy versteen van skrik. Dit is dan Richard! Daardie swart hare, sy lenige bou …

      “Richard!” gil sy kliphard oor die straat toe die man in sy motor klim. Maar hy kyk nie op nie. Sy kyk verwilderd om haar rond. Hy gaan ry! Sy moet hom keer!

      Gustav Opperman skrik hom boeglam toe ’n meisie met swaaiende arms reg voor sy motor inhardloop net toe hy versnel om uit die parkeerplek weg te trek. Hy rem geskok en van skone skrik snou hy haar toe: “Is jy van jou verstand af, vroumens! Kan jy nie sien my motor beweeg nie?”

      Esbeth besef ineens wat sy aanvang. Sy gee vinnig pad om op die sypaadjie te gaan staan. En toe, tot haar ontgogeling, ry die motor weg. Sy hardloop ’n ent agterna, al op die sypaadjie langs, maar die verkeerslig is in sy guns. En toe sy teen die derde voetganger bots, weet sy dis nutteloos. Sy sal die motor nooit ingehardloop kry nie.

      Haar kop duisel steeds van skok terwyl sy terugklim in haar motor. Wás dit Richard? Dit móés hy gewees het. Sy hare, sy bou, sy manier van stap … Maar hoekom het hy nie stilgehou nie? Hoekom het hy aangery? Het hy haar nie herken nie? Wóú hy haar dalk nie ken nie?

      Haar hele lyf bewe nog toe sy die enjin aanskakel en verder ry, Eben se roomys vergete. Kan dit dalk wees dat hy aan geheueverlies ly? Dat hy haar daarom nie herken het nie? Hoe gaan sy weet? Waar is hy nou?

      Sy doen iets wat sy normaalweg nooit sou doen nie. Sy maak net daar in die straat ’n U-draai, teen die verkeersreëls in. By Kerkstraat draai sy links, waar sy hom ook sien links draai het. Toe sy by Blandstraat kom, weet sy nie watter kant toe nie. Sy draai regs en hou met die straat aan, verby die skakelhuise op regterhand, verby Punt Skool. Uit die grondpaadjie wat by die ou begraafplaas verbyloop, draai sy regs. Dalk kry sy hom by die Punt. Dis ’n gewilde stilhouplek. Maar sy sien hom nêrens nie. Eintlik weet sy ook nie mooi hoe sy motor lyk nie. Sy het so groot geskrik dat sy nie notisie geneem het van die motor nie. Sy onthou net dit was ’n ligte kleur … ’n groterige motor.

      Toe hulle by die woonstel kom, kla Eben eenstryk deur oor die roomys wat sy toe nie gekoop het nie. Sy belowe om by Hartenbos in te draai en daar vir hom een te koop. Hy is tevrede met dié belofte, en begin dadelik daarop aandring dat hulle moet ry. Haar hande is egter skielik dom met die inpakkery. Haar verstand ook. Sy weet nie of dit weer sal regkom voordat sy sekerheid het oor die man wat soos Richard lyk nie.

      Op Hartenbos, terwyl Eben sy draairoomys buite die motor staan en eet, kom Esbeth agter daar is mense wat na die see staan en kyk en na iets beduie. Dan sien sy dit ook: die sterte van twee walvisse bo die water. So, hulle is terug, dink sy. Ironies dat dit nou juis vandag moet wees dat sy hulle vir die eerste keer hierdie jaar sien. Dit was walvisse wat haar en Richard bymekaar gebring het.

      Sy het vir een van haar vriendinne by ’n garage in Mosselbaai ingestaan toe dié met vakansie was. Net soos vandag, was sy ook die Saterdagmiddag op pad plaas toe, toe sy aan die baie motors en mense wat by Die Bakke oor die see staan en kyk,