oom Dawie. Ek wil net oorleef en vir my kinders ’n menswaardige bestaan bied. Maar ek is gewoond om self reg te kom, my lewe lank al.” Dis nie nou die plek om te vertel van Ronald wat so vas aan sy ma se rokpante was dat hy nooit ’n volwasse eggenoot, vader en versorger geword het nie. Tog is sy seker dat hierdie oom Dawie haar diepste gedagtes verstaan. Hy het net iets van daardie aartswysheid wat dit moontlik maak om ’n ander se gemoed te deurgrond. “Dit het vanmôre genoeg vir my beteken dat iemand net na my gesit en luister het, en daarvoor sê ek dankie.”
Genoeg? dink sy nietemin vasgekeer. Genoeg om te betaal vir woonstelhuur, motorpaaiement, die kinders se bewaarskool, kos en klere? Veral klere, ja. Sy het ’n aansienlike klererekening. Een van die vereistes waaraan Christiaan Hartogh verwag het dat “sy meisies” moet beantwoord: om modieus geklee te wees.
En Dawie verstaan ook dit. “Luister maak nie magies vol en sit nie klere aan kindergatjies nie,” sê hy met ’n stout laggie. “Vat nou my naam en adres en telefoonnommer, en bel sodra jy al jou sakies uitgestryk het. As jy nie self Rensdal toe kan kom nie, kan ek en Lam of Roux jou kom haal.”
“Roux?” wil sy weet.
“My stiefseun, die boer.” Hy speel met die teelepel terwyl hy dit sê.
“As ek daar moet kom, sal ek op my eie daar kan kom, oom Dawie. Maar ek sal regtig eers baie goed moet nadink.”
“Nou dink dan, maar moenie te lank dink nie.” Die hand waarmee hy skryf, is nie te geoefen nie, al doen hy sy bes om dit so te laat lyk. “Kom kyk dan maar net eers as jy wil sien hoe dit lyk. Maar ek sê vir jou, op Rensdal kan ’n mens nog asemhaal, nie soos hier waar al die voëltjies hoes nie.” Hy staan op en lyk benouderig. “En nou moet jy vir my help uitvind waar die plek se kleedkamer is, meisie, want ek het lank laas so baie koffie gedrink en die pad is ver.”
“Het oom vanoggend deurgery?”
“Nee, gister al, het laas nag by Lam se niggie-hulle geslaap, maar moenie vra hoe ek daar uitgekom het en hoe ek weer hier gaan uitkom huis toe nie.”
“Nou ja, loop oom se draai, dan moet ons gaan soek waar oom se bakkie geparkeer is.” Volgens wat hy beduie het, het sy ’n redelike goeie idee. Mag dit tog nie gesteel wees nie, hoop sy vuriglik.
Dis skuins voor twaalf toe Berna die tweeling gaan oplaai. Om buitenstyd hier te kom, is ook sommer ’n goeie geleentheid om te sien of dit goed gaan by die dagmoeder waar sy hulle elke dag los; met aansienlike moeite, want dis ’n redelike ent wat sy moet ry, meestal deur spitsverkeer.
Wat sy sien toe sy uit die motor klim, laat onmiddellik haar moed laag in haar skoene sak. Verwese sit Mientjie op die skoppelmaai en huil terwyl sy haarself liggies wieg-wieg. Daar is op hierdie oomblik niemand wat na haar klagtetjies luister nie. Diep in haar hoor Berna weer Ronald se stem: “Jy trek haar voor, net om my en my ma te wys.”
“En wat wil ek nogal vir julle wys?” Hulle was so in die groef van meningsverskil dat elke uitlating aanvegbaar bewoord was.
“Dat ons en ons naam nie so watwonders is nie.”
“Raai, ek het darem ons seunskind Ronald laat doop. Ek het vermoed ’n naam moet voortreflik wees as dit geslagte lank voortgedra word.” Die sarkasme nou weer van haar kant af.
“Ek glo nie dis iets waarvoor jy juis eerbied kan hê nie. Jy wat nie eintlik weet van familiebande en ’n eie tuiste nie.” Haar ma se huisloosheid was sy sterkste wapen.
“Hoor ek jou moeder praat?”
Dit moes sy nooit gesê het nie. Net een ding was groter as sy verslaafdheid aan sy ma, en dit was sy wrewel teenoor haar omdat hy dalk aan haar verslaaf kon wees.
In hierdie stadium was die rusie gewoonlik volryp, en het hy hom onttrek en padgegee, na sy ma toe of kroeg toe. Hoe jonk en dom was ek tog, dink sy. As sy haar kortstondige huwelik nou weer kon hê, sou sy veel meer geweet het van selfverloëning. Of sou alles maar weer dieselfde vermoeiende ou paadjie geloop het, met Julia die groot skeidende faktor tussen hulle?
Dat sy so gou swanger geraak het, was ook grootliks om die grootouers te behaag. Nie dat sy nog ooit spyt was nie, maar destyds wou sy nog graag in hulle goeie boekies wees. Hulle het egter die kleinkinders, veral vir Ronnie, aangegryp asof hulle geheel en al uit die baarmoederlose lug geval het. Sy, Berna, was nog steeds geen faktor in hulle lewe nie. As haar skoonpa maar ’n sterker sê kon hê. Sy is seker hy is haar nie ongeneë nie, maar hy is so geskool in die wegsteek van sy emosies. Seker ook nodig; dis die enigste manier om te oorleef langs ’n vrou soos Julia.
Verteder loop Berna na die swaaie toe en haal vir Mientjie af. Die kleintjie is so bly dat sy haar ma byna versmoor, en ’n stroom onsamehangende klagtetjies word in die gewillige moederoor uitgestort. Ook Ronnie kom nader gehol toe hy haar sien, die wangetjies drillend, gesig ernstig getrek om die rol van vertellende ouboet te vervul.
Berna hoor dat die dagmoeder stad toe is. Aan die moedeloos sloffende assistent gee sy ’n briefie en ’n tjek om te oorhandig. Toe raap sy haar kinders besitlik bymekaar en bondel hulle in die motor. Sy het nogal gedink sy doen die regte ding omdat die vrou nie meer as twee kinders op ’n slag invat nie. Sy moes raakgesien het dat dit die vrou bloot van vele reëls en regulasies vir dagsorg vrywaar, sonder dat dit noodwendig beter diens waarborg.
“Waantoe gaan ons, Mamma?” vra Ronnie, altyd die woordvoerder.
“Huis toe,” sê Berna kort.
2
Dis vir Berna ’n ongekende weelde om vanaand die tweetjies lank, deeglik en rustig te kan bad. Sy help hulle fluks speelgoed aandra, alles wat kan drywe of piep of kwaak. Daar was voorheen aande wat sy maar net die ergste vuil moes afvee en ’n toebroodjie prakseer voordat hulle aan die slaap raak, doodmoeg. En die grootste deel van hulle kindermoegheid is emosioneel, want hulle is gedurig besig om te wag, wag, wag. Wag dat sy opdaag. Sy, wat die son én die maan in hulle bestaan moet wees. Terwyl sy nooit týd het nie, en dit vir hulle moet probeer wegsteek.
Sy het reeds die krane oopgedraai en vir Mientjie begin uittrek, toe Ronnie nog weier om te kom. Iets in die woonkamer moet hom baie boei, maar hy kom tog gou genoeg toe hy hoor dat daar pret aan ’t ontwikkel is. Berna is vreemd, amper onnatuurlik opgeruimd terwyl sy met hulle speel en jil, water uit die spons op hulle koppe druk, “kwek-kwek” namens die eendjiehouer waarin die badskuim is.
Eers toe sy hulle begin afdroog, bars die seepbel wat haar gemoed die afgelope ure was, en die werklikheid sak opnuut op haar toe. Werkloos. Weg uit hierdie woonstel … waarheen? Die uitnodiging van Dawie de Vries lyk nou, met die afstand wat tydsverloop bring, onwerklik en onmoontlik. Hy het sekerlik maar net gaaf probeer wees. En het sy bowendien die reg om haar kinders te ontwortel en verplant, met die risiko dat dit dalk nie daar anderkant uitwerk nie?
Met ’n stil, eindelose geduld beantwoord sy die talle vrae uit die kleutermonde, trek sy hulle slaapklere aan en blaas hulle hare droog, iets waarvoor daar normaalweg net nooit tyd was nie.
Toe sy op ’n keer verby die telefoon loop, sien sy die gehoorbuis eenkant lê. Dan is dit waarmee Ronnie aan ’t kwaaddoen was toe hy moes kom bad. Of sou die foon gelui, en hy probeer antwoord het? Met die geraas van die lopende water in haar ore, sou sy dit nie kon hoor nie. Daar is geen reaksie op haar ge-hallo nie, dus sit sy dit met ’n skouerophaling terug. Wie ook al gebel het, moet maar net weer bel. Sy is in niemand se diens meer nie, en sy betaal self haar rekening. Haar driejarige kind kan probeer antwoord as dit hom behaag, al maak hy nie ’n sukses daarvan nie. As dit Julia was, sou Ronnie dit darem kon oordra. Al wat sy nou uit hom kry, is: “Ek het hom teen my legtel-ool gehou. Is dit leg, of moet ek hom teen my linkel-ool hou?”
“Enige oor, patatta,” verseker Berna hom laggend, “solank dit net ’n oor is wat kan hoor. En onthou om altyd vir Mamma te kom roep.”
Sy besluit om lekker kos te maak, ’n soort galge-oordaad. Daar is nog ’n groot T-beenskyf, gelukkig gemarineer in die yskas, asook ’n blikkie sampioene. Dit sou naweekkos wees, maar sy is nou lus daarvoor. Met ’n bietjie gestoomde groente daarby, sal sy voel dat haar kinders