tion>
Diepsee
’n Keur uit die verhale van
E. Kotze
saamgestel deur
Suzette Kotzé-Myburgh
Tafelberg
Voorwoord
As kind in Namakwaland had ek min leesgoed, maar darem elke week Die Huisgenoot. Dis waar ek Sussie Kotze se verhale in my vroeë tienerjare leer ken het. “Winters en tant Fien”, “By Franken se pan” … En dan die onvergelyklike “Halfkrone vir die Nagmaal”. Ek onthou tot vandag toe die gevoel wat daardie verhaal in my losgemaak het, hoe dit dae lank in my gemoed bly draal het. Eers ’n hele paar jaar later, op universiteit, het ek agtergekom dat die gelyknamige bundel die Eugène Marais-prys gewen het. En dat André P. Brink in sy resensie in Rapport geskryf het: “Liewe Here, maar dis ’n mooi boek!”
Sussie se verhale speel meestal in ’n baie spesifieke ruimte af, naamlik die Weskus, ook bekend as die Sandveld. Geografies gesproke is die Weskus die hele strook land wat aan die see grens van noord van Kaapstad tot aan die Oranjerivier, maar die Weskus waaroor sy skryf, strek rofweg van Velddrif en Laaiplek, verby Lambertsbaai, tot by Doringbaai neffens Strandfontein. Hier begin die Namakwalandse Sandveld, sodat daar ’n baie groot ooreenkoms is tussen die taal van die Weskus en dié van die groter Namakwaland, oftewel die Hardeveld.
Vir vele mense is streektaal hoofsaaklik ’n kuriositeit; skrywers wat dit gebruik, word maklik in ’n boksie genaamd “kontreiverhale” geplaas. Maar afgesien van die dialektiese kenmerke is dit die áárd van hierdie Afrikaans wat uitstaan: die unieke uitdrukkings en die besonderse grinterigheid van die taal wat ’n dorre, harde, ongenaakbare wêreld moet verbeeld. Om nie te praat van die terloopse, onderbeklemtoonde humor nie. In elke vertelling slaan dit uit soos die helderrooi spatsels van ’n vygiebos, want die mense van hierdie streek is gebore storievertellers – hulle kan jou laat lag sonder om ’n spiertjie te vertrek.
Haar seeverhale is Sussie se belangrikste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Die bekroonde digter en literêre kenner Petra Müller het by geleentheid gesê dat sy die skrywer is wat omtrent eiehandig gesorg het dat ’n seewoordeskat in Afrikaans behoue bly – ons taal stam immers uit dié van ’n seevarende nasie. Woorde soos “kenter”, “loom”, “halfsee”, “bonks”, “banklêer”, “seebaard” en “bokstang” staan vandag opgeteken danksy haar boeke.
’n Mens moet Sussie se verhale fyn lees, want dis fyn geskryf – só fyn dat die haastige of ongeduldige leser maklik die waarde daarvan kan miskyk. Dis stories oor mense wat die spreekwoordelike sout van die aarde is – of dan silt, soos in een van haar verhaaltitels. Eenvoudige mense, arm mense, mense wat almaardeur vorentoe beur en planmaak om te oorleef. Dis die geboë rug van die soutraper, die bloedbevlekte hande van die snoekvanger, die sonverbrande arms van die wasvrou met haar gesig diep in die kappietuit versteek, die stoïsynse oë van die ouvrou wat taks om taks siekte en dood moet aanskou.
Sussie Kotze se werk is ’n kosbare skat vir Afrikaans en vir ons letterkunde, en hierdie bundel wil bydra tot die waardering en behoud daarvan.
SUZETTE KOTZÉ-MYBURGH
Halfkrone vir die Nagmaal
Daar was onteenseglik tekens van voorbereiding vir die Nagmaal: die rol rokgoed uit die plaaswinkel, die nuwe velskoene, die sambok en die uitgekeerde bokkapater.
En die Vrydagmiddag was daar twee bokke in die kampie onderkant die huis – een vir die Nagmaalbasaar, een vir slag.
Die Nagmaalbok sou moes oorstaan tot die volgende naweek wanneer hy saam met buurvee aangejaag word dorp toe, die slagbok is dieselfde aand nog keelaf gesny.
Frits was toevallig by die huis. ’n Kwaai see het die kreefvangers laat oplê en hy het kom kos haal en skoon klere.
Toe sy pa die bok slag, het hy ’n blik onder gehou om die bloed op te vang. Hy het nog ’n nuwe rol snoeklyn gehad.
Die bloed het hy oornag laat staan om goed te stol. Die volgende oggend is hy af strand toe waar hy die lyn ’n paar maal deur die nat seesand sleep om die wollerigheid wat ’n nuwe lyn aan hom het, af te maak. ’n Tydsame werk, maar hy het die hele Saterdag voor hom gehad.
Die lyn gaan span hy tussen die pale van die bokkamp. Toe vat hy ’n stuk ou lap en druk dit in die dik dooiebloed en met die bloedlap bewerk hy die lyn, smeer hy die bloed goed in totdat die vesels deurtrek is daarvan. Daarna rol hy dit in ’n stewige rol.
’n Snoeklyn wat jy bloed, hou soveel langer. Hy is wel ’n bietjie glad aan die begin, maar ná ’n paar maal se werk met hom kom hy reg. Jy vang ook beter met hom; ’n snoek sien altevol maklik ’n wit lyn in die water en dan kom vat hy nie die bokstang nie. Dit het ou Dampies hom van snoek geleer.
Hy maak ’n vuurtjie onder sy ma se driepootpot met ’n bietjie water in die boom. Bo-op sit hy droë takkies en daarop die gebloede lyn toegedraai in bruinpapier.
Hy hou ’n flou vuurtjie aan die gang onder die pot en die stoom trek deur die doringtakkies en sweet die bloed in die lyn in. Toe hy tevrede is dat dit goed deurgesweet is, haal hy die bolling lyn uit en hang dit oor die draad waaragter die bok staan.
Dis ’n vier jaar oue bokkapater, ’n mooi bok wat maklik sy neëntig pond sal uitslag.
Dis sy pa se bydrae tot die gemeentebasaar: die bok. Sy pa is ook nog ’n sambok aan die vleg. Hy is bekend vir sy swepe en peitse en sambokke. Hy vleg met twaalf rieme asof dit speletjies is, sestien ook. Die basaarsambok kry ’n handvatsel van gevlegte ystervarkpenne. Die son blink op die patroon waarin wit en swart deurmekaar loop, wit oor swart en swart oor wit. En Frits dink: Verlede jaar was dit ’n riempiesmatstoel, die jaar tevore ’n olienhoutkierie, vanjaar die sambok. Elke jaar stuur sy pa ’n stuk handwerk vir die dorpsbasaar sonder dat hulle ooit self gaan.
Hulle kan nie Saterdag dorp toe ry en Sondag wéér nie. Hulle het hul wyksbasaar twee keer in die jaar op ’n plaas in ’n waenhuis en dis genoeg.
Hulle sal wel Sondagoggend Nagmaal toe gaan en dan middag hou op die kerkwerf, eet van die kos wat sy ma voorberei en saamneem, die middag Nabetragting toe gaan, en dan dadelik inspan en ry sodat hulle nog voor sononder by die huis is om te melk en die diere te versorg. So is dit elke jaar.
Ander mense ry Vrydag al. Hulle gaan in ruskamers tuis en kuier oor en weer, hou basaar in die kerksaal: koektafels en lekkergoed en poeding. Buite bie die mans op slaggoed en handwerk, skiet skyf. En die meisiekinders loop rond met mandjies roosknoppe en angeliere wat hulle vir trippens een op jou baadjie vassteek.
Hy was eenmaal saam met Meester op so ’n basaar terwyl hy nog op skool was, verlede jaar Augusmaand. Sy ma het Meester se wasgoed gewas en hy het die bondel heeljaar lank gedra, huis toe en terug skool toe. Toe nooi Meester hom saam.
Maar hy kon niks koop nie, net kyk. ’n Mens moet geld hê. Jy betaal vir elke skoot wat jy skiet. Hy kon maklik ’n blik lekkers gewen het as hy net ’n trippens gehad het. Maar hy het toe nie.
Hy het wel die vorige week ’n vrag berghout vir Meester opgekap, maar die halfkroon moes hy net so in sy pa se hand gee.
Dit is die beleid; hulle eet en drink uit die huis en hul klere is skoon en heel.
Maar hy bring nou halfkrone huis toe, genoeg vir Nagmaal én basaar.
Sy snoeklyn het droog geword. Dit kraak onder sy vingers as hy daaraan druk. Hy neem die rol om dit te gaan bêre in die uitgewaste suikersak waarin hy sy seegoed hou.
Sy ma is in die kombuis. Sy het gebak: bruinbrood en beskuit met rosyne en kaiings. Die kombuis stoom van gebreekte beskuit.
Sy het die warm broodkorsie vir hom afgesny en smeer dit met vet en heuning. Sy skink vir hom ’n beker karringmelk. “Snoektyd is mos verby, vir wat bloed jy dan nou die lyn?” vra sy.
“Binne- of buitenstyds, ons dra mos altyd ons goed saam,” sê hy en lek die soet heuningstroop van sy vingers af. “Ma moet maar dié week ’n groot brood insit, ons loop môrenag vir die Wes.”
“Die