Elza Rademeyer

Die seewind se lied


Скачать книгу

haar die hele nag buite op die stoepie laat sit en huil?”

      “Laat … huil? Wie … Wat … Waar kom jy daaraan dat sy gehuil het?”

      “Ek het haar deur my kamervenster gesien.”

      “In die donker, buite?” vra sy ongelowig.

      “Ja, in die donker, buite. Maar daar is darem ’n straatlamp. En die lig was helder genoeg sodat ek kon sien dat sy huil.”

      “Ek weet nie hoekom sy gehuil het nie.”

      “O ja, jy weet. Ek het gisteraand dadelik agtergekom jy het haar ontstel. Wat het jou hierheen gebring? Het jy kom kyk wat jy kan aas wanneer tant Mienie haar kop neerlê?”

      Sy staan verwoed ’n tree terug en haar blou oë vlam. “Aas! Wat de duiwel dink jy wil ek aas? ’n Koperkatel, wastafel en lappieskombers!”

      Hy betrag haar ’n lang ruk opsommend. Vra dan beskuldigend: “Wat anders het jy hier kom maak?”

      As hy haar ordentlik behandel het, sou sy hom straks die waarheid vertel het, maar sy arrogante houding wil haar laat slange vang. “Dít, meneer Bresler, traak jou nie! Maar ek dink ék begin verstaan. Jý is seker bang tant Mienie bemaak haar ou goedjies aan my en dan bly daar niks vir jou oor nie. Ja, dis nooit anders nie! Jy’t jouself natuurlik al so ingewurm dat jy glo sy gaan jóú eendag laat erf. Maar jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek belowe jou, ek wil niks van haar hê nie.”

      “Het jy regtig nie swemklere onder jou rok aan nie?” vra hy ongestoord.

      “Nee, ek het nie.”

      “Gee jy om as ek gou ’n vinnige dip vang?”

      “Nie in die minste nie.”

      Sy kyk hoe hy sy hemp uittrek en daarna sy kortbroek sodat hy net in sy kostuum voor haar staan. “Kom ons begrawe die strydbyl,” sê hy skielik en glimlag so onverwags dat dit haar totaal onkant betrap. “Is dit reg so? Kan ons vriende word?”

      Sy knik stadig haar kop. “Nes jy wil.”

      “Sal jy my horlosie vir my hou?”

      “Sit dit daar op jou handdoek en klere neer.”

      Sy wag tot hy onder die branders induik voordat sy die horlosie met die handdoek bedek sodat dit nie so opsigtelik is nie. Daarna hou sy hom dop totdat hy feitlik verdwyn agter die rollende branders. Dan stap sy vinnig huis toe.

      As Wynand Bresler dink hy gaan háár met sy mooi bruin liggaam en pragtige glimlag betower, begaan hy die fout van sy lewe. Teen die tyd dat hy weer die huis bereik, wil sy weg wees. Sy sal in Mosselbaai ’n prokureur gaan sien. Daarna gaan sy ’n draai in die Kaap maak voordat sy terugry Transvaal toe.

      2

      Die blondine is vroeg op. Sy staan buite haar tentjie in die vroeë oggendsonnetjie en smeer haar lyf in die eina bikini met sonbrandolie. As sy bewus is van die mans se bewonderende blikke, laat sy dit nie blyk nie. Ook nie dat sy bewus is van die getroude vroue en jong meisies wat haar afgunstig aanstaar nie.

      Toe sy haar klaar gesmeer het, gooi sy ’n handdoek langs die tentjie oop. Sy gaan lê op haar maag, steek ’n sigaret aan en bedink die grootste fout van haar lewe. Ses maande gelede het sy haar verlowing aan Wynand Bresler verbreek om halsoorkop met Jan Lategan te trou. Maar sy was net drie maande getroud, toe is Jan in ’n motorongeluk dood. Iets waaroor sy omtrent gejuig het, want sy het gou geleer om hom te haat! Hy het haar soos ’n vark behandel! Die enigste voordeel uit die kortstondige huwelik, is dat sy skatryk geërf het. Maar die geld vergoed nie vir die verlange na Wynand nie.

      Sy weet egter haar gewese verloofde sal soos ’n oester toeskulp as hy moet weet sy het doelgerig Mosselbaai toe gekom om hom te kom opsoek sodat sy sy liefde kan terugwen. Sy sal moet maak asof sy hom toevallig raak loop. En daarna sal sy baie subtiel te werk moet gaan om sy vertroue te herwin. Sy teug aan die sigaret en blaas die rook langsaam uit. Miskien is hy steeds lief vir haar. Dalk gaan dit baie makliker wees as wat sy dink om hulle verhouding te hervat.

      Wynand is nog in die branders toe hy agterkom Elmien wag nie meer vir hom nie. Hy maak ’n snorkgeluid terwyl hy uit die see gestap kom. Hy hét haar mos opgesom as ’n fortuinsoeker. Tant Mienie sê hulle het haar nooit laat weet van haar seun se troue met Elmien se ma nie. En nou kom sy, ’n hele maand ná die begrafnis, eers hier aan om tant Mienie te kom vertel van haar seun se dood. Dis ’n skande!

      Hy frons iesegrimmig. Die vinnige opnoem van die waardevolle meubels in tant Mienie se huis is ’n teken dat Elmien Maritz wel deeglik inventaris opgemaak het. Maar natuurlik, hoekom sal sy anders wees as haar pa? Toe die horlosie uit die handdoek val, grinnik hy sinies. Behalwe dat Elmien Maritz blykbaar net so ’n geldwolf soos haar pa is, onthou hy ook hoe bedorwe sy was. Gewoond om die septer oor almal te swaai.

      Maar hierdie keer gaan sy haar rieme styfloop. Hy is nie nou meer ’n skoolseun nie.

      Dis goed sy het hom nie herken nie. Hy sal haar nie hier laat wegkom voor sy hom om verskoning gevra het vir die vernedering wat sy en haar pa hom aangedoen het nie. Nie dat hy regtig haatdraend voel oor die episode nie. Maar dit sal hom tog genoegdoening verskaf om haar te laat boet. Die gebeurtenis het verlede nag weer so helder in sy geheue opgeduik asof dit net gister gebeur het, al het daar intussen veertien jaar verloop.

      Haar pa was ’n handelaar in outydse meubels en hulle het in die rykmansbuurt van Brakpan gewoon. Sý pa was ’n ambagsman wat weens siekte moes ophou werk. Maar op dertienjarige ouderdom was hy nog nie juis bewus van die groot verskil tussen armoede en rykdom nie. Hy het net geweet dat dit hom diep pynig toe sy ma so hartverskeurend huil die dag toe Elmien se pa met meer as die helfte van hul besittings van hul huis af wegry. Die gevolgtrekking waartoe hy gekom het uit ’n gesprek tussen sy ouers, was dat Elmien se pa hul nood uitgebuit en hopeloos te min betaal het vir die meubels.

      Hy het besluit hy moet iets doen om veral hul bed terug te koop en soggens voor skool en naweke het hy koerante begin verkoop. Saans het hy van huis tot huis geloop om leë bottels te versamel. Naweke het hy op die ashope geboer op soek na bruikbare goed wat hy weer kon verkoop. Toe hy uiteindelik soveel geld bymekaar gemaak het as wat Elmien se pa vir sy ouers se ou koperbed betaal het, het hy dadelik met die geld in sy broeksak afgesit na Anton Maritz se meubelwinkel.

      Hy moes lank by die toonbank wag voordat Elmien se pa hom te woord kon staan. En toe hy uiteindelik sy saak gestel het en die geld uit sy broeksak haal … het Anton Maritz hom uitgelag oor die “belaglike bedrag” waarmee hy die bed wou terugkoop.

      Dit was nie die einde van die storie nie. Die volgende dag by die skool het hy vir Elmien gevra om met haar pa te praat. Hy was oortuig daarvan sy sou haar pa se hart sagmaak en kon kwalik slaap van opgewondenheid. In sy geestesoog het hy al die blye verrassing op sy ouers se gesigte gesien wanneer die bed terugkom. Maar toe hy die volgende oggend vir Elmien by die skool se hek inwag, het sy kop in die lug by hom probeer verbyloop. En toe hy haar aan die arm vat, het sy hom toegesnou: “Gee pad van my af! My pa het gesê ek moet my nie met skorriemorries ophou nie!”

      “Maar wat van die bed?” wou hy nog weet.

      “Die bed is klaar verkoop. Vir tien keer meer as wat jý vir my pa wou gee. En gee nou asseblief pad. Netnou dink my maats ek ken jou!”

      Daar is geen haas in hom terwyl hy die trappe van die strand af opklim nie. Elmien sal nog daar by tant Mienie se huis wees. ’n Motor kan nie ry as dit twee pap bande het nie. Hy moes seker maak sy gaan hom nie ontglip nie. Daarom sal hy haar sonder gewetenswroeging op haar plek sit.

      Elmien kan haar oë nie glo toe sy by die huis kom en sien twee van haar motor se bande is pap nie. Sommer twéé bande! Sy kyk moedeloos om haar rond. Hoe kon dit gebeur het? Dit moet die vervlakste doringboom se skuld wees!

      “Wynand sal jou kan help,” sê tant Mienie toe sy hoor wat gebeur het.

      Elmien lek oor haar lippe. “Hy swem nog. Ek wou weg gewees het voor …” Sy voltooi dan maar haar sin gefrustreerd met: “Voor dit te warm word.”

      “Weg