getroud is nie. Sy naskeermiddel ruik subtiel. Sy oë is effens bloedbelope. Hy het seker min geslaap as hy ure lank gevlieg en eers die vorige nag op die lughawe aangekom het. Hy is ’n entjie langer as sy en sy moet opkyk. Sy blik is priemend, opsommend, krities. Dit lyk asof daardie oë soos blou glas dwarsdeur haar kyk. Sy moet haar ongemak probeer wegsteek.
Hy dink sy is ’n liggewig, veronderstel sy. Hy gaan haar nie goedkeur nie.
Ray Baxter kyk op sy horlosie. “Dit is etenstyd. U kan gerus in ons personeelkafeteria gaan middagete geniet.” Hy is saaklik vriendelik en loop saam met haar na die hyser.
“Dankie, ek dink ek sal so maak.” Sy groet hom weer met die hand voordat sy inklim.
Sy is vaal van die honger, kom sy agter. Die spanning van die onderhoud wat voorlê, het veroorsaak dat sy nie ’n behoorlike ontbyt geëet het nie. Op pad ondertoe voel Naomi nogal afgehaal. Die onderhoud was so kort. So sonder enige uitkoms of belofte, al het die ou man mooi goed oor haar stem gesê. As sy gekeur word, sal dit ’n wonderwerk wees. Sy wil so graag weer na Louis Trichardt, die Soutpansberge en Elim gaan. Na daardie magiese noorde met wolkberge, woude en mere waar die Vhavenda pragtige kuns beoefen, en wat ’n kleurryke geskiedenis en verhale het. Dit was deel van die aantrekkingskrag van die oogtrein dat dit juis na daardie deel van die land reis.
Die kafeteria is vol mense. Sy neem ’n skinkbord en gaan val by ’n tou in. Die verskeidenheid kos wat uitgestal is, lyk baie lekker. Daar is alles van toebroodjies, pasteie, koeke, terte en quiches tot stukke gebraaide hoender, kerrie en rys, en verskeie slaaie. Sy kies quiche en slaai, en ’n bakkie roomys met sjokoladesous.
“Ek is een van die aansoekers vir werk op die trein,” verduidelik sy by die betaalpunt.
Die vrou knik, maar kyk verbaas na die kos op die skinkbord. “O ja, julle eet gratis. Maar wil jy nie nog iets hê nie? As die kos verniet is, neem mense nie gewoonlik so min nie.”
Naomi lag. “Nee, dis genoeg vir my, dankie.” Sy vergryp haar beslis nooit aan gratis kos nie.
Sy gaan sit eenkant by ’n tafeltjie. Terwyl sy eet, wonder sy oor Anthony Baxter. Al wat ’n vroumens is, gaan oor hom swymel. ’n Gevaarlike soort man om in die nabyheid te hê al gedra hy hom goed. Sy kan nie onthou wanneer laas ’n man so ’n ontwrigtende effek op haar gehad het nie. Sy proe die quiche skaars. Al was die ou man so gaaf, gaan sy die pos waarskynlik nie kry nie. Dan sien sy daardie hunk tog nie weer nie.
Sy dink weer aan Roelf Malan. Hy wil sowaar ook op die trein werk. Dalk is hy nou daar bo by die Baxters vir ’n onderhoud. Teen dié tyd is hy reeds ’n gekwalifiseerde oftalmoloog. Haar herinneringe aan hom is nie goed nie. Hy was een van die arrogante senior studente wat gespot het oor die “nuwe vleis” wat na die mediese skool kom.
Toe val sy oog op haar, die junior mediese student. Hy moes haar eenvoudig date, maar dit was ’n kort en stormagtig verhouding. Natuurlik wou hy meer hê as wat sy bereid was om te gee. Hy kon kwansuis nie glo dat sy weier om by hom te slaap nie. Daarna het hy haar twee jaar lank letterlik geteister. Uiteindelik moes dit tot hom deurdring dat sy regtig nie in hom belangstel nie. Hy het haar verwyt dat sy sy tyd gemors het, terwyl sy hom verwyt het dat hy hom blind en doof gehou het vir haar duidelike boodskap dat dinge nie tussen hulle kan werk nie.
Nou loop sy sowaar hier in hom vas. As die Baxters haar ooit aanvaar, bid sy net dat hulle hom nie ook aanvaar nie. Vir Roelf sien sy sowaar nie weer kans nie. Sy sidder eintlik wanneer sy dink hoe hy kan klou. Soos ’n vetkol in lap, het een van haar vriendinne nog gespot. Al is hy aantreklik, staan sy persoonlikheid haar nie aan nie. Sy ware kleure is nie mooi nie.
Naomi sit haar mes en vurk netjies bymekaar op die leë bord. Die ontvangsdame loop by die kafeteria in. Dit lyk asof sy iemand soek. Sy sien Naomi, wuif en kom aangestap.
“Dokter Harker, dokter Baxter-hulle vra dat u asseblief weer boontoe sal kom as u nie omgee nie.”
Naomi se hart begin dadelik bokspring van opgewondenheid. Beteken dit dat sy wel ’n kans staan om aanvaar te word? Hulle het darem baie gou besluit.
Haar hart klop steeds woes terwyl hulle in die hyser ry. Hierdie keer weet sy dat Anthony Baxter haar met sy hemelse oë gaan beoordeel, en dat hy haar baas en senior op die trein sal wees. Mits sy natuurlik so gelukkig is om aanvaar te word.
Die drie mans sit net soos voorheen, maar op die tafel is botteltjies water en ’n groot bord toebroodjies. Hulle middagete is verbasend beskeie.
“Kom sit asseblief weer, dokter Harker,” nooi Ray Baxter.
Sy gaan sit. Probeer om nie na Anthony Baxter te kyk nie, maar sy is hiperbewus van sy oë op haar.
“Ons het u bespreek en my broer het na u aansoek gekyk,” sê Ray Baxter.
Naomi hou asem op.
“Ons het al drie besluit dat u ’n goeie toevoeging tot ons trein sal wees.”
Naomi kan die blye glimlag nie van haar gesig afhou nie.
“U ken reeds die omgewing waar ons meesal gaan werk, en dit tel in u guns,” sê Max Baxter.
Sy wil huppel van vreugde.
Ray Baxter haal ’n dokument uit ’n lêer en kyk daarna. “Hier is ons reisplan. Ons gaan van Kaapstad af reguit noorde toe. Ons stop baie kort in Johannesburg waar ons dokter Lotter, die optometris van die Universiteit van Johannesburg, en verpleegkundiges sal optel. Van daar gaan ons na Limpopo. By Polokwane bly ons ’n dag lank. Daar tel ons studente van die Universiteit van Limpopo op. Ons trein bly nie lank in die groot stede nie, want daar is voldoende mediese dienste. Ons gaan na die platteland. Daarna is ons twee dae lank op Tzaneen, dan gaan staan ons by Louis Trichardt waar ons langer sal vertoef. Studente van die Universiteit van Venda in Thohoyandou sluit daar by ons aan.”
“Ek kom van daardie wêreld af,” sê Max Baxter. “My broer en sy seun boer op groot skaal tussen Louis Trichardt en Thohoyandou met vrugte en neute. Op dié plaas is ’n kliniek wat ’n groot omgewing bedien. Mense kom van heinde en ver soontoe om behandel te word. Ons het daardie kliniek goed ingerig, ook met die modernste operasiefasiliteite. Die oogdokters sal ook daar gaan werk. Die trein bly by die stasie op Louis Trichardt, want die spoor loop nie tot by die plaas nie. My broer-hulle sal julle by die stasie kom haal.”
Dit klink vir Naomi ál lekkerder.“Gaan die trein ná Louis Trichardt op na Musina en Beitbrug?”
“Nee, daardie stuk spoorlyn is te besig,” sê Ray Baxter. “Ons moet hou by stil plekke met syhaltes waar ons kan parkeer en waar die pasiënte na ons toe kan kom. Sien u kans om so lank van u praktyk verlof te neem?”
“Dit sal nie ’n probleem wees nie.”
“Nou goed dan. Ons sekretaresse is Magda Venter en sy is by ontvangs. Sy sal vir u ’n lys gee van alles wat u moet saamneem, en die tye en aanmelding met u bevestig. Enigiets wat u wil weet, kan u net vir haar vra. Moet asseblief nie te veel bagasie saamneem nie. Die trein vertrek oor ’n maand op 1 Junie. Ons gaan in die winter wanneer dit nie so warm is daar bo nie. As u op Elim gewerk het, ken u daardie klimaat. In die winter is dit eintlik lekker, maar die nagte kan koud raak.”
Naomi sweef op wolke daar uit. Sy bel haar pa dadelik op sy selfoon. “Pappa sal maar ’n rukkie sonder my hulp moet klaarkom. Ek gaan trein ry.”
Hy lag. “Ek het geen oomblik getwyfel dat jy gaan trein ry nie, dokter Harker junior.”
2
Naomi kom aan op die Kaapstadse stasie en gaan na die platform waarheen sy gestuur word. Sy kyk met behae na die trein wat daar wag. Dit is goudgeel en soos op die foto’s in die brosjure is daar groot oë op die kant geverf. Die Baxter-logo is onmiskenbaar. Haar hart raas behoorlik van opgewondenheid. Vandag begin die avontuur, en die beste daarvan is dat sy Anthony Baxter weer gaan sien. Sy kon hom eenvoudig nie uit haar gedagtes kry nie.
Sy kyk rond of sy hom nie dalk gewaar nie, maar hy is nie tussen die ander mense op die perron nie. Sy sleep haar tas nader en kyk na die ander se bagasie. Niemand het groot tasse