En so het dit aangehou tot op die dag van Tweeling se kermis.
Wat ons bring by die eintlike heldin van ons verhaal.
Daar ver in die Boland, net buite die skilderagtige dorpie Wellington, het ’n bruin meisie, Jaklien Malherbe, saam met haar ma, pa, broers en susters gewoon. Jaklien was ongelooflik doodgewoon. Sy het selfs partykeer in die bad gesit en soek, maar daar was nou wragtag niks unieks iewers nie.
Sy het in een van Wellington se honderd inmaakfabrieke gewerk, op die appelkoosmasjiene. Elke oggend het sy wakker geword, vir haarself gefluister, Ek haat konfyt. Ongemerk brood ingesit, ongemerk werk toe geloop en ongemerk voor die masjien loop staan.
So doodgewoon was Jaklien dat van die fabriekwerkers gedog het die masjien in die hoek is outomaties, hulle’t haar nooit opgemerk nie. Vir jare het sy nou maar daar gestaan en gekyk hoe miljoene appelkose verwerk word.
So staan sy ook op die dag van haar veertigste verjaarsdag tussen die appelkose, effens ontsteld dat selfs haar familie daarvan vergeet het, maar nou nie so dat ’n mens dit sal opmerk nie. Net kort-kort lig sy haar linkerhand en bekyk die verskriklik onopvallende ringetjie wat sy vir haarself loop koop het.
Maar selfs op die gewoonste verjaarsdag is daar ’n verrassinkie, en toe Jaklien weer so na die ring kyk, raak sy vir die eerste keer in haar lewe in vervoering, net vir ’n oomblik, en merk dus nie op hoe die masjien haar oorpak beetkry en tussen die rollers begin inwerk nie. Haar gilletjie was heeltemal te doodgewoon om in ’n fabriek gehoor te word en so word Jaklien Malherbe toe op haar veertigste verjaarsdag ingesluk, ontpit, geskil, geblik en gelabel en teen die tyd dat haar familie en haar skofbaas ontdek sy’s missing, sit sy al op elke rak in die land.
Skielik het almal van Jaklien geweet, almal het oor haar gepraat, die hele gemeenskap het saamgetrek. Van so ver soos Graskop moes mense hulle konfyt terugstuur vir die begrafnis. En toe Wellington dink hulle’t nou meeste van haar teruggekry, trek hulle weg. Vir dae het hulle gebak. En toe die grootste jamroll in die Suidelike Halfrond klaar is, smeer hulle vir Jaklien bo-op, rol toe, hou begrafnis en die koerante doop haar die Racheltjie de Beer van die konfytbedryf.
Maar ons weet almal in die Vrystaat word daar nie juis ernstig koerant gelees nie. En dis hoe dit gebeur dat op die dag van Tweeling se kermis, Bernadette by die kerrie-en-rys-tafel staan en vertel hoe sy in Kalkutta geleer het van ’n tikkie appelkoos in die kerrie en hoe mal Moeder Teresa daaroor is, om nie eens van haar kêrel te praat nie. En dan draai die mense om en skree van die lag.
En die vrou agter die pot gee vir haar ’n blik appelkoos en sê, Nou toe, roer in. Jy weet nooit wie kom hier aan nie. En almal draai weer om.
En van senuwees laat val Bernadette die blik in die kerrie. Teen daai tyd pis die mense.
Toe sê Bernadette saggies vir haarself, Ek haat konfyt. En druk haar hand in die kerrie. En toe sy die blik uithaal sit daar ’n ongelooflik onopvallende ring aan haar vinger. En al die mense hou op lag en sê, hoo.
Dis nou baie jare later. En as jy vandag vir die mense van Tweeling vra, wie’s daai ou vrou, dan sê hulle, Dis Bernadette. Ons wag nou juis vir haar verloofde. Hy’s in Kalkutta vir besigheid.
(uit Untitled, Desember 1992)
Kook met brandewyn
Hierdie is ’n ware verhaal. En ter wille van die vrede in ons nuwe land moet dit nou maar vir eens en vir altyd uitkom.
In Verwoerdburg se poskantoor het daar twee vrouens gewerk. Die een was ten minste ’n weduwee met ’n rinse, Evelyn. Die ander een was net dik, dis al. Haar naam was Esmé.
Op ’n dag kry ek die kaartjie wat sê my Leserskringboek het opgedaag en ek sit heel opgewonde af poskantoor toe.
Voor die poskantoor staan ’n hele ry mense op die sypaadjie. Jy eerste, sê een vrou vir ’n ander. Ag nee wat, gaan jy maar, sê die ander een. En niemand beweeg nie.
Ek dink, shit maar hulle is hoflik, en ek loop staan heel voor. Hier op die lawn staan so ’n ry blou vlaggies zig-zag tot by die poskantoordeur. Heel voor op ’n bordjie staan: Warning. Trap net by die vlaggies. En onderaan in Xhosa staan: Trap tussenin.
Nou dink ek, my Kook met brandewyn is daar binne, ek kry vanaand mense en almal ken al my appelkooshoender, ek soek my boek. Ek gee my karsleutels daar vir ’n man, twee ander hys my teen die vlagpaal op en toe ek bo is, reverse die man met my kar tot teen die paal en soos hy omslaan so val ek die poskantoor met ’n helse migraine binne.
Hier langs die toonbank lê ’n swart man op die vloer. Evelyn hou ’n stapler teen sy kop en Esmé hardloop al in die rondte.
Hoe de hel het hy ingekom? skree Evelyn.
Ek weet nie, skree Esmé.
Hou op in die rondte hardloop, skree Evelyn.
Ag dankie tog, sê Esmé, ek is al dronk in my kop, en sy loop staan agter die toonbank. Wat dink jy wil hy hê? vra sy.
What you want? vra Evelyn en staple hom in die oor.
Ek kan niks hoor nie, sê Esmé.
Haal uit daai ding, sê ek en klim van die paal af.
Siesag, sê Evelyn en haal die foonboek uit sy mond uit.
Haai Ou-…, sê die man. Maar voor hy die nooi kan uitkry, staple sy hom weer.
Gee hom seëls, sê Esmé, dis die veiligste.
Seventy cents, sê Evelyn.
Die man skud net sy kop.
Ek sê, Verskoon my, ek soek my boek.
Ha, ha, sê Esmé, try my.
Ek sit my kaartjie op die toonbank neer, help die swart man op en loop sit hom op die paal. Wag net hier, sê ek en gee hom ’n drukkie. Esmé is tussen die rakke in en Evelyn hou wag.
Sekuriteit is ons wagwoord, sê Esmé en sit my pakkie op die toonbank. Net ’n oomblik, sê Evelyn en druk dit teen haar oor. Val plat! skree sy, gooi die pakkie deur die lug en duik by ’n tiekiebox in.
Watsit nou? vra ek, en loop lê op my maag.
Die ding tik, skree Evelyn.
Dis ’n Leserskringboek! sê ek. Hulle gly maar so in die box.
Don’t bullshit me, sê Evelyn, ek het M-Net.
Ek wou nog so graag kinders gehad het, sê Esmé en trap die alarm af. Evelyn, bid jy, sê sy, en sak op haar knieë neer.
Is jou beurt, sê Evelyn, en maak haar oë toe.
En toe’s my geduld op. Ek sê, Verskoon my, maar hoe siek moet ’n mens wees om so tekere te gaan? Hoe verrot kan die samelewing nog raak? Hierdie is nie die einde nie! Dis Kook met brandewyn! Julle het nie ’n benul van die realiteit in hierdie land nie. Dis alles, alles julle verbeelding!
Toe staan ek op, stof my broek af en loop vat my pakkie.
En dis toe die bom afgaan.
(uit Untitled, Desember 1992)
Ná skool
Frederik was die slimste van almal in die skool.
Hy kyk na die grys bokant die bome, vervloek die dorp, trek die musiekklas se deur toe en loop oor die stofgetrapte speelgrond. Aan die oorkant slaan Henning die een tennisbal na die ander teen die muur. Henning is saam met hom in standerd 9.
Frederik maak ’n oomblik sy oë toe en sien hoe ’n tennisbal deur ’n venster breek. Hy sien hoe Meneer Basson vir Henning laat buk en hom slaan, ses keer. Toe maak hy sy oë oop en loop deur die skoolhek.
Elke middag loop hy met die lang pad huis toe, want hy haat sy ma en die bord klipharde rys wat wag in die lou-oond. Hy haat die kombuis met die tjoepstil radio en sy netjiese kamer, alles so grys soos